Wessel Pretorius en die laaste gay mans op aarde
''n Komedie oor die gayz, deur die gayz, maar NIE NET VIR die gayz nie'
My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) is Wessel Pretorius se tweemanstuk-komedie met veel bekroonde Wian Taljaard en Wynand Kotze (ook bekend as Wyn vir die Pyn en as fopdosser Tollie Parton) in die hoofrolle. Taljaard en Kotze vertolk elk vier verskillende karakters in vier verskillende, losstaande mini-stukke wat die geheel van dié komedie skep. Daar is wel raakpunte tussen die vier stukke, selfs al klink die amptelike beskrywing van die stuk byna absurd:
’n Man raak verlief op ’n standbeeld. ’n Pa keer terug uit die dood. Die laaste twee gay mans op aarde moet besluit of ’n verhouding die moeite werd is. ’n Road trip saam met jou eks-boyfriend se ma. Dit maak alles deel uit van ’n versameling stories in die nuwe komedie uit die pen van Wessel Pretorius.
Die gevolg is egter dat die geheel ’n koherente, samehangende ervaring is; ’n jukstaposisie van ruimtes en karakters wat jou bybly lank nadat hulle die verhoog verlaat het. En dít word suksesvol deur Pretorius (teks en regie), Taljaard, Kotze en Cole Wessels (verhoogbestuur) se samewerking moontlik gemaak. Die stuk is immers by verlede jaar se Vrystaat Kunstefees bekroon as die Beste Debuut Produksie.
Die set is minimalisties. Ligte pienk stoele is in ’n tipe halwe reghoek gepak, met bepaalde props (meestal ook ligte pienk) strategies geplant op en onder van die stoele: ’n mini-Weberbraai, ’n handsak, ’n boks, ’n kombers, ’n moerse vaas. En dit is met hierdie minimalistiese set waarmee vier (selfs meer) verskillende ruimtes geskep word om vier verskillende verhaallyne en vier verskillende karakters op dieselfde verhoog tot lewe te bring. Taljaard en Kotze se vertolking van vier uiteenlopende karakters in vier verskillende verhaallyne, op dieselfde verhoog, is noemenswaardig. Dis die kuns van teater en die hand van vakmanne wat hulle ambag ken, hier teenwoordig.
Die teks is ’n verwewing van humor met skerp sosiale kommentaar, soos net Pretorius kan. Maar dit is veral die gay Afrikaner se lot wat in die kollig – of dalk eerder, onder die vergrootglas – geplaas word. En dis ’n verfrissend-genuanseerde en veelsydige beeld – kaleidoskopies, selfs – wat vanuit die vier stukke voor die gehoor verskyn.
Kotze self noem die stuk ’n “queer komedie”. In fact, die vier stukke in My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) word saamgeweef deur humor: donker humor, lighartige humor, skreeusnaakse humor, bitsige humor, humor wat die piss vat, humor wat troos en humor wat die menslike toestand ontbloot.
Maar selfs al is My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) ’n komedie, word onderwerpe soos identiteit, verhoudings, homofobie, gender, genderrolle, stereotipering, die soeke na liefde en aanvaarding (van ander en die self), verwagtinge, vooropgestelde idees, konserwatisme, generasie-verskille, dubbele standaarde en selfs die dood en menslike kwesbaarheid met soveel deernis deur Taljaard en Kotze se karakters ondersoek. Die gewig van hierdie onderwerpe word deur die humor verlig, verteerbaar gemaak, maar daar word nooit onverantwoordelik omgegaan met hierdie realiteite nie – dis g’n slapstick comedy dié nie. Dit is beslis ook nie ’n abstrakte filosofiese (en dus vervreemdende) stuk nie. Dis eerder opreg en eerlik. Daar is selfs ’n hartverskeurende oomblik of twee, tussen al die lag.
Die poster vir die teaterstuk herinner aan Robert Mapplethorpe se foto Two men dancing (1984). En hierdie gegewe dien myns insiens as kode vir Wessels se My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes). (Mapplethorpe was ’n queer fotograaf in die 1970’s en 1980’s wat homself en sy queer gemeenskap in New York afgeneem het; sy swart en wit fotografie word beskou as belangrike vieringe van New York se queer gemeenskap.) En daar is ’n beautiful, wholesome oomblik in die stuk waar dié foto byna tot lewe kom.
My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) is snaaks, skerp, hartroerend en wholesome as fuck. Dis, in Pretorius se eie woorde, “’n Komedie oor die gayz, deur die gayz, maar NIE NET VIR die gayz nie”. Hy voeg by: “Bring jou ma. Dis veilig.” Onderliggend aan elkeen van die vier verhale is daar immers die onverwagse vriendskappe wat gesmee word. Dit handel oor die wedersydse begrip en deernis wat tussen twee individue heers, en sodoende ook die idee dat ons almal ’n skouer soek om ons kop op te kan rus wanneer ons eie krone te swaar raak; ons soek iemand om mee te dans, te huil, te lag. Ons vind daardie skouer soms net op die plekke waar ons dit die minste verwag.
My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) los ’n mens met ’n gevoel van waardering en hoop. Dis ’n drukkie in ’n mean world, ’n hand wat joune vashou en ’n stem wat vir jou sê: “Gurl, alles gaan okay wees; ons gaan okay wees.”
My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes) word van 6 tot 18 Maart 2023 by die Baxter-teater in Kaapstad se Golden Arrow Studio om 20:00 opgevoer, met matinée-vertonings Saterdae om 14:00. Kaartjies kos tussen R120 en R170. Kry jou kaartjies op Webtickets.
Dit sal later vanjaar ook by die KKNK en die Suidoosterfees opgevoer word.