Herman Lategan, enfant terrible, se lewe op die planke

Herman Lategan, enfant terrible, se lewe op die planke

Foto’s: Clifford Roberts

Oor die teaterverwerking van Hoerkind

’n Joernalis, ’n akteur, ’n teaterskepper en ’n regisseur stap by ’n restaurantkroeg in. Hulle dra Hoerkind: Die memoires van ’n randeier onder die blad. 10 maande later lyk die resep vir ’n (hartseer en skokkende) teaterstuk só: Neem een man se lewensverhaal wat soms só hartverskeurend is dat dit voel of iemand jou in die maag geboks het; maak hom boonop ’n bekende joernalis en skrywer. Voeg daarby ’n span bekroondes: Herman Lategan se lewensverhaal as “hoerkind”, Geon Nel wat die rol van Herman vertolk, Margit Meyer-Rödenbeck wat die produksie op die planke bring en Francois Toerien wat die teks verwerk het.

Gooi teaterligte en lang maroen linte wat uit die dak hang soos reuse-akrobaatringe, en vul die saal met melankoliese musiek deur Coenraad Rall en siedaar! Jy het uitverkoopte vertonings. Maar Herman Lategan se lewensverhaal van die afgelope bykans 60 jaar is alles behalwe siedaar! Daar is geen magic nie. Dis ’n lang pad vol hartseer. Hy word as kind buite die eg gebore wat aan hom dié titel van hoerkind besorg en soos die jare aanstap, word hy al meer ’n randeier. 

Ek gesels met Herman Lategan, Margit Meyer-Rödenbeck, Francois Toerien en Geon Nel oor dié show wat in Mei vanjaar by die Suidoosterfees première het. 


MARYKE: Herman, wat was jou aanvanklike reaksie toe Margit jou kontak en sê sy wil jou boek verwerk? Hoeveel insae het jy gehad in die uiteindelike teks?

HERMAN: Fokkit, ek was heeltemal verstom. Ek het dit glad nie verwag nie, en ek is nou nog in ’n dwaal. Ek glo vas ek is mos maar ’n kômmin moffie uit die agterstrate van Groenpunt en Seepunt, so hoekom sal iemand nou ’n toneelstuk van my lewe wil maak? Toe ek die première bywoon, was ek heeltemal oorbluf – dit is ’n puik produksie en die gehoor het dit ’n staande ovasie gegee. 

Ek het besluit om nie in te meng nie, want ek weet ek het te doen met professionele mense, nie amateurs nie. Ek het gewonder hoe hulle alles wat met my al gebeur het, gaan inpas, maar daar doen hulle dit toe. Ek haat inmengerige divas. 

Ek glo vas ek is mos maar ’n kômmin moffie uit die agterstrate van Groenpunt en Seepunt, so hoekom sal iemand nou ’n toneelstuk van my lewe wil maak?
— Herman Lategan

MARYKE: Was jy bly dat meer mense jou storie sou kon ervaar, of was jy huiwerig?

HERMAN: Ek was oorspronklik bekommerd, maar hoe meer mense vir my vertel die boek het hulle gehelp, hoe meer vertroue het ek daarin ontwikkel dat dit ook op die verhoog sal kan werk. Dit was en is in bekwame hande. 

MARYKE: Jy het genoem die boekskryf het nie closure gebring nie en dit was nie ’n cathartic experience nie. Voel jy anders met die toneelstuk? Wat sal vir jou closure bring?

HERMAN: Die boek het my weer in terapie laat beland, maar die toneelstuk is vir my meer helend. Dit is ongelooflik om ’n karakter op ’n verhoog te sien, dit is magies. Dit neem jou terug na die oertye toe mense stories vertel het om die vuur. Dit is intiem, nie net woorde op papier nie. 

Daar sal nooit closure wees nie. Dalk nie eens met die dood nie. Wie weet wat koekeloer daar aan die ander kant? Die lewe bring elke week nuwe uitdagings, jy loop deur kamers, van een vertrek na die volgende, jy kom nie by die voordeur uit nie. Dalk as jy doodgaan, kan jy die voordeur toesluit en wegloop, dalk nie.

MARYKE: Margit, wat het die verwerking van Herman se boek behels en waar kom Francois Toerien in?

MARGIT: Wat behels die skep van ’n toneelstuk van ’n boek na ’n play? Eerstens doen Francois die seleksie, en stuur aan vir kommentaar. Dan begin hy uitbou met input. Natuurlik verskil ons oor wat moet bly en gly, maar heeltyd hou jy in gedagte dat die produksie op sy eie bene moet staan. Jy skep basies ’n nuwe kunswerk met die oorspronklike boek as bron. Ons het baie van Herman se ander skrywes deurgewerk en bietjie daarvan ook ingewerk. 

So op draft 4 gaan ons dan vloer toe en die eerste week van repetisie het ek en Geon en Jeanne Steenkamp (verhoogbestuurder en assistent-regisseur) net aan teks sit en werk (as deel van teks-analise) en by draft 5 uitgekom. Hier het ons begin woorde oorsit in eerstepersoon, taal vergemaklik, en oorgange beloer. En toe ons op die vloer is — draft 7 en 8 — kom die snoeiskêr in en alles wat nie die hoofstorie se momentum voortdra nie, word gesnipper. Ek dink die grootste uitdaging van die verwerker is dat jy eenvoudig nie alles kan hou nie — hoe besluit jy op goeie draad?

Herman was fantasties en het ons 100% vertrou — hy wou nooit ’n teks of repetisie sien nie. Dit gee mens baie vryheid, maar terselfdertyd wil jy sy lewe met eerbied hanteer, maar tog met eerlikheid. Ek het heeltyd in repetisie gesê: “Solank Herman tevrede is, is ek tevrede.” Maak nie saak of die mense of koerante daarvan hou nie, Herman moet tevrede wees.

MARYKE: Hoekom is sulke rou stories in ons teater nodig? Het ons nie genoeg mishandeling en misbruik in die nuus elke dag nie?

MARGIT: Teater is ’n slice of life — ja, gedramatiseerd en hightened, meer intens omdat baie dinge (in die geval Herman se lewe) in ’n kort tyd moet afspeel. En hopelik dring ons deur, want maak nie saak hoeveel keer ons daaroor berig nie, mishandeling en misbruik gaan steeds voort. Dis asof die mensdom afgestomp raak teenoor die wrede werklikheid. Nuus is emosieloos, maar teater maak juis emosies wakker en die gehoor word daarmee gekonfronteer. Teater laat ons nie net ontvlug nie, dit plaas ons midde-in die situasie en hou die spieël op. Teater maak ’n verskil.

As ons die boodskap van die toneelstuk moet opsom: Val en opstaan gebeur met ons almal tot ’n mindere en meerdere mate. Almal het nie die krag om op te staan nie. Herman het. So dis ’n verhaal van helse verlies en seer en terselfdertyd oorwinning. Verder was dit vir my belangrik om te fokus op die seuntjie wat versaak is en verwerp gevoel het — Herman se oerwond — en daardie beeld baie sterk deur te trek, want dit het die res van sy lewe beïnvloed. En ek dink dis ons almal se storie — jou kindwees word nie altyd gekoester nie en daai seer bly vir die res van jou lewe en jy moet leer om daarmee saam te leef. Kinders se gemoed en koppies is so ontvanklik en al word mens groot en kan rasionaliseer, is dit moeilik om jou oerwonde te dissekteer en vrede te maak.

MARYKE: Francois, wat aan Herman se storie het jou belangstelling geprikkel?

FRANCOIS: Ek het ’n resensie van Hoerkind gelees en dit was die sneller. Ek het onmiddellik die boek bestel, maar nog voor ek gelees het vir Herman gekontak om te hoor of hy daarmee geneë sal wees as ek die boekverwerking vir die verhoog behartig. En omrede ek boekverwerkings geweldig geniet (dit is lekker om met ’n ander persoon se skapies te boer) en ook Herman se werk ken (ek het al voorheen van sy verhale in Binnekring van spookasems op die verhoog gebruik) het my ook gemotiveer. 

MARYKE: Wat was die moeilikste deel van die proses vir jou?

FRANCOIS: Die tweede moeilikste deel van die proses was om te besluit wat bly en wat nie. Herman skryf in sy voorwoord tot die boek dat hy mense ontmoet en dan oor hulle skryf. Die meeste hoofstukke word gewei aan presies dit, maar hierdie wonderlike en hoogs-vermaaklike waarnemings van mense hou nie altyd direk verband met die loop van Herman se lewensverhaal nie. Maar dit is so deel van Herman, daarom het ek lank geworstel met hoe ons hierdie element steeds kan dien sonder om te verval in stories wat nie die hoofplot stu nie.

Die moeilikste deel van die proses was om nadat die meeste teksbesluite geneem is, te besluit hoe die legkaart inmekaar moet pas. Alhoewel ons meestal die teks lineêr saamgestel het, is daar tog altyd herhalende temas, gebeurtenisse wat gefragmenteer word en byvoorbeeld jeugherinneringe in sy lewe wat inpraat op ervarings in sy volwasse lewe wat dan naas mekaar gestel kan word. Ek moes interpreteer en nie bloot stukkies teks aanmekaar las nie.

MARYKE: Geon, wat was jou grootste uitdaging aan die rol?

GEON: Om die teks lewend te maak, sonder om net Herman se gewoontes en spraakritmes na te boots. Ek wou so ver moontlik van karikatuur af wegbly, maar gelukkig was Margit en Jeanne daar om my te lei om die storie so eerlik moontlik te vertel. Dan was daar ook nog die baie woorde om te leer so tussen my swottings deur en twee ander produksies waarby ek ook betrokke was.

MARYKE: Was dit moeilik om iemand te speel wat nog leef en wat dikwels in die gehoor gaan sit?

GEON: Dis baie intimiderend om iemand te vertolk wat nog leef. Ons het net voor repetisies begin het met Herman een aand in die Vasco da Gama Taverna gaan kuier om hom te ontmoet en bietjie te gesels. Daai een aand het my baie gehelp om die essensie van Herman te probeer emuleer in stede van nabootsing. Daarna het ek doelbewus nie veel met hom gepraat tydens repetisies nie. Ek wou my interpretasie van die oomblikke in sy lewe saam met Margit ontgin, om dit uit ’n plek van eerlikheid te vind. Herman was ook vol vertroue met wat ons met sy lewensverhaal gaan doen. Dit was baie vrygewig en braaf van hom om ons met sy storie te vertrou. Gelukkig het die boek meer as genoeg om op terug te gaan vir inspirasie. Ek is seker ons gaan wel in die toekoms nog baie saam met Herman sit en gesels en kuier. 

MARYKE: Hoe verander die teks jou as mens?

GEON: Daar is soveel raakpunte met my eie lewe in die teks dat dit moeilik is om net een of twee uit te sonder. Ek dink die grootste verandering gaan by die gehoor plaasvind. Daar is soveel dinge waarmee ’n gehoor kan vereenselwig. Teater kan soms ’n vorm van terapie vir ’n gehoor wees, om hulself so in te leef dat ’n katarsis ervaar kan word. 

Met ons tweede vertoning het ’n dominee, hoog op in die NG Kerk Sinode, ná die tyd na my toe aangestap, heel ontstoke. Hy het sy hand na my uitgesteek en gesê hoe jammer hy is, dat die NG Kerk verkeerd was en dat hy hartlik om verskoning wil vra. Herman het heel toevallig langs my gestaan. Ek sê toe dat hy nie vir my moet jammer sê nie, sê vir Herman self jammer. Ek kon sien hoe geraak die persoon was om self vir hom jammer te sê oor al die jare se leed en onreg. So ja, hierdie produksie het verseker die vermoë om lewens te raak en gesprekke aan te wakker.


Hoerkind vertoon later vanjaar by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom en die Toyota US Woordfees in Stellenbosch. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Herman Lategan, enfant terrible, se lewe op die planke gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand