Danie Marais soek na 'n kuur vir witheid in Ek en jy bestaan nie
Selfbeklagtende gedigte
Ikigai is ’n Japannese konsep wat losweg verwys na iets wat waarde en vreugde gee aan die lewe. In die Weste word ikigai algemeen geassosieer met ’n Venn-diagram van vier oorvleuelende kwaliteite: Waaroor jy gaande is; waarin jy goed is; wat die wêreld nodig het; en waarvoor jy betaal kan word. As jy iets kan vind wat aan al vier die kwaliteite voldoen, het jy jou plekkie onder die son, jou rede vir lewe ontdek.
Ek begin lees Danie Marais se mees onlangse bundel, ek en jy bestaan nie (2024, Tafelberg), en een van my eerste gedagtes is dat die gedigte spreek van iemand wat in die absoluutheid van hierdie kwaliteite begin twyfel het; dalk nie bewustelik nie, maar nogtans. ’n Spreker wat gereed is om die self-destruct button te druk, met ’n goeie skeut selfbewussyn en -spot. Want in ’n wêreld waar alles so kompleks geword het dat ons nie meer die woorde daarvoor het nie, waar die tol wat die geskiedenis eis eenvoudig te groot geword het, wat bly daar oor? Wat beteken dit om ’n goeie mens te wees in vandag se tye?
Die eerlikheid waarmee die temas in hierdie bundel oorgedra word tref. ’n Kolskoot reg in die witheid van dié leser se bestaan. Hierdie temas sluit in die kwessie van witheid (met wit bevoorregting en wit skuld op die voorgrond); ’n “vervaarde toeskouerskap” (83); die onbenulligheid / vergeefsheid van (betrokke) kuns; skuldgevoel en skaamte; en die disillusie van ’n vervloë jeug en verlies van naïwiteit.
Die kwessie van witheid staan in die kollig in hierdie bundel. Die spreker laat hom in etlike verse uit oor die weemoedige kompleksiteit van witwees in ’n tyd waar wit ’n vloekwoord geword het. As die geskiedenis onregverdig die hedendaagse Europese afstammelinge, wat so ver weg maar tog so na aan ons koloniale verlede is, bevoordeel, hoe gemaak as dit nie die antwoord is om nóú te wil inspring en die onregte van die verlede te probeer regmaak nie? As dit tyd is vir die Wit man om terug te staan. Die wêreld het beslis nie nog ’n middeljarige Wit man nodig om messias te speel nie, maar wat hét die wêreld nodig? Om (self-) bewus te wees van jou bevoorregting en jou posisie in die samelewing ten koste van ander, is ’n goeie eerste stap, maar terselfdertyd vra die spreker (en ek parafraseer hier): Wat is die punt en wat nou?
Die spreker verwoord in die gedig ‘Dreaming of not another white Christmas’ (16–7) sy behoefte “om nie meer altyd te moet weet / hoe ’n middeljarige wit man voel / oor alles nie”. Die besef sink in dat die geskiedenis deur die oë van die oorwinnaar gesien word: “die Geskiedenis huil sy marmertrane / net vir die gesneuwelde ideale / van psigote despote” (28), en dat hierdie perspektief die “erfskuld” (58) van Wit mense is, een wat “steeds na bloed proe” (62).
In ‘O, die sentimentele roofdiere’ (73–5) is die spreker pynlik bewus daarvan dat hy skryf vir mense soos hy: “mense [...] / wat aan soortgelyke neurotiese vetgevrete skete ly / sentimentele roofdiere / skandalig beloon / net omdat hulle in die regte huis opgedaag het / gebou op onreg so oud / soos hebsug en vrees”. Hierdie leser dink onwillekeurig aan die keersy van dié tafereel – Adam Small se bekende woorde in Kitaar my kruis (eerste druk 1961, HAUM):
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons
daai’s maar al
Waar die dice verkeerd geval het vir die mense oor wie Small geskryf het, is die teenoorgestelde waar vir die leserspubliek oor wie Marais skryf. Hierdie sentiment word voortgesit in die gedig ‘Goeienag, Matt Berninger’ (83–7). Die spreker beskryf homself as ’n “vervaarde toeskouer” (83), bewus daarvan dat sy “dae getel behoort te wees” (74). Hy is niks meer as ’n Wit skrywer wat “mag met perspektief verwar [het] / medelye met morele gesag”. Hy het gedink hy “skryf vir almal”, terwyl hy “maar deur die sleutelgat van wit / geloer [het] [...] / oortuig dat [hy] die wêreld sien / deur God se ewige oë” (107–8).
Een van die hoogtepunte in ek en jy bestaan nie is sekerlik die mate van selfspot waarmee heelparty selfbeklagtende gedigte aangebied word. Dalk ’n kopknik vir die Vader van die Afrikaanse Selfbeklag, Breyten Breytenbach? Die spreker beskou homself as “’n onnutsman / wat niemand ernstig kan opneem / nie” (83). Veral die gedig ‘Die paneel’ (100–5) staan uit in hierdie opsig. Hy is “met [sy] hand in die koloniale koekieblik betrap” en “finaal [...] / as wit ge-out” (101, Marais se kursivering). Die spreker aanvaar aanvanklik nie sommer net hierdie taksering nie, en betoog:
Maar – wil ek melodramaties vra –
het ek al dié absurde myle uit die niet afgelê om net
die wit oom te speel wat niks
behalwe sy bevoorregting het
om te verklaar nie niks
van magtelose woede en onreg verstaan nie gegiet
in ’n white body [...]?
Maar hy erken ook dat daar niks “meer cringey [is] / as ’n afgewaterde wit man / wat in die openbaar / om die aalmoes van begrip bedel” nie. Hy gee toe “wit trane is net sout / in ou wonde”. Ironies dan, natuurlik, die publikasie van ’n bundel deur ’n Wit skrywer wat juis handel oor die ervaring van witwees.
Hiermee saam kom ’n selfkritiek oor die onbenulligheid en vergeefsheid van sy kuns teen die agtergrond van sy bevoorregte posisie in ’n dorp soos Stellenbosch. “[D]ie Geskiedenis se medelye hou op / waar die suburbs begin” (87). As selfverklaarde “mislukte rebel” vereenselwig die spreker hom in ‘Goeienag, Matt Berninger’ met ’n “Kaapse hipster / by [’n] buzzy boekbekendstelling”. Hy erken dat “hipsters hier [...] net / so onbenullig soos Afrikaanse poësie magic / mushrooms feng shui en kombucha” (86) is. Die oorhoofse gevoel is dat die spreker “twyfel oor die nut / van [sy] stem” (38) en dat daar nie ’n waardevolle bydrae is wat die digter kan lewer in ’n heldhaftige reddingspoging nie. Ongeag sy pogings is die “land [...] onherroeplik gefok” (47).
Bogenoemde temas word omhul in ’n borrel van terselfdertyd skuld en skaamte aan die een kant, en wat lyk soos ’n gevoel van empathy fatigue teenoor die diepgaande sistemiese klug wat die land is (“ek kan nie eens die verminktes / in my eie gesin te veel aantrek nie my ma / sal wankelend haar eie pad / na die graf moet vind” [54]). Die digter blyk meermale vanuit ’n nihilistiese perspektief te skryf. In hierdie opsig spreek die gedig ‘Van skuld en skaamte’ (64–7) boekdele. In die gedig vra die spreker se dogter hom oor ’n Anton Kannemeyer-kunswerk wat in hulle huis hang, waarin ’n Swart seun met stereotipiese “dik rooi lippe geteken” is:
Is dit ’n grappie
waaroor ons almal saam mag huil?Anton sê hy weet self nie
of ’n wit mens so iets in sy huis moet ophang nie.
Anton sê hy weet regtig nie meer nie.
Sy galery wil hom nie meer verteenwoordig nie.
Die eienaar sê dis tyd vir die wit man om stil te bly –
sy werk maak medewerkers ongemaklik.
Die digter vang iets vas omtrent die kommunikasiegaping wat bestaan tussen Swart en Wit medelandgenote wanneer die spreker sy huishulp Sweetness vra of die kunswerk haar ontstel:
Ons bly vir ’n oomblik onpeilbaar langs mekaar staan
twee galerybesoekers onseker
wat ons voor ons
tussen ons of agter ons sien.
Ná die lees van hierdie vers wil ’n mens eintlik vra: Hoe het ons hier gekom? Om die sprong te maak van ’n naïewe, vervloë jeug, waar die spreker nog geglo het in die waarde van rebelwees en “maagdelike hoop” (26), is ’n moerse kopskuif. Hierdie naïewe geloof van sy jeug is veral te bespeur in die herhaalde gebruik van die woord tog in ’n gedig soos ‘Die 90’s’ (21–5). Die spreker is van mening daar was “tog ’n tyd toe alles / nog netjies verkeerd was my lyding / nog waardig”, en “tog / was daar ’n onskuld / in die naïewe sinisme die romantiese / anti-romantiese retoriek van ’n generasie / wat retoriek verpes het” (my kursivering).
Die spreker kom egter uiteindelik tot die gevolgtrekking: “Die 90’s het die blou pil / van gedokterde nostalgie / onder jou tong gelê soos retro-vergifnis / oor jou uitgegiet”. Uit telefoongesprekke met sy ma vanuit Duitsland kry hy die boodskap duidelik: “‘Daantjie, jy kan maar huis toe kom. / Die suburbs het ’n sagte plek / vir mislukte rebelle’” (25).
Met ek en jy bestaan nie vra Marais: “[...] is daar ’n nuttige tantrum oor / vir ’n wit man om te gooi [...] / ’n sweet spot [...] tussen / wit skuld / white fragility / virtue signalling / en ’n wit messiaskompleks?” (102). Alles inaggenome, lyk die prentjie vir die toekoms relatief bleek. Die spreker neig selfs na selfsabotasie en meen hy “wil een keer [sy] moer volledig / in die openbaar strip” – die verslae woorde van ’n “bang ou man met [’n] nat broek” (102). Hy meen ook dat as dit nie vir sy “dogtertjie en seuntjie” was nie, sou hy nie meer omgee nie: “[H]y [sal] ’n ou vampier sonder vrees / vir die daglig wees” (43).
Nogtans skemer daar hoop deur in gedigte soos “‘En êrens dreun die branders aan die strande van Natal’” (47–8) en ‘Frontier people’ (81), waar die spreker sy waarneming deel dat, alles ten spyt, die lewe aangaan. Al is die land in vodde en al kan ons nie meer onderskei “tussen die spesiale effekte / van globalisering vooruitgang en verval [nie]” (10), het “die lewe [...] nie die memo gekry nie” (47). “[E]erste soene” word steeds “geplant”, kinders kom “steeds op bloei” (81). Eindelik is daar troos in die gedagte dat die natuur haar gang gaan, “waar ’n swetterjoel krioel / sonder ’n saak met die standbeelde van Geld aan die lip / van ’n eerliker wêreld” (47).
En, liewe leser, as die hoop beskaam en die bevrediging van ikigai buite bereik is ná die lees van hierdie bundel, is daar altyd, in die woorde van Marais, die “genade van slaappille en TV” (94) om jou te begelei.