Onder 'n bloedrooi hemel en op 'n verhoog
Sien Onder ’n bloedrooi hemel by die Toyota Stellenbosch Woordfees tussen 28 September – 2 Oktober 2024. Kaartjies en inligting.
'n Onderhoud oor die trefkrag van Annemarié van Niekerk se memoir
In April vanjaar sit ek in die gehoor in een van die ouditoriums van die Artscape-teater, waar die eerste vertoning van die verhoogverwerking van Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika (2023, Tafelberg), Annemarié van Niekerk se memoir, by die Suidoosterfees opgevoer word. Vir diegene wat dalk nie bekend is met die memoir en die verhaal wat dit vertel nie, haal ek die programbeskrywing aan:
Onder ’n bloedrooi hemel vertel die verhaal van moorde op ’n Oos-Kaapse plaas, en hoe dit Annemarié op ’n reis neem die verlede in. ’n Reis waarin sy bestek opneem van haar grootwordjare, ’n liefdesverhouding met Denzel, ’n Swart kollega, en haar pa wat haar ten alle koste teen die wêreld wil beskerm – alles binne die hartverskeurende konteks van Suid-Afrika se bitter geskiedenis.
Om hierdie verhaal op die verhoog te bring, klink byna onmoontlik: Dit is eerstens ’n memoir, waarvan die skrywer en talle van die persone wat daarin verskyn, steeds leef (en in die gehoor kan sit); daar is ’n plaasmoord, politieke geskiedenis; ’n verweefdheid van die hede en die (baie messy) verlede. Bettina Wyngaard skryf byvoorbeeld dat die memoir “’n bietjie [voel] soos daai Babushka-poppies. Nes [jy] dink [jy] het een laag van die teks ontgin, kom daar ’n volgende en nog een”. Wat nog te sê daarvan dat hierdie verhoogverwerking met net drie akteurs en 90 minute op die klok uitgevoer moet word?
Dit is egter wel moontlik – soos ek in daardie donker ouditorium van die Artscape besef het – om 464 bladsye te kondenseer tot 90 minute, en steeds met die vae geklop van ’n gut punch weg te stap.
Queue die span wat dié onbegonne taak getakel het: Melt Myburgh, wie se idee dit was om die memoir vir die verhoog te verwerk; Hertzogpryswenner Nicola Hanekom, wat die teksverwerking gedoen het; Marí Borstlap, wat die stelontwerp en regie behartig het; en Cintaine Schutte wat Annemarié vertolk, Deon Lotz wat Annemarié se pa speel en Daniel Mpilo Richards wat die rol van Denzel aanneem.
Ná die stuk se debuut by die Suidoosterfees en net betyds voordat dit in September by vanjaar se Woordfees te sien is, het ek met Annemarié, Nicola, Marí, Cintaine en Melt gesels oor wat dit alles geverg het om dié besonderse, komplekse verhaal op die planke te bring. Lees die onderhoud hier onder.
ANDRÉA: Hoe was dit om jou memoir as’t ware te sien afspeel voor jou oë, Annemarié?
ANNEMARIÉ: Die stuk was vir my baie konfronterend, veral die heftige tonele. Ek dink ook omdat die spel so goed was. Deon het my pa só perfek vertolk dat dit vir my gevoel het dis regtig my pa op die verhoog ... By tye erg pynlik. Ook Denzel se karakter is ongelooflik goed gespeel deur Daniel – en dis ’n uiters komplekse karakter om te vertolk – aan die een kant ’n ingetoë sensitiwiteit, byna kwesbaarheid, en aan die ander kant ’n eksplosiewe ongenaakbaarheid. Daniel het daardie twee karakterpole op ’n mespunt gebalanseer. Uitmuntend. En Cintaine is natuurlik briljant. Sy het haar van die begin af, toe sy nog net die script gelees het, al so ingeleef in my karakter; sy was so totaal toegewyd aan die karakter, het so baie vrae gehad omdat sy so presies alles wou weet en verstaan. Sy het met die grootste sensitiwiteit en eerbied in my karakter gestap. Ek het dit immens waardeer.
