Is dit die bakkie of is dit die man?

Is dit die bakkie of is dit die man?

Mixed media-grafika: Carla de Beer

Afrikaanse tydskrifte, status en die stryd om erkenning

Ek sien hulle elke dag. Die bakkiebende.* Hulle sny in, druk voor, jaag op my af asof die Here self vir hulle ’n VIP-karavaan op die N2 beloof het. Die dogtertjie in my wil maar net padgee – skuif in, laat ry, leef langer. Maar die tannie? Die tannie in my? Sy raak rebels. Ek ry ook ’n bakkie – wel, nie regtig nie, maar my kar is groot. En ek kan my man, ek bedoel vrou staan, net om vir die Ford daar agter vir ’n sekonde ’n identiteitskrisis te gee. Of kan tannies nie aan die bakkiebende behoort nie? 

Want as ek dit reg verstaan, moet ek nou 140 km/h jaag, links verbyvat, my brights in jou retinas brand en op die toeter slaan soos ’n spoggerige laerskoolkind op ’n xilofoon in ’n Kerskonsert. Want dis hoe ’n “ware” man ry. Want tyd is geld, mag is spoed en ’n Fortuner ry mos nie agter nie.

Maar is die bakkiebende die moeite werd? Is hierdie beeld van manlikheid iets waarmee alle mans wil of moet identifiseer? Of is dit slegs wat die media voorlê en ons verorber dit soos ’n pak NikNaks op Saterdagmiddag wanneer niemand kyk nie. Deur debat en navorsing wil ek graag wys hoe die Afrikaanse media Afrikaanse manlikheid aan ons voorhou, en die pertinente vraag vra: Is daar plek vir ’n alternatiewe manlikheid, of hou ons eerder vas aan dieselfde normatiewe en hegemoniese ideaal omdat dit makliker is – en almal mos eintlik net ’n bakkie wil ry?

Tydens my meestersstudie het ek die uitbeelding van die vrou in Huisgenoot (1963 en 2013) ondersoek. In my proefskrif het ek toe die fokus verskuif na die konstruksie van Afrikaanse manlikheid in Afrikaanse tydskrifte (Huisgenoot, Intiem vir Mans, Kuier, Landbouweekblad, Plaastoe, Sarie en Weg!). Die besluit om my navorsing op hierdie wyse uit te brei, spruit uit ’n behoefte om die verhouding tussen gender en geslagte beter te verstaan – en om gemeenskappe te help onderskei tussen dié konsepte, maar ook om ooreenkomste uit te lig.

Is daar plek vir ’n alternatiewe manlikheid, of hou ons eerder vas aan dieselfde normatiewe en hegemoniese ideaal omdat dit makliker is – en almal mos eintlik net ’n bakkie wil ry?
— Susann Louw

Teoretici soos Judith Butler en RW Connell (bekend vir die boek Masculinities, 2005) is van mening dat manlikheid nie eensydig of staties is nie, en ek stem heelhartig saam. Manlikheid moet eerder gesien word as die prosesse en verhoudings waardeur mans hulle gender uitleef en bevestig. In dié artikel verwys manlikheid dus na die konstruksie van ’n soort gender – ongeag of dit tradisioneel as manlik en met mans geassosieer word.

Afrikaanse tydskrifte verbeeld manlikheid as iets wat gekoppel is aan suksesvolle beroepe, finansiële selfstandigheid en besittings. Nou kyk, ’n man moet darem ’n goeie werk hê, hoor ek ’n stem in my kop – dalk dié van ’n Tannie Bets-karakter wat die derde baksel beskuit vir die dag in die oond druk. 

Weg! verheerlik die boer en Harley-ryer; Huisgenoot vertel van mans met glansryke loopbane, soos Ryk Neethling by sy swemskool in Val de Vie en rugbysterre soos Cecil Afrika in al hulle glorie. Landbouweekblad skryf oor die uithaler-jongboer met sy vyf trekkers, ’n Toyota Hilux in die Boland, sy vrou, twee tot drie kinders (want die ekonomie is uitdagend) en ’n hond aan sy sy. Selfs in Intiem vir Mans (April/Mei 2013), in die artikel Wees die CEO van jou huwelik, word beroepsukses as metafoor vir verhoudingsukses gebruik. (Alle tydskrifartikels waarna ek verwys, word in my proefskrif in verdere besonderhede bespreek. Skanderings van hierdie artikels kan in die addendum van my proefskrif gevind word.)

Hieruit kan afgelei word dat CEO of besigheidseienaar ’n gesogte posisie is – ’n tradisionele konstruksie van manlikheid en selfs ideaal waarna baie mans streef. Dit herinner aan Connell se normatiewe benadering tot manlikheid: Die handhawing van ’n suksesvolle beroep word as ’n norm, asook vereiste voorgehou. So ontstaan verskillende konstruksies van manlikheid, gebaseer op hoe mans hierdie norme internaliseer en uitleef – soos deur hulle beroepskeuses. 

Maak nie saak watter bakkie of trekker jy ry nie – “regte” mans besit bakkies, want dit dui aan jy is ’n harde werker, ’n boer, ’n selfstandige ondernemer. Harley Davidson-ryers vorm ’n soortgelyke elite-kliek – net met leerbaadjies en ’n growwer brul.

Die man moet die broodwinner wees, maar ai, hy moet ook weet hoe om dit te spandeer, nè? hoor ek nog ’n stem in my kop – dié keer dalk van ’n Tannie Kotie-karakter wat wyshede deel met een wenkbrou gelig. Want status is nie net ’n werkstitel nie; dis ’n leefstyl. Jou bakkie in die oprit sê wie jy is. Dis nie net ’n voertuig nie. Jou finansiële selfstandigheid bepaal jou keuses, jou leefwyse en dus jou manlikheid. 

Uit bogenoemde voorbeelde is dit duidelik dat Afrikaanse tydskrifte ’n baie spesifieke beeld van manlikheid voorhou: Besittings en status bepaal jou waarde. Maar is hierdie verbruikersgedrewe beeld van manlikheid nie dalk ’n reaksie op ekonomiese onsekerheid en ’n veranderende samelewing nie?

Wat van die balletdanser in Kuier (Junie, 2013) wat internasionaal sukses behaal, maar steeds deur sy gemeenskap bespot word, want “dis nie ’n regte beroep nie”? Of Louwtjie, in die artikel Ryloop met ’n woonwa in Weg! (Mei, 2005), wat met slegs sy woonwa en familie duimgooi van dorp tot dorp omdat hy sy werk as ketelmaker verloor het? Is dié mans in minder aansien, net omdat hulle nie voldoen aan die vereistes vir hegemoniese manlikheid nie? Hulle volg hulle passie, stel hulle gesinne eerste – ’n opoffering en vorm van manlikheid wat braaf op sy eie manier is. Dié tannie sê: Dis ook kragtig. Maar volgens die media – nie kragtig genoeg nie.

Hierdie brose, bakkiegedrewe beeld van manlikheid is nie net beperk nie – dis ’n las. In my LitNet-artikel bespreek ek hoe Afrikaanse tydskrifte sukkel om ruimte te maak vir alternatiewe manlikhede: dié sonder mag, maar met integriteit; dié wat nie wil domineer nie, maar versorg. Maar in die hoofstroommedia is sulke mans skaars. Kom ons vra eerlik: Wie kry die reg om spoed, gesag en ruimte op te eis – op die pad én in die samelewing?

In Afrikaanse tydskrifte is mans die bestuurders: aktief, besluitnemend, op koers. Vroue is gereeld die passasiers: ondersteunend, volgsaam en stil. En wat as ’n vrou agter die stuur inskuif? Nie net van die voertuig nie, maar van die gesin, van haar loopbaan, van haar identiteit? Tannies wat bakkies bestuur, pas nie maklik in hierdie prentjie nie. Hulle moet óf die reëls breek óf leer om hulle rolle anders te bestuur.

Manlikheid en mag: Meer as net 'n groot bakkie

Afrikaanse tydskrifte skets manlikheid dikwels as iets wat óf ekonomiese mag óf fisiese oorheersing vereis: As jy nie geld het nie, moet jy met krag (fisies of met gesag) kompenseer. In sport is mag stylvol, dink aan Cecil Afrika en Ryk Neethling van vroeër. Maar as ’n man “foute” begaan – sy werk verloor, minder verdien as sy vrou – ervaar heelparty mans ’n krisis in hulle identiteit.

In die artikel Pa se slaaf & slaansak uit Huisgenoot (Desember, 2011) sien ons hoe mag dan in geweld oorgaan. In Weg! (November, 2009) se ironiese stuk Kampeer, braaivleis … rock & roll! breek mans hulle besittings in rebellie – ’n desperate daad om iets van hulle manlikheid te herwin. Wat gebeur met die man wat nie ’n bakkie, nie ’n werkstitel of ’n bankbalans het nie? In Sarie se Ek verdien meer as my man (November, 2013) word ’n vrou se sukses as bedreiging vir manlikheid voorgestel. In die Weg!-artikel (Mei, 2005), Ryloop met ’n woonwa, verloor Louwtjie meer as net mobiliteit – hy verloor gesag, identiteit, sy huis …

In Afrikaanse tydskrifte is mans die bestuurders: aktief, besluitnemend, op koers. Vroue is gereeld die passasiers: ondersteunend, volgsaam en stil. En wat as ’n vrou agter die stuur inskuif? Nie net van die voertuig nie, maar van die gesin, van haar loopbaan, van haar identiteit? Tannies wat bakkies bestuur, pas nie maklik in hierdie prentjie nie. Hulle moet óf die reëls breek óf leer om hulle rolle anders te bestuur.
— Susann Louw

Kom ons bring die tannie weer terug in die prentjie. Ek hoor ’n Tannie Hester-karakter se stem wat sê: Vandag se mans huil te maklik, maar ai, Gert – hoe moes die kind dan weet as jy hom net klappe gegee het? Só word manlikheid dikwels van geslag tot geslag oorgedra – met ’n harde hand en ’n maklike grap. Maar kom ons vra: As ’n man se waarde lê in sy bakkie, sy besittings, sy werkstitel – hoe gesond is dit? Wat gebeur wanneer hy dit verloor? Of nooit gehad het nie? Die druk om altyd dominant te wees hou nie net mans gevange nie, dit beskadig ook hul verhoudings.

So hier sit ek weer, vroegoggend op die N2. Die bakkies wat verby my jaag asof ek slegs ’n oranje cone op die skouer van die pad is. Brights en toeters regs en links … Is die bakkiebende net ’n heen en weer op die N2 of ’n voltydse stryd om erkenning, om betekenis en gesag? En sal Tannie Hester, Kotie en kie regtig hieraan wil deelneem? Dit moet elkeen seker vir hulleself besluit.

Enkele artikels in Huisgenoot, Kuier en Weg! begin reeds die idee van ’n toeganklike, meer versorgende man deurgee. ’n Pa wat sy kinders vashou. ’n Man wat sy emosies begin verwoord. Maar is dit genoeg? 

As manlikheid slegs verpak word in geld, loopbane en besittings, hoe lyk die man sonder dit alles?

En hoekom sien ons hulle so selde?


*Sien die artikel Hoofseun van die bakkiebende in Weg! (Julie, 2013).

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Is dit die bakkie of is dit die man? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand