The Promise ontvou soos origami
Die verhoogverwerking van Damon Galgut se Booker-pryswenner
Wanneer jy die land se beste akteurs, ’n bekroonde regisseur en ’n boek wat die Booker-prys verower het, as basis vir ’n toneelteks gebruik, is jy in vir ’n ding. As die choreograaf, komponis, stelontwerper en kostuumontwerper ook eersteklas is, kan jy gerus kennis neem. Al hierdie elemente kom bymekaar op ’n plaas in die noorde van Suid-Afrika in die tagtigs, waar rassekonflik, ongelykheid en bevoorregting onoorbrugbare klowe tussen mense veroorsaak.
Nardus Engelbrecht het agter-die-skerms foto’s geneem. Die produksiefoto’s is deur Claude Barnardo geneem.
The Promise is ’n verwerking van Damon Galgut se gelyknamige boek wat in 2021 die hoogaangeskrewe Booker-prys gewen het. Dis slegs die derde maal dat hierdie eer ’n Suid-Afrikaner te beurt val.
Galgut en die stuk se regisseur, die veelbekroonde aktrise en regisseur Sylvaine Strike, het die boek na ’n teaterstuk verwerk. Strike vertel: “Toe ek gevra is om hierdie verwerking te regisseer, het ek en Damon lank bespreek wat die meriete van ’n verwerking sou wees, en wat ek dink teater toelaat – wat ’n roman miskien nie toelaat nie – is ’n kollektiewe ervaring waar sekere sleuteltemas in die roman kollektief ervaar kan word in plaas van in isolasie. Salome aan wie die belofte gemaak is, is byvoorbeeld baie meer sigbaar, baie meer tasbaar, baie meer driedimensioneel in die toneelstuk as wat sy in die roman is,” vertel sy. “Damon laat doelbewus baie detail, baie tekstuur en baie beskrywing rondom Salome weg, want op dié manier illustreer hy sy punt. Sy is absoluut sentraal in die roman en haar stilte is die hardste stem in die roman. As daar dus na ’n verhoogverwerking gekyk word, word jy herinner dat soveel meer moontlik is met byvoorbeeld die karakter van Salome, deurdat sy deurlopend sigbaar en teenwoordig kan wees. Dit dien as ’n baie skerp herinnering aan ons vermoë – sekerlik as Wit Suid-Afrikaners – om te ontsnap aan ’n werklikheid waar ons nie sosio-ekonomies gelyk is nie.”
Die boek is kompleks genoeg. Om dit te verwerk tot teaterteks, dus geen maklike taak nie.
’n Mens wonder of dit moeiliker is om ’n roman te verwerk as die skrywer nog leef? “Glad nie,” vertel Sylvaine. “Trouens, een van my voorwaardes toe hy my genader het, was om te sê dat ek dit nie sal oorweeg om die verwerking te doen sonder dat hy betrokke is nie. Skrywers moet dikwels hul werk aan rolprentmakers of dramaturge afstaan, maar in hierdie geval – en hy was heeltemal bereid om dit te doen – het hy gesê hy voel nie regtig hy kan by ’n verhoogverwerking betrokke raak nie.”
Sylvaine loof ook die vervaardigers, Derek Lubner en Philip Bassett. Damon voeg by dat hy en Sylvaine ’n gemeenskaplike visie gehad het voordat hulle met die teks begin het. “’n Teks is net woorde op ’n bladsy. Om hulle in die mond van lewende mense te hoor, bring ’n heel ander dimensie. Teater is gemaak van beweging, lig, tyd en klank, en taal is net ’n toonelement in daardie mengsel en ’n nie-essensiële element – relatief gesproke.”
Die toneelstuk se uitgelese groep akteurs sluit in Rob van Vuuren as Anton Swart en die priester; Kate Normington as Rachel Swart en verskeie ander karakters; Frank Opperman as Manie Swart; Chuma Sopotela as Salome; Cintaine Schutte as Tannie Marina en Anton se vrou; Jenny Stead as Astrid Swart; Albert Pretorius as Dominee Simmers en ander karakters; Sanda Shandu as Lukas en ander karakters; Jane de Wet as Amor Swart.
Die stel is ’n skewe houtstruktuur met twee vlakke. Die ongebalanseerdheid van die karakters se wêreld is duidelik nog lank voor enigeen daarop probeer loop. Aan die agterkant is ’n klein loopvlak met ’n piepklein deurtjie wat jou aan ’n pophuis herinner. Hoog bo die verhoog hang ’n paar stoele aan ’n katrol en voor die verhoog staan ’n kontrepsie waaruit verskillende klanke deur verskillende akteurs opgetower word. ’n Klein houthuisie soos waarmee ’n kind sou speel, staan eenkant. Los vensters, ’n ou deur wat as blad vir ’n bokkietafel ingespan word, en ’n wit tafeldoek dien verskeie doele.
Dis drie uur se teatergenot. Uitmergelend vir die akteurs, gewis. Moeilike temas wat in jou derms kom sit. Herkenbare familietwiste; oorfamiliêre baklei oor grond, oor regte, oor gelykheid. Kwaai woorde tussen pa en seun; beloftes wat nie gehou kan óf wil word nie.
Dis eers wanneer jy – tot dan amper oopmond en verbysterd in ’n semi-beswyming van die “motorongeluk wat voor jou afspeel” – na die stoele wat uit die dak afgekatrol word, kyk dat jy sien elkeen se pote is ongelyk afgesaag. Die mense wat daarop sit, moet hul sit ken, want anders gooi dié halsstarrige perd jou af op die reeds skewe verhoog en dan is die bietjie balans wat jy dalk tot nou kon handhaaf, ook na sy peetjie.
Die oorspronklike musiek en klanke is soms onheilspellend, soms onverwags troostend en dis kenmerkend van die begaafde Charl-Johan Lingenfelder. Kaalvoet akteurs word in neutrale kleure deur Penny Simpson in geloofwaardige karakters geklee, en Natalie Fisher is choreograaf.
Oor die beligting en stelontwerp vertel Josh Lindberg dat hy deur Damon se beskrywende skryfstyl ïnspireer is. Toe hy die boek lees, het hy dadelik ’n onstabiele, onderstebo, gebroke, begrawe wêreld gesien, wat sy liefde vir asimmetrie op ’n verhoog aangewakker het.
Sy vertrekpunt vir die stelontwerp was die idee van ’n foto van die Swart-familie. “Ek het ’n stuk papier opgefrommel, want hulle verbrokkel, en net daarmee gespeel; dit soos ’n origami-iets gevou (ek het nog nie geweet wat nie). Ek het ’n vorm gekry wat met my gepraat het, en uit verskeie hoeke daarna gekyk en daarvan gehou dat dit gekantel en skuins is; dat dit begrawe is — maar nie heeltemal nie – en dat dit onderstebo en van die as af is.”
Die katrolstelsel en stoele met ongelyke bene het veelvuldige betekenisse. “Sylvaine wou hê die akteurs moes hierdie stuk soos ’n koor speel en verskeie karakters word. Ek het daardie idee omhels, nie net om ruimtes te skep vir hulle om te verken nie, maar om te gebruik, te manipuleer en uit te brei, soos ‘meganika’. Die toue is ’n vliegstelsel vir hulle om te gebruik. Tweedens, die toue is delikaat (dit is ou goiingtoue) en hulle het die verhoog wat opgerig is, onseker ‘gehou’, gekeer dat dit ‘val’ — natuurlik metafories. Vir my pas hulle eenvoudig by die wêreld wat ons geskep het. Die stoele is ‘van hul huis’. Eerstens gebruik ons stoele deurgaans op verskeie maniere soos wat die storie ontvou en soos hul wêreld al hoe meer verval. Ek is mal oor hierdie effek en hou van die verrassing vir die gehoor. Laastens het ons die feit omhels dat hulle deurgaans in negatiewe ruimte opgeskort word.”