Marí is ’n bondel verstommende, innoverende kreatiwiteit. Alles ... Haar regie, die stel, al haar idees oor hoe om die simboliek van die boek, die temas daarvan en ook die emosionele lading daarvan op die verhoog te verteenwoordig, was só weldeurdag, só raak, só treffend. En sy het nie net die hele uitvoering van die stuk uiters professioneel behartig nie, maar het ook vir my op ’n baie spesiale manier persoonlik in ag geneem. Die dag van die opening het sy vroeg, ek dink dit was so teen 6:30 die oggend, vir my ’n lang (omtrent 15 minute, as ek reg onthou) voice note gelos wat vir my enorm baie beteken het. Sy én die akteurs het met die manier waarop hulle met my rekening gehou het, my gedra deur die emosionele rollercoaster wat dit vir my was. Marí het na afloop vir my ’n pragtige rooi-en-goue armband gegee – simbolies natuurlik – ook nog toegedraai op ’n heel simboliese manier. Dis die soort mens wat sy is. Ek koester dit.
ANDRÉA: Nicola, hoe het dit gebeur dat jy die teksverwerking van Onder ’n bloedrooi hemel gedoen het? Kan jy iets deel oor hoe jy met al die verskeie rolspelers saamgewerk het, spesifiek met Annemarié as skrywer van die bronteks en met Marí as stelontwerper?
NICOLA: Melt Myburgh van Suidoosterfees het my uit die bloute gebel en gevra of ek die verwerking sou behartig. Ek was huiwerig omdat ek nog nooit vantevore so iets gedoen het nie en het gevra of ek eers die memoir kon lees. Ná die lees het ek natuurlik ja gesê, omdat ek tydens die lees so diep getref is. Annemarié het my baie vryheid gegee. Ná ek ’n redelik deeglike weergawe gehad het, het ons notas uitgeruil, maar daar was betreklik min. Ná die teks klaar was, het ek geen kontak gehad met Marí nie. ’n Teks is daar om geïnterpreteer te word. Ek hoor sy het mooi gemaak met die regie en ontwerp. Ek kon ongelukkig nie die belewenis meemaak nie, want ek was aan die skiet in Johannesburg.
ANDRÉA: Melt, wat het jou laat voel dat Onder ’n bloedrooi hemel ’n teks is wat vir die verhoog verwerk moet word, ongeag die uitdagings wat gepaard gaan daarmee om ’n teks van dié aard op die planke te bring?
MELT: By die Suidoosterfees is ons altyd op die uitkyk vir stories wat geskik is vir verwerking in ’n verhoogproduksie, en wat gehore sal aangryp en met nuwe oë na die wêreld sal laat kyk. Boeke is natuurlik die voedingsbron vir uitnemende teaterstukke, soos wat ons met verskeie produksies op die kringloop sien. Wanneer ’n briljante boek soos Annemarié se Onder ’n bloedrooi hemel verbykom, met ongelooflike dramatiese potensiaal, ook vir die verhoog, is dit ’n heerlike uitdaging om die moontlikheid van ’n verhoogweergawe te ondersoek. Die manier waarop temas soos liefde en geweld in die boek ondersoek word, is uniek in vele opsigte: Dit word vanuit die perspektief van ’n Afrikaanse vrou gedoen, gegrond op deeglike navorsing; dit bied insigte wat ontdaan is van voorspelbare plaaslike narratiewe oor geweld; en te midde van die tragiese gegewe bring dit na my mening hoop vir ons Suid-Afrikaners wat in dié gemorsige situasie vasgevang is en dit teen wil en dank moet deurleef.
