Andries Bezuidenhout en die musikale landskap
Onplaats, sy nuwe album, vorm deel van 'n alternatief
Andries Bezuidenhout ondersoek Afrikaanse identiteit en wat dit beteken om tuis te hoort teen die agtergrond van Suid-Afrika se veranderende landskappe. Lloyd Gedye skryf dat Bezuidenhout gefassineer is met die idee van wit mense wat vrede vind in die nuwe Suid-Afrika, “reconciling their troubled history and positioning themselves within the social fabric of South Africa — and the bleak dry landscape is the perfect metaphor for that history.”
Onplaats is Andries Bezuidenhout se derde solo-album en dit is in April 2020 deur Die Wasgoedlyn vrygestel. Volgens die musikant is die album se naam op een vlak ’n grappige verwysing na die feit dat die album net op die web vrygestel word. Dis nie ’n plaat nie – dis ’n onplaat.
“Die ander vlak is meer filosofies van aard. Dit kom uit ’n gesprek met Herman van Veen. Ek was in 2015 in Nederland om by ’n Suid-Afrikaanse fees op te tree en hy was die gasheer. Hy het gevra dat ek ’n liriek moet stuur, wat hy toe getoonset het. Ek het ‘Tussen Platvoet en Stoompomp’ vir hom aangestuur. Dit handel oor iemand wat op ’n plaas wil woon iewers tussen plekke genaamd Platvoet en Stoompomp. Toevallig is daar werklik sulke plekke in die Vrystaat, maar min mense weet daarvan. Van Veen het oor ’n moontlike Nederlandse vertaling gepraat en hy wou verwys na ’n plaas (of plaats) ‘tussen niks en nêrens’. Ek wou weet waarom hy nie soortgelyke name soos Platvoet en Stoompomp in Nederland kon vind nie,” voeg Bezuidenhout by.
“Sy antwoord was dat daar nie ’n enkele plek in Nederland was wat almal nie van weet nie. Ek het toe ’n paar name op ’n kaart gaan soek as voorbeeld, maar in elke geval kon Herman die plek se geskiedenis ophaal – byvoorbeeld dat ’n biskop daar in, sê nou maar, die jaar 1415 onthoof is. Dit was ’n interessante punt oor die verskille tussen Nederland en Suid-Afrika. Nederland is meer intiem aan mekaar bekend, terwyl Suid-Afrika nog plekke het waarvan niemand nog gehoor het nie. Van daar die ‘onplaats’ – ’n plek wat net in die verbeelding bestaan, ’n onplek,” vertel Bezuidenhout.
“Somber, met ’n blik-klank wat verhale van vertrekking, moord en ekologiese rampe vertel. Ongemaklike liedere vir ’n onsekere tyd, maar altyd met ’n tikkie humor.” Só het Fred de Vries al Bezuidenhout se musiek beskryf.
As skilder verf Andries meestal olieskilderye van Suid-Afrikaanse en ander Afrika-landskappe. Hiermee ondersoek hy die radikale potensiaal van landskapskilderye, al word dit gesien as ’n konserwatiewe genre in tye van ongekenne omgewingsrampe en sosiale ongelykheid. Sy skilderye beeld stede, myndorpe en Suid-Afrika se afgeleë landelike gebiede uit. Hy woon tans in Alice in die Oos-Kaap en is werksaam by die historiese Fort Hare-universiteit. Hy is ’n professor in sosiologie. Hy noem kunstenaars soos Moses Tladi, Walter Meyer en Vilhelm Hammershøi as van sy invloede.
Bezuidenhout was ’n lid van die Brixton Moord en Roof Orkes, waaruit die albums Spergebied (2002), Terug in skubbe (2004) en die EP Slaaptyd in die suburbs (2015) gespruit het. Sy vorige solo-albums is Insomniak se droomalmanak (2003) en Bleek berus (2019). In 2013 behaal hy ’n M.A.-graad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker aan die Universiteit Stellenbosch oor Gert Vlok Nel se digbundel Om te lewe is onnatuurlik (1993/2006). Buiten sy akademiese werk publiseer hy die digbundels Retoer (2008), Toeris in Hillbrow (2010) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014).
Onplaats bevat twaalf oorspronklike komposisies, waarvan die lirieke en musiek deur Bezuidenhout geskryf is, buiten ‘Tussen Platvoet en Stoompomp’, waarvan die melodie deur Herman van Veen gekomponeer is. Die album word aan die ou en nuwe Gereformeerde Blues Band opgedra, deels as dankbetuiging teenoor Riku Lätti en Willem Möller, wat elk ’n belangrike rol gespeel het in die produksie van die album. Lätti het gehelp met verwerkings en besluite oor musikante om op van die tracks te speel en Möller het die finale meng en meester van die album behartig.
Hieronder is foto’s wat deur Bezuidenhout geneem is van landskappe wat sy musiek beïnvloed het. Die foto’s is geneem deur vensters, wat volgens hom in-between plekke (onplaatse) is.
Bezuidenhout het vir Klyntji ’n lys van alternatiewe alternatiewe Afrikaanse musiek saamgestel in die lig van Onplaats se uitreiking. Langer playlists wat ook deur hom saamgestel is, is beskikbaar op Spotify en Apple Music.
Musiek buite enklawes – deur Andries Bezuidenhout
Ek het lanklaas ’n album vrygestel, so toe Onplaats uitkom, moes ek vir die eerste keer in ’n lang tyd weer deur die landskap van Afrikaanse musiek travel. Een ding wat my opgeval het, is hoe die idee van “alternatiewe Afrikaans” nog lewendig is – ’n hele paar playlists gebruik hierdie idee as kategorie. Van my eie opnames feature op van hierdie lyste. Meestal het sulke lyste net musiek van wit Afrikaanse sangers, wat my laat wonder of ons nie eerder na “alt-right Afrikaans” moet verwys nie. Dis ook nie juis divers wat musikale styl betref nie, so al asof dit net na skate punk verwys. So ek het besluit om ’n playlist saam te stel van musiek wat dalk nie altyd op daardie playlists is nie, maar wat ek dink belangrik is as ons Afrikaanse musiek wil sien as iets wat nie in wit enklawes tuishoort nie. Daar’s ’n baie langer playlist, maar hier kies ek tien tracks waarvan ek baie hou – my alternatief tot die alternatief. Nie dat ek dink die idee van “alternatiewe Afrikaans” beteken iets nie. Ek dink Onplaats is nogal mainstream. Daar’s mense in die mainstream wat veel interessanter musiek maak as sommige mense wat hulself as alternatief beskou. Ek bied hierdie playlist nie aan as ’n top tien of so iets nie. Dis net tracks waarna ek luister, deur mense van wie ek hou en wie se werk ek respekteer. Sommige nuwerig