Oudtshoorn se verlede word onthou in dié gemeenskapsboek

Oudtshoorn se verlede word onthou in dié gemeenskapsboek

Karoo Kaarte se oral history archive

Vir 2023 se KKNK het Karoo Kaarte-span daarop gefokus om stories na vore te bring wat met kinderervarings en verlore openbare ruimtes en forced removals verband hou. Daarna het hulle ’n reeks uitkomste ontwikkel wat oor drie lokale vir die duur van die fees uitgestal en opgevoer is.

Deur hulle navorsing rondom herinneringe aan inwoners se kinderjare, volksverhale, bygelowe en mites het die span ’n magiese storieboek ontwikkel wat by oud en jonk aanklank vind. Die publication getitled Spekskiet en tande tel is ’n bloemlesing van kunswerke, kortverhale, gedigte, uittreksels en meer uit Karoo Kaarte se oral history archive. Die boek is vroeg April by die projek se pop-up project space in Oudtshoorn ge-launch.

Bydraers tot die boek sluit in die visuele kunsspan van Melikhaya Blou, Meiko Jaftah, Tayla Damons, Colin Meyer en Diano October en die skryfspan van myself, Siyasanga Building, Janion Kennedy, Leach van der Westhuizen en Theo Witbooi. Neil Coppen saam met myself en Shandré Harris het die oral history interviews verwerk, terwyl Vaughn Sadie en Glenisha Tarentaal die ontwerp- en publikasieproses ge-spearhead het.

Openbare ruimtes define dorpe. Dit is dié ruimtes van congregation en visibility, die gebiede waar die invisible grense wat ons op sosio-ekonomiese vlak van mekaar skei, tydelik betwis word. Die beskikbaarheid van kwaliteit openbare ruimte is een van die uiteenlopende kenmerke wat ’n dorp define.

Speksiet en tande tel vang memories vas van ’n tyd waar beide godsdienstige en burgerlike aktiwiteite in Oudtshoorn vermeng was in tempels, gemeenskapsentrums, winkels en markte. Daar was ook ’n teater en ’n danssaal te vinde, asook parke en sportgronde. Gedurende tye van politieke onstabiliteit is die openbare ruimtes bestempel as ’n draaikolk van sosiale ontevredenheid.

Hierdie boek sentreer die stemme van inwoners, gemeenskapsgebaseerde navorsers, skrywers en visuele kunstenaars om die dikwels-belaaide verhouding tussen openbare ruimtes, social cohesion én social divides te ondersoek – met die strewe om insights te identifiseer wat getalle alleen nie kan vasvang nie. Met heartwarming, funny en soms hartseer verhale van verlore openbare ruimtes en die memories wat dit hou, is dit onmoontlik om die impak daarvan op social cohesion en social divides te ignoreer.

Tydens die ontwikkeling van Speksiet en tande tel, sowel as die ander creative outcomes van Karoo Kaarte, het ek ’n besonderse waardering vir oral history as ’n onskatbare hulpbron om sin te maak van complex relationships en histories gekry. Vir baie inheemse volke is oral history ’n lewende intergenerational verskynsel wat deurslaggewend is vir die oordrag van ons tale, kulturele kennis, politiek en identiteite. Hierdie boek inspire lesers om weer te kyk na hoe hulle oor oral history en die oordra daarvan dink.

Dit is vir jou kind én die kind wat jy eens op ’n tyd was.

 

Uittreksels vanuit die boek

[André Boezak]: Ek was ’n doodgewone kind… Ek meen vandag se kinders het nie die voorreg om boom te klim en met ander kinders te speel nie. Jy het ’n tuisgemaakte rugbybal, krieketbal en ’n drom as paaltjies. Daar was fietsry en druiwe steel en ek het vandag nog ’n verskriklike issue met druiwe, want daar het ek geleer jy moet regte kultivars steel. Jy steel nie sommer enige druiwe nie. Dit was my kinderjare meestal, maar soos doodnormale kinders het ons gespeel, ons het nie voor rekenaars en TV’s gesit nie. Jy het gespeel asof dit jou werk was.

— KK_int_TRA_BoezakAndre_20220907, pg2
(Dit is hoe ons die uittreksels uit die argief aanhaal in Spekskiet en tande tel. Dit staan vir Karoo Kaarte_interview_Transcription_SurnameName of interviewee_Date of interview_page on transcription.)

Tandetel 

[Glenisha Tarentaal]: So, ek neem aan, of ek wil nie aanneem nie. Wie was die storievertellers? 

[Marilize Oosthuizen]: My ma. Kyk, my ma stam uit ’n familie waar hulle storievertellers het. So hoekom ek vandag saam met jou my storie kan vertel, is omdat ek lief was vir tandetel. Kyk hier, ek het gesit. As die aunties kom kuier, dan sit ek ook daar, want ek het ook geweet ek moet nie opkyk nie, want wie se tande, hoeveel tande het jy al hier getel? Sien jy? Maar ek hang daar rond dan sit ek maar [...] en luister. My ma was lief vir ’n goeie storie vertel. Soos saans as ons kla’ geëet het en die kombuis moet skoongemaak word. Ons gaan slaap mos nie in ’n vuil kombuis nie. So saans sit ons, as my pa kla’ sy nuus gekyk het dan gaan lê daai ou grompot, maar dan sit ons [...] en hang aan my ma se tong want dis deur haar stories wat ek ook weet wie is my familie en wa’ stam ons uit. Ek weet van die Suikerbulters en ek weet van die Silvertowners, want sy het vir ons vasgelê dis waar ons uitsprei en dit is die goed wat rondom my gebeur het. 

— KK_int_TRA_OosthuizenMarilize_20220904, pg9-10

Modderbabas

[Chrissie Jantjies]: Ek het met modder ’n bietjie watertjies gevat en ’n moddergaatjie gemaak, dan vorm ek hom as ’n babatjie. Dis nou babatjie, boetatjie en dan is dit nou sussatjie wat ek moes maak. Ons het sulke groen, creeperige goed gehad. Dit het ek ’n bedjie van gemaak. Op daai bedjie het ek nou daai twee babatjies neergelê, want dit was my babatjies, maar daai babatjies het nooit ’n pa gehad nie want ek het nooit ’n pa gemaak nie.

— KK_int_TRA_JantjiesChrissie_20220914, pg5-6

Tiffany Saterdaght interviews Poem Mooney – Forced Removals, North End, Vaaldraai, New Look (The first New Look)

[Poem Mooney]: Ek is lief vir Oudtshoorn, omdat Oudtshoorn se mense sulke hartlike mense is. En ons het uitgetrek daar met die gedwonge verskuiwings en ek was baie hartseer oor my maatjies wat opgelaai was met die lorries en hoe hulle nou getrek het met hulle goed. Daai tyd was daar nou net die Ou Lokasie en toe bou hulle New Look. Sou ek sê hier van Fisantlaan af onder tot in Dassieweg, daai gedeelte?

[Tiffany Saterdaght]: So, dit was New Look?

[Poem Mooney]: Dit was New Look daai.

[Tiffany Saterdaght]: Nie die New Look wat ons nou ken nie?

[Poem Mooney]: Ja, ja, nie die New Look wat ons nou ken nie. Maar dit was New Look. Onthou hulle het ge-cater vir vier kamers, ander het drie kamers gehad, ander het twee vertrekke gehad, maar dit was steenhuise, muurhuise, sterk huise. En as jy vandag kyk hoe daai mense daai huise verander, weet jy kry eintlik so lekker man, tot dubbelverdiepinghuise en dit is net goed om te weet. Die hartseer van daai tyd toe onse maatjies nou so uit die buurt uit wegtrek en agterna word daai geboue platgeslaan, jy weet, en daar was baie bitterheid en baie trane, jy weet? So het die mense nou uit Oudtshoorn uit gegaan. Al wat oorgebly het, was versande bousels, die stene wat later so geword het. En as ek nou so deur Oxfordstraat loop, dan sien ek nog net die boom, die groot peperboom waaronder ons almal grootgeword het, sien jy? Maar al die huise daar is nuwe mense in. Wit mense het daar ingetrek. Daar kom nou weer in dié tyd, koop mense weer in Oudtshoorn, in Noord Einde, in Vaaldraai en die sentraal waar ons gebly het, maar dit is nie dieselfde nie. Daai hartlikheid het uit ons lewe uit verdwyn en dis nou… [Tiffany beaam.] Die mense is koud en klinies, dis vreemdelinge wat intrek, jy weet. So, ons moet maar verlief daarmee neem, want uit die as uit het ons opgestaan en baie mense… Ek kan onthou toe my pa die huis… My pa het grond gekoop hier agter regoor die Opleiding Kollege Suid-Kaapland, in ’64 het hy die erf gekoop vir 91 pond, nè? [...] Hy’t hom gekoop in 1964, nè? Junie 1964 het hy die erf gekoop, hy het die nommer vir my gewys op die vuurhoutjiedosie en Augustus-maand 1964 toe sterf my pa. So, hy’t nooit daai huis gesien wat ons gebou het nie. So kan jy baie hartseer stories vertel oor hierdie gedwonge verskuiwings, jy weet?

— KK_Int_TRA_MooneyPoem_20211210_pg3-4

Theo Witbooi voer ’n onderhoud met Marco Blaauw

[Theo]: Kyk hier, jy het my al vertel van een groot politieke optog waar jou ooms ook betrokke by was waar jy gesê het julle was hier op en dit was so deurmekaar gewees. Kan jy miskien daardie storie weer deel?

[Marco]: Ja, ja, kyk hier, daai soos jy weet was die ANC mos nie so groot hier by ons nie. Daardie tyd toe was die Saamstaan-kantore nog hier bo gewees en my ooms was amper elke dag daar betrokke, sien jy? Dan was dit mos nou die… die… [Hy dink vir ’n oomblik.]

[Theo]: Die UDF?

[Marco]: Die UDF, ja, daai was ook vir die eerste keer waar ek dr Allen Boesak met my eie oë gesien het, want ek het altyd met my oudste oom baie beweeg, sien jy, hy het my altyd saamgevat. Nou, hierdie dag, Theo, was dit by die Alpha [-teater], jy ken die Alpha, my broe, ek ook saam met die ouman, en die ouman dra my op sy skouers, dis mos nou die groot vergadering, sien jy, met almal die mense. Dis mos nou die UDF-vergadering. Ek is ook saam met die ou, sien jy, maar nou is ons binne en met die uitkom toe die vergadering nou klaar is binne, sien ek net joh! Die klomp vênne [vangwaens] daar by Bergsig Primêr, die gômbas [groot vangwaens], die vênne en die klomp goedters. Theo, joh! Soos jy weet, ek was maar nog klein op die laerskool. Dan sal die mense mos nou toe almal uitkom en goed, ons is nog op pad om te wil beweeg af, joh, dan begin die polisies, dis rubber bullets en goed, dis traangas, hulle gooi sommer die lewendige traangas, dis kind, dis grootmense, ou mense. Hulle gooi die goed en begin losbrand sommer. Theo, joh! Daai was bitter gewees en dit was die eerste een. Dan was dit die march toe ons afgemarch het na die… die…

[Theo]: Munisipale kantore toe?

[Marco]: Ja, na die munisipale kantore toe. Daai was ook een van die tye toe die polisie ons hardhandig behandel het. Ek was nog op die ouman se rug toe hy met my weghardloop en my neersit en vir my sê ek moet maak dat ek wegkom, want hulle jaag mos eintlik nou net die grootkoppe wat agter die march sit. So, Theo, daai was nou twee van hulle wat ek kan onthou.

— KK_TRA_BlaauwMarco_20221209_pg7-8



Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en die KKNK. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Creative Commons Licence
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Oudtshoorn se verlede word onthou in dié gemeenskapsboek gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand