Legendes: Sandra Prinsloo as Maria Callas
'n Meesterklas onder die regie van Magdalene Minnaar
Drie groot name in een sin, betrokke in een verhoogproduksie: Master Class bring die operasanger Maria Callas, die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo as Maria en Kaapstad Opera se artistieke direkteur Magdalene Minnaar as regisseur byeen. Dit wys by die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg tot 2 April, ná drie uitverkoopte weke by Theatre on the Bay.
Maria Callas, gedoop Maria Cecilia Sophia Anna Kalogeropoulos, sou op 2 Desember vanjaar 100 jaar oud geword het. Sy is egter op 54-jarige ouderdom op 16 September 1977 in haar woonstel in Parys, Frankryk aan ’n hartaanval oorlede. Alleen en half verstote ná jare se roem. Sy word steeds as een van die wêreld se grootste operasterre gereken.
Ek en my geliefde het vir ’n jaar oorsee ge-backpack toe die film Philadelphia in 1993 vrygestel is, met Tom Hanks as die gay man (Andrew Beckett) wat sy werkgewer wou hof toe neem, omdat hulle hom afgedank het nadat hulle uitgevind het hy het Vigs.Die film is merkwaardig op verskeie vlakke – Hanks het die Academy-toekenning gekry vir beste akteur; die liedjie ‘Streets of Philadelphia’ deur Bruce Springsteen vir beste oorspronklike liedjie, en die film het waarlike insig in die stryd van gay mans in die werksplek van die negentigerjare gegee. Die beeld wat my bybly is waar Hanks met sy drupstaander rondloop en betraand aan sy prokureur Joe Miller (Denzel Washington) die Maria Callas-liedjie ‘La Mamma Morta’ speel. Die lied is só hartseer, maar vul hom met soveel hoop.
Master Class is ’n toneelstuk, maar met operasang vermeng. Dis geskoei op die operameesterklasse wat Callas in die vroeë sewentigerjare in New York aangebied het. Sy sing nie in die klasse nie en ook nie in die toneelstuk nie, want neuromuskulêre versteuring het haar sangloopbaan op ’n vroeë ouderdom kortgeknip. Die bekroonde Terrence McNally, wat onder meer Tony-toekennings vir Kiss of the Spider Woman en Love! Valour! gewen het, het destyds die meesterklasse bygewoon, maar eers twee dekades later die toneelstuk geskryf, wat die meesterklasse as vertrekpunt gebruik.
McNally vertel in ’n onderhoud dat hy een van die min mense in die wêreld is wat destyds gedink het Callas het ’n mooi stem gehad. Hy onthou van die ontelbare male wat sy op die verhoog uitgejou is, wat mense haar ondergang wou sien, veral in haar debuutoptredes. “Met Callas was daar altyd spanning. Dit was nie ontspannend om na Callas se vertonings te gaan luister nie, want dit was altyd ’n oorlogsone met teatergangers wat haar selfs met groente gegooi of kliphard uitgelag of neerhalende aanmerkings gemaak het,” verklaar hy.
Die toneelstuk is ’n intieme kykie na die binnewêreld van Callas — dit vertel hoe groot haar sukses op wêreldverhoë was selfs al het haar mededingers net haar vertonings bygewoon om snedige kommentaar te lewer, maar dit openbaar ook die seer en teleurstelling van haar persoonlike lewe. Callas se bytende spitsvondigheid laat die gehoor giggel, maar sy is dikwels hard met haar opinies om die sangers voor te berei vir die moordende operawêreld en -roem waarna hulle so smag.
Teen die armoede en ontbering waardeur Europa in die jare tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog moes gaan, probeer sy in ’n baie kompeterende bedryf haar plekkie in die kollig vind. Maar skandaal en tragedie volg haar – eers haar huwelik met die ryk nyweraar Meneghini en daarna haar onstabiele verhouding met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis.
Marguerite van Wyk skryf na afloop van haar Kaapse bywoning op sosiale media: “Sandra Prinsloo IS Maria – die aksent, mannerismes, kohl-omringde amandelvormige oë met die dramatiese ‘wings’, die Chanelagtige pakkie, die diva gedrag. Dikwels ongeskik, baie reguit, soms so weerloos, altyd in beheer. Callas makes the rules!”
Sy skryf voorts: “Destyds het ek die stuk met Jana Cilliers as Callas in Johannesburg gesien. Wonderskoon. Noem net Callas, en ek tril van genot.”
Dié optrede het aan Jana Cilliers destyds ’n reeks beste aktrise-toekennings besorg en die fotograaf Bob Martin beskryf haar optrede daarin as “onvergeetlik”.
“Onvergeetlik” blyk een van die kernwoorde te wees as ’n mens nie net na Callas verwys nie, maar ook na die vertonings van aktrises – soos Sandra Prinsloo – in dié rol. Sandra is nie net een van ons mees bekroonde aktrises nie, sy is verlede jaar vereer met ’n Fleur du Cap-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die teater.
Keith Bain skryf in Daily Maverick: “Wat Prinsloo so maklik maak om te kyk en so ’n kragtige teenwoordigheid op die verhoog (selfs tydens repetisies) maak, is miskien te danke aan dat sy in die oomblik is, daardie vaardigheid wat groot akteurs besit om só heeltemal onder die vel van hul karakters te kruip, dat hulle in staat is om die gehoor te verplaas na ’n ander tyd en plek, om ons ’n ander werklikheid te laat ervaar.”
In die geval van dié jongste speelvak waar Magdalene Minnaar vir die eerste maal haar hand aan teaterregie waag, is “onvergeetlik” beslis ook toepaslik.
Tussen die Kaapse en Johannesburgse speelvakke gesels ek met Magdalene en Sandra. Die spanning van openingsaande en vrese of die gehore die stoele gaan volsit, vergete, want elke aand in Theatre on the Bay het in staande ovasies geeïndig.
Magdalene sê Callas se eeuviering was genoeg rede om die verhoogstuk op die planke te bring en “hierdie ongelooflike kunstenaar te vier”.
Ek wonder of sy enige vrees gehad het dat die tydsberekening dalk nie reg mag wees nie – Callas is al vir soveel jare dood. Magdalene glo egter dat Callas so ikonies is dat sy eenvoudig nooit sal “doodgaan” nie. “Soveel kunstenaars verafgod haar nou nog; soveel mense bewonder haar. Mens hoef maar net na sosiale media te kyk en te sien hoe ware roem lyk – wanneer mense jou 100 jaar later nog volg en bewonder!”
Oor haar teaterregie vertel Magdalene: “Daar is ’n reuseverskil in hoe ’n mens ’n pure teks benader, teenoor ’n opera waar die teks en musiek saam verweef is. Dit was vir my ’n baie groot uitdaging, maar natuurlik ‘ry mens met ’n Ferrari’ wanneer jy saam met die wonderlike Sandra Prinsloo werk!”
Sy sê Sandra was van die heel begin af die enigste aktrise wat sy in die rol kon sien. “José [Dias] het al seker 10 jaar terug vir my die idee gegee en ek kon dit nog net nie uit my kop kry nie.”
Magdalene is bekend vir haar grensverskuiwende werk in operaregie. Sy lok jonger gehore en bou die gehore van die toekoms met haar unieke aanslag.
Sy erken die beperkings van die stuk was ’n onverwagse verligting. “McNally se drama speel in die vroeë 1970’s af, en daar is nie veel ruimte vir interpretasie nie. Dit was ’n wonderlike uitdaging om die perfekte rekwisiete te moes kies – die gehoor staar immers vir twee ure daarna… Alles moet perfek wees!
Magdalene vertel dat sy van baie vroeg ’n Callas-aanhanger was, maar haar in ’n mate so ’n bietjie ontgroei het toe sy haarself as kunstenaar begin vind het. “Ek was nog nooit iemand wat vreeslike ‘helde’ gehad het nie, maar sy het ’n definitiewe indruk op my gemaak – veral omdat sy so ’n ongelooflike aktrise was in haar tyd.” Van ooreenkomste tussen hulle is daar min sprake. Magdalene sê Callas was bekend vir haar pessimisme en perfeksionisme. “Ek is ’n absolute optimis, maar ek het wel daardie (soms oorweldigende) presiesheid.”
Magdalene erken dat staande ovasies natuurlik wonderlik is, maar vir haar is die belangrikste dat die produksie “vars en skoon” moet bly. “Ons skaaf heeltyd, en ek gee gereeld notas vir almal,” vertel sy. Wat vir haar egter ’n riem onder die hart is met uitverkoopte speelvakke, is dit stel teatergangers aan opera bloot op ’n manier wat hulle nie oorweldig nie. “Mense is maar ‘bang’ vir opera – so, dankie, Sandra, dat ons jou gehore kan ‘steel’ vir opera!”
Sandra vertel sy was baie bly toe die rol na haar kant toe kom, want dis ’n ongelooflike toneelstuk. “Ek was ook nog altyd ’n Callas-aanhanger; sy het my behoorlik aan opera bekendgestel. Ek het nooit voorheen van opera gehou tot ek ’n opname van haar in ’n konsert gesien het en myself in ’n stortvloed van trane gevind het nie.”
Sandra sê as jong aktrise het sy baie agter die verhoog gewag terwyl operasangers opgetree het. “Ek het dit nog altyd baie moeilik gevind om te kyk, want baie sangers het – presies wat Callas gesê het jy nie moet doen nie – net note gesing. Jy is daar om ’n storie te vertel en om ons gevange te hou in die musiek en drama.”
Sy erken dis moeilik om getrou te bly aan die historiese karakter, want elkeen het ’n eie idee van wie en wat Callas was. “Ek moet getrou bly aan McNally se Callas en haar dieper ontgin en kleur gee. Ek moet hulde bring aan haar – die kunstenaar en die mens. Daar was twee dele van haar: die vrou wat net die lewe wou geniet, maar ook die perfeksionistiese kunstenaar.
“Callas het baie uitsonderlike mannerismes en ’n manier van praat gehad. Ek vind sy het in stellings gepraat. Sy het só seker van haarself geklink en was so self-belangrik, maar so kalm in haar onderhoude, maar ons hoor van ander mense met wie sy saamgewerk het, dat sy baie moeilik was en ’n humeur gehad het.” Sandra het met Susan Danford, ’n aksent-afrigter, gewerk om haar te help om die Callas-aksent, frases en mannerismes by te bring. Verder het ’n pianis-vriendin wat sanglesse gee en Magdalene Minnaar se kennis van opera en die musiekwêreld baie gehelp.
“Sonder hulle sou ek nie hierdie rol só goed onder die knie kon kry nie.”
Master Class is by die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg tot 2 April 2023. Kaartjies kos tussen R180 en R280 en is beskikbaar deur Webtickets. Geen onder 13’s word toegelaat nie.