Resensies van Kuborg, verveertaal, Sandskrif en Taboek
'ons mag verskil oor god / maar oor genade nie'
Kuborg – Martina Klopper
Ons lewe in ’n tyd waar jy Meta AI as jou sielkundige, beste vriend, raadgewer, huisdokter of dominee kan inspan. Dis ’n tyd waarin werklike, menslike interaksie en verbintenis toenemend vervang word met aanlyn gemeenskappe – ’n term wat op sigself volgens my ’n paradoks is. Is gemeenskap nie juis veronderstel om te verwys na aangesig-tot-aangesig handeling nie? Hoe gaan jy ’n bietjie melk of suiker by jou aanlyn buurman gaan vra wanneer jy kortkom?
In Martina Klopper se tweede solobundel, Kuborg (2023, Imprimatur), word hierdie idee van groeiende afstand tussen en afgestomptheid teenoor mense, asook die impak daarvan op identiteit ondersoek. Klopper maak van ’n slim spel met woorde gebruik om die “masjienagtige in menslike terme te vertaal”, soos gemeld word op die agterplat van die bundel. Sy meen dis “’n manier om ons eie menslikheid beter, of op ’n ander metavlak, te verstaan”.
Die titel Kuborg sluit goed aan by die tema van identiteit en grense wat deur die loop van die bundel die aandag geniet. Net soos ’n kuborg iets tussenin die binariteit van die menslike en masjienagtige is, funksioneer identiteit ook in hierdie tussenin-ruimte – die kreatiewe omslagontwerp deur Jahni Wasserfall verbeeld hierdie idee knap. Mense is alewig besig om te skep en herskep aan hulle identiteit en elke ervaring wat ons meemaak, dra by tot hierdie proses. Met Kuborg dien die digkuns as laboratorium waarin Klopper hierdie grense van nader kan bekyk.
Die digter se aandrang op ’n vaste struktuur van haar verse en keurige spel met verstegniese aspekte, skep ’n ruimte waarin sy die leser kan bekend stel aan soms aweregse konsepte. Gedigte wat uitstaan in hierdie bundel, sluit in ‘Eetversteuring I’ (17) en sy keersy ‘Eetversteuring II’ (41), waarin fyngemaalde beendere van die spreker se oupa haar “slukderm [skraap]” (I) en die Groot Verseboek “verorber” word (II); ‘Romantic comedy’ (20), waar die meganistiese aard van dating apps ondersoek word; en ‘Soekenjin’ (24), ’n vars blik op internetverslawing.
Die gedigte in hierdie bundel word in pare aangebied, waarvan die eerste afdeling (‘Bionies’) se gedigte in gesprek tree met dié van die tweede afdeling (‘Biologies’) – natuurlik ’n speling op die binêre opposisie van mens en masjien. Myns insiens, ’n heerlike, interaktiewe aanbod wat die leser op fisiese vlak betrek en die aandag behou.
Hoewel hierdie bundel op ’n interessante en besonders relevante tema geskoei is, word dit egter nie volledig ontgin nie. ’n Gedig soos ‘Boekhou I’ (18) maak byvoorbeeld te netjies staat op ’n paint by numbers-resep. Ek sou graag ’n dieper nabetragting oor die maak van die metafoor in hierdie gedig wou lees.
Terwyl daar nêrens beloftes gemaak word dat die bundel dien as teenmiddel vir die anti-gemeenskap waarin die hedendaagse samelewing verkeer nie, wonder hierdie leser oor die dikwels onemosionele wyse waarop swaarder onderwerpe aangepak word. Daar kan tereg geargumenteer word dat hierdie aanbod spreek tot die probleem van die afstomping van ’n internetgenerasie en -verslawing, maar ek vra my tog af of dit nie juis bydra tot hierdie emosionele ingeperktheid nie.
Nietemin word daar in Kuborg woorde gegee aan en nuwe begrip geskep vir die ervaring van menswees en die liggaamlike, en laat dit die leser met stof tot nadenke oor ons hantering van menseverhoudinge en gemeenskap.
verveertaal – Ilse van Staden
Ilse van Staden se verveertaal (2023, Imprimatur) is haar vyfde digbundel. Die bundeltitel kan in twee dele verdeel word: verveer en taal. Soos ook op die omslagontwerp (Van Staden self se handewerk) geïllustreer, word die voëlmotief ingespan om iets te sê oor die verandering en vernuwing van taal. Taal word ondersoek as die merker van identiteit en komvandaan, waarvan laasgenoemde se kompleksiteit veral beklemtoon word deur die beeld van voëls as “swerwende [...] en blywende bewoners van die aarde en die lug” (agterplat van verveertaal). Dis daarom gepas dat temas soos ontheemding, migrasie en tuiswording onder die loep geneem word in die bundel.
Die gedig ‘op telefoondrade’ (28) staan uit in verveertaal. In hierdie gedig word nagedink oor die gesprekke wat duiwe aanhoor wanneer hulle op telefoondrade sit soos “God se geveerde spioene / wat ons doen en late dokumenteer”. Die spreker kom in die wending van hierdie gedig tot die slotsom dat
[...] miskien is dit bloot die vibrasies
van ons onverstaanbare gesprekke
die tintelende klankgolwe ongeïnterpreteer
’n trilling van iets numineus
wat hulle na dié uitkykposte trek
en gaan sit voëls sonder voorbedagte rade
op telefoondrade
Hierdie gedig dien as wekroep vir die selfvoldane mens wat alewig behep is met die eie ek. Die spreker se woorde herinner ’n mens daaraan dat hierdie wêreld nie bloot deur mense-oë besigtig word nie en dat die wesens met wie ons ’n leefwêreld deel hulle eie perspektief en prerogatief het.
Nog ’n gedig wat my aandag getrek het, is ‘om te veer’ (31). Om te werk met en in taal, word gelykgestel aan die vlug van “derduisende voëls” – ’n lieflike metafoor vir die agentskap wat taal op sigself geniet en die dikwels gestruktureerde chaos, oftewel “gekruis en -dwars”, van hierdie medium. Hierby sluit ’n gedig soos ‘om te (t)aal’ (35) ook mooi aan. Die spreker meen: “om te taal / is om te vis / vir die is-essensie”. Die werk van die skrywer word dus gesien as die soeke na betekenis, om die ervaring van menswees in soveel woorde vas te vang.
Terwyl die bundel konseptueel prikkelend is, verloor die uitvoering my plek-plek. Vir sommige gedigte word vertalings aangebied, maar nie vir almal nie. Die meeste gedigte beskik oor ’n sterk metrum en ’n rympatroon wat natuurlik vloei, en dit lees gemaklik, maar by gedigte soos ‘winterreën’ (34) waar die “hemel” bloot beskryf word as “één groot grysblou niks”, vra ek my af: Wat wil die digter hiermee sê?
Natuurlik hoef alle gedigte nie grootse, filosofiese oomblikke te wees nie. Hierdie bundel is geskik vir mense wat aangetrokke is tot die visuele, vir natuurliefhebbers en lesers wat, soos Van Staden, ’n voorliefde en waardering het vir taal – in beide voorkoms, funksie en klank.
Sandskrif – Kobus Lombard
Sandskrif (2023, Imprimatur) deur Kobus Lombard, dié digter se sesde digbundel, is een wat my aangenaam verras het.
Hierdie bundel bestaan uit vier afdelings. In die eerste afdeling word die Westerse God teenoor dié van die San, Abu-itse, gestel. Die spreker wonder: “straks is ons god en julle s’n / ewe oud / rook hulle dalk / dieselfde pyp” (28). ’n Skerp kontras word geskep tussen die almagtige “kleintyd se god”, die dogma van “grootword se god” en die ontnugtering en gevoel van godverlatenheid van “oudword se god” (24). In hierdie eerste afdeling is die gedig ‘Grootwordkerk’ (31) ’n hoogtepunt, waarin die spreker aan sy kerk se deur klop maar niemand maak oop nie. Uiteindelik sit hy “en wag / dat Jesus uit my kinderbybel / in Kerkstraat afgestap moet kom”.
In die tweede afdeling word temas van eensaamheid, verlies, lyding en die dood op konkrete en teer wyse verwoord. Van die eerste gedig in hierdie afdeling ‘lostrek’ (35) – waar die spreker sy ervaring van verlies gelykstel aan sy ma se hekelkombers waaroor hy “ylend waak” sodat niks dit sal verniel nie – tot die laaste gedig ‘Sterstof’ – waarin die spreker probeer sin maak van die sterwensproses – word hierdie swaar temas met insig, wysheid en begrip hanteer.
Die derde afdeling handel grootliks oor die skryfproses en die waarde van woorde en storievertelling. Hier is ’n spreker aan die woord met ’n groot liefde vir taal en die vakmanskap wat die vertel van stories en die skryf van gedigte verg. In die gedig ‘Ongepubliseerde vers’ (61) skyn iets deur van die worsteling met ’n liefde vir skryf – art for art’s sake – en die formaliteite gebonde aan die publikasieproses: van die “redigerende oog” wat die aard van die verse verander, tot die “lem van resensente” waaraan gepubliseerde gedigte nie kan ontsnap nie.
In die vierde afdeling van Sandskrif geniet temas van die natuurlike gang, die omgewing en landskap, die werking en bou van die menslike liggaam en menseverhoudinge die aandag. Hier is die boodskap duidelik: Ongeag van menslike inmenging en “wie se god / die wêreld geskep het” (66), weet
die hart [...] self
om te klop
’n traan om te drup
die hemelruim
om blou te wees
en die stilte
om geruisloos
net te wéés
Hieruit kan mens twee dinge aflei: 1) Ons is so deel van die natuur as wat die lug blou is, en 2) die illusie van beheer kwyn in die aangesig van affek, die natuurlike gang.
Hoewel die gedigte in Sandskrif op die oog af eenvoudig lyk, word ’n vars perspektief tussen die blaaie van hierdie bundel vasgevang. Die beskrywing op die agterplat som hierdie bundel raak op:
Lombard se poësie is oënskynlik eenvoudig en deursigtig, maar met ’n kenmerkende ironiese blik op die mense en wêreld om hom, en veral ook op die self. Daardeur wen sy gedigte aan insig in die menslike kondisie en die voortdurende soeke na die betekenis van die kort menslike lewe in die grootse skepping.
Boonop laat die sterk metrum en Lombard se streng beheers van sy digterlike ambag die leser met ’n lekkerleeservaring, sonder om afbreek te doen aan die verstaan en diepte van die motiewe in dié bundel.
Taboek – Riku Lätti
Riku Lätti se Taboek (2024, Naledi) is iets wat ek nog nie raakgelees het in Afrikaans nie, en daarvoor verdien die skrywer ’n pluimpie. Hierdie debuut oorskry verskeie grense en is tekenend van Lätti as musiekkunstenaar se eklektiese styl. Daarmee saam verdien Gideon Breytenbach se ontwerp vir die omslag ’n prys op sigself.
Een van die dinge wat hom frustreer, is die verhewe kollektiewe ego’s van groepe wat dink hulle of hul gode is beter as ander, meld Lätti in ’n Vrye Weekblad-onderhoud. Hierdie frustrasie tree duidelik na vore in Taboek.
Wanneer ek ’n bundel lees, sit ek altyd met ’n groen highlighter en ’n liniaal in die hand om die dele te merk wat vir my uitstaan en wat ek dink belangrik is. Met Taboek wil ek die hele bundel in highlighter-ink doop. Ek haal hier ’n paar groen versreëls aan:
In ‘alles is natuurlik’ (10–3) en aansluitend in ‘wie is god’ (91):
natuur is
en
dis al
alles is god
god is alles
In ‘tuinmaak’ (14–6):
sal die tuinier verhartseer
as hy ’n plant verloor
dog onnodig om te treur daaroor
liewer blydskap
dooie plant is mos kos
[...]
elke dag nuutgebore
uit die ewige dood
In ‘toksiese ateïsme’ (22):
wanneer die ongeloof
in die bestaan van god
jou verhewe laat voel
[...]
het jou ateïsme
[...]
’n giftige religie geword
In ‘die bybel’ (38–9):
dat dit god se woord is
is geen feit nie
dis bloot
die opinie
van gelowiges
In ‘maar wat dan van jesus’ (45–7):
jesus
is die wonderlike
resultaat
as godmaak
aan mens oorgelaat word
Die feit dat die bundel soos ’n storie lees, terwyl dit terselfdertyd in Lätti se “praatste taal” (58) geskryf is – eenvoudige, minimale woordgebruik – getuig van beide ’n skrywer wat ’n totale beheersing oor sy taal uitoefen én ’n weldeurdagtheid van uiteenlopende kompleksiteite wat mens nie oral teëkom nie.
Lätti maak dit duidelik dat die woorde in hierdie bundel sy eie gedagtes en opinies is; hy “dink oor die lewe / dit is sy woorde”, soos op die agterplat vermeld word. Dit is ’n bundel vol vrae wat nie noodwendig al die antwoorde bied nie, maar dit mag jou dalk minder alleen laat voel omdat jy 1) al dieselfde vrae gevra het, of 2) omdat jy nie die woorde kon vind om hierdie vrae te vra nie.
Hoewel die tipografie van versgedeeltes wat wissel van die linkerkant, die middel en die regterkant van die bladsy, by tye steurend kan voel vir die oog, moedig dit die leser aan om te lees, dit bepaal die tempo en ritme waarteen die verse gelees word en dit bring iets opwindends en speels na die leeservaring. ’n Vorm van gesprekvoering word bewerkstellig deur hierdie tipografiese uitleg waarin twee of meer stemme verskillende standpunte van ’n argument of filosofiese idee beredeneer. Sodoende word ’n ewewig gehandhaaf in die aanbod sodat die leser nie oorweldig word deur een enkele perspektief nie. Daar word bloot gronde geskep vir ’n ope gesprek, ongeag van wat en waarin lesers glo of nie glo nie.
Herhalende idees kom in verskeie verse voor, oor veral die idee dat geloof en gode opgemaak is, die kollektiewe ego, die feit dat die Bybel deur mense (en nie deur God self nie) geskryf is, nadenke oor die liefde en wat van jou ’n goeie mens maak en die nosie dat sonder godsdiens (en sonder Lucifer) sit jy alleen met die verantwoordelikheid van en aanspreeklikheid vir jou dade. Hierdie herhaling dien amper as ’n soort inkantasie en ’n verwoording van ’n satori-ervaring.
Terwyl daar sekerlik mense is wat aanstoot sal neem aan hierdie bundel en Lätti juis hierdie lesers ontmoedig: “miskien hou jy min van wat ek sê / in welke geval / slaan seblief hierdie boek toe” (112), is die kruks van Taboek: “ons mag verskil oor god / maar oor genade nie” (96). Belangstellendes wat aanklank vind by hierdie gedagte, kan gerus ’n kans waag op dié waardevolle bundel.
Kyk hier na Jonathan Amid en Lätti se omvattende gesprek oor Taboek wat by Oude Leeskamer in Stellenbosch plaasgevind het.