Die onvermoë om te cope

Mixed media-grafika: Carla de Beer
'n Verwerking van Andy Weir se 'The Egg', deur Natasha Harmse
In 2022 verskyn Clare Coffey se essay Failure to cope under capitalism in die gewese aanlyn tydskrif Gawker. Dit word wyd versprei op X en ontlok hewige reaksies uit twee kampe: Kamp een sê die wêreld is nie meer menslik nie en ons sukkel om te cope, terwyl teenstanders sê suck it up, jou woke-millenial snowflake. Hier skryf ek in reaksie op ’n paar van Coffey se idees.
Sy begin met ’n verklaring: Ons het oorgeërfde trauma. Ons het ’n pandemie oorleef. Ons is neurodivers en in die minderheid. Ons het angs oor die klimaat. Baie van ons kan, om een of ander rede, nie cope nie.
Ek stem saam met haar wanneer sy sê sy het respek vir hierdie onvermoë om te cope: ’n Senu-ineenstorting elke nou en dan kan wondere doen vir jou perspektief op die lewe – daarsonder sou ek nooit kon aanvaar dat ek minder funksioneel is as die gemiddelde tiener nie. Ek is nooit betyds vir enigiets nie, ek kan skaars bestuur in ligte verkeer en glad nie in die nag nie, ek haat my selfoon en alle advertensies en ek kan nie lank genoeg op my tande kners om ’n onbetaalde internskap te voltooi nie. Die waarheid is dat die onvermoë om te cope deel is van my daaglikse bestaan (Coffey, 2022).
Met bogenoemde kan ek my volledig vereenselwig, maar bowenal sukkel ek om te cope met die media. Ek is nuuskierig, ek wil weet wat aangaan en ek wil weet wat ander mense dink. Soos Coffey sê: Daar is diskoers op die internet wat daarop aandring dat alle probleme herleibaar is na politiek. Die meeste van hierdie diskoers gebeur op sosiale media (Coffey, 2022) of, soos in my geval, in die kommentaar onderaan Netwerk24-berigte. Goed soos:
Waaksaam sê: N domumenter oor die duisende plaasmoorde en die Bela wetgewing, BBBEE ens, ens is reeds aan President Trump oorhandig. Hier kom perde.
Ek wonder wat sal ons met die perde maak?
Karla Sieta sê: Ek loop eerder ongewapen deur Mitchells Plain 2 uur die oggend as om in ’n demokraties oorwegend area te bly... die “nagging” sal jou mal maak en jou oor die afgrond dryf, letterlik.
Dít verstaan ek nie so lekker nie; miskien is die politiek nie vir my nie. Kom ek bepaal my maar by iets wat ek dalk kan verstaan. In reaksie op Trump se verklaring oor gender, sê ene Nissiewissie:
Mooi oompie Trump, dm like jou al hoe meer, “give that man Bells”, hierdie flippen mof tendense is so n skreidende fiegie, maar moet yog nie jou teenkanting daaroor uitspreek nie, dan raak fie mofkoppe heel mal en val jou aan asof jy v …
Dis net ná nege in die oggend; nie eers daardie derde koppie koffie kon my voorberei hierop nie. RELEASE ONMIDDELLIK MY VALSKERM. Ek fail om te cope.
Coffey vind in hierdie tipe diskoers ’n gemene deler:
The personal is political – so expanded in scope that, for a certain kind of person, personal problems, anxieties, and dissatisfactions are illegible or illegitimate unless described as political problems.
Vind hierdie keyboard-kommentators uiting vir hulle diepste duiwels deur middel van sulke unhinged stellings? Dis nie ék wat immigrante en/of/veral queer mense haat nie, dis Trump! Viva Trump!
Ek slaan my oë op na Clare:
If you think seriously about the good life and pursue it, you will probably fail in ways large and small. But an imperfect struggle to live well and love a world badly in need of repair is better than staying still because things are terrible.
Living well? Loving this world? Dis ’n tall order, Clare, maar diep in my hart weet ek dis lewensbelangrik om aan te hou probeer.
Vir die eierkoppe: 'n Verwerking van 'The Egg' (2009), Andy Weir
Jy was nog op pad huis toe, toe sterf jy.
Dis ’n motorongeluk. Nie besonder interessant nie, maar dodelik. Jy word oorleef deur ’n vrou en twee kinders. Dit was ’n pynlose dood. Die paramedici het jou tevergeefs probeer bybring. Jou liggaam is só verrinneweer dat jy beter daaraan toe is, glo my.
En toe ontmoet jy my.
Wat gaan aan? vra jy. Waar is ek?
Jy’s dood, sê ek, doodluiters. Daar was ’n gladde pad en ’n lorrie.
Ek is dood?
Jip. Maar moenie sleg voel nie. Dit gebeur met almal, sê ek.
Jy kyk rond. Niets. Net ek en jy. Watse plek is dié? vra jy, is dit die na-dood?
Min of meer, sê ek.
My vrou, my kinders...
Wat van hulle?
Sal hulle okay wees?
Dis wat ek like om te sien! Jy is pas dood en jou gesin is jou grootste bekommernis. That’s good stuff right there!
Jy kyk my verbaas aan. Vir jou lyk ek nie veel na ’n god nie. Ek lyk maar soos enigiemand. Boonop ’n vrou. Iemand wat een of ander vae magsposisie beklee, miskien soos by die verkeersdepartement.
Moenie worry nie, sê ek. Hulle sal fine wees. Jou kinders sal die mees volmaakte beeld van jou onthou. Hulle het nog nie genoeg tyd gehad om jou te leer verag nie. Jou vrou sal huil, maar in die geheim is sy verlig. Jy weet seker jou huwelik was op die rotse? As dit jou troos, sy gaan nog baie skuldig voel oor haar verligting.
O, sê jy. So wat gebeur nou? Gaan ek hemel of hel toe of iets?
Nee, sê ek. Jy word weer gebore.
Ah! sê jy, so die Hindoes was reg!
Alle gelowe is reg op hulle eie manier, sê ek. Stap saam met my.
Ons stap in die niet. Waarheen gaan ons? vra jy.
Nêrens spesifiek nie, dis net nice om te stap terwyl ons gesels.
So wat is die punt, dan? vra jy. As ek weer gebore word, is ek weer soos ’n vel skoon papier? ’n Baba? Al my kennis en ervarings wat ek in hierdie lewe opgedoen het, is weg?
Nie waar nie! sê ek. Jy het dit alles nog in jou. Ek gryp jou aan jou skouers. Binne-in jou is ’n lig wat suiwer en skerp en verblindend manjifiek is. ’n Menslike bewussyn is maar ’n klein houertjie wat net ’n fraksie van die groot, groot lig kan hou. Jy was vir omtrent 30 jaar in ’n mens, jy kon nog nie behoorlik uitstrek en jou volle bestek besef nie. As ons lank genoeg hier rondhang, sal jy alles weer onthou, maar dis nie heel prakties nie – ek het binnekort ’n ander afspraak.
Hoeveel keer is ek al hergebore?
O! Vele! En in vele vorme. Hierdie keer dink ek dit goed dat jy ’n arm Sjinese meisie in 540 nC is.
Wag, wat! stamel jy, teleurgesteld. So beteken dit, as ek dan in verskillende tye al gebore is, dat ek dalk iewers een van myselwe sal ontmoet?
Seker. Dit gebeur gereeld. Ek het die heelal gemaak net vir jou. Met elke nuwe lewe groei jy.
Net ek? Wat van al die ander mense?
Daar is niemand anders nie. Dis net ek en jy – en ek, uiteraard, is buite tyd-ruimte.
Jy staar verward na my. Maar al die verskillende mense op aarde?
Almal jy. Verskillende inkarnasies van jou.
Wag, so ek is almal!?
Nóú het jy dit! sê ek en klop jou op die skouer.
Ek is Hendrik Verwoerd?
En jy is Dimitri Tsafendas.
Ek is Hitler? sê jy, ontsteld.
En die miljoene wat hy vermoor het.
Ek is Jesus?
En almal wat hom volg.
Jy word stil.
Elke keer dat jy iemand ontmagtig, ontmagtig jy jouself. Elke goeie daad is ’n guns aan jouself. Elke geluk en elke greintjie lyding wat enige mens al ooit ervaar het, behoort ook aan jou. Wanneer jy elke moontlike menslike lewe in vlees en bloed gevoel het, eers dan het jy genoeg gegroei om ’n mens te wees.
“Elke keer dat jy iemand ontmagtig, ontmagtig jy jouself. Elke goeie daad is ’n guns aan jouself.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die onvermoë om te cope gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.