Ena Jansen se reise tot vertaling

Ena Jansen se reise tot vertaling

'Alles is herhalings, alles is met alles verbonde'

De tienduizend dingen (1955) is Maria Dermoût (1888–1962), gerekende skrywer binne die Nederlands-Indiese letterkunde, se tweede roman. Ena Jansen vertel dat sy aanvanklik kennis gemaak het met Dermoût se werk in die periode tussen 1998 en 2018 toe sy in Amsterdam gewoon het. Tussen 2002 en 2016 was Ena hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam (UvA) en sy was ook verbonde aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, waar sy gereeld oor Nederlands-Indiese romans klasgegee het. In dié tyd reis sy baie, onder meer dikwels na Indonesië en ook na die Molukse eilande. Dit dra alles by tot haar motivering om Dermoût se roman in Afrikaans te vertaal. 

Die tienduisend dinge (Protea Boekhuis) verskyn in 2022. Dié roman handel in ’n groot mate oor die lewe van Felicia, oftewel “mevrou van Kleyntjies”, wat woon in die binnebaai van een van die Molukse eilande. ’n Mens sou egter ’n sterk argument kon maak dat dit soveel te meer eintlik gaan om die “tuin van Kleyntjies”, die “klein plaas” wat aan Felicia behoort soos dit ook aan haar grootmoeder voor haar behoort het. Na afloop van ’n gesprek met Kirby van der Merwe in die boektent by die 2022-Toyota US Woordfees in Stellenbosch vra ek Ena verder uit oor haar vertaling van hierdie teks.


Die tienduisend dinge (2022, Protea Boekhuis)

NATASHA: Wat was jou motivering om dié spesifieke boek te vertaal? Is dit omdat jy al so baie na daardie omgewing gereis het? 

ENA: Ek het na die Molukse eilande gereis omdat ek so baie van die boek hou! My vriendin Pamela Pattynama en ek was albei bijzondere hoogleraren aan die UvA, sy van Nederlands-Indiese lettere. Ons het ’n gemeenskaplike belangstelling in koloniale literatuurteorie gehad en albei graag gereis. Saam met ander kollegas wat ook in koloniale letterkunde belanggestel het, het ons behalwe na Indonesië, ook na Curaçao en Suriname gereis. Jy weet, al hierdie plekke is verskriklik vêr van Europa af. 

Om by die Molukse eilande uit te kom, vlieg jy van Amsterdam via Singapoer Jakarta toe en dan vlieg jy weer ure en ure na Makassar, dan van Makassar vat jy nog ’n vliegtuig vir ure en ure voordat jy op Ambon kom. Ons was ook na daai eilandjies wat in Dermoût se boek beskryf word: onder andere na Banda Neira, deel van die Banda-eilandegroep wat aan die ander kant van die Bandasee is. So, ek ken daardie wêreld nogal. Ek hou baie van die Nederlands-Indiese letterkunde en dis dan baie interessant om te weet hoe dit in daardie wêreld lyk, klink en ruik, om die hitte te voel en die soelheid van die aande te beleef. Die eensaamheid én die geluk van Europeërs wat daar in koloniale tye hulle heil gaan soek het, is baie kompleks – en vir Suid-Afrikaanse lesers baie invoelbaar. My liefde vir die letterkunde wat daar en destyds geskryf is, is die rede hoekom ek ook nou Max Havelaar (1860) vir Protea Boekhuis gaan vertaal.

NATASHA: So, die vertaling was eerder as gevolg van ’n breër belangstelling in Nederlands-Indiese letterkunde? 

ENA: Ja. Toe ek ’n student op Stellenbosch was, het ons wel van Couperus en Multatuli kennis geneem, maar ek het daardie wêreld destyds nie regtig begryp nie. Dis eers nadat ek in Nederland gaan woon het dat dit my regtig aangegryp het. En des te meer nadat ek soontoe begin reis het. Die eerste keer was toe ek gaan klasgee het in Jakarta vir drie maande, ek dink dit was in 1998. Daarna was ek ’n hele paar keer in Indonesië, en in 2008 was die reis na die Molukse eilande. 

Ook besoeke aan Pamela se familie en kongresse daar het my ontsettend goed toegerus om hierdie wêreld te kan verstaan en vertaal. Ek begryp ook iets van die gewoontes en die omgangstaal. Daar is sekere dinge wat ’n Javaan byvoorbeeld onbeskof sal vind. Dit snap ek onmiddellik. Wanneer die professor in een van Die tienduisend dinge se verhale aan sy Javaanse assistent sê: “Ons is ondankbare honde”, ’n baie algemene uitdrukking in Nederlands, begryp ek waarom die Javaan onmiddellik enorm aanstoot neem. Dit is vir ’n Moslem-gelowige absoluut verskriklik om enigsins in dieselfde asem as ’n hond genoem te word. 

NATASHA: Dit skakel eintlik mooi met iets wat Antjie Krog gesê het in gesprek met Yves T’Sjoen by SASNEV in September 2022. Sy het gesê goeie vertalers werk induktief. Dit klink asof jou proses ook in ’n mate ’n induktiewe een was, dat jy nie gesê het ek wil nou hierdie boek vertaal, so nou moet ek reis en die ervarings gaan opdoen nie, dit was eintlik eers die kennis van die kultuur en omgangstaal wat gelei het tot die besluit om die teks te vertaal. Ek wil vra oor dié verwysing; wat dink jy van so ’n stelling? Dat goeie vertalers induktief te werk gaan? 

ENA: Kyk, die teorie sê natuurlik jy moet die doeltaal die heel beste ken. Maar jy moet jou brontaal en die bronomgewing ook baie goed ken. Byvoorbeeld, Indiese mense praat van ’n “bottol” en ’n “bottol” staan in die WC. Dis soos ’n bidet. Veral in die trope is dit belangrik dat jy jou moet reinig. Iemand wat dit nie weet nie, sal wonder hoekom staan hierdie “bottol” in die WC? So, inderdaad, jy moet die omgewing waaroor geskryf word regtig ook goed ken, dink ek. Anders gaan jy foute maak. En foute sal plaasvind, ek sê nie dat hierdie vertaalde boek foutloos is nie, maar ek weet net ek was goed voorbereid daarvoor. 

NATASHA: Ja, dit maak sin. Daar is een aanhaling uit die teks wat vir my veral aangrypend is: “[Alles is] herhalings, herhalings, niks anders as herhalings nie. Alles is met alles verbonde” (52). Ek het gedink dit wys op Maria Dermoût se byna boeddhistiese benadering tot die lewe en veral tot verlies? 

ENA: Ja, ek dink dis ’n lewensinstelling wat jou iets leer oor hoe om om te gaan met verlies. Eintlik het baie van die gelowe in die wêreld iets te doen met troos, jy weet? So, in die boeddhistiese benadering is jy vir ’n ruk hier op aarde en dan sal die siklusse voortgaan en alhoewel die individu steeds hooggeskat word, is jy deel van ’n groter orde en ’n groter patroon. Ek dink ’n groot verskil is dat mense wat so dink, nie glo in die hiernamaals of dat jy in die hemel sal kom nie, maar dat jy wel miskien in ’n ander vorm sal terugkeer na hierdie aarde. Ek dink dis ook hoekom daar soveel respek is vir alles op aarde, op see en op land. Mense, visse, voëls, diere, plante – álles is belangrik, hang met mekaar saam as ’n groot geheel. Jy sou as ’n klip kon terugkom ná jou dood, of as ’n anemoon.

NATASHA: Dis vir my mooi, hierdie respek vir alles om jou heen. 

ENA: Ja, dit spreek my ook aan. 

NATASHA: Dit skakel ook met die tipe lyksang wat in die boek beskryf word, ek haal aan: “En soms, net soms, die ou heidense klaaglied (pas op! dat die skoolmeester dit nie hoor nie) by iemand wat so pas gesterf het. Die ‘honderd dinge’, so heet die klaaglied – die honderd dinge waaraan die oorledene herinner word” (18). Daar is hierin vir my ook so ’n beklemtoning van interverbondenheid. 

In die gesprek met Kirby het jy die eiland as ’n tipe kruispunt beskryf. Kan ’n mens sê dis soortgelyk aan ’n plek soos Kaapstad, byvoorbeeld, as gevolg van die verskillende kulture en tale en invloede wat oor die jare heen in ’n tipe van ’n smeltpot bymekaargekom het? 

ENA: Ja, ek dink nogal so. Ek het nou so pas ’n stuk geskryf oor die Tana Baru, die ou Moslem-begraafplaas op Seinheuwel. Ek en Pamela het elke jaar in Desember of vroeg-Januarie daar by die Tana Baru gaan staan om haar Nederlands-Indonesiese ma te gedenk, alhoewel hulle Katoliek was, maar omdat die Kaap so ’n verbygaanpunt of ontmoetingsplek is. Ja, dit spreek my aan. ’n Mens moet ook besef Rumphius (wie se boeke ’n belangrike interteks in die Tienduizen dingen is) het hier verby die Kaap gekom, maar nie voet aan wal gesit nie. Party VOC-skepe kon nie in Tafelbaai land nie. As daar te veel storms was, moes hulle veel verder wes gaan, amper Suid-Amerika se kant toe en dan eers ver suid van die Kaap verbysteek en só het hulle by die Ooste uitgekom. 

NATASHA: Dis ook interessant dat Rumphius in 1652 na Nederlands-Indië is en dit is juis wanneer Jan van Riebeeck hier aangekom het. 

ENA: Presies! Weet jy, nog ’n interessante ding wat ek agtergekom het, is dat daar kort ná Rumphius se dood ’n klein monument vir hom opgerig is op Ambon: deur Adriaan van der Stel. Ek weet nie meer waar ek hierdie besonderheid raakgelees het nie. Adriaan van der Stel moes een van die seuns of neefs van Simon van der Stel gewees het. Hy het ’n monumentjie in 1706 opgerig, so ’n paar jaar ná Rumphius se dood. Eeue later het die Britte Indonesië oorgeneem vir ’n kort ruk en toe het een van die Britse bevelhebbers die beeld gekoop, maar dit laat stukkend kap omdat hy gedink het daar gaan ’n skat daarin wees. So, toe is daar eers weer ’n nuwe monument êrens voor die Tweede Wêreldoorlog vir Rumphius opgerig. 

NATASHA: Daar is talle woorde in die boek wat waarskynlik vreemd is vir Afrikaanssprekendes, daarom sluit jy  ook ’n uitgebreide woordelys in. Die feit dat jy die vreemde woorde behou, gee aan die teks ’n byna nog meer poëtiese gehalte as gevolg van hierdie vreemdmaking van taal, as gevolg van die invloed van verskillende tale en kulture. 

ENA: Poëtiese taal is so pragtig omdat dit inderdaad dikwels met “vreemdmaking” én met herhalings te doen het, van klanke, ritmes en woorde. Poësie is dikwels ook baie visueel. Die tienduisend dinge is baie kleurvol – die rooigelakte kassie, baie soorte groen, oranje en wit, so die visuele aard van die teks is merkwaardig. 

NATASHA: Beslis, en dan natuurlik die geure. Jy kan jou indink wanneer elke spesery genoem word, hoe dit moet ruik, en dan ook iewers in die boek is ’n beskrywing van die bome wat nóg sterker ruik as dit die dag baie warm is. Ek was nog nooit self naby só ’n tipe speseryboom nie, never mind ’n hele tuin vol van hulle. So, ek kon my net indink hoe dit ruik om daar te wees. 

ENA: Ja, die speserye lê gewoon op matjies uitgesprei op straat om te droog. 

NATASHA: Dis baie interessant! Ek wil iets noem oor die verband tussen die “tuine” wat in die boek genoem word, en plase – jy het in die gesprek met Kirby gesê die tuin in die konteks van die boek is vergelykbaar met ons idee van ’n klein plaas. Dan verstaan ’n mens die intergenerasionele verbondenheid aan die grond dalk so ’n bietjie beter? Die verwagting is dikwels daar dat die kinders sal terugkeer na die grond van die ouers en die voorouers. 