Suid-Afrikaners is, heeltemal verstaanbaar, versadig aan narratiewe oor geweld, maar die spieël wat Onder ’n bloedrooi hemel aan ons ophou, is juis nóú, in hierdie tydsgreep van ons geskiedenis, uiters belangrik om van kennis te neem. Natuurlik is die uitdagings om so ’n omvangryke, dik boek vir die verhoog te verwerk legio, maar ons het die projek aangepak juis om daardie uitdagings, en nie ten spyte daarvan nie. Om te sien hoe die beste mense in die bedryf daarmee omgaan en te aanskou wat uiteindelik op die verhoog gebeur, dít is die groot avontuur van ’n projek soos hierdie een.
ANDRÉA: Annemarié, wat was jou aanvanklike reaksie toe Melt voorstel dat jou memoir vir die verhoog verwerk moet word? En hoe het jy dit ervaar om jou storie oor te laat aan Nicola, Marí, Cintaine, Daniel en Deon?
ANNEMARIÉ: My aanvanklike reaksie was nogal dubbel. Aan die een kant was ek super opgewonde dat my boek via ’n ander medium voortsetting sou kry – ’n ongelooflike vooruitsig! Aan die ander kant het ek my hart vasgehou, want die boek gaan oor persoonlike dinge, pynlike dinge, ook is dit ’n verhaal wat met presies die regte klemtone en nuanses vertel moet word om nie verkeerd verstaan te word nie. En ek sou dit moes oorlaat aan ander se hande. Toe het ek nog nie eens geweet wie se hande nie. Dis ’n sprong in die donker. Ek moes blindelings vertrou. Jy weet, mens werk soveel jaar aan so ’n boek, kies elke woord versigtig uit – dis jóú woorde en jy weet presies wat jy daarmee wil doen en hoe jy dit wil doen. En dan, ewe skielik, moet jy dit oorgee aan ander om dit op hulle manier te vertolk. Ek is ’n control freak as dit oor my eie werk gaan, so dit was angsaanjaend, maar wel ’n goeie oefening in onthegting en in vertroue in ander se kreatiwiteit en sensitiwiteit.
ANDRÉA: Kan jy meer vertel oor jou betrokkenheid by die verwerking van die teks vir die verhoog en die res van die proses om die stuk voor te berei vir gehore? Was jy byvoorbeeld ooit teenwoordig of betrokke by die repetisie van die stuk?
ANNEMARIÉ: ’n Skrywer wie se boek vir teater verwerk word, is eintlik nie veronderstel om in te meng nie. Jy het jou kreatiewe proses afgehandel. Die toneelverwerking is ’n totaal ander kreatiewe proses. En dit respekteer ek heeltemal. Ek het wel aan Nicola gesê dat as sy wil hê dat ek haar teks deurlees en kommentaar gee voordat sy dit finaliseer, ek dit graag sal doen. Dit is ook wat gebeur het. Ek het die pre-finale en daarna die finale teks deurgelees en hier en daar iets anders voorgestel, maar bittermin. Nicola het, waar sy saamgestem het, my kommentaar verwerk, en waar sy nie saamgestem het nie, presies en gedetailleerd verduidelik waarom nie. Die hele proses het baie soepel gegaan.
Ek het ook vir die akteurs en Marí gesê dat as hulle oor enige iets wil praat of vrae het, ek bereid is om te gesels. Soms het ons gewhatsapp, maar Cintaine, Daniel en Deon wou ook persoonlik met my gesels. Dit het wonderlik gewerk – die gesprekke was baie produktief, ook vir hulle om ’n gevoel van my en my storie te kry, en vir my om my vertroue in hulle te bevestig.
Ek het vir Marí gevra of ek van die repetisies mag bywoon. Ek het gedog as ek voor die tyd so bietjie ’n idee kry van wat hulle doen, dit nie op openingsdag vir my alles te oorweldigend sal wees nie. Maar Marí het gesê dat sy so graag wou hê dat my eerste ervaring die volledige ervaring moet wees, met ál die elemente. Ek het heeltemal begrip daarvoor gehad, want ek werk ook so – ek is nie ’n skrywer wat byvoorbeeld daarvan hou as my editor, voor ek klaar is met die first draft, kyk en kommentaar lewer nie. Ek wil eers self heeltemal tevrede wees. So ek het haar wens totaal gerespekteer.
ANDRÉA: Nicola, wat was vir jou die grootste uitdaging van die verwerking van Onder ’n bloedrooi hemel? Hoe belangrik was dit vir jou dat die verhoogverwerking getrou is aan die teks? Hoe het jy byvoorbeeld besluit watter dele uit die memoir gesny en watter dele gehou moet word?
NICOLA: Die vraag beskryf my dilemma in ’n neutedop. Dit was vir my baie belangrik om getrou te bly aan die memoir, maar ek kon bloot nie alles insluit nie. Die memoir vind ook plaas oor baie jare en in verskillende plekke. Ek moes my tot drie karakters beperk. Dit sou makliker wees om ’n fliek te maak, het ek gedink. Teater forseer jou tog om dinge te stroop tot essensie. Ek het probeer snoei sonder om so nerf-af te gaan dat mens Annemarié se stem verloor. Daar is soveel diepte in die memoir, ek wou daai diepte asook haar dapperheid behou. Die grootste uitdaging was daarom dat dit nie fiksie is nie, maar die waarheid. As iets werklik is kan werklike mense seerkry, word werklike mense blootgestel en geraak. Ek het ’n groter verantwoordelikheid gevoel. Annemarié was baie dapper met die skryf. In boekvorm het mens baie meer tyd om al die fyn besonderhede te vervleg, sin te maak en alles in detail te beskou. Verhoogtyd is knap en omdat alles nie ingesluit kan word nie, is daar meer ruimte vir misverstand.
ANDRÉA: Marí, watter elemente van jou eie visie vir die stuk was vir jou die belangrikste om vas te vang deur middel van jou rol as regisseur en stelontwerper?
MARÍ: Die lewe van ’n persoon is op soveel vlakke op die stel vasgevang. Die kleure wat ons gebruik het, is vir my baie belangrik. Ek was van die begin af baie geïnteresseerd om die landskap vas te vang – die Suid-Afrikaanse landskap, die geografie, die kleur van grond en klip, die kleur van oker, die kleur van bloed. Ek het gevoel mens het nodig om vir hierdie baie groot, moeilike, pynvolle kwessies simbole te gee. Dit sluit maar weer eens net aan by my belangstelling in Jung se werk en in mitologie. Dis amper asof ’n mens die geleentheid kry om dinge te kan sien en te kan ervaar wat in die kollektiewe bewussyn die heeltyd besig is om ’n invloed te hê op ons lewens. Dis iets wat mens voel of sense, dis iets wat jou lewe beïnvloed, maar jy kan dit nie sien nie. Om dít visueel tasbaar te maak is een van die geskenke van teater.
ANDRÉA: En is jy tevrede met hoe die eindproduk op die planke in die lewe geroep is?
MARÍ: Ja, ek is tevrede. Ons het baie, baie min tyd gehad. Ons het die hele stuk – al die elemente, alle aspekte – in twee weke gedoen. Ek weet partykeer nog steeds nie hoe dit gebeur het nie. Maar, jy weet, ek doen dit nie alleen nie – dis die span, maar ook jy’s definitief in kontak met die argetipiese realm, en daai baie kragtige energieë was definitief deel van ons proses. Dit is ook deel van die proses gemaak deur die manier wat ek werk: deur doelbewus in te tap in die onbewuste en in die groter omvangryke intelligensie wat rondom ons is, veral in kreatiewe werk. Die hele lewe is een groot creation. Maar wanneer mens met intensie iets kreatiefs skep, dan kan jy ook regtig met daai soort ingesteldheid werk. Dit was vir my belangrik om ’n geloofwaardige produksie te skep wat die boek sowel as die teaterteks eer, maar in dieselfde asem was dit nie ooit my intensie om dit naturalisties aan te bied nie. Ek dink nie dit sou gewerk het nie. Ek voel my visie was duidelik vir myself en ek het hopelik dit reggekry om dit deur te voer vir die gehoor ook. Ek was beïndruk met hoe diep gehore in dit kon inlees.
ANDRÉA: Ek het veral gehou van die rooi lint wat as motief herhaal deur die verloop van die stuk. Jy noem in ’n ander onderhoud dat jy inspirasie uit die sielkunde, drome en mitologie geput het vir die stelontwerp, en dat jy hierdie lint-element op die Griekse mite van Ariadne gebaseer het. Ek het dit self ook gelees as die drade wat ons saambind as Suid-Afrikaners; die web van politiek, geskiedenis, aandadigheid, geweld, ensovoorts waarin Suid-Afrikaners almal vasgevang is. Was dit ook die idee daaragter? Of wat dink jy van dié interpretasie?
MARÍ: Ek dink jou interpretasie is goed. Mens kan dit ook sien as die manier hoe ons aan ons geskiedenis en aan ons landskap en aan ons binnelandskappe verbind is. Ek dink die wonderlike ding van kuns is dat daar nie ’n reg of ’n verkeerd is nie, in my opinie. En veral wanneer ’n mens ’n skepping in die kollektief, in die samelewing loslaat, dan is ek baie gelukkig wanneer mense hulle eie simboliek en gevolgtrekkings maak. Ek het doelbewus nie in realisme of naturalisme gewerk nie. Ek voel baie veilig en ek is baie vertroud met ’n meer abstrakte of meer simboliese ondersoek van tekste.
In hierdie geval, omdat dit so ’n gewelddadige storie is – dis heavy, heavy materiaal en dit het regtig gebeur; daar is nog steeds mense wat met die onmiddellike nagevolge van alles wat in hierdie storie uitspeel, moet leef dag tot dag – was dit vir my belangrik om te kyk na wat die mitologiese of simboliese of die figuurlike waarde is wat mens so half kan inspan om hopelik die gehoor te laat dink. Dis amper ’n visuele taal vir die subteks wat ek probeer skep het met die wol. En ook dat dit ’n lewenslyn is, en dat daar ook gereeld in die stuk duidelike oomblikke is waar goed afgesny word, waar goed klaar is, waar kontrakte uitgedien is. Die rooi is so significant in die stuk. Dis ook die rooi wortels wat groei. Vir my is die toue wat uit die dak hang, baie simbolies, want dis asof alles onderstebo is. Maar ek wou ook uiteindelik ’n vorm van – hopelik – berusting, versoening, hoop probeer skep. Dis definitief ’n multidimensionele simbool, die rooi wol, wat baie dinge verteenwoordig, veral in die konteks van hierdie storie, maar jou interpretasie is definitief, in my opinie, geldig en goed. En dis altyd vir my lekker om te hoor hoe mense dit interpreteer het.
ANDRÉA: Cintaine, kan jy iets deel oor hoe jy voorberei het daarvoor om die karakter van Annemarié te vertolk?
CINTAINE: Ek het eerstens die verhoogteks by Nicola gekry en ek het daardeur gelees en toe besluit ek natuurlik om die boek te lees, wat vir my ’n ongelooflike luuksheid as akteur is: om hierdie memoir te lees en in Annemarié se psige te kan klim. Die boek is só ’n wonderlike boek en dit vat jou deur haar hele journey in detail. En soos ons albei weet, dis ’n stewige, lang boek. Maar wat vir my baie lekker was, is ek kon met die verhoogteks langs my sit en met die boek cross references maak. As ’n mens na die verhoogteks kyk, moes Nicola – en ek dink sy het ’n wonderlike werk gedoen – soveel moontlik temas en die gevoel van die boek, die psige van Annemarié, in 90 minute vasvang, waar die boek omtrent oor die 400 bladsye is. Maar vir my, omdat die verhoogteks ook so spring tussen tydlyne, kon ek letterlik die boek vat en kyk waar die psige is, waar Annemarié is, en dít as lae en nuanses in die teaterteks werk. As ’n mens ’n verhoogteks het wat verwerk is vanaf ’n boek, en dis nie net ’n fiktiewe karakter nie – it’s a memoir, it’s a real person – gaan dit deur verskillende fases. Hier’s die boek wat sy eie psige het en dáár word sóveel bespreek, en dan word dit na ’n verhoogteks omskep waar mens soveel moontlik van daai hart en psige van Annemarié wil vasvang, en dan bo-op dít kom nóg ’n laag deur die span agter Onder ’n bloedrooi hemel – Marí, ek, Deon en Daniel – wat dit ons eie ook gemaak het en dit dan na die verhoog toe bring.
Dis vir my baie lekker om as akteur daai drie fases te ondersoek en vir myself die vraag te vra: “Gaan ek Annemarié as karakter speel, of Annemarié as ’n mens?”, en ek kon eintlik tussen daai twee gly en besluit, “weet jy wat, daar is nie vaste reëls hiervoor nie.” Dit was vir my ook verskriklik lekker dat ek Annemarié kon ontmoet, met haar kon gesels, vir haar vrae kon vra, die regte vrae wat ek wou vra om haar ook te respekteer. Maar ek het vir myself belowe ek gaan my eie aanslag daarop sit, my eie interpretasie, en natuurlik met Marí se spelleiding. Ons het net drie performances by Suidoosterfees gehad, wat baie min is. Annemarié was by twee van die performances. En natuurlik speel ons vir ’n gehoor – die gehoor is amper nog ’n karakter van die teaterstuk – maar my grootste ding was, as Annemarié happy is en ons het haar storie vertel en ons het die balans gevind, dan is ek gelukkig. Ons as akteurs is storievertellers, we’re vessels for letting the stories flow through us, en ons hou ’n spieël op vir die gehoor. Ons is net ’n vervoermiddel vir Annemarié se storie, en ek bedoel dit nie op ’n oppervlakkige manier nie. Dis maar ons verantwoordelikheid om haar storie ons eie te maak op die ou einde van die dag.
ANDRÉA: Marí, jy noem in ’n ander onderhoud dat die stuk “’n besonder klankryke stuk” is. Videokuns deur Richard Thompson met musiek deur Wilken Calitz vorm ook deel van die stelontwerp. Waarom het jy besluit om hierdie elemente op die verhoog te beklemtoon?
MARÍ: Uiteraard omdat dit teater is, is dit ’n ander medium waarin ons die storie van die boek vertel, so dit gaan outomaties anders aangebied word. Maar ek dink omdat ek spesifiek besluit het om die teks uit ’n spesifieke oogpunt aan te bied het dit vir my sin gemaak om, soos wat ek met die simboliese visuele elemente werk, om ook die klankbaan en die videomateriaal in te span as addisionele lae, soos ’n kunswerk. Die klanklandskap is veral in my werk amper soos ’n addisionele karakter. Ons het spesifiek gewerk met die idee van temas en variasies van temas vir karakters, so (of ’n gehoorlid daarvan bewus is of nie) sekere musiek keer terug wanneer sekere karakters op die verhoog is, of wanneer sekere goed gebeur, of wanneer daar ’n terugflits is. Ek is ’n baie groot liefhebber van Beethoven se werk. Ek dink klank – in teater maar in hierdie stuk spesifiek – is in my opinie die fondasie, want dit skep ’n gevoelswêreld, en dit stel tot ’n mate die toon. Dit help die gehoor om die binnereis van karakters beter te volg en dit skep affek. Klank het daai impak. Wat die videomateriaal aanbetref: Dis ’n manier om in die karakters se kop in te klim, om beelde te gee, te skep wat ons as ’n gehoor help om die multidimensionaliteit van die storie te ervaar, om blootstelling te hê daaraan. Dis alles simbolies. Dis die gevoel-van. Ek werk op daai level.
ANDRÉA: Wie hoop julle sit in die gehoor tydens ’n opvoering van Onder ’n bloedrooi hemel? En wat hoop julle neem kykers weg van die stuk?
MELT: Ek sou graag elke Suid-Afrikaner in die teater wou sien. Ek glo dat kykers sal uitstap met die gevoel dat hulle ’n aanskoulike en ontroerende teaterervaring gehad het, en dat hulle op nuwe maniere sal nadink oor ons samelewing, oor ons rol as individue in een van die wêreld se mees komplekse samelewings, en dat die stuk se insigte in die oorsake van ons spesifieke uitdagings ’n mate van troos en ook hoop vir die toekoms sal bring.
CINTAINE: Die wonderlike ding van teater is dat jy in hierdie swart gat in die ouditorium verdwyn, en dis net jy met jou eie gedagtes en jou eie spasie waar jy kan sit en dink en reflekteer. Want net soos ons as storievertellers ’n spieël vir die gehoor ophou, hou die gehoor ’n spieël vir ons as akteurs op, en binne-in dít begin daar reeds ’n gesprek. En daar is nou ’n gesprek rondom die temas in Onder ’n bloedrooi hemel. Ek meen, dis ’n luuksheid om ná ’n vertoning by Suidoosterfees uit te stap en met ’n klomp mense te praat oor hoe dit vir hulle in die seventies was, hoe dit vir hulle in die eighties was. Dit was ’n baie diverse groep mense wat kom kyk het. Dit is wonderlik, die gesprekke wat ontlont word. Dís waarvoor ek hoop, dat daai gesprekke net aanhou en aanhou. Ek is in 1987 gebore – ek het met ’n klomp mense gepraat wat baie ouer is as ek; ek het met ’n klomp mense gepraat wat rondom dieselfde tyd as ek gebore is, jy weet, daar was net soveel geleentheid vir perspektief oor die temas wat in die verhoogteks aangeraak is.
Ek dink nie ek mik vir ’n spesifieke ouderdomsgroep of spesifieke tipe mens wat in die gehoor moet sit nie. Álmal moet dit kom kyk. Want die ding is, ek het in Annemarié se memoir ’n paar goeters van my land geleer wat ek nie geweet het nie. Die geskiedenis van ons land en hoekom ons land so kompleks is. Annemarié het met groot geeste tyd deurgebring wat uit verskillende agtergronde gekom het. Sy gee die geskiedenis van ons land en waar ons land was op daai oomblik en waardeur ons land is en wat buite dit gebeur het. Sy draai nie ’n dowe oor of ’n blinde oog vir enige iets wat gebeur het in die land nie, so ek hoop dat enige iemand die teaterverwerking kom kyk en daarna ’n nuuskierigheid het om die boek op te tel en dit te koop en dit te lees, maar ook buite dít, om hierdie tipe gesprekke te voer met mense wie se storie jy nie ken nie, wat nie jou storie ken nie – om te gaan “hey, wat’s jou storie? Wat’s mý storie?”
NICOLA: Ek hoop altyd op ’n breë spektrum in enige gehoor. Ek hoop dat die stuk mense wat deur soortgelyke ondervindinge is, sal help. Ek hoop dat gehoorgangers getref sal wees deur Annemarié se braafheid en haar vermoë om die waarheid stip in die oë te kyk. Ons kan almal by haar leer dat mens sonder om jou deernis te verloor, nie doekies hoef om te draai nie. Dat mens groei as jy alles en almal insluitend jouself bevraagteken.