Magda Louw is meer as 'n karikatuur
Karen-kapsel, altyd in 'n cardigan, met 'n serpie om die nek
Kykers het vir die eerste keer in 2021 kennis gemaak met Magda Louw (Desiré Gardner) en haar man, Erhard (Hannes van Wyk), in die kykNET-TV-film Magda Louw. Die film beeld ’n dag in die lewe van ’n middeljarige vrou – of, soos Magda dit stel, ’n vrou in haar “herfsjare” – uit, in die styl van ’n dokumentêr. Shaun (Gershwin Mias), die geduldige kameraman en regisseur van dié “dokkie”, vergesel vir Magda en Erhard na Magda se jaarlikse checkup by die ginekoloog. (Fun times.) In 2023 is die TV-film deur Gardner verwerk na ’n TV-reeks met dieselfde titel en in dieselfde mockumentary-styl. Dié keer met Magda en Erhard se kinders, Gertrude (Cintaine Schutte) en Baltus (Bennie Fourie), en die familiehond, Giel, wat by Magda, Erhard en Shaun aansluit.
Magda Louw — die karikatuur — is die produk van Desiré Gardner se verbeelding. Gardner vertel dat sy vir Magda reeds as 17-jarige opgetower het. Voordat Magda Louw ’n suksesvolle kykNET-TV-film en, later, ’n suksevolle kykNET-TV-reeks was, het Gardner die eenvroustuk by vrouetees en skole opgevoer. In ’n full-circle moment is Magda hierdie jaar weer op die verhoog, dié keer by Suidoosterfees, Innibos en die Vrystaat Kunstefees – en dié keer is sy beroemd.
In beide die film en die reeks leer kykers Magda ken as die personifikasie van Die Afrikaanse Tannie. You know the type: Hare geknip in ’n weergawe van ’n Karen-kapsel; altyd in ’n cardigan, met ’n serpie om die nek. Sy noem almal “my skarrebol”. Sy skel en kwets gedurig vir Erhard; sy is byna neuroties-angstig in haar vriendelikheid; en sy het ’n liefde vir ’n flou grappie (gereeld van body shaming-aard) en die geneigdheid om dié grappies op die mees onvanpaste tye te laat val.
Gardner beskryf Magda Louw self as ’n “‘tong-in-die-kies’ en ‘knop-in-die-keel’ kykie op die onvermydelike dinge in die lewe, soos oudword” wat “’n blik [gee] op die uitdagings wat ma-wees bied, huweliksprobleme, hoe om jou lewenspad saam met een mens te stap, menopouse, die uitdagings van die middeljare, jaloesie en botoks”.
My eerste encounter met Magda was by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein vanjaar. Ek het vóór dit al gehoor van dié befaamde tannie wat haar eie TV show op kykNET het, maar het dit toe nog nie self gesien nie. Ek was nie gereed vir wat volg nie.
Die uitverkoopte Albert Wessels-ouditorium in Bloemfontein was ’n see van Magda Louw’s; die Esté Lauder het swaar gehang in die lug. Die verhoog is baie eenvoudig ingerig, met net ’n tafel (waarop ’n foto van Magda haarselwers uitgestal is) en ’n gemakstoel. Dis die tipe estetika waarin ’n mens Live Love Laugh-paraphernalia verwag. Magda kom die verhoog opgedans. Die copy-paste Karen-kapsels van die gehoor knik op en af op die ritme van die musiek. Wanneer Magda tot bedaring kom, volg iets tussen stand-up en ’n motivational talk. Met twee song numbers tussen-in. En voor ek weet, lag ek saam vir Magda en haar ernstige case of foot-in-mouth disease.
Teen die einde van die vertoning sluk ek swaar aan die knop in my keel en pink ek die trane in my oë weg vir tannie Magda se vulnerable uitbeelding van ma-wees, vrouwees en die onvermydelike proses van ouer word (die trane is darem ook deels van die lag). Soos Gardner self sê: “Spoiler alert: In the end you die.” Maar tannie Magda laat niemand met ’n swaar gemoed of ’n eksistensiële krisis by die ouditorium uitstap nie – eerder ’n motiverende carpe diem-boodskap. Dis effens cliché en corny, maar dis tannie Magda Louw aan woord hier, after all.
Soos in die film en in die reeks, is Gardner baie oortuigend as Magda Louw op die verhoog. So veel so dat ek aanvanklik PTSD-tipe terugflitse na encounters as tiener met tannies soos Magda gehad het. Maar, besef ek soos ek in die gehoor sit, is Magda met al haar tanniestreke eintlik skreeusnaaks; haar tanniestreke so herkenbaar, so heilsaam. Daar is (soos in die film en in die reeks) ’n goeie balans tussen tender, vulnerable oomblikke en kurkdroë humor.
In die ouditorium kyk ek rondom my na die gehoor wat saam lag vir Magda Louw en besef dat Magda Louw veel meer as ’n stereotipe of ’n karikatuur is. Sy beliggaam iets van die vrese en verleentheid van ouer word wat die meeste van ons in ons binnestes koester, iets wat ons verkies om te ignoreer totdat ons nóg ’n grys haar vind, meer plooie op ons eie en ons vriende se voorkoppe raaksien, besef dat ons ouers nie meer lyk soos hulle in daardie foto van vyf jaar gelede lyk nie. Magda Louw laat ons toe om hierdie ongemaklike proses te erken; daaroor te treur, maar ook daaroor te lag. Ons lag nie vir Magda nie; ons lag inderdaad saam met haar.
Magda Louw is nie nét ’n tong-in-die-kies-ode aan die Afrikanertannie nie — dit is dít beslis — maar dit is ook ’n eerlike, kwesbare ode aan ouerword.
Embrace tannie Magda Louw se cornyness en gaan gee jou ma/pa/naaste tannie/naaste oom summier ’n drukkie.