In gesprek met Nico Scheepers oor Donkerbos
Maryke Roberts gesels met dié bekroonde storiemaker oor sy jongste TV-projek
Die laaste ruk was ’n ware suksesgolf vir Nico Scheepers – nie net oor sy mees onlangse televisiereeks Donkerbos nie, maar ook om verskeie ander redes. Nie alleen is die reeks vir sewe South African Film and TV Awards (SAFTAs) genomineer waarvan dit twee vir klank en regie ingepalm het nie, drie akteurs in die reeks is bekroon met Silwerskerm Film- en Televisietoekennings én Nico ontvang die Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Donkerbos was ook vanjaar deel van die Berlinale Series Select.
Daarmee saam is sy nuutste kinderteaterproduksie Braam en die engel pas genomineer vir vier Toyota US Woordtrofees. Ek gesels met hom oor die gruwels van Donkerbos, die ligter aard van Nêrens, Noord-Kaap en Pumpkin Finds Her Kindness — The Play! en die Limpopo-landskap wat in die murg van al sy werk sit.
'Die wêreld is gereed vir ons stories'
Nico is ’n storiemaker gebore. Hy vertel dat hy nog altyd stories wou vertel, maar drama by Tukkies geswot het as akteur en beweegkunstenaar. Hy het eers in sy derdejaar besef hy wil skryf en regie doen.
In sy kort bio op die internet beskryf Nico Scheepers homself as ’n vryskut-teksskrywer, regisseur en dramaturg wat onder Naskrif Produksies werk. As skrywer en regisseur het hy benewens Donkerbos ook Nêrens, Noord-Kaap (MultiChoice, 2021) op sy kerfstok. Sy fantasie kortfilm Die maan val bewusteloos besorg aan hom die beste regisseur-prys by die 2017-Silwerskermfees. Hy werk gereeld saam met Nagvlug Films.
Donkerbos was een van net 16 reekse wêreldwyd en die enigste een uit Afrika wat na vanjaar se Berlinale Series Select in Duitsland genooi is. Vir Nico was dit heeltemal onverwags: “Ons dink altyd ons skep ons stories in ’n bubble hier vêr van alles en almal af, maar daar is baie oë op dit wat ons doen. Die wêreld is gereed vir ons stories. Ek dink dis die grootste les wat ek tydens die Berlinale geleer het — om te kon gesels met ander skrywers en regisseurs en vervaardigers van regoor die wêreld wat almal net so honger, net so onseker soos ons is – is dat ons hier in Suid-Afrika vir niks hoef terug te staan nie. Niks.”
As dramaturg word sy toneelstukke by elke fees in die land en ook by die Fugard Teater in Kaapstad, die Markteater in Johannesburg en die Aan De Braak in Amsterdam opgevoer. Natuurlik is Nico geen vreemdeling vir toekennings nie. Die bekroonde teaterstuk Nêrens, Noord-Kaap is by vanjaar se Fleur du Cap-teatertoekennings genomineer vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks en beste vertoning deur ’n ensemble. Nico het in 2018 die Fleur du Cap-toekenning vir beste nuwe regisseur ontvang. Op sy kaggelrak pryk ook vyf Fiësta-teatertoekennings.
Hy vertel dat toekennings en pryse nooit nagejaag word nie — as dit die rede is waarom jy skep, moet jy maar eerder ophou, is sy leuse. “Tog, dit is wonderlik as harde werk raakgesien en beloon word. Dit voel vreemd om iets uit te sonder, maar as jy my arm gaan draai — die Deleen Bekkerprys vir Donkerbos was vir my ’n groot oomblik — om ’n verhoog te kon deel met actual reuse van ons industrie, soos Antjie Krog en Chris Van Niekerk.”
Jy moet jou derms wil uithaal wanneer jy Donkerbos kyk
Donkerbos se storielyn in kort: Ses kinders word onder ’n reuse-boom gevind op ’n plaas naby Donkerbos, in die noorde van Limpopo. ’n Speurder (Erica Wessels as Stephanie “Fanie” van Wyk) wat ’n donker geheim met haar saamdra, moet die moorde oplos, maar haar verlede is besig om haar in te haal. Daar broei ook onheil in haar eie huis en sy moet staande bly in moeilike omstandighede. Die moorde hou nie op nie en sy moet gou speel voor die moordenaar nog ’n kind kom haal.
Ander akteurs wat onder meer deel uitmaak van die rolverdeling, benewens Nicole Holm wat haar beste vriendin speel en Edwin van der Walt wat die onderwyser en Fanie se voormalige ondersoekmaat se broer speel, is Jacques Bessenger, Stian Bam, Aphiwe Sithole, Carel Nel, Rolanda Marais, Wilhelm van der Walt en Leandie du Randt.
Erica Wessels vertel na afloop van die eerste episode se uitsending dat die Donkerbos-teks die beste ding is wat sy nog ooit in Afrikaans gelees het, maar die donkerste ding is wat sy nog ooit moes doen.
In ’n land berug vir sy geweldmisdaad teen vroue en kinders is die Donkerbos-teks nie so vreemd nie. Maar dit kan nie maklik wees om dié grusame storielyn uit te dink en die aftakeling van die karakters neer te pen nie.
Nico erken egter dat dit vir hom net ’n storie is, maar sê dat as hy sy werk gedoen het, jy jou derms moet wil uithaal wanneer jy dit kyk. “Die gruweldade en trauma van die karakters is vir my bittermaklik om te verwerk, want karakters is nie mense nie. Hulle is storiemasjiene met spoke en behoeftes en netjiese struktuur. Ek kan nie die moordenaar oordeel nie — dit wat hulle doen, moet vir my heeltemal sin maak en logies wees, wat ook al dit is. Dis die regte lewe — dit wat ons elke dag in die nuus lees — wat ek moeilik verwerk. Elke dag tydens die skryfproses van Donkerbos het ek gedink: ‘Is hierdie nie te donker nie?’ en twee minute later is daar iets ergers in die nuus. Ons lewe in ’n harde, vieslike wêreld — maar ons is te besig om mekaar aan die gang te hou, vas te hou, veilig te hou… Ek dink ons kyk dit aspris mis. Ek doen. Dis oorlewing.”
Nico vertel dat hy bang was vir die misdaadgenre. Hy het hom afgevra: “Wat het ek om by te dra?” En toe kom die gedagte: Wat as hy ’n karakter gruweldade kan maak pleeg, maar steeds die gehoor se empatie kan wek?
“Dit was die ontsluiting van die storie. Dis waar die wiel begin draai het. Ek het by die moordenaar en sy ‘genade’ begin — en agteruit gewerk van daar af. Ek het nooit gedink ek gaan hou van misdaadfiksie skep nie, maar die gogga het nou lelik gebyt. Dit voel soos skaak speel — om so vir die kyker te mag lieg, om mense te verras. Ek kan nie wag om dit weer te doen nie.”
En in ware Nico Scheepers-styl is daar ’n boodskap agter die storie: “Daar is nie antwoorde vir die donker nie — dis in almal van ons. So hou mekaar vas. Want dis al wat ons het.”
’n Mens wonder natuurlik oor die storie se agtergrond, die keuse van verfilming. Nico kom van Limpopo af en wou bittergraag die verhaal daar laat afspeel. Hy verduidelik dat die rede hiervoor tweeledig is: “Het ons nie nou al genoeg gesien van die Karoo of kusdorpies nie? Moet elke storie daar afspeel? En tweedens, ek verstaan daardie wêreld in my murg.”
Op 'n ligter noot…
Ek vra uit oor Nêrens, Noord-Kaap wat in die voetspore van Amper, Vrystaat gevolg het. “Nêrens, Noord-Kaap is vir my baie belangrik, in die sin dat ek graag ’n storie oor drie Wit Afrikaanse mans wou vertel wat nie oor politiek of rassisme of apologie gaan nie,” sê hy. “Hulle is gewone mense, nes die sussies van Amper, met al hulle liefde en haat en soeke na die broederskap wat hulle verloor het.”
In Augustus 2021 is die eerste episode van die gelyknamige reeks op kykNET in die tydgleuf vir die kanaal se geliefde dramareekse uitgesaai. Nêrens, Noord-Kaap is hernu vir ’n tweede seisoen. Nico mag natuurlik nie sê wanneer dit uitgesaai gaan word nie, maar kykers gaan in die nabye toekoms weer kan plaas toe reis saam met die Adendorffs.
En dit bring ons by die heel ligste noot van hierdie storie. Vroeër vanjaar bring Nico Pumpkin Finds Her Kindness — The Play! op die planke. Bianca Flanders en Dean Balie speel in hierdie wonderlike kinderproduksie en blaas lewe in die geliefde kinderboekkarakters. Bianca het ook die kinderboeke geskryf. Die boek het die magtigheid van goedheid wat die wêreld kan verander as tema.
Die storie is omtrent heeltemal aan die ander kant van die spektrum vergeleke met Donkerbos. Ek wonder of dit vir hom as teenpool ná al die donker moes dien. Hy lag. “’n Storie is ’n storie is ’n storie. Kindermoord in Donkerbos of kinders red in Pumpkin — my verantwoordelikheid is dieselfde.”
En dan is daar Braam en die engel. Soos met Pumpkin gebruik die stuk poppespel, musiek en storievertel. Nico sê: “Poppe is ongelooflik. Dit is ’n animasiefilm wat voor jou oë lewendig word. Volwassenes wat dink animasiefilms is net vir kinders, het vergeet hoe om die lewe te geniet, en ek voel dieselfde oor kinderteater.”