Patriargale beesmis en transfobie
'Die fascistiese vangwa gee nie om watse tipe vrou jy is nie'
“Evil is a relay sport
When the one who's burnt
Turns to pass the torch”
– Fiona Apple
In ’n onlangse Twitter-inkantasie het J.K. Rowling, skrywer van die Harry Potter reeks, haar ware kleure na vore laat kom, toe sy aandring op ’n baie eng verhouding tussen die woord “women” en “people who menstruate”. Daarvoor is sy toe summier as transfobies uitgekryt. Aanvanklik het ek gedink dit is sekerlik net ’n pedantiese, semantiese, middeljarige misverstand. Rowling was tog nog altyd elke uitgeworpe stiefkind se goeie feë, nie waar nie? Toe hou sy aan praat…
Die trans gemeenskap en hulle ondersteuners is woedend oor die skade wat dié geliefde skrywer aanrig aan die swaarverdiende vordering wat reeds gemaak is om LGBTQIA+ regte te erken. Verskeie prominente akteurs het ook hulle stem dikgemaak.
Wanneer vroue transfobies is, is dit soos ’n kat wat die hond se byt probeer vermy deur “vat hom!” te skree in die rigting van die haas. Dit is ’n tipiese voorbeeld van ’n (ge)slagoffer wat aandadig raak in die proses van onderdrukking.
Hoekom sal ’n gewone, straight, Suid-Afrikaanse vrou soos ek omgee? Want vir ’n slag is ek as ’n “woman who menstruates”, in ’n posisie van mag. My stem kan gebruik word om in te tree vir dié met minder mag, óf my stilte kan verdere onderdrukking toelaat.
Die gehalte van die gesprek oor Rowling se tone trappery is egter alweer so power dat die eintlike kwessie heeltemal verdwyn tussen al die gemors wat rondgeslinger word. Aan die een kant gooi sommige trans aktiviste ’n spreekwoordelike stink skoen deur die ruit wanneer hulle Rowling teister met walglike beledigings en persoonlike dreigemente, sonder om ’n poging tot redelike en duidelike teenargumente aan te wend. En aan die ander kant, kla Rowling se lojale bondgenote besorgd en verontwaardig oor die mooi huis se gebreekte venster, sonder om erkenning te gee aan die gebreekte trans voet aan wie die skoen behoort het.
Dit moet tog moontlik wees om jou eie regte te beskerm sonder om op ’n ander se regte te trap, en gelyktydig ’n respekvolle gesprek te voer oor uiteenlopende verskille, nie waar nie? Van beide kante af blyk dit egter te veel gevra te wees.
Ek is omgekrap. Nie net omdat almal nou alweer op die venster eerder as die voet fokus nie. Maar, omdat ek raaksien dat ons tans in ’n wêreld leef waar enige vonk van diskriminasie maklik ’n veldbrand van menseregteskendings kan veroorsaak. Die LGBTQIA+ posisie is alreeds wankelrig. En ek dink nie wanneer ons storie van Harry Potter in Handmaid’s Tale verander, gaan die fascistiese vangwa omgee of die skoen onder die rooi mantel aan ’n biologiese of ’n trans vrou behoort nie.
In die onlangse essay op haar webtuiste, J.K. Rowling Writes about Her Reasons for Speaking out on Sex and Gender Issues, verklaar Rowling, onder andere, dat sy besorgd is oor vroue se toegang tot beskerming teen geweldadige mans. Sy vrees dat vroue die reeds karige beskerming tot hulle beskikking sal verloor, indien die term “woman” uitgebrei word om mense in te sluit wat op ’n psigologiese vlak identifiseer as ’n vrou, maar gebore was met ’n penis. Verder staan sy die idee teë dat daar geredelik beskikbare geleenthede moet wees om jou geslagsorgane te wysig. Haar rede is dat sy tieners wil beskerm wat later dalk kan spyt wees oor die stap.
Ek dink nie Rowling se aanmerkings is transfobies bloot omdat sy onwillig is om die biologiese verskille tussen geslagte te ignoreer nie (ek dink daar is ruimte om te debateer oor hierdie kwessie, selfs al skaar ek my by Simone De Beauvoir: “One is not born, but becomes a woman”), maar omdat sy bereid is om die trans gemeenskap se menseregte in te perk om haar opinie te handhaaf. Eweneens, ’n persoon is nie homofobies omdat hy verskille in seksuele oriëntasie uitwys nie, maar omdat hy daarin ’n hiërargie raaksien wat hom vrywaar om te diskrimineer.
Net soos my eie geesdrif vir vroueregte, het Rowling se passie vir die menigte altruïstiese belange wat sy ondersteun, ontkiem in die vrugbare bedding van persoonlike ervaring. In haar essay vertel sy met dapperheid van die geweld en trauma wat sy aan die hand van mans beleef het. Dit is ’n noemenswaardige behaling dat sy dit kon regkry om haar pyn in te span om verandering te dryf. Maar vir pyn om werklik in opbouende veerkrag omskep te word, moet ’n kapasiteit sekerlik ontwikkel waar ander groepe se belange ook ingesluit word in die strewe tot geregtigheid. Anders gee ons mos maar net die pyn en skade soos ’n aflosstokkie aan.
Om jouself te verdedig deur ander vir die wolwe te voer, is net ’n patetiese en gevaarlike uitdrukking van jou pyn. Die meeste vroue doen dit ongelukkig al vir eeue lank.
Heelwat vroue draai gereeld teen mekaar, met katterige onmin tussen subgroepe, in plaas daarvan om ’n verenigde front op te bou teen die eintlike bron van hulle onderdrukking en ongelykheid. Deesdae kan die naels ook skerpgemaak word vir trans vroue. Vrees en pyn kan papbroeke en wreedaards maak van die beste onder ons. Maar dit hoef nie so te wees nie. Danksy die LGBTQIA+ bewegings het ons nuwe geleenthede om op unieke maniere te streef na vryheid en gelykheid.
Vir veels te lank is fisiologiese en seksuele verskille tussen mans en vroue gebruik om ons almal op ons plek te hou. Vir die gereedskap van beheer om skerp te bly, is die snykante baie eenvoudig: slegs twee opsies is beskikbaar, man en vrou.
Dit is een van die eienskappe van die patriarchy dat daar reëls is vir hoe ons moet wees en hoe ons moet optree volgens ons anatomie. Dikwels word godsdiens en geloof ook ingespan om hierdie idees gewig te gee. Die implisiete reëls is soos volg: As jy ’n penis het, is jy gedoem om vir altyd jags agter vroue aan te jaag, om aanhoudend te kompeteer vir hoër status in die sosiale rangorde, en is jy verbied om ooit enige vorm van weerloosheid te wys. As jy boobs en ’n vulva het, is jou hoofdoel in die lewe om seksueel aanloklik te wees vir mans, om babas te maak, om ander te versorg, en om jou swakheid en minderwaardigheid te erken teenoor dié wat ’n penis het.
Ieder en elk ly as gevolg van hierdie patriargale beesmis. Dit is onmoontlik vir enige individu om gemaklik in te pas by die stel gedragsreëls en die waardeketting wat die twee kategorieë veronderstel.
Waarop dit neerkom, is dat ons álmal gedurig gestraf word omdat ons nie ’n volmaakte weergawe van die (Wit) “Man” aan die bopunt van die sosiale leer is nie. Hoe laer af op die leer jy jou bevind, hoe erger is jou straf. En die straf is veral swaar as jy nog “normale” heteroseksualiteit ook uitdaag.
Hoe wonderlik dan dat die LGBTQIA+ en spesifiek die transgender bewegings, aan die leer kom skud. Dié bewegings herinner ons dat die reëls en kategorieë wat ons op ons plek hou, eintlik net opgemaak is. Daardie gietertjies en goetertjies tussen jou bene of teen jou borskas is eintlik heel irrelevant vir wie jy aan jou binnekant is.
Daar is so baie wat ons almal weer sal moet leer en verleer oor onsself. Die patriarchy behoort nie ons lywe en ons identiteit te besit nie, en ook nie die taal wat ons gebruik om onsself te beskryf nie.
So, wanneer iemand soos Rowling aandring op die eksklusiewe besit van die woord “woman” in ’n poging om vroue se reg tot beskerming te verseker, bevestig sy eintlik net die patriarchy se reëls, en versterk sy die bron van die gevaar. Wanneer vroue slegs baklei vir beskerming vir “people who menstruate”, is hulle basies besig om almal wat nie dieselfde anatomie as hulle deel nie, uit die wegkruipplek te jaag tot in die vyand se kake.
Geen saak en geen deel van ons identiteit bestaan in ’n vakuum nie. As ons nie baklei vir geregtigheid en gelykheid (hetsy in die sfeer van vroueregte, LGBTQIA+ regte, anti-rassisme, anti-armoede of vir diereregte) sonder ’n goeie bewustheid van kruisverwysing (intersectionality) nie, is ons waarskynlik besig om onsself te flous. Audre Lorde stel dit so: “I am not free while any woman is unfree, even when her shackles are very different from my own.”
Verder, om iemand se reg te minag om oor die vorm van hulle eie lyf te besluit, en dit dan voorkoming teen toekomstige spyt te noem, is bloot arrogant, paternalisties en verkleinerend. Dit is dieselfde tipe argument wat gebruik word om vroue se selfstandige reg tot hulle lywe te ontneem wanneer daar namens hulle besluit word om ongewenste swangerskappe deur te voer. Elke mens behoort volkome seggenskap oor hulle eie lywe te hê.
As dít wat mense kies om met hulle lywe te doen, jou ongemaklik maak, wees bloot dankbaar dat jy (nog) kan kies wat jy met joune maak. In plaas daarvan om ander se reg tot outonomiteit te ontsê, is dit dalk beter om energie te spandeer om beter sosiale omstandighede en netwerke van ondersteuning rondom hierdie individue te bewerk.
Ek voel ontsettend jammer vir die geweld en afknouery wat Rowling moes verduur. Eers aan die hand van geweld deur mans naby aan haar, soos sy in haar essay beskryf. En nou ook in die vorm van laakbare dreigemente en afstootlike beledigings deur dié wat namens die trans gemeenskap praat. Dis afgryslik. Dieselfde patroon herhaal weer – die slagoffer word die oortreder. Die aflosstokkie van boosheid word weer net aangegee.
Ek dink dit is verkeerd om Rowling se persoon of haar reg tot ’n opinie aan te val. Maar ek glo dit is absoluut nodig, veral gegewe hoe wyd die net van haar invloed strek, om op te staan teen die skadelike en diskriminerende idees wat sy verdedig.
Die wêreld is ’n komplekse en intense plek op die oomblik. Dis moeilik om te weet wat om te doen met die fakkels van ongelykheid en diskriminasie en onveiligheid wat gedurig oor en weer aangegee word. Ek dink nie daar is altyd maklike antwoorde nie. Maar, ter wille van vryheid en vooruitgang, kan ons nie bekostig om in verdeeldheid en apatie te verval nie. Ons kan ten minste werk aan inklusiwiteit en om die gehalte van die gesprek te verbeter. En miskien kan ons selfs ’n wêreld begin verbeel waar ’n kat, ’n hond en ’n haas gelyke regte geniet.