Ingrid Jonker en die orakelkaart
'n Besinning oor Die papie roer en ek word digter
Ek luister onlangs na ’n April 2024-lesing vir Gemini en hoor een van die temas waarmee Gemini gekonfronteer word in April word voorgestel deur die orakelkaart Lilith – die simbool vir wilde feminiteit. Ons skadukant. Die Gemini wat identifiseer as vrou word daarop attent gemaak dat haar wilde feminiteit dikwels die oorsprong is van ’n diepgaande, emosionele wond, weens die samelewing se verwerping van wildheid in vroue. Nou wat het dit te doen met Ingrid Jonker en die heruitgawe van haar versamelbundel Die papie roer en ek word digter (2023, Protea Boekhuis)?
Terwyl Ingrid Jonker dikwels gesien word as die Afrikaanse Sylvia Plath vanweë die intensiteit van haar werk en die tragiese verloop van haar lewe, skyn Louise Viljoen in haar inleiding tot Die papie roer en ek word digter (onder redaksie van Joan-Mari Barendse) die lig op die kerneienskappe van Jonker se werk – in die besonder Jonker as digterlike vakman en politieke digter. Die bundel is ’n versameling van die gedigte wat in Ontvlugting (1956; eerste uitgawe), Rook en oker (1964; tweede uitgawe) en Kantelson (1966) opgeneem is.
Dis my gevoel dat mense meer geneig is om ’n kunstenaar se biografiese inligting in hul werk raak te sien wanneer hulle sterk aanklank vind by die betrokke kunstenaar. Dis goed en wel – een van die funksies van kuns is immers om iets uit te beeld of vas te vang wat die leser/kyker self voel maar nie die woorde voor het nie. Dit word ’n probleem as die biografiese details ál is waarop daar gefokus word. Viljoen noem dat Jonker meermale as “die wispelturige kind, die seksuele ikoon, die doodsgedrewene en die dissidente digter” (8) gesien word en dat haar vakmanskap as digter en politieke betrokkenheid noodwendig misgekyk word.
Tydens die Bruggenhoofden-gesprek met Yves T’Sjoen merk Viljoen op:
Poësie word dikwels outobiografies gelees. [...] daar mag ’n werklike ervaring wees, maar daarvan word ’n kunsobjek, ’n gedig dan gemaak met behulp van ’n verskeidenheid literêre tegnieke, met die kundigheid oor tradisie. Ek dink ’n mens moet daardie goed in balans hou.
Een van die gedigte waarna Viljoen verwys in haar inleiding tot Die papie roer en ek word digter en wat vir my uitstaan, is ‘Ontnugtering’ (oorspronklik opgeneem in Ontvlugting) – ’n gedig wat “in spanning staan met die samelewingsnorme met betrekking tot vroue” (11):
Laat hulle spot!
Die dag roer uit sy papie
Die kuiken uit sy dop
Die slaap roer uit my wese
Ek wou die wêreld fop:
Ek wou my aan hulle voorstel
As ’n klein rooiwang-pop.
Met hierdie oggend is ek uit
My kierang en my rok:Nou het hul my ontsyfer
en staan ek voor hul op
As die verwronge digter
Laat hulle spot! (12)
Die spreker het “probeer inval by die samelewing se verwagting van vroue [om] mooi, gedienstig, nie-denkend en manipuleerbaar” (12) te wees, maar dit word duidelik dat sy nie voldoen aan hierdie norme nie. Sy is in werklikheid nie die “klein rooiwang-pop” wat sy wou voorgee om te wees nie, eerder “die verwronge digter”.
Clarissa Pinkola Estés skryf in haar Women who run with the wolves (2008, Penguin Random House) oor die wilde vrou-argetipe. Die konsep van die wild feminine gaan om die krag en kreatiwiteit wat in die feminiene opgesluit is. Dis iets wat in elkeen van ons skuil; wat getem of gedemp word vir die onthalwe van die samelewing se sosiale kondisionering; wat beskou word as taboe; en belangriker nog, wat vra om gehoor te word. Hiervan is Lilith die ideale simbool, omdat sy volgens die mite Adam se eerste vrou was, maar uit die Tuin van Eden verban is omdat sy geweier het om gedienstig en gedwee te wees. Sy het haarself as Adam se eweknie beskou, eerder as sy onderdaan.
Miskien klink hierdie idee van die wild feminine en die mitevorming rondom Lilith outlandish of irrelevant, maar vir diegene vir wie non-verbality tweede natuur is of dié wat voel soos ewige buitestanders, vir die “verwronge digters”, is hierdie konsep een van hoop.
Een manier waarop uiting gegee word aan die wild feminine is deur woorde. Om te skryf of te praat oor dit wat ons voel ons moet wegsteek, of kies om te ignoreer of probeer vermy, is ’n bekragtiging van die self. Dis ’n manier om aanvaarding en liefde te toon teenoor die self en ander. Dit is presies wat Jonker se ‘Ontnugtering’ vir my beteken. Sy was inderdaad nie die popgesig golden girl van Afrikaans nie. Maar dat sy digter was, dat sy gewerk en geskaaf het aan haar craft, dat sy haar posisie as Sestiger volgestaan het en ’n voorganger was vir talle digters ná haar (onder meer Fanie Olivier, Johan Lodewyk Marais en Marlene van Niekerk), is vir seker.
Ingrid Jonker was 31 jaar oud toe sy oorlede is. ’n Mens kan nie help om te wonder wat sy nog sou kon bereik nie, gegewe haar ongelooflike groei as digter in haar kort loopbaan. Daar is ’n ongekende vryheid in die dood en in kuns, in poësie. As daar een ding is wat ek kies om in te lees in die werk van Jonker, is dit dat ons kan vry wees deur die woord en deur kuns. Daar waar die samelewing ons wil stilmaak en beperk, daar het ons die mag van woorde om ons te bevry.