Kwaliteit digkuns deur Gisela Ullyatt in die tyd van instagramdigters
Ná Breytenbach word die alledaagse duif vernuwe
Duifsag. Gisela Ullyatt se bundel bekruip jou. Dit wek sagkens emosie, tot ’n onrustigheid ’n holte vind in die “omtes van [jou] binnegoed”. “Duifgelukkig” is in die WAT opgeneem met ’n CM van der Heever-aanhaling daarnaas: “Ons het saam duifgelukkig met ander aan tafel gaan sit...” Gisela Ullyatt nooi jou na dáárdie tafel met haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe (2020, Protea).
Natuurlik is die duif nie ’n vreemdeling in die Afrikaanse poësie nie. Elke hoërskoolleerder het Breyten Breytenbach se ‘rooiborsduif’ teëgekom. Rosa Smit se 2008-bundel, Die begeleiding van duiwe, is ook deur Protea uitgegee. Dit, saam met Die Bybel se duif-simboliek, laat die vraag of iets nuuts uit die beeld geskep kan word? Ullyatt se bundel antwoord dawerend “ja”.
Die eerste gedig in die bundel, vanwaar die titel van die boek, bied ’n blik op die temas wat volg. In die digter se agste jaar verhuis hulle bure na ’n meer gegoede deel van die dorp. Die bure laat hulle duiwehok agter en, soos mense-kyk, hou die digter die duiwe se elke beweging dop. Totdat die bure die hok kom haal. Dit laat ’n “leë vierkant […] vergeelde gras” agter. So, met ’n pynlik eerlike lens, kom verlies, weemoed, familie en naastes en kwesbaarheid in die bundel aan bod.
Die bundel se sewe afdelings eggo dié temas met die gebruik van herhalende motiewe. Die duif, in verskillende gestaltes, maak natuurlik sy verskyning. Geel word verder deurlopend as motief gebruik, so ook flora en interteks-gesprekke.
Die uitbeelding van die duif op die voor- en agterblad van die bundel is afkomstig van ’n kunswerk deur Toni Pretorius. Die duif ontbloot sy kwesbare, sagte maag, so weergalm die duif-beeld weerloosheid deur die loop van die bundel. Die treffende gedig wat volg, is deel van die vierde afdeling:
winter
winter is onversadigbaar
in blomloosheid in duifkarkasse
soos ’n grysaard mompel die wind
deur gaas in die spens die laaste liggeleidelik verdof die middag tot iglo
ek skryf sondag-gedigte
aan die naderende koue
die koolstoof troetel
geheime teen sneeugedigte nes emmers
vang vuil sneeu op
om te vries
vir volgende jaar se somer
Geel as motief dui op onthou en bekendheid. Wilma Stockenström verbind ook duiwe, geel en onthou: “van al my liggeel dae / teken ek hierdie een op; / dat ek later kan weet / hoe swerms duiwe / van die dakke waai, / en dat ek, as ek wil, / later kan lees van ’n liggeel dag / en van jou hier langes my”. ’n Geliefde vergeet ’n geel sambreel by die digter (‘geel sambreel’), irisse se verwagte-bekende “geel tonge” roep Monet aan (‘wens’). ’n “[B]loekomboom verskote in sy geel” onthou hande wat vlugtig raak (‘jou vinnige einde’).
Die motief van flora staan sentraal in talle gedigte. Die inspanning van die natuur hou dikwels verband met pyn en misnoeë. ‘[I]ndringerplant’ vertel die verhaal van ontoereikende ouers. In ‘boomvers’ blyk die plant van ’n boom ’n romantiese gebaar te wees, maar helaas sien die ontvanger dit nie so in nie: “jy speel ongesteurd voort / maar die takke / verstrengel my”.
Interteksueel sluit Ullyatt verder ook aan by die lang tradisie van dig oor die huislike: “soos roosterbrood verbrand metafore / woorde ontsnap soos kakkerlakke / ek skryf odes aan leë oondrakke / eet die laaste vrugte / ek bak woedend brood” (‘ontgogeling’). Die gedig weergalm Antjie Krog se ‘on-handig’ (1975) wat handel oor die spreker se selferkenning van ’n tekort aan praktiese vaardighede in die kombuis. Die laaste reël, “ek bak woedend brood,” herinner aan die titel van Sheila Cussons se bekroonde 1981-bundel Die woedende brood. Ook NP van Wyk Louw, Ernst van Heerden en André P Brink word vermeld. Sekere bybelse beelde word ook effektief ingespan om lyding te kommunikeer, soos in ‘intensiewe sorg’:
die offerlam lê
op die intensiewesorg-altaar
tussen blêrende masjiene
priesteresse in uniforms gluur jou aan
tussen steriele wagtorings van grafieke en lêers
Al die motiewe word besonders saamgebind in die gedig ‘oorsprong’, my gunstelinggedig uit die bundel:
alfa
vlerkig in eteriese vlug
’n duif oor mitologiese stede
waar geelwordende engele
bach in katedrale fluisteromega
agter die klipkerk
marmersteen
rooigrond en graniet
labirinte tonnel deur blou aarde
van geheime duiwe
en ’n ou tuinier
Ullyatt se benadering tot kuns word opgesom in ‘iris’ se eerste strofe: “soms sien ek jou / in kwashale van vergete landskappe / in die herfs van ’n vlammende iris”. As kunstenaar steek sy nie die kwashale, haar lewenservaring wat onderliggend is tot haar digkuns, weg nie – dit ís die kuns. Haar eie mediese uitdagings, verlies en omgang met haar naastes bied boeiende insigte in die kleure van menswees.
In die tyd van instagramdigters en leuenstoelfilosowe is bundels soos hierdie een belangrik. ’n Geoefende hand produseer digkuns wat die toets van tyd deurstaan, teenoor ’n Instagram caption wat normaalweg vlietend is. Laasgenoemde skep dikwels die indruk dat enige taalvaardige verliefde (of gekwetste) ’n digter kan wees – ongelukkig boet hierdie persone juis kwaliteit in hulle kwantiteit uitsette. Ulyatt se PhD in letterkunde, haar opname in Nuwe Stemme 5 en die verskeie literêre poste wat sy beklee, onder andere as die redakteur van Afrikaanse poësie by New Contrast, spreek van ’n kunstenaar wat al jare aan haar vaardigheid slyp. Ek waag graag die voorspelling dat Die waarheid oor duiwe ’n tydlose bundel sal word. Die tematiese samehang en vorm van die bundel gee hoop dat Afrikaanse debuutpublikasies kwaliteit (dig)kuns kán lewer.
Breytenbach verewig die Afrikaanse poësieleser se verknogtheid aan die duif met sy gedig ‘rooiborsduif’ (gepubliseer met die titel ‘soos van vlerke’) in sy 1970-bundel Lotus. In 2020 doen Gisela Ullyatt iets skaars – sy sê iets nuuts oor familiêre temas en vernuwe daardeur ’n taal se verbintenis tot die bekende, alledaagse duif.
Michelle Oelofse is ’n LLM-student aan die Universiteit van Pretoria en mede-aanbieder van die poësie-podsending HUI-DIG.