The Eternal Sisterhood: 'n hedendaagse interpretasie van die female gaze
Foto’s: Shannon Daniels

Foto’s: Shannon Daniels

Danelle Venter se kortfilm bied 'n blik op (en vanuit) susterskap

The Eternal Sisterhood (2019), ’n oorspronklike alternatiewe kortfilm deur Danelle Venter, bied ’n hedendaagse uitkyk op die female gaze — ’n reaksie op die term “male gaze” wat die blik van die manlike gehoor, die manlike karakters en die manlike skepper van ’n film verteenwoordig.

Die Britse filmteoretikus Laura Mulvey het in 1975 met die male gaze-teorie vorendag gekom as ’n verwysing na die objektivering van vroue in Westerse media waar die meeste karakters op die skerm manlik is en deur elemente omring is wat aan manlike gehore gerig is. Die konsep van die male gaze, wat Mulvey in die artikel, Visual Pleasure and Narrative Cinema (1975) uiteensit, kan meer akkuraat as ’n heteroseksuele, manlike blik beskryf word. Vir konsekwentheid dien “manlike blik” in hierdie storie as vertaling vir “male gaze”. “Manlik”, in teenstelling met “maskulien” (soos vertaal uit die Engelse “masculine”), kan in sommige gevalle ’n beperkende beskrywing wees aangesien eersgenoemde geslagsgebaseerd is. Die manlike blik verwys in ’n groot mate na ’n fetish vir die vrouebeeld asook ’n perverse, objektiverende blik, terwyl “maskulien” eerder ’n neutrale verwysing is na eienskappe waaroor enige iemand kan beskik, ongeag van geslag. Die gekose vertaalekwivalente “manlik” en “manlike blik” kry gevolglik voorkeur hier, aangesien daar in die The Eternal Sisterhood-kortfilm spesifiek ingespeel word op die idee dat om te kyk vreemd en selfs gevaarlik kan wees.

Mulvey meen die asimmetrie van sosiale en politieke mag tussen mans en vroue is ’n beherende faktor in cinema en dat dit gekonstrueer is vir die genot van die manlike kyker. Sy argumenteer ook dat cinema in patriargale ideologieë en diskoerse gewortel is, en dat die manlike kyker daarom die teikengehoor is, wie se behoeftes daar eerste na omgesien word. Verder voer Mulvey aan dat vroue in rolle geplaas word om vanuit ’n geobjektiveerde oogpunt aanskou te word. Hierdie ongelykheid onderskraag die verouderde idee: mans kyk, en vroue word na gekyk.

Hierdie ongelykheid onderskraag die verouderde idee: mans kyk, en vroue word na gekyk.
— Elodi Troskie

Vroue van regoor die wêreld is egter besig om die geskiedenis te herskryf en bemagtigingskonsepte te herdefinieer, só vertel Venter, ’n filmmaker en kunstenaar van Pretoria wat op die oomblik in die Kaap woon. Sy beskryf The Eternal Sisterhood as ’n allegorie vir die huidige oomblik. Die kortfilm is in 2019 in ’n kommune in Queenswood, Pretoria verfilm. Venter was op daardie stadium besig met haar BA Honneurs in visuele kommunikasie by die Open Window Institute en het die huis toevallig besoek terwyl ’n vriend van haar daar gewoon het. Die huis speel net so ’n groot rol in die film as die karakters self.

“Die eerste keer toe ek ’n draai by die huis gemaak het, was dit asof die huis met my gepraat het, net soos die kyker van die film. Ek het geweet hier wil ek my volgende projek verfilm. Iets het my teruggeroep na my kinderdae en die huis waar ek grootgeword het,” vertel Venter. “Die dekor van die huis was so bekend en op sigself lyk dit amper asof alles van ’n wêreld kom wat ek vir ’n oomblik van vergeet het, asof alles item-vir-item met die grootste intensie en emosie uitgekies en daar geplaas is, maar tog ook daar vergeet is. Mens besef hoe langer jy in die huis is en hoe meer jy na alles rondom jou kyk, glip die glans stadig weg en verander die droomhuis in ’n nagmerrie. Ek was gek oor die magiese realisme wat die huis weerspiëel het — dieselfde gevoel wat ook deur die karakters uitgebeeld word in die film.”

The Eternal Sisterhood
The Eternal Sisterhood

Hoewel die kyker aanvanklik deur die vrouekarakters betower word om dieper in die huis in te beweeg, word dit vinnig duidelik dat dit die gehoor is wat deur die karakters dopgehou word. Herhalende tonele omskep die eers droomwêreld in ’n onheilspellende nagmerrie wat klaarblyklik sonder einde is — ’n effektiewe verdraaiing van tyd en ruimte wat ook op die verwysing na ewigheid en tydloosheid in die titel van die kortfilm, sinspeel. Die kyker word dus eerstehands as die verteller geposisioneer en word daardeur ’n aktiewe deelnemer in die narratief wat deur die ruimte en die karakters geskep word. Die kyker se transformasie van gehoorlid tot aktiewe deelnemer in die filmervaring het sekere implikasies. Tot watter mate is die kyker verantwoordelik vir wat in die film gebeur? Watter morele implikasies hou dit in vir die kyker om die wedersydse blik tussen hulleself en die karakters te behou? Hou ons aan kyk omdat ons dit geniet om te kyk en om na gekyk te word? Of bloot omdat ons nie weet hoe om weg te kyk nie?

“Aanvanklik wou ek ’n gevoel skep dat die vroue in die film die hoofkarakters is wat die kyker herhaaldelik deur die huis neem, maar die ‘droombeelde’ vloei oor na die ‘nagmerrie’ en omskep die kyker as die werklike hoofkarakter van die vertelling,” sê Venter. “Ek wou speel met die konsep om vroue, wie se voorkoms van ’n objectifying perspektief afhang, te ondermyn, en sodoende aan vroue die vermoë gee om self die visuele ekonomie te beheer.”

Ek wou speel met die konsep om vroue, wie se voorkoms van ’n objectifying perspektief afhang, te ondermyn, en sodoende aan vroue die vermoë gee om self die visuele ekonomie te beheer.
— Danelle Venter

Die idee vir The Eternal Sisterhood was om ’n kombinasie van nagmerries en fantasieë te verdraai om die gehoor te laat nadink oor die konsep van die female gaze, aangesien dié term self deurlopend deur die vertelling verdraai word. Die kortfilm getuig van ’n transformasie van die oorspronklike konsep van die male gaze en ’n verdere ontwikkeling van die idee van die female gaze wat daarop gevolg het, en bied sodoende ’n moderne interpretasie van Mulvey se teorie. Indien die female gaze teoreties die blik van die vroulike kyker verteenwoordig, neem Venter dit in hierdie film ’n stap verder deur die vroulike blik uitwaarts te lei, terug na die gehoor toe. Die female gaze word dus intern deur die karakters, die filmmaker en gevolglik die gehoor beoefen. Een van die mees doeltreffende wyses waarop dit bewerkstellig word, is deur die afbreek van die vierde muur om die karakters se blik direk op die kyker te fikseer.

“Die female gaze is ’n magtige instrument om genres, wat tradisioneel deur mans gedryf is (veral rillers), op baie interessante maniere te ondermyn, waaruit ek as filmmaker baie inspirasie put. Ek vergelyk byvoorbeeld Clint Eastwood en Sofia Coppola se onderskeie weergawes van The Beguiled (2017), waarin die verskille gesien kan word tussen hoe ’n vroulike en hoe ’n manlike filmmaker dieselfde bronmateriaal aangeneem het en radikaal verskillende dinge daarmee doen. Met Coppola het ek byvoorbeeld baie meer resonansie gevind omdat die verhaal deur vroulike perspektiewe weergegee word. Ek dink dis ’n vars asem vir die vroulike gehoor, asook vir ’n vrou as kunstenaar.”

Magies-realistiese trekke kan in die film opgemerk word. Venter vertel dat die mise-en-scène, beeldmateriaal en optredes as skilderye bestudeer kan word, en dat die tempo en kamerawerk dikwels geen ander opsie aan die kyker bied as om op die spookagtige atmosfeer in te speel en die idees rondom die female gaze stelselmatig te verdraai nie.

Wat die vroulike perspektiewe in Suid-Afrikaanse filmverhale betref, meen Venter daar is nog baie werk wat gedoen moet word: “Maar met bewegings soos #MeToo en die kollig wat geplaas word op die vroulike ervaring in die bedryf, glo ek dat ons stadig maar seker vorder. Ek dink dit is belangrik, nie net vir vrouekunstenaars om hulle afdruk te maak in die industrie nie, maar ook vir kykers (vroue en mans), om meer vroue se perspektiewe te beleef en nie net altyd te gryp na die tradisionele manier waaraan ons gewoond is nie.”

In The Eternal Sisterhood word die kulturele fetishising van femininiteit uitgebeeld wat deur die jare aan vroulike liggame toegeskryf is. Sodoende word die kyker se bewustheid van hierdie vooroordele verhoog en dit skakel met gesprekke rondom die verteenwoordiging van vroue. “As ek nou na die film kyk, besef ek dat daar geen ander manier is as om dit direk aan #MeToo te koppel nie,” verduidelik Venter. “Die idee van die film was om ’n tipe ‘girl cult’ of meer van ’n ‘sisterhood’ te stig, met ’n alomteenwoordige moederfiguur wie se geraamde foto net waargeneem word in die film, maar sy word nooit aan die gehoor bekendgestel nie.”

Oor die rolverdeling vertel Venter dat sy die idee van susterskap wou beklemtoon, terwyl ’n onheilspellende eenvormigheid ook uitgebeeld moes word. Deur die vertoon van al die vroue in dieselfde eenvormige styl, ontstaan ’n monoliet: “’n Groep naamlose vroue wat ’n meer onheilspellende gevoel skep en wat ook kommentaar lewer oor die tradisionele beeldrepertoire wat in die patriargale perspektief aan vroue toegeken het.”

Venter het ook gepoog om ’n gevoel van gevaar op verskeie maniere uit te beeld. Dit word byvoorbeeld ten toon gestel in die toneel waar al die vroue saam gegroepeer word in die sitkamer en hulle die ruimte met hipnotiese dansbewegings vul, terwyl hulle terselfdertyd die kyker eenvormig dophou. Die alomteenwoordige moederfiguur, wat die gehoor saam met die vrouekarakters dophou, dra by tot hierdie gevoel van ’n stil, sinister gevaar.

“Dit was nie vir my belangrik dat die vertelling juis fokus op die charismatiese leier of om te verduidelik waarom hulle in hierdie ‘susterskap’ is of wat die agtergrond is wat gewoonlik hiermee gepaardgaan nie. Elke kyker kan hulle eie agtergrond skep, wat ook al in hulle droomvertelling sal pas. Ek was meer geïnteresseerd in die gevare wat ’n meisie-kultusgroep kan bied en hoe dit die kyker laat voel om konstant dieselfde roetine te beleef met geen beheer daaroor nie — die oorgaan van belangstelling en opgewondenheid oor hierdie vroue wat naderhand transformeer in ’n nagmerrie wat net nooit wil eindig nie.”

Kyk die volledige film hieronder.

  • Film deur Danelle Venter

  • Kostuums deur Over 'n Over

  • Kinematografie deur Ryno Stols

  • Stilfotografie deur Shannon Daniels

  • Stilering deur Shannon Daniels

  • Kostuumassistent Cameron Cay

  • Grips Stephan Bester

The Eternal Sisterhood
The Eternal Sisterhood
The Eternal Sisterhood
The Eternal Sisterhood
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van The Eternal Sisterhood: 'n hedendaagse interpretasie van die female gaze gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand