Die stille revolusie: Where the Quiet Queers Are
Die kompleksiteit van queer-wees deur Carla Meyer-Kleynhans se lens
Where the Quiet Queers Are is ’n fotoprojek met gepaardgaande digkuns deur Carla Meyer-Kleynhans wat dien as ’n herinnering aan die kompleksiteit van queer-wees; om “te queer”, “net reg” of “queer genoeg” te wees, bestaan nie op hierdie spektrum nie.
Queerness word dikwels as luidrugtig, selfversekerd, trots en vermaaklik beskou. Idees soos nuuskurigheid, intimiteit, kwesbaarheid en alledaagsheid word egter selde bespreek, en daarom gebeur dit dat sommige lede van die queer-gemeenskap wat nie op die “gewenste” manier optree of uitgebeeld word nie, dikwels hulself afvra: “Is ek queer genoeg?”
Toe die fotograaf in 2019 aan hierdie projek begin werk het, is heelwat gesprekke gevoer rondom die sogenaamde aanvaarbare vorm van homoseksualiteit in die massamedia. ’n Weergawe van queerness wat ryk is aan stereotipes; een wat heteroseksuele gehore tevrede stel en vermaak. Wit, weerbaar, maer, selfversekerd, gelukkig, suksesvol.
Paartjies (van dieselfde ras) word in dié uitbeelding verkies en monogamie is verpligtend. Bi-seksualiteit is te vaag. Jy mag met jou gayheid spog solank jou uiterlike by jou voornaamwoorde pas. Die gehoor wil nie verwar word nie. Wanneer jy trans is, mag jou voornaamwoorde natuurlik verkeerdelik gebruik word. Maar dit moet alles eenvoudig gehou word. Jy mag tussen manlik en vroulik kies, maar jy móét ’n kant kies — gender non-conformity is te onduidelik. Jy moet met die presiese diverse gesig ooreenstem waarna die gehoor op soek is.
Volgens Meyer-Kleynhans word hierdie lens waardeur queerness in die media verteenwoordig word, uitgedaag deur Where the Quiet Queers Are, en word die queer-gemeenskap ook self hierdeur uitgedaag om aanspreeklikheid vir hulle eie verstandhoudinge en aksies te aanvaar.
Die projek bestaan uit ’n reeks foto’s wat die kyker tot in ’n eteriese, ander-wêreldse droomlandskap dra; ’n veilige ruimte. Where the Quiet Queers Are is geskep in ’n tydperk waar queerness terselfdertyd openlik — dikwels genormaliseerd — gevier word in sekere dele van die wêreld, terwyl dit elders steeds strafbaar met selfs die dood is.
Die kunstenaar meen dat hierdie werk hoogs noodsaaklik is vir beide die gemeenskap wat hierdeur verteenwoordig word, sowel as die gemeenskap waardeur queer persone so sterk verstoot word. Die uitdaging is om dieper as die foto-oppervlak te soek: wat is toegesmeer, uit die lens verwyder of omgekeer?