Niggies: Stories is tydlose empatiemasjiene

Amptelike stills verskaf
In gesprek met Beer Adriaanse, Erica Wessels, Peggy Tunyiswa en Janru Steenkamp
Niggies, kykNET se eerste waremisdaad-reeks, is gebaseer op ’n meestal vergete hoofstuk van Suid-Afrikaanse kriminele geskiedenis: In 1966 verdwyn twee 12-jarige niggies op Odendaalsrus in die Vrystaat nadat hulle by die publieke swembad gaan swem het. Issie Fourie en Petro Nel word verkrag en vermoor. André, Issie se broer, sweer ’n eed om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Een van die vervaardigers van die reeks, Willem van der Merwe, het ’n persoonlike verbintenis met hierdie ware verhaal deurdat sy ma familie is van Issie en Petro.
Niggie se draaiboek is deur die bekroonde teatermakers, Saartjie Botha en Philip Rademeyer, geskryf en Jaco Bouwer is die regisseur van die reeks se nege episodes. Die rolverdeling is ook besonder indrukwekkend: Albert Pretorius, Beer Adriaanse, Carel Nel, Cintaine Schutte, Dwayne Vorster, Erica Wessels, Jacques Bessenger, Jacques Theron, Jana Kruger, Jane de Wet, Kristen Raath, Mbulelo Grootboom, Neels Clasen, Peggy Tunyiswa, Roeline Daneel en Tinarie van Wyk Loots.
Daar is twee verskillende rolverdelings om die twee tydlyne — die sestigs en tagtigs — te verteenwoordig.
Ek het met ’n paar van die akteurs gesels oor die verskeie uitdagings en spanwerk wat dit geverg het om hierdie traumatiese ware verhaal bykans 50 jaar later in die lewe te roep: Beer Adriaanse, wat in die hoofrol as die ouer André te sien is; Erica Wessels, wat die rol van Petro se ma speel; Peggy Tunyiswa, wat die rol van Sophie, die Nel-gesin se huishulp, vertolk; en Janru Steenkamp, wat die jong André speel.
MARYKE: Beer, wat aan die rol van André het jou interesseer?
BEER: Die idee van ’n karakter wat vir soveel jaar so ’n ongelooflike gewig ronddra, het geweldig uitdagend geklink en soos iets wat ek nog nie probeer het nie. Ek kon in die tekste voel dat hy basies twee mense is. Die een is ’n familievaste, joviale grapjas – basies wie hy sou wees as die moorde nie gebeur het nie. Die ander is hierdie verlore siel wat in sy drome én sy wakende lewe deur ’n trop wolwe gejaag word.
MARYKE: Hoe het hierdie rol wat op ware – en boonop grusame – gebeure gebaseer is, se voorbereiding en hantering verskil van jou ander rolle?
BEER: Ek het nog nooit ’n ware karakter uitgebeeld nie. Veral nie een wat so ’n traumatiese lewe gehad het nie. Wat my gehelp het, was om myself in die era waarin dit afspeel te verdiep. Hoe mans in die 80’s opgetree het. Hoe hulle nie hul interne worstelinge kon verwoord nie. Ons regisseur Jaco Bouwer het ook vir my video’s van Koevoet ensovoorts gewys, net om André se lewe – voor die reeks begin – in te kleur. Ons vervaardiger Willem, wie se tannies die regte slagoffers was, het ongelooflik baie argiefmateriaal met ons gedeel. Ek het byvoorbeeld met Issie se regte skooltassie in tonele gewerk. Dit het ’n heel ander verantwoordelikheidsbesef by my opgewek. ’n Mens weet nie of enige van bogenoemde in die eindproduk gaan lees nie, maar dit het die proses geweldig roerend gemaak.
MARYKE: Erica, dis die tweede maal dat jy by ’n reeks betrokke is waar kinders vermoor word [Donkerbos]. Dié keer speel jy die rol van ’n ma, en boonop is jy self ma van twee dogtertjies. Hoe emosioneel moeilik is dit om te verfilm en betrokke te wees in ’n ware verhaal soos dié een, waar kinders die slagoffers is?
ERICA: Dis obviously baie erg. En ek gooi myself in ’n ander realiteit in (Ousus s’n, in hierdie geval). So hierdie was by verre een van die emosioneelste rolle wat ek onlangs gedoen het, omdat om ’n ouer te word, te wees, ’n mens aktief verander. Die mens wat ek was voor Stella en Frida is ’n ander mens, ’n ander akteur, wat ander tegnieke gebruik het. Maar nou sit my hart buite my vel en die gedagte om my kinders te verloor is totaal skrikwekkend. But I went there nonetheless, it’s what the character and story required.
MARYKE: Waarom, dink jy, is dit nodig dat ons ’n moordstorie van bykans 50 jaar gelede nóú sien?
ERICA: Behalwe dat dit ’n baie aangrypende verhaal is, veral met die slidingdoors-effek (die twee dogters en twee moordenaars wie se paaie presies op daai oomblik kruis en hoe anders dinge nie sou gewees het met ’n drie of vier minute verskil aan weerskante nie), is daar die massiewe effek wat een traumatiese insident op ’n hele generasie en familie gehad het. Dis verby hartseer en ongelooflik hartverskeurend. Die storie is ook interessant oor juis die tydlyn. ’n Raaisel wat eers dekades later opgelos word. En die hartseer lê in die randomness van gebeure wat ’n onherroeplike lewensveranderende effek het.
MARYKE: Peggy, wie of wat het jou die meeste met die voorbereiding van die rol van Sophie gehelp of hoe het jy te werk gegaan om voor te berei daarvoor?
PEGGY: Ek is in die 80’s gebore en was een van daardie kinders wat agter ’n toyi-toyi gehardloop het gedurende dié jare, wat gelei het tot wyle president Mandela se vrylating. My herinneringe van daardie tyd, alhoewel dit deur die naïwiteit van kinderjare beskou word, bly lewendig. Om in die kunste te werk is ’n voorreg, aangesien dit ons voortdurend in die realiteite van die verlede, hede en toekoms indruk. Yekabani Le Panty, ’n produksie wat ek saam met Carin Bester geskep het, is by feeste regoor die land opgevoer. Die werk daag die hiërargiese stelsels uit wat Suid-Afrikaanse vroue in die gesig staar – toe en nou. In baie opsigte strook die werk in Niggies perfek met my voorspraakpogings.
Die grootste hulp wat ek nodig gehad het, was met die tale, veral Sesotho en Afrikaans, aangesien ek dit nie daagliks gebruik nie. Gelukkig is my gesin – wat meeste van Suid-Afrika se 12 amptelike tale praat – ongelooflik ondersteunend en het my gehelp om voor te berei.
Sophie staar die ontsettende pyn in die gesig om van haar eie kinders geskei te wees en haar liefde op te offer om vir hulle ’n beter lewe te gee. Haar een balsem vir hierdie angs is gebed. Ek het gewerk vanuit ’n plek van emosionele verborgenheid, waar hartseer, verlange, skuldgevoelens en eensaamheid weggesteek is onder ’n masker van oënskynlike gevoelloosheid. Sophie klou vas aan hoop, wat haar deur die ondenkbare staande hou.
MARYKE: Wat het jy geleer uit jou betrokkenheid by hierdie reeks?
PEGGY: Om deel te wees van hierdie reeks was ’n buitengewone leerervaring, aangesien ek saam met soveel bekroonde, professionele mense gewerk het. Elkeen het iets van onskatbare waarde tot my groei as akteur en individu bygedra. Van die voorreg om hulle in aksie te sien tot die samewerking, was die hele proses ’n meesterklas in storievertelling en spanwerk.
MARYKE: Janru, jy is ’n jong akteur wat sommer met die intrapslag met ons land se voorste akteurs, vervaardigers en kameramanne saamwerk. Is dit vreesaanjaend om op stel te kom en te weet jy is omring deur soveel ervare mense? Wat was die moeilikste deel van jou rol as die broer van ’n vermoorde sussie en niggie?
JANRU: Dit was aanvanklik vreesaanjaend, omdat ek ook nie geweet het hoe dinge op stel werk of wat die woorde wat die span gebruik, beteken nie. Ook omdat almal so goed en ervare is, wil jy nie die las of in die pad wees nie. Maar ek het baie vinnig geleer en die akteurs het my baie vinnig laat veilig en gemaklik voel. Die moeilikste ding was om die egtheid daarvan oor te dra. Dis vir my baie belangrik dat hierdie ware verhaal so eg en rou moontlik oorvertel word. Ek wou die storie lewendig maak. Die emosionele inhoud daarvan was moeilik. Dit moet met sensitiwiteit benader word, sonder om weg te neem van die rol. Dit was ’n geweldige leerskool. Die karakter se trauma was moeilik om uit te beeld, maar ook om dit te verwerk. Jy moet die heeltyd vir jouself sê dis OK; hierdie is nie jou storie nie; jou suster is OK. Jou kop weet dis nie waar nie, maar jou lyf sukkel om te onderskei tussen die realiteit en die karakter. Ek het baie geleer van menswees.
MARYKE: Beer, wat was vir jou die grootste uitdaging en toe ook oorwinning van hierdie rol?
BEER: Alles was uitdagend. Ek was nogal ver buite my gemaksone en het vir een of ander rede gesukkel om in die aande aan die slaap te raak. Dit was ’n mengelmoes van onsekerheid oor besluite wat ek daai dag in tonele gemaak het, maar ook ’n maalkolk van idees vir die volgende dag. Dalk het die min slaap gehelp vir die natuurlike kringe onder André se oë. Vir my was die oorwinning die absolute vangnet wat deur my medespelers en die tegniese span geskep is. Om by die werk op te daag en almal werk met totale toewyding en ywerigheid na dieselfde doel is skaarser as wat dit moet wees. Die res van die rolverdeling is van my gunstelingakteurs en die kans om met hulle almal saam te werk was die eintlike beloning. Ek dink daar loop baie Andrés in Suid-Afrika rond. Ek hoop ’n paar van hulle herken hulself en besef hulle is nie alleen nie.
MARYKE: Wat dink jy is die waarde van ’n reeks soos Niggies in 2025?
BEER: Ons land bestaan ook in die skadu van geweldige trauma. Nes die familie in Niggies, moet Suid-Afrikaners ’n manier vind om deur dit te werk. As kyker vind ek geweldige katarsis in flieks of reekse wat my via die karakters op my eie sielstog neem. Ek glo stories is tydlose empatiemasjiene en ons almal kan doen met ’n bietjie meer daarvan. Veral in hierdie gekkejaar.
“Ek glo stories is tydlose empatiemasjiene en ons almal kan doen met ’n bietjie meer daarvan. Veral in hierdie gekkejaar.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Niggies: Stories is tydlose empatiemasjiene gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.