Wat ek by Oos-Europeërs op Zoom geleer het
Jy is tog Pools, en ek Afrikaans
Michał Abgarowicz is ’n 62-jarige Poolse ingenieur met twee doktorsgrade wat omgewingsvriendelike huise ontwerp. Ek is ’n 32-jarige idioot wat in Januarie 2020 uit my werk bedank “om te reis”. Ons paadjies kruis toe Michał besluit hy moet sy Engels verbeter, en toe ek (my laaste uitweg) by ’n aanlynskool aangestel word om via Zoom my Engelse expertise met die tweedetaalsprekers van Oos-Europa te deel.
“My Engelse nota’s,” sê Michał, “is soek.”
En hy kyk om hom in sy studeerkamer rond om te beklemtoon dat die nota’s regtig weg is. Ek sit met my gesig na aan my webcam en trek ’n simpatieke gesig.
“Het jy in jou lessenaarlaai gekyk?” vra ek.
Nie omdat ek dink hy kort my hulp om sy huiswerk op te spoor nie. Maar omdat hy lang praatjies oor politiek en filosofie kan maak, terwyl eenvoudige goed soos “desk drawer” hom ontgaan. Dit is die geval met meeste van my studente. Argitekte, programmeerders, data-analiste wat vir jare Engels op skool geleer het, maar nooit meer die geleentheid kry om dit te praat nie.
“Ewenwel,” sê Michał uiteindelik, “sal ons begin? Small talk is vir my die moeilikste, so vertel my van jou kouse.”
Ek lag.
“My kouse?”
“Ja, jy weet. Hoe dit gaan en so.”
So werk ek deur ’n lang ry Pole wat oor my kouse wil hoor. As ek vra hoe dit gaan, weet meeste van hulle nie dat die antwoord “fine thanks” moet wees nie. Dit gaan sleg, kom dit. Of, ek is hartseer. Vandag voel ek goed, want my man is weg. Eenkeer: Heel goed, behalwe vir die hardlywigheid. My studente wil nie hê dat ek van hulle hou nie. Hulle gee nie om of ek dink hulle is ordentlik of nie. Al wat hulle vir ons sestig minute saam begeer, is vir die Engelse woorde om te kom. Dit is, op ’n manier, verskriklik intiem.
So intiem dat ek oor my studente begin droom. Ek droom woord-vir-woord die stories wat hulle op Zoom vir my vertel. Ek droom oor Izabella se dun vingers wat soos sywurms oor my skerm beweeg soos sy verduidelik: die braambessie wat sy in ’n glas duur sjampanje laat val het net om haarself te herinner dat die lewe kort is, dat sy, ook, aan die virus kan omkom. Oor Dagmara wat geduldig en met iets soos bejammering in haar stem vir my verduidelik hoekom haar ma oor Kersfees visse (karp, babers) in die bad laat swem het. En dikwels oor Michał, wat eendag stoksielalleen in sy hoërskoolkoshuis wakker geword het. Hoe hy die gordyne oopgetrek het, vir ’n halfsekonde gedink het al die seuns wat onverklaarbaar nie meer in die slaapsaal was nie, was bloot buite die kamervenster. ’n Sigaret aan die deel. Maar toe die halfsekonde verby is en die gordyne oop, was die straat buite vol soldate met angs oor rooigeswete gesigte. In nimmereindigende strome hardloop hulle (met klappende stewels) of hulle lewens daarvan afhang en hy, Michał, kon voel hoe sy voete onverklaarbaar witwarm op die yskoue koshuisvloer word.
*
“Mense luister nie. Dit is omdat ons so lank onder okkupasie was, dat niemand nou meer wil luister na ander mense wat vir hulle wil sê doen dít of doen dát nie,” vertel Dagmara my toe ek vra oor die lockdown in haar stad.
Pole was vir 123 jaar onder okkupasie en ná Wêreldoorlog Twee, hoewel die plaaslike Poolse Werkers Party aan bewind was, effektief onder stalinistiese beheer.
Die eerste demokratiese verkiesing was in 1989.
“Maar jy luister tog,” sê ek.
“Dis omdat ek nie stupid is nie,” sê sy, “ek wil lewe.”
“Ja,” sê ek, “jy het al so baie deurgemaak, dit sal ’n waste wees om nou die emmer te skop.”
Lekker lag Dagmara. Die Engelse en hulle simpel idiome.
“‘Once in a blue moon’ is die weirdste. Ons sê ‘once in a Russian year’ daarvoor,” sy glimlag sinies, “want ’n Russiese jaar is bitter lank.”
“Wat onthou jy?” vra ek, skielik verskriklik nuuskierig, “oor lewe tydens Kommunisme?”
“Rye,” sê sy gewoon.
“Wat onthou jy van apartheid?”
“Niks,” sê ek.
“Consider yourself lucky,” antwoord sy.
*
Covid is nie Krystyna se eerste rodeo nie. By die hospitaal waar sy ’n laboratorium bestuur het, was daar al ’n masels-uitbraak en dit was chaos uit die agtste sirkel van hel. Maar ek stuur die gesprek weg van hierdie tipe ding af – ek is so broos deesdae, hoewel ek veilig agter my laptop sit met my headset wat die buitewêreld uitdoof, dink ek, ek bereik ’n breekpunt.
“Dis nou lente in die noordlike halfrond,” sê ek en moet eers verduidelik wat noordelik halfrond is, “is daar tradisies in Pole wat die lente verwelkom?”
“Śmigus-Dyngus,” antwoord sy dadelik, ’n vies trek om haar mond.
Śmigus-Dyngus klink soos smieng-gus-dieng-gus en ek kan nie help om te lag nie.
“Smieng-gus-dieng-gus and the Chocolate Factory?” grap ek.
“Nee,” sê sy, “dis ’n simpel tradisie. Niks met chocolate uit te waai nie. Op die eerste Maandag ná Paasfees gooi seuns meisies met emmers koue water nat. Dis aardig. Ek was altyd bang om by ons huis uit te gaan! Maar my ouers het maar net gelag as ek natgegooi word.”
“Haai, kyk hoe oulik!” Krystyna doen haar ouers na, “sulke spelerige jong knape.”
“En as ek kla, dan sê hulle net, ag dis tradisie, en jy hou tog eintik daarvan.”
Ek sien Krystyna al vir maande twee keer ’n week en sy sit altyd met haar laptop voor ’n helder venster – dat ek omtrent net haar silhoeët en die son in haar blonde hare kan sien. Soos sy praat, leun sy vorentoe en blok die lig van agter – ek skrik half toe ek sien hoe rooi haar gesig nou is, hoe kwaad sy raak.
“Śmigus-Dyngus is hoe ek vir die eerste keer besef het,” sê sy amper asof sy dit geoefen het, maar ek ken haar nou al goed genoeg om te weet sy oefen nie sulke goed nie, “dat vroue tweedeklasburgers is in Pole.”
Sy haal haar skouers op. Leun terug in haar stoel dat sy weer ’n donker silhoeët word.
“Dit is seker oral so,” sê sy.
“Is dit so in Suid-Afrika?”
Ek dink (onwillekeurig) aan van die kak wat ek al moes deurmaak net omdat ek nie ’n man is nie. Maar, dis seker nie so erg nie, sê ek vir myself. My privilege ontgaan my natuurlik nie. En ek land op ’n vanilla-storie om aan haar te vertel:
“Toe ek ’n dogtertjie was, wou ek rugby speel,” Krystyna maak nota’s – sy verstaan my, “maar toe ek vir my pa sê, lag hy en sê meisies mag nie. En meisies mag nie vloek nie. En so aan…”
“In Suid-Afrika is mense onsettend gelowig,” vertel ek, “ek het lank gekatkiseer – eendag was ek ure lank by Sondagskool en ek moes terug huis toe stap in gietende reën. By die huis gekom, maak ek ’n toebroodjie met gerasperde kaas en dik snye tamatie. Ek was so honger. Ek onthou ek het my broodjie in die helfte gesny en net daar in die kombuis ’n hap gevat, toe sien ek my pa sit by die eetkamertafel en kyk vir my.”
“Ek sien jou toebroodjie is in die helfte gesny,” vertel ek wat my pa gesê het en hoe hy ’n reghoek met sy vingers beduie het, “is meisies nie veronderstel om hulle broodjies in driehoekies te sny nie? Fyn droehoekies? En mooi te eet?”
“Girls’ sandwiches should be triangular?” lag Krystyna, en vloek soos ek haar geleer het, “fucking hell.”
“Eendag het ek genoeg gehad en toe gooi ek hom met naartjieskille, aan die eetkamertafel. En toe klap hy my,” vertel ek haar.
Sy hou my blik in hare.
“Dis moeilik,” sê sy uiteindelik, “dis moeilik vir meisies. Ek wil hê dat my dogter eendag…”
Krystyna beduie lomp met haar hande, skielik onbeholpe, sy leun uit haar skerm uit om iets op haar vertaal-app in te tik.
“…’n keuse het,” val ek in, “jy wil hê dat jy sy eendag ’n keuse sal hê.”
Vir ’n oomblik haak Zoom, ’n trae konneksie, maar dan kom haar woorde hakkelrig deur:
“Ja, ’n keuse, oor iets, oor alles, oor iedereen, wat is die woord?”
Ek glimlag nikseggend.
“You’re doing well,” sê ek en gee ’n cheesy thumb’s up.
*
Op ’n dag begin een van my studente huil, haar snikke snaaks en blikkerig uit my laptop.
“Wat is fout?” vra ek.
En sy blaker dit uit: hakkelrige kort sinne oor gesinsgeweld en verkragtings.
Wat dit uit te waai het met die second conditional wat ons veronderstel is om te leer, weet ek nie. If I could, I would leave. If I had wings, I would fly away. If I were a millionaire, I would buy a big house and lock all the doors. Ek maak Zoom se white board oop en tik die sinne. Trek ’n simpel blou sirkeltjie om “would” en “could”, sê iets juffrourigs oor die second conditional. Ek doen dit maar. Wat anders kan ek doen? Maar my gewete pla my te veel om dit vol te hou.
“Would you like to talk about it?” vra ek, “with me?”
Netjies antwoord sy, “I would not. I would not like to.”
En ek komplimenteer haar: goeie werk, jy verstaan die second conditional.
*
“My mother died of cancer,” help ek Michał reg wat sê sy ma “cancered away.”
“Weet jy van Chernobyl, Henali?”
“Die ramp?” vra ek en wys, poef, ’n onploffinkie met my vingers op my kamera.
“Ja,” sê hy.
Op 26 April 1986, in die destydese Ukraïniese-USSR, lei ’n toetsprosedure tot twee ontploffings by die Chernobyl kernkragstasie. Die radioaktiewe besoedeling versprei tot in die Ukraïne se buurstate, Pole en Belarus, en selfs verder tot in die res van Oos-Europa. Maar die Poolse media was onder streng sensuur en die USSR wou nie die omvang van die ramp erken nie.
“Ons het nie regtig geweet wat gebeur het nie. En ’n paar dae later was dit die 1ste Mei – parades, pieknieks, partytjies – alles ewe lekker buite op die vakansiedag.”
“Jy kan die gevolge indink – al die siektes en al die kanker.”
Ek sê niks.
Ek onthou ek het toe ek so sewe of agt was ’n ou Huisgenoot onder my ma se klavier ontdek. Plat op my maag het ek gelê en dit deurgeblaai – reg in die middel waar jy die staplers bymekaar kan sien kom, was daar ’n artikel met swart en wit foto’s. Die opskrif was iets wat ek nie lekker kon verstaan nie, iets huisgenoterig soos RADIOAKTIEWE HEL. Die foto’s het in elk geval al die praatwerk gedoen.
“Dit is ’n verskriklike, verskriklike skande,” sê ek naderhand, “dat julle in die donker was.” A terrible, terrible shame.
“Dit is ’n verskriklike skande,” herhaal hy en sê dit dan weer, click sy pen twee keer en prewel “skande” soos hy ’n nota maak in sy boek, “verskriklik”.
*
“What is your fun?”
“Ek speel klavier,” antwoord ek, sonder om hom te korrigeer soos ek veronderstel is om te doen.
“Ah!” Michał se oë raak blink pixels op my skerm, “Ek ook!” Hy slaan sy hande entoesiasties saam.
“Wat speel jy, Henali?”
“Wel, meestal Taylor Swift,” ek lig ’n paar bladsye ‘We are never ever getting back together’-bladmusiek van my lessenaar af op om vir hom te wys.
Belangstellend sit Michał sy geplooide neus in sy webkamera en knik ywerig.
“Ek ken hom nie,” sê hy, “maar my seun het Spotify op my foon gesit, so ek sal kyk.”
“Ek speel Chopin,” sê hy, “Chopin is my gunsteling, natuurlik, ek is tog Pools.”
Ek het nie eens geweet Chopin was Pools nie.
Nes ek nie van Marian Rejewski geweet het nie. Die Pool wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die ontsyfering van die Duitse Enigma-masjien gewerk het.
“Hy was ’n absolute genie,” begin Michał entoesiasties meëvoerend opmerkings maak oor die beginsels van kriptologie, oor die eindelose moontlikhede wat die 26 letters van die alfabet inhou, oor die ongelooflike brein wat met weinige inligting tot sy beskikking dwarsdeur die waas van kodes kon sien en – in alle waarskynlikheid – die wêreld jare se voortgesette oorlog gespaar het.
“Hy is dood voor hy enige erkenning gekry het, as ’n verkoopsman, in ’n klein dorpie, tot in sy graf toe geteister deur die veiligheidspolisie,” sê Michał.
“Hoe lank dink jy sou die oorlog nie aangehou het as die Enigma nooit ontsyfer is nie?” Hy klik met sy tong en skuif aan sy laptop.
“Maar die Britte sê dit was alles aan Alan Turing te danke” sug hy, en skud sy kop.
Ek weet nie wat om te sê nie.
*
Michał vertel my later dat hy die Berlynse muur sien val het en ek probeer uitvind hoe dit gebeur het.
“Jy is tog Pools?” vra ek.
En hy knik entoesiasties.
“Ek is tog Pools!” sê hy.
“En? Hoekom was jy in Duitsland?”
Hy frons.
“Verskoon my?”
“Duitsland,” sê ek en lig my linkerhand voor my kamera op, “Pole,” sê ek en lig my regterhand op.
“Ah!” sê Michał, asof hy iets snap, “maar nee, nee, nee.”
Hy verstrengel sy vingers, “Duitsland, Pole.”
Ek lag.
“Ons is nie op dieselfde bladsy nie.”
“Bladsy?” Michał frons, kyk om hom rond en lig dan sy notaboek vir my op, “hier is my bladsy,” sê hy.
Name en enkele details is verander.
Henali Kuit is ’n Engelse onderwyser en ’n lektor in Kreatiewe Skryfkuns aan Rhodes Universiteit. Haar kortverhale en poësie verskyn in Ons Klyntji, New Contrast, Nuwe Stories, Prufrock, ITCH, Tyhini, LitNet en elders. Haar kortverhaalbundel The incredible beat of my heart (Deep South, 2021) word later vanjaar bekendgestel.