'n Profiel oor Murray La Vita, die groot profielskrywer

'n Profiel oor Murray La Vita, die groot profielskrywer

Oor sy liefde vir mode, meubels, mooi ringe en sy kat Freya

’n Paar weke gelede raak ek wakker in ’n daktent in Buffelsbaai se kampeerterrein. Ek het lanklaas so lekker geslaap. Dit voel asof my wasige brein met window cleaner bygekom is. Ek is vol idees. En die dringendste een is dat ek ’n onderhoud met Murray La Vita wil voer. ’n Gesprek met die groot gesprekvoerder, ’n profiel oor die groot profielskrywer. (“Onderhoud met ’n onderhoudvoerder” is nog ’n lekker een, maar Vrye Weekblad het dit reeds gebruik – dit is ’n fantastiese onderhoud wat jy beslis moet gaan lees [sodra jy met dié een klaar is].)

Ek het Murray ’n jaar gelede vlugtig by KKNK ontmoet, maar ek twyfel of hy my sal onthou. Ek kry sy e-posadres in die hande en vra of hy sou belangstel om met my te gesels vir ’n storie. Hy antwoord ’n uur later: “Ja, ek onthou ons het mekaar verlede jaar ontmoet: in die nag ná die stuk van N Hanekom; jy was in ’n Jeep.” (Dit was ’n Jimny, but close enough.)

Fast forward, en ek sit en wag vir hom by ’n tafel in die koffiewinkel in Vredehoek wat hy voorgestel het. Hy het jare gelede hier rond gewoon voor hy na ’n huis teen die voet van Duiwelspiek in Woodstock getrek het. Ek waai vir hom toe hy instap, maar hy sien my nie dadelik raak nie. Hy stap eers bietjie rond op die stoep voor hy binnekom; nog voor hy groet, sê hy dat hy nie onthou die plek se vloer het voorheen só gelyk nie.

“Hierdie teëls is nuut,” sê hy. “Wat noem mens dit nou weer? Terrazzo?” Murray La Vita is ’n fyn observeerder. Niks glip ongesiens by hom verby nie, en hy onthou alles. Dit is g’n wonder dat hy een van die land se voorste joernaliste is nie.

Sy loopbaan as koerant- en tydskrifjoernalis strek oor meer as 20 jaar. Hy het as joernalis gewerk gedurende Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing en die Waarheid- en Versoeningskommissie, deur die opkoms van die internet en digitale media, deur al vier Springbok-Wêreldbeker-oorwinnings, deur Mark Shuttleworth se ruimtereis, deur beurtkrag, deur al Patricia Lewis se Huisgenoot-voorblaaie. Hy het al as boekresensent, vertaler, teksredigeerder, militêre korrespondent, nuusredakteur, nagnuusredakteur, streeksredakteur van nasionale tydskrifte en inhoudsredakteur van dagblaaie gewerk, en is nou al meer as 10 jaar in diens van Netwerk24 as profiel- en rubriekskrywer. Hy het al onderhoude gevoer met Desmond Tutu, FW de Klerk, Helen Suzman, Annie Lennox, Peter Veldsman, Nataniël, Carl Niehaus, Johann Hari, Breyten Breytenbach, André P Brink, Leon Rousseau, John Steenhuisen, Dave Pepler, Marlene Dumas, Antjie Krog, Frank Opperman, en en en.

Onderhoud met FW de Klerk. Foto: Jaco Marais

Onderhoud met digter en aktivis James Matthews. Foto: Jaco Marais

Onderhoud met Diana Ferrus. Foto: Die Burger

The Swank Lounge

Die enigste gaping in sy joernalistieke CV is ’n paar jaar in die middel 90’s, toe hy ’n meubel- en stofferingsbesigheid genaamd The Swank Lounge bedryf het – eers op sy eie, vanuit sy huis in Yeoville, en later met behulp van ’n span stoffeerders en kleremakers in ’n winkel in Rosebank. Avant garde meubels en objets d’art was aan die orde van die dag.

Hy het nog altyd ’n belangstelling in meubels gehad, vertel hy toe ek uitvra oor hierdie loopbaan-detour. As kind het hy ’n plakkaat van ’n figuur voor die Georges Pompidou-sentrum in Parys, Frankryk teen sy muur gehad – in teenstelling met Frik du Preez wat byvoorbeeld teen die meeste van sy vriende se mure gepryk het. “My ouers het gedink iets is fout,” sê hy. “En dit was seker waar.”

Maar na daai plakkaat van die Georges Pompidou-sentrum kon hy net nie ophou kyk nie. Die idee van deursigtigheid – om dit wat funksioneel is, nie te verhul nie, maar ten toon te stel – het gedien as inspirasie vir die meubels en items wat hy jare later vir The Swank Lounge geskep het. 

“Ons het sulke groot stoele gemaak, soms van bestaande art deco-rame, en die arms as uitstalruimtes gebruik. Marianne Fassler het nou nog ’n stoel wat sy by ons gekoop het wat soos ’n akwarium lyk – plastiekvisse wat hang aan vislyn in die arms van die stoel, oorgetrek met deurskynende plastiek.” Terwyl hy praat beduie hy met sy hande; onsigbare vislyne hang aan die punte van sy vingers. “Die doel van hierdie tyd was om te speel. Ek was nie genoeg van ’n kind toe ek dit moes wees nie.”

’n Spread in Playboy oor The Swank Lounge

Hy het hom in daardie tyd veral vereenselwig met die idee van die Homo Ludens – die spelende wese, die anargis. Hy beskryf die meubels en eksperimentele uitrustings wat hy en die Swank Lounge-span gemaak het, as ’n tipe ondermynende gedrag. Dit was die anargis wat daar doenig was, meen hy, dit is ’n tipe satire waarmee hy besig was.

Mettertyd het hy teruggekeer na die joernalistiek toe. Die dag-tot-dag daarvan om ’n besigheid te bestuur het eenvoudig vir hom te banaal geraak. Speeltyd was verby. In 1998, die jaar wat ek gebore is, het hy as sub in Beeld se nagkantoor begin werk. Kort voor lank is hy tot nagnuusredakteur bevorder, en later tot kuns- en leefstylredakteur. In die vroeë 2000’s het hy Johannesburg vir Kaapstad verruil, waar hy ’n paar jaar as Die Burger se nagredakteur gewerk het voor hy hom voltyds begin bemoei het met die joernalistieke werk wat hy tans doen.

'Fok, dis fantasties'

Murray se kennis en gespreksvernuf getuig van iemand wat wyd lees. Hy gesels oor alles – van kuns, letterkunde en argitektuur tot sielkunde, geskiedenis, politiek en die voordele daarvan om ’n makrobiotiese dieet te volg. Hy val homself dikwels in die rede wanneer hy gedagte kry van ’n storie wat hy my nog wou vertel, of wanneer iets in die agtergrond sy aandag vang: ’n persoon met ’n chic jas wat by ’n tafel gaan sit, ’n mooi hond, ’n kelner wat ’n lekker bord kos verby ons dra. Hy groet kort-kort iemand wat verby stap. ’n Hele paar keer kom iemand na ons tafel toe om met hom te gesels. Dit lyk vir my asof hy die hele Kaapstad ken.

“Ek vind die koepel van hierdie vrou se kop baie mooi,” sê hy in een stadium ná die kelner ons koffie op die tafel neersit. “Jy het ook so ’n kop; dis vir my ’n belowende profiel. Dit spreek vir my van ’n noemenswaardige binnewêreld.” Hy bly ’n oomblik stil. “Ek klink nou vir myself nes Ingrid Winterbach.”

Ingrid Winterbach is Murray se groot favourite. Hy het ál haar boeke gelees; hy is verknog aan haar literêre werk en haar beeldende kuns is vir hom eindeloos fassinerend. Ek wil weet watter ander skrywers ’n impak op hom gemaak het en wie hy graag lees in Afrikaans. Hy vertel hy is onlangs diep geraak deur Charmaine Africa se debuut Amma. Ek is so bly hy sê dit, want ek het die boek pas klaargelees en ek brand om daaroor te gesels.

Nathan Trantraal is na sy mening een van die mees begaafde skrywers – van beide fiksie en nie-fiksie – in Afrikaans. Verder lees hy graag Karel Schoeman, Michael Ondaatje, WG Sebald, Robert Walser, Breyten Breytenbach, Teju Cole en Koos Prinsloo. (Op Murray se 25ste verjaarsdag het Koos Prinsloo vir hom ’n handgemaakte Dior-das present gegee toe hy vreeslik neerslagtig gevoel het oor die veranderinge wat daardie ouderdom teweeg bring. Hy het die das nog steeds.) Later voeg hy Antjie Krog en Willem Anker se name by die lysie. Hy kan nie glo hy het hulle aanvanklik uitgelaat nie, maar hy het dit as vanselfsprekend aanvaar aangesien ons reeds oor beide die twee skrywers ge-fangirl het. (“Fok, dis fantasties,” het hy vroeër gesê toe ek noem dat ek jare gelede as voorgraadse student by Willem Anker klas gehad het. Ek het dit vertel op dieselfde oomblik as wat hy sy eerste sluk koffie geneem het, so ek is nie seker of hy van die koffie of van Willem Anker gepraat het nie.)

Tydens ’n onderhoud met Barend de Wet

Saam met Annie Lennox by die Mount Nelson Hotel ná ’n onderhoud

Onderhoud met Springbok Pieter-Steph du Toit

In gesprek met Albie Sachs. Foto: Jaco Marais

Tydens ’n onderhoud met Peter Veldsman. Foto: Michael Hammond

Aan't huis by…

Wanneer Murray met mense gesels vir sy onderhoude, stel hy nie in sensasie belang nie. Egskeidings en vuil wasgoed is nie vir hom interessant nie. Hy is selde geneig om ’n onderhoudsubjek oor persoonlike aspekte van hulle lewens uit te vra. Hy stel belang in mense se idees, hulle wêreldbeskouings, waaroor hulle omgee, hulle morele ingesteldheid. Of hulle bevooroordeeld is, en indien wel, teenoor wie of wat? Só kan jy meer as genoeg oor ’n persoon te kenne raak, meen hy. Tog besef hy dat daar verskillende behoeftes in die leeswêreld bestaan en dat party lesers soms meer sensasionele of persoonlike skrywes oor bekendes wíl sien.

Hy stel belang in mense se idees, hulle wêreldbeskouings, waaroor hulle omgee, hulle morele ingesteldheid. Of hulle bevooroordeeld is, en indien wel, teenoor wie of wat?
— Elodi Troskie oor Murray La Vita

Wat ek van Murray se profielstukke geniet, is dat die onderhoude dikwels in die subjek se huis plaasvind. Vir my is dit byna ondenkbaar dat party mense met aansienlike publieke personas ook ’n regte méns is – ’n mens met ’n tuin en ’n kombuis en ’n eetkamertafel, ’n mens wat kosmaak en wasgoed was en hondekos koop. Dit is asof ek een of ander reël oortree wanneer dit voel asof ek, as leser, ook daar aan tafel sit en luister na ’n een-tot-een-gesprek wat gevoer word met iemand in wie se huis ek andersins nooit ingenooi sou word nie.

Dit is Murray se fyn waarnemingsvaardighede en sy know-how oor wat om wanneer op watter manier te beskryf — en watter aspekte van die persoon en die ruimte om die leser se aandag op te vestig — wat sy joernalistieke werk so treffend maak. En dít is moeilik om reg te kry.

Murray dink ’n rukkie hieroor na en sê dan daar is twee onderhoude van hom waaraan hy nou dink: die een met Petra Müller en die een met Christo Wiese. Met Petra Müller het hy in haar huis gesels – en wát ’n ruimte het hy haar daar in aangetref, onthou hy. Die stories wat sy vertel het oor die objekte en kunswerke in haar huis – op daardie eensoortige, dramatiese manier van haar – bly hom steeds by. 

Sy destydse onderhoud met Christo Wiese – in sy huis in Clifton – word gekontekstualiseer deur beskrywings van die huis, die kunswerke, die tipe hout van die meubels, die uitsig oor die see. En dit is wat ek bedoel: Wanneer anders sou ek só ’n surrogaatuitsig oor die see vanuit Christo Wiese se huis kry? In hierdie geval dien die ruimtelike beskrywings in die artikel ’n bepaalde doel: Dit sê iets oor die ondenkbare omvang van hierdie persoon se bevoorregting en welvaart. Daar is baie te leer oor ’n persoon deur te sien hoe hulle leefruimte lyk en hoe hulle daarin beweeg.

“Ek hou baie van hoe jy skryf,” sê Murray uit die bloute vir my. “Die stuk wat jy oor Mirre en aalwyn geskryf het, byvoorbeeld.” Ek sê baie dankie, maar dit is Elzanne Coetzee wat daardie resensie geskryf het, nie ek nie. (Dit is ’n briljante artikel – gaan lees dit!) Tog waardeer ek dit van Murray dat hy van tyd tot tyd Klyntji se stories lees en dat hy so vrygewig met sy opbouende kommentaar is. As ’n jong skrywer het ek baie om by hom te leer. Sy loopbaan tot dusver is enorm. En hy is nog ver van klaar af.

Oor die tipe skryfwerk wat hy geniet om te lees, sê hy daar is vir hom niks meer gevaarlik en onaantreklik as voorspelbaarheid nie. Juis daarom dat hy so bekoor is deur jong skrywers en nuwe stemme. Jy hoef nie ’n letterkundige te wees om ’n resensie te kan skryf nie, meen hy – as jou aanbieding interessant en oorspronklik is, kan jy ver gaan. “Dit is die moeite werd om die grense uit te daag. Daar gaan altyd mense wees wat die resep volg. Jong skrywers en jong mense moet die geleentheid gegun word om hulle stemme te laat hoor. Ek is so opgewonde wanneer ek ’n nuwe stem hoor. Dit is vir my absoluut fantasties.”

Hy is veral gesteld daarop om aan skrywers erkenning te gee vir hulle goeie werk. “Joernalistiek – veral in die ouer dae – is nie ’n plek waar komplimente rondvlieg nie, maar dit is belangrik om skrywers op te bou,” sê hy. “Is dit nie een van die mees daunting goed om te gaan sit en iets te skryf nie?”

Joernalistiek – veral in die ouer dae – is nie ’n plek waar komplimente rondvlieg nie, maar dit is belangrik om skrywers op te bou. Is dit nie een van die mees daunting goed om te gaan sit en iets te skryf nie?
— Murray La Vita

'n Rare eienskap

“Ek is mal oor fashion, al hoe meer hoe ouer ek word,” sê Murray. Hy put eindelose vreugde daaruit om te sien watter kombinasies mense in hulle uitrustings maak. Hy wys my foto’s van sy gunsteling-linnehemde, gelap met patches wat gesny is uit materiaal wat deur sy partner Jane Solomon, ’n tekstielontwerper, geskep is.

Ek vra uit oor die drie groot edelsteenringe aan sy vingers, die een ’n cerulean-steen geset in die styl van ou Romeinse ringe. “Ringe is vir my ’n aspek van ’n sekere tipe manlikheid. Die ding met lang hare is dieselfde,” verduidelik hy en beduie na sy hare wat tussen sy nek en skouers hang. 

“Ringe is net vir my mooi. Partykeer sit ek ringe aan al my vingers. Jou hande is só teenwoordig in jou lewe, is dit nie? Jou hande is die hele tyd by jou; jy is die hele tyd besig om iets met jou hande te doen. Hoekom dit dan nie verhef, verfraai nie? Hoekom nie ’n bietjie drama rondom jou hande skep nie? Hoekom nie ’n bietjie meer erkenning aan jou hande gee en vir hulle sê: ‘Luister, ek neem jou nie as vanselfsprekend nie, ek beskou jou nie net as ’n instrument nie, ek beskou jou as iets baie, baie spesiaal.’ Maak dit sin?” vra hy my. “Dis die eerste keer dat ek só daaraan dink,” sê hy. 

Dit is ’n rare eienskap: om waardering vir die kleinste gebeurtenisse van die dag te hê. Ek let hierdie mindfulness op in alle stories wat hy met my deel. Hy geniet byvoorbeeld sy roetine — hy eet soms vir weke lank dieselfde ete, dag na dag. Dit is ’n eenvoudige maaltyd: Japannese noodles met gestoomde bok choy, brokkoli en wortels, groen- of rooisoetrissie, soms blomkool. Anchovy of tofu vir proteïne, en sojasous en suurlemoensap.

Dit is ’n rare eienskap: om waardering vir die kleinste gebeurtenisse van die dag te hê. Ek let hierdie mindfulness op in alle stories wat hy met my deel.
— Elodi Troskie

Murray se nederige uitkyk op die lewe is deels te danke aan sy kat Freya. “Ek kan nie vir jou beskryf hoe nederig die kat my gemaak het nie,” vertel hy van die tuistelose kat wat haar weg ’n paar jaar gelede tot in sy huis gevind het. “Sy leer my so baie oor hoe ’n mens jouself behoort te dra. Ek staan vroegoggend by die opwasbak besig om ’n glas uit te spoel en ek voel iets teen my been. Eers skrik ek, maar dan kyk ek af en die dopamien spoel deur my lyf – die pelslyfie wat teen my kuit skuur, hierdie kat wat so afgetrokke kan wees, het vyfuur die oggend ingekom en my bewus gemaak van haar teenwoordigheid deur net teen my been te skuur. I mean, dit is kragtig. Het jy ’n kat?” vra hy my. 

Ek sê vir hom ek het twee katte en ’n haas. “O my God,” gryp hy met sy hand na sy mond. “Het jy gesien ek het met ’n haas hier aangekom?” Hy wys na ’n goue hasie wat vasgespeld is teen sy denimbaadjie wat oor die rugkant van sy stoel hang. “Kan ek dit vir jou gee?” Ek sê vir hom die haasspeld lyk wragtig nes Basil, my haas. Hy wil onmiddellik foto’s sien. 

Een van sy gunsteling-linnehemde

Freya in Murray se studeerkamer. Hy sê hy dink sy is “into Bowie”.

Basil stel ondersoek in na die geskenk waarmee Murray my huis toe stuur.

I mean, dit is kragtig.
— Murray oor sy kat Freya

“Ons moet ’n breë chauvinisme afskud as ons gelukkiger lewens wil hê,” besin hy verder oor Freya, en ek wonder of sy weet watter groot idees haar stille teenwoordigheid inspireer. “Ons moet meerwaardigheid teenoor katte en teenoor ander mense laat vaar. As mens respek het teenoor alle wesens, dan is jou kanse om ’n rustiger, gelukkiger lewe te lei nogal groot.”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Profiel oor Murray La Vita, die groot profielskrywer gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand