Gielie Hoffmann skryf: Om te sing soos 'n Kanarie

Gielie Hoffmann skryf: Om te sing soos 'n Kanarie

Kanarie is die fliek wat ek wens ek as 15-jarige kon gesien het.

Vir geen ander rede as om iets op die grootskerm te sien wat my herinner aan die gesprekke wat binne my aan die afspeel was destyds en vir jare daarna.

Ja, die fliek is briljant – van teks regdeur tot toneelspel en musiek en regie. Maar as Afrikaanse tiener in die laat 90’s was daar nie enige films, boeke, tydskrifte, koerante of musiek wat ’n bepalende gedeelte van my uitgebeeld het nie: my seksualiteit.

As tiener het ek deur eindelose romantiese komedies gesit waar jong seuns en meisies op mekaar verlief raak. Saam met dit was die meegaande hande vashou, vry en vroetelary. Na ’n tyd word dit so normaal dat jy jouself begin verbeel dit is die norm. Want nerens sien jy twee ouens deur dieselfde gaan nie.

En as daar erens ’n gay karakter opduik is dit altyd ’n gemaklike stereotipe wat jou nog net verder vervreem: ’n kunstige vriend of die komiese haarkapper of die dwelmverslaafde of die verlore familielid. Nooit iemand as deel van ’n gelukkige en gesonde verhouding wat deel is van die samelewing nie.

So die besluit om jou plek in te neem en jou waarheid te leef word al hoe moeiliker; veral as jy ’n rugbyspelende boerseun is wat ook nie in sy eie gemeenskap blootstelling het aan gesonde gay rolmodelle nie. Of in ’n kerk is wat homoseksualiteit veroordeel. Of te gereeld in gesprekke is waar ander mense afkeurend praat van gays.

So dit vat ’n fliek soos Kanarie, al is jy nie singend of in die lugmag, om jou te herinner aan die lang pad wat dit gevat het om gemaklik te raak met hierdie gedeelte van jou menswees.

So dit vat ’n fliek soos Kanarie, al is jy nie singend of in die lugmag, om jou te herinner aan die lang pad wat dit gevat het om gemaklik te raak met hierdie gedeelte van jou menswees.

Ek kon baie gedeeltes van myself raaksien op die grootskerm deur die jare; ek is immers meer as my seksualiteit. Ek kon karakters sien worstel met sekere vrae. Ander het weer interessante beroepe beoefen. Of plekke besoek. Of ervarings gehad wat tot my gespreek het. Dit is seker hoekom ek tot vandag lief is vir flieks; jy ontsnap na ’n ander wêreld maar sien altyd iets van jouself raak. Dieselfde geld vir boeke, musiek en ander media.

Om iets in jou moedertaal te aanskou, in omgewings bekend aan jou, omring deur karakters wat net sowel familie en vriende kon wees, is konfronterend en gerusstellend op ’n dieper vlak. Om twee Afrikaanse jong mans te sien flankeer, geselsies maak, fisies mekaar aanraak en om dan ’n seksuele ervaring te deel is ongehoord.

Daar is baie interessante navorsing daarbuite wat wys dat baie gay mans eers in hul 30’s hierdie gedeelte van hulle tienerwees beleef, bloot omdat hulle as tieners nie dit kon doen nie. Baie heteroseksuele seuns beleef sulke mylpale op skool: die sit langs iemand in die atletiekbus, die dans by die partytjie, ’n vinnige vry in die fietsloods en die saambywoon van ’n matriekafskeid.

Vir meeste gay mans en vrouens is hierdie mylpale in hul volwasse-wording iets wat ontbreek en kan hulle dit eers beleef as hulle ouer is. Wanneer dit vir jou veilig is om dit te doen. Dit kan natuurlik nie heeltemal dieselfde wees nie, maar dit bly ’n nodige ontdekkingstog.

Om uit die kas te klim bly vir baie gays die grootste vrees van hulle lewe. Onsekerheid, verwerping, viktimisering en onkunde verhoed dit vir baie. Ook, ek het nog altyd gevoel dat geen straight persoon teenoor my uitgekom het as straight nie, so hoekom moet ek uitkom as gay. Veral as ons weet dit is nie ’n keuse nie. Maar jy moet êrens darem teenoor jouself uitkom.

’n Paar oomblikke in Kanarie het my emosioneel gelaat: in die heel begin waar Schalk Bezuidenhout se karakter, Johan Niemand, vir Ludolf (gespeel deur Germandt Geldenhuys) vra om asseblief sagter en kalmer te wees omdat hy aandag trek. Ludolf probeer sy bes maar dis nie deel van sy DNA nie. Hy is al gemakliker met wie en wat hy is. Vir Johan is dit te bekend om mee gemaklik te wees.

Om jou persoonlikheid te onderdruk om nie aandag te trek nie is iets wat meeste gay mense sal herken. Om minder van jouself te wees om nie aanstoot te gee nie. Oorwegings wat ’n straight ou glad nie het nie. Die wegkruip begin vroeg in mens se lewe.

Later wil Johan sy suster vertel van sy gewaarwordinge. Sy besef wat besig is om te gebeur en uit vrees vir wat haar man gaan sê praat sy hom stil. Hoeveel keer was ek ook nie al in daardie oomblik waar ek iemand wil vertel maar net nie kan nie, omdat ek uit respek uit hulle nie wil skok of seermaak nie. Ten koste van myself, natuurlik.

Kanarie is in hierdie opsig ’n ongelooflike geleentheid vir ouers om met hul kinders te gesels, vir onderwysers en predikante om meer insig te verkry, vir straight vriende om iets te verstaan van hul gay vriende se belewenis en ja, vir ’n generasie gay mans om vir die eerste keer iets van hulself op die grootskerm te sien. Hiervoor kan mens net Charl-Johan Lingenfelder en Christiaan Olwagen bedank.

Nou is die tyd ryp vir ’n Afrikaanse fliek waar gays nie as randfigure uitgebeeld word nie maar as doodgewone lede van die publiek.

Aan die einde van die fliek sê Johan Niemand: ons sing in ’n koor maar ons het nie ’n stem nie. Dit het nou verander: ons het nou ’n stem. Dis tyd om daardie stem te gebruik.


Gielie is 'n spreker en skrywer. Hy hou daarvan om ander te help. Volg hom op Instagram.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gielie Hoffmann skryf: Om te sing soos 'n Kanarie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand