Inheemse speletjies: coping mechanism en erfporsie
Tiffany Saterdaght skryf oor Karoo Kaarte se Loop Speel-zines
Die enigste tyd dat ek as kind sorgvry was, was wanneer ek gespeel het. Dis waar of jy nou watter soort mens is. As daar een ding is wat ons almal unite, is dit sorge. Ek admit my perspektief is effens jaded, maar nou ja. Ek het gesê wat ek gesê het en ek sê ’n ding soos dit is.
Om my punt te staaf, wil ek ’n storie deel. Ek glo vas dat my upbringing ’n moerse social experiment was. Ek het by my ouma in Norah Pottsstraat, Bridgton, Oudtshoorn grootgeword en vir die meeste van my childhood het ek ge-travel tussen haar huis en my ma-hulle se huis in Swiegelaarstraat innie Moon, ’n doodloopstraat. My vriende by my ouma innie pad konnie speelie. Al waarvoor hulle goed was, was dumpy en poppehuisie. En die “ma” en “pa” vannie vriendekring het ’n mens alewig gestuur om te gaan lê. Wie’t lus vir lê? Glo my, vandag voel ek differently oor die saak.
My vriende by my ma-hulle innie pad, however, het die art van speel ge-master. Daai kinders het hulle storie so agtermekaar gehad dat hulle die son se movements dopgehou het om te bepaal watter games ons volgende sou speel. Poppehuisie was te constrained vir daai cats. Hulle was wild ones en ek was in my element as ek by hulle gespeel het. Ons het tolgekap, kennetjie, drie-blik, jaggenkie, cowboys en kroeks, en die works gespeel. Vyfuur saans het ons en even ons ouers ’n game skaloeloe gespeel. Dan finish ons die dag af met ’n game wegkruipertjie. Ons het gespeel asof iets ons jaag.
My punt? My vriende by my ouma-hulle innie pad was beter af; my ouma-hulle was beter af. Daar was ’n kleur-TV en ’n kaas-en-jam-broodjie middae. My vriende by my ma-hulle in die pad was nie so fortunate nie. Ek glo daais hoekom hulle so hard gespeel het. Daar was nie eers tyd vir eet nie of om te dink oor hoe daar nie much was om te eet by die huis nie. As jy honger raak, gaan vat jy either ’n sny droë brood of ’n eetlepel suiker en gaan terug pad toe om verder te speel. Die game staan mos nie stil vir ons problems nie. Saans was jy te moeg om te dink oor jou circumstances of om wakker te lê en luister hoe jou huismense oor geld stry.
Karoo Kaarte se Loop Speel-zines, wat deur die projek se visuele kunstenaars geïllustreer is, het die kind in my weer wakkergemaak. Dit sluit indigenous games en die persoonlike herinneringe wat daarmee verband hou, in. Hierdie speletjies, wat oor generasies gespeel word, sluit skaloeloe, drie-blik, kennetjie en gaaitjie-gaaitjie in. Dit was ’n manifestation van maande se oral history-navorsing rondom Oudtshoorn-inwoners se kinderdae wat my laat besef het dat hierdie speletjies meer as ’n coping mechanism is, maar eerder ’n erfporsie. Generasies voor ons het hierdie games gespeel om kind te bly in ’n wêreld van apartheid, forced removals en segregation.
Die influence van kultuur en erfenis het vir my uitgestaan in die versameling van stories rondom die indigenous games wat die Oudtshoorn-inwoners oor verskillende generasies uit hul kinderdae onthou het. Hierdie games is ’n baie belangrike deel van ’n volk se kultuur en erfenis. Hulle bewaar eeue-oue tradisies en stories. Alles wat ’n origin het, het immers ’n storie agter die invention daarvan.
Om terug te kom na my vroeëre punt, die influence van klas op watter games kinders van buurt tot buurt gespeel het, het die meeste uitgestaan tydens die navorsingsproses. Miskien is dit as gevolg van toegang tot tegnologie en ander buitemuurse aktiwiteite? Ek weet nie. Wat ek wel kan sê, is dat ek gevind het, midde-in sosio-politiese en ekonomiese uitdagings, dat kinders skynbaar stywer vashou aan ’n semblance van die innocent en care-free nature van kindwees.
Visuele kunstenaar Colin Meyer het ’n onderhoud met Jan van Wyk kort voor Jan aan kanker gesterf het, gedoen. In daardie onderhoud reflekteer hy oor hoe hy nadat hy met kanker gediagnoseer is weer teruggekeer het na die stil, eenkant, kinderlike weergawe van homself, en sê hy: “Mans word nie groot nie, daai kind is nog steeds in hom, net sy speelgoed word duurder.”
So, te midde van ’n sosio-ekonomiese krisis en terwyl Suid-Afrika se politiese en regstelsel besig is om te implode, keer terug en reconnect met jou erfenis, jou stories en die kind binne-in jou. Ons het vergeet hoe om te speel en te lag vir survival en daais hoekom ons nie saans kan slaapie.
Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en die KKNK. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.