ENA: Ja, dit is so. Die ouma verduidelik heel aan die begin van die boek hoeveel geslagte reeds daar woon. Dit sal tot ’n einde kom wanneer Himpies jonk sterf. Ook die geweld, die vrees vir verlies en die vanselfsprekendheid van die bediende-klas is tipies goed wat ’n mens in Suid-Afrikaanse plaasromans aantref. Ook die vriendskappe tussen Wit en Swart kinders. Aan die einde van Dermoût se boek sal jy sien dat die bediende se seuntjie Domingoes Himpies se beste vriendjie is. Himpies was die erfgenaam van die “tuin van Kleyntjies”, maar sneuwel. Hulle het in ’n stadium in dieselfde militêre groep gedien en dan moet Domingoes vir Himpies “tua” noem, wat “meneer” beteken. Nadat Himpies gesneuwel het, bied Mevrou van Kleyntjies vir Domingoes aan om hom op die tuin te kom vestig, daar te kom bly. “Trou,” sê sy, “hê kinders en bly op die grond. Jy is die aangenome broer van my seun.” En tog wil hy dit nie doen nie. Maar weet jy, dis partykeer in net so twee of drie sinnetjies, elke keer wanneer ek die boek lees, dat ek weer op nuwe besonderhede afkom wat vir my so interessant is. 

NATASHA: Ja, dit is regtig ’n digte teks. Het dit gelei tot baie uitdagings wat die vertaling van die teks betref?

ENA: Ja, en daar was lekker vondste ook, byvoorbeeld Dermoût praat iewers van iemand as ’n “vegtersbaas” en ek het dit as “rampokker” vertaal. So, jy het so half ’n spel om te dink, ja, wat is nou eintlik ’n vegtersbaas? Ons dink dadelik aan baas, maar dis nie waaroor dit gaan nie. So, op daardie manier soek ek maar bietjie vir ’n oplossing. 

NATASHA: Was daar goed wat nie opgelos kon word nie? 

ENA: Nee, daar is nie eintlik iets wat ek voel ek het nie reggekry nie. Kyk, ’n groot besluit wat ’n mens voortdurend moet neem met Nederlandse tekste is in verband met grammatikale tye. In Afrikaans gebruik vertalers dikwels die historiese presens, die teenwoordige tyd, wanneer in Nederlands die imperfektum gebruik word. Nou met Max Havelaar is ek ook voortdurend besig hiermee, want anders het mens “het ge–, het ge–” die hele tyd. Jy kan dit beter in die teenwoordige tyd skryf sodat die onmiddellikheid nie gepla word deur lomp grammatika nie. Ons kan byvoorbeeld sê “gister het hy dit en dit gedoen, hy stap na die tafel, hy gaan sit”, so jy kan die verlede tyd inbring sonder dat jy daai “het ge–”oordoen. Jy moet sulke beslissings neem aan die begin. 

Ek het ook besluit, soos wanneer hulle praat van die “rokki”, dis eintlik in moderne Nederlands soos ’n rompie, maar in Indië is dit ’n doek wat om jou lyf gedra word. Ek wou dit nie ’n romp noem nie. Ek het “rokki” gebruik en “omslagdoek” of iets êrens ook gekombineer daarmee. Ek het ’n baie uitgebreide woordelys waarin ek hierdie dinge, ek dink, goed verduidelik. So, jy sien die rede hoekom ek dié soort keuse doen, is omdat moderne Nederlandse lesers wat nie ’n Indiese agtergrond het nie, ook nie daai goed ken nie. So, as ’n moderne Nederlandse leser iets nie verstaan nie gaan ek dit nie nou ekstra goed verduidelik vir Afrikaanse lesers nie. Hulle kan maar ook ’n bietjie wag en self afleidings maak. En omdat my kennis van moderne Nederlands goed is, kan ek die inskatting maak oor wat ook Nederlandse lesers wel of nie verstaan nie van ouer klassieke tekste wat in die negentiende of vroeg-twintigste eeu in Nederlands-Indië afspeel.

NATASHA: Ja, dis eintlik heelwat nader aan ons invloede in Afrikaans as wat daar in Nederlands is. 

ENA: Ja, soms, want daar is byvoorbeeld die “baadjoe”;  ons weet dadelik dis ’n bo-kledingstuk met lang moue.

NATASHA: En Nederlands het dit nie? 

ENA: Hulle het nie “baadjie” nie; hulle het “jasje” of “colbert” vir wat ons sê ’n baadjie. So, ons is nader. En “piesang”; ons sê ook “piesang”, die Nederlanders sê “banaan”. 

NATASHA: Interessant. So, dit maak dat ons in Afrikaans eintlik goed toegerus is om hierdie teks te verstaan. 

ENA: Ja, en ook om hierdie bediende-verhouding te verstaan, hoe intiem dit is. 

NATASHA: So, die Nederlanders sal nie noodwendig ’n idee hê daarvan nie?

ENA: Nee, want in die Nederlands-Indiese omgewing is mense baie keer nostalgies en sentimenteel oor hulle “babu” (kinderoppassers word “babu” genoem), net soos wat baie Suid-Afrikaanse volwassenes ook sentimenteel voel oor hulle oppassers. Terwyl Nederlandse kinders nou miskien iets daarvan verstaan met au pairs, maar die au pairs kom maar vir ’n jaar en meer vir hulle eie plesier miskien as vir die kinders.

NATASHA: Ja, dis heeltemal anders. Dit is amper full circle dat dié vertaling op hierdie manier ook skakel met jou navorsing oor huisbediendekarakters in Soos familie (2015).

ENA: Ja, en jy kan dikwels die Soos familie-verhoudings toepas. Die ou mevrou praat van Sara as haar suster en Himpies praat van haar as sy tweede moeder. 

NATASHA: Baie interessant! Is daar nog enigiets anders wat jy graag oor die boek wil sê? 

ENA: Ja, koop en lees die boek! Protea doen baie moeite en koste om hierdie soort vertalings te laat verskyn. 

Verder, en ek dink jy het dit vroeër genoem, besef en waardeer die respek vir alles rondom jou wat deur hierdie boek gepropageer word. Die letterkunde is ’n soort argief en bewaarplek vir ou gebruike, selfs ook wat kos betref. Daar is nogal uitgebreide verwysings na wat die mense geëet het: skilpadsop, swart- en witmossel-souse, die kenaritert wat ’n soort amandeltert is. Ja, ek vind dit is ook alles deel van die bewaringsprojek wat hierdie boek is. 

Want ’n mens moet onthou, miskien moet ek dit noem, Maria Dermoût en haar man is weg uit die Nederlands-Indiese omgewing vóór die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Toe is dit die Tweede Wêreldoorlog en die Japanse besetting. Toe die Nederlanders dink daar is nou vrede en hulle kan weer hulle Nederlandse ryk in die Verre-Ooste terugneem, toe het die plaaslike bevolking ondertussen besluit hulle wil onafhanklik wees. Daar was baie wrede, ingewikkelde onafhanklikheidsoorloë, die Eerste en Tweede Polisionele Aksies is dit genoem, voordat Nederland ingestem het tot die gebied se onafhanklikheid. Teen daai tyd was Maria Dermoût en haar man alreeds terug in Nederland. Dermoût het baie laat in haar lewe eers begin skryf en hierdie boek, haar tweede boek, verskyn in 1955. Toe is dit al baie jare ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog en het hierdie onafhanklikheidstryd al begin plaasvind. So, sy skryf teen die agtergrond van ’n bewussyn dat Nederland die gebied gaan verloor en gevolglik is sy baie bewus daarvan dat hierdie leefwyse, wat as Nederlands-Indies bekendgestaan het, nie gaan voortduur nie. Maar sy is baie bewus daarvan dat dit sal voortduur in verhale. En dit is vir my nogal die mooi ding daarvan. 

NATASHA: Ena, baie dankie dat ons nou die verhaal van die tuin Kleyntjies in Afrikaans kan beleef en welkom hier by ons in die tuin Klyntji!

Ena Jansen

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ena Jansen se reise tot vertaling gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand