To bae or not to bae?
Vettie boemboem
Jou weeklikse suiker-vrye dosis oor vrou wees en vet wees, op dieselfde tyd.
KAYLA ALEXANDER
Die realiteit van die vet mid-20’s vrou is die volgende:
- Eet meer gesond (praat sommer met jou health-nut vriend daaroor).
- Oefen gereeld (kry ’n gym-maatjie wat jou soggens 06:00 gaan wakker maak om te oefen).
- Drink baie water.
- En drink jou donnerse antidepressante.
Jy sien, die realiteit is sommige mense sien my vet skud wanneer ek om ’n draai stap en dink my skaterlag is compensation vir my lae selfbeeld. Ek gee jou so 70% vir reg raai, maar eintlik is my lewe meer kompleks as die stysel wat ek vermy.
Nou die Donderdagaad het ek by ’n kennis se huis ’n drankie gaan drink. Natuurlik het ek gehoop dis nie net ’n drankie nie, want wie nooi nog ’n heteroseksuele alleenlopende vrou na ’n heteroseksuele alleenlopende man se huis en verwag nie meer nie? Dalk is dit my innerlike millennial wat tevore kom - ons is immers die ongeduldige generasie.
“Hier kom ek,” gil hy by sy trappe af, terwyl ek onder die balkon staan. My vriende wat my afgelaai het staar na my terwyl ek giggel soos ’n skoolkind. Heel opgewonde oor die ontmoeting en moontlik my toekomstige bae.
Ek bons by die trappe op en gaan sit gemaklik op sy bank. Hy gaan sit oorkant my.
“Vreemd,” dink ek, maar ek giggel verder soos ’n seuntjie wat vir die eerste keer sy juffrou se elmboog sien.
“Ag, goed en jy? Hoe gaan dit eintlik met jou?” antwoord hy op my verwelkomingsvraag.
Hy staan op en skink ons eerste gin vir die aand.
Alles was ’n haze tussen die giggel en die ongemaklike “dit gaan goed”, totdat hy vir my die volgende sê: “Hou op maak asof alles okay is. Ek was ook daar en kan sien jy is nie okay nie.”
Is dit waar? Die prins op die witperd wat my kom red van my droewige gemoedstoestand en eensaamheid? Cue Oasis se Wonderwall in die agtergrond.
“Waarvan praat jy?” vra ek
Eintlik weet ek presies waarvan hy praat.
“Ja, ek worstel self met depressie,” sê hy. “Jy moet praat, suster. Dis al hoe dinge gaan beter raak.”
Suster? Is dit die nuwe manier om iemand te friendzone? Al die seine in my brein gaan af. Hy wil Dr Phil speel terwyl ek deel van sy twaalf-stap-program word. Die ander helfte van my dink dis okay, want ten minste is daar ’n redelike aantreklikke man wat my wil help met my probleme.
En hy kan dalk ook nog gevoelens vir my ontwikkel.
“Ja, uhm, die depressie is maar iets waarmee ek al jare leef. Ek praat nie gereeld daaroor nie,” eggo ek agterna.
Ek sluk al hoe vinniger aan my tweede gin en tonic en staar al hoe dieper in sy pot blou oë.
“Dis seker maar waarom ek ’n sielkundige en psgiater so baie betaal, of hoe?” chime ek verder.
Ek sit die res van die aand en luister aandagtig aan die gevolge van depressie en deel ook my ervarings.
Die stigma oor geestesgesondheid is iets wat ons meer oor moet praat, ja. Dit beteken wel nie dat een persoon se ervaring en pad tot genesing die enigste uitweg is nie.
Ag dis ook maar te vergeefs. Hy het die dag daarna Bybelversies en pro-tips gedeel oor hoe om ’n beter mens te wees.
Insluitend die lysie wat ek heelbo genoem het:
- Eet meer gesond (praat sommer met jou health-nut vriend daaroor).
- Oefen gereeld (kry ’n gym-maatjie wat jou soggens 06:00 gaan wakker maak om te oefen).
- Drink baie water.
Blah, blah, blah.
Dis baie cool, en alles, maar wat insinueer jy nou eintlik?
Ja, ek geniet ’n gymsessie by die Virgin Active, maar tjoklits is eintik baie lekkerder. En ek hou van skryf, konserte bywoon, goeie musiek en geselskap, slaptjips, en spontaniteit. Dit laat my beter voel.
Hierdie idee dat my liggaam ’n gevolg is van my siekte is so vreemd. My vet is tog deel van my. Dit kleef aan my been en spiere, en vul my klere heel gemaklik. Dit laat my maag skud as ek lag, en gee lekker drukkies (of dis wat my vriende sê). Dit beweeg saam met my as ek op die treadmill loop en werk hard om my studentelenings af te betaal.
Dit trek my uit die bed as ek nie kans sien vir opstaan nie nie. Dit steek my hartseer weg as ek moet sterk lyk in ’n vergadering. Dit omhels my as ek nie meer hier wil wees nie.
Al ons vetties se probleme sal MOS opgelos word as ons gewig verloor en meer “gesond” word.
Smiley-gesig emotikon(t). Thumbs-up emotikon(t).
“Sterkte!!!” lui sy laaste boodskap op whatsapp.
Ag, voetsek man.