David van Dartel oor sy fotoreeks Op Vlieland

David van Dartel oor sy fotoreeks Op Vlieland
11DartelSmall.jpeg

Jongens op 'n eiland neffens Nederland

Die 25-jarige Nederlandse fotograaf, David van Dartel, het op 13 sy eerste kamera gekoop en begin eksperimenteer met fotografie in die landskap van Raalte, Nederland, waar hy grootgeword het. Vanaf sy sestiende jaar het hy somers deurgebring op Vlieland, een van die string Waddeneilande van Wes-Friesland wat die Waddensee en die Noordsee van mekaar skei. Daar het hy sy aande gebruik om die beeldskone landskap vas te vang op kamera. 

Daar is ’n aanhaling uit Pascal Mercier se Night Train to Lisbon (2008) wat op sy webtuiste verskyn: “We leave something of ourselves behind when we leave a place, we stay there, even though we go away. And there are things in us that we can find again only by going back there. We go to ourselves, travel to ourselves [...] no matter how brief it may have been.” Die hooftemas van die roman is uiteenlopend: herinnering, die droomtoestand, waar ons behoort en geheime. Dit is ’n liriese, meditatiewe roman, ’n boek wat meer as een keer verdien om gelees te word, sodat jy deur die verskeie lae van betekenis kan sif en iets nuuts kan (her-)ontdek: “[S]tille ontploffings wat alles verander.”

27-scaled.jpeg
1-scaled.jpeg

Dit was juis tydens so ’n stille gebeurtenis toe Van Dartel vir Sil op 16-jarige ouderdom in ’n kafee op die eiland ontmoet het. Albei het ’n liefde vir kuns in mekaar herken en op hierdie manier het hulle vriendskap gegroei: David as fotograaf en Sil as sy model en muse. Na verloop van jare het meer vriende van albei se kant af deel van hierdie proses geword en dit het gegroei tot ’n kollektiewe werk — die steeds groeiende reeks Op Vlieland en nou die boek This Time Tomorrow. Die reeks is natuurlik en onopgesmuk, dromerig en vol betekenis vir die kyker.

33-scaled.jpeg
19DartelSmall.jpeg

Ek het met die fotograaf gepraat.

GERRIT: Die aanhaling van Pascal Mercier op jou webtuiste handel oor wanneer ’n mens ’n plek besoek en dat die plek ’n deel van jou terughou en andersom. Hoe het die fotoreeks ontstaan?

DAVID: Die reeks het redelik organies ontwikkel, aangesien ek my vriende die afgelope 10 tot 12 jaar fotografeer, meestal op die eiland. Elke jaar het ons baie tyd daar deurgebring en my versameling het vinnig gegroei. As ek aan een rede moet dink waarom dit mense sal aantrek, dink ek dit is die bekende gevoel waaraan die foto’s herinner. Almal het ’n plek soos Vlieland en daardie gevoel is universeel.

GERRIT: Jy het van jongs af met fotografie begin en jou vriendskap met Sil was die vonk wat dit verder geneem het. Is ek korrek in my aanname? Hoe beïnvloed jou vriendskappe wat jy fotografeer?

DAVID: Ja, jy is reg. Met Sil het ek begin eksperimenteer met die kombinasie van mense en landskappe. My vriende is baie belangrik in my werk, nie net as “modelle” nie, maar hulle beïnvloed hoe ek die wêreld beskou. Ons bespreek altyd onderwerpe soos die liefde, die samelewing, politiek, ensovoorts en besin baie oor die lewe in ons gesprekke.

GERRIT: Kan jy jou proses beskryf, indien daar wel een is, en wanneer besluit julle om uit te gaan om foto’s te neem?

DAVID: Iemand het eenkeer geskryf dat die kamera deel is van ons vriendskap, en ek dink dit beskryf dit mooi. As ons op die eiland is, gaan stap ons altyd, ry met ons bergfietse, swem en ek het meestal my kamera by my. Ons gaan ook uit as ek ’n spesifieke idee het en dink dit is die regte tyd daarvoor. Die lekkerte is dat dit kan afhang van die sonsondergang, die gety en of die wind waai of nie. Af en toe is daar die perfekte kombinasie en daardie oomblikke is skaars, maar wonderlik.

As ons op die eiland is, gaan stap ons altyd, ry met ons bergfietse, swem en ek het meestal my kamera by my. Die lekkerte is dat dit kan afhang van die sonsondergang, die gety en of die wind waai of nie.
— David van Dartel

GERRIT: Jou werk is baie nou gekoppel aan wat vriendskap beteken. Kan jy my meer vertel oor wat dit vir jou en jou innerlike lewe beteken?

DAVID: Ek dink die mooiste ding van vriendskap is dat dit regtig die suiwerste vorm van liefde is. Ons het pret met mekaar, help mekaar, ons besin saam oor die lewe en deel ons gedagtes oor alles. Iets, dink ek, wat baie algemeen vir elke groep vriende is.

GERRIT: Jy het gesê dat jy geïnspireer is deur die werk van Ryan McGinley en ander fotograwe en deur plasings op Tumblr. Kan jy uitbrei op wat jy in sy werk en op sosiale media gevind het wat tot Op Vlieland gelei het?

DAVID: Dit is veral die gevoel van vryheid in sy werk; dit is nie gestileerd nie. Omdat ek nog altyd in ’n landelike omgewing gewoon het, kon ek myself met sy foto’s vereenselwig. Dit het my gestimuleer om meer te eksperimenteer.

GERRIT: Kan jy my vertel waaroor die boek This Time Tomorrow gaan? Is dit ’n uitbreiding, ’n vertakking van Op Vlieland?

DAVID: Op ’n sekere manier is dit ’n uitbreiding, maar die klem val meer op manlike vriendskap. ‘This Time Tomorrow’, ’n wonderlike liedjie van The Kinks, het my altyd herinner aan die tye op Vlieland saam met my vriende. “This time tomorrow where will we be?” Dit illustreer die rustige en luiterse gevoel wat ons op die eiland ervaar. Ons dink nie ’n oomblik aan ons lewens aan die ander kant van die see nie. Vir ons was dit net baie pret om hierdie reeks te skiet, maar dit het ernstiger geword as gevolg van die galery en die boek. Sedert ek by die galery aangesluit het, het ek begin besef in watter rigting die reeks beweeg.

GERRIT: Hoe het die band tussen jou en die ElliotHalls-galery, en die daaropvolgende uitstalling tot stand gekom?

DAVID: Hulle het my gevra om my portefeulje vir hulle te wys nadat ek my werk op Instagram geplaas het. Ek het my werk versamel en hulle was baie entoesiasties daaroor en wou my verteenwoordig. Dit is baie spesiaal, omdat ek nie eers op daardie stadium geweet het wat ’n galery doen nie. Nou is ek egter baie dankbaar, want die mense is wonderlik en baie professioneel. En Brits, waaroor ek mal is.

GERRIT: Het die daaropvolgende entoesiasme van mense vanoor die hele wêreld die manier verander waarop jy dinge “sien” en uitdruk in jou kuns?

DAVID: Om eerlik te wees, nie regtig nie. Ek is net verbaas en oorweldig deur die groot reaksie. Ek hou van die feit dat almal ’n ander interpretasie van die werk het, veral as mense die afdrukke koop en my vertel waarom hulle dit koop. Ek sal nog steeds fotografeer wat en wanneer ek wil, maar hierdie onverwagse reaksie laat my ook nadink oor ’n toekomstige loopbaan. Die belangrikste vir my is dat ek dieselfde gevoel wil behou as wat ek nog altyd gehad het, saam met my vriende, sonder die gevoel dat ek dit móét doen of forseer word in die proses. Gelukkig kan ek daaroor met my vriende besin!

GERRIT: Pier Paolo Pasolini het eenkeer geskryf dat hy dinge wil “reconsecrate and re-mythicise”. Dit is wat ek in jou werk sien. Stem jy saam dat daar ’n aspek van dit in jou werk is? Om skoonheid so te sê weer te laat opvlam?

DAVID: Ek dink dit is ’n bietjie problematies dat mense die Ander volledig wil verstaan. Daar is soveel deursigtigheid byvoorbeeld op sosiale media, amper soos ’n aanlyn panoptikon. Die Ander is nie meer ’n raaisel nie. Tans moet alles in die lewe hanteerbaar wees, dit moet doeltreffend, positief en verbruikbaar wees. Die eindelose moontlikhede, neoliberalisme en ons resultaatgedrewe samelewing het nie tyd vir ’n oomblik van nadenke nie, ’n oomblik van niks doen nie, want dit is ekonomies ’n mors van tyd. Ek hoop dat mense meer vrede kan vind om te aanvaar dat hulle nie alles kan doen nie, dat hulle nie onrustig hoef te voel as iets nie ekonomies “doeltreffend” is nie. Op een van my foto’s sien jy drie vriende in die see sit en na die sonsondergang kyk. Hulle het dertig minute lank daar gesit, net gekyk na die son wat ondergaan. Om jou vraag te beantwoord, dink ek hierdie idee word wel gedeeltelik weerspieël in my werk.

Ek hoop dat mense meer vrede kan vind om te aanvaar dat hulle nie alles kan doen nie, dat hulle nie onrustig hoef te voel as iets nie ekonomies ‘doeltreffend’ is nie.
— David van Dartel

GERRIT: Hoe lank gaan jou werk in die ElliotHalls-galery uitgestal word en beplan jy vir toekomstige uitstallings dalk elders in die toekoms?

DAVID: Hulle sal dit altyd verteenwoordig en die reeks word binnekort weer in Amsterdam uitgestal. Dit is nou te sien by Mendo, my uitgewer in Amsterdam. As dit weer moontlik is, is ek seker daar sal op ander plekke uitstallings wees, miskien selfs in Suid-Afrika.

GERRIT: Jy is ook betrokke by die klerereeks, Pinkorangeclub. Hoe het dit ontstaan ​​en wat is die filosofie daaragter? 

DAVID: Ons wou die gevoel deel van wat ons het op die eiland en het kunstenaars begin nooi om ’n tyd lank hier op die eiland te kom bly, geïnspireer te word en dan uiteindelik ’n kunswerk te skep wat aangepas sal word vir ons unieke klerereeks. Ons het sopas ons eerste winkel in Amsterdam oopgemaak!

6-scaled.jpeg
5-scaled.jpeg
22-scaled.jpeg
18-scaled.jpeg
24-scaled.jpeg
8-scaled.jpeg
31-scaled.jpeg
32-scaled.jpeg
29-scaled.jpeg
4-scaled.jpeg
26-scaled.jpeg
16-scaled.jpeg
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van David van Dartel oor sy fotoreeks Op Vlieland gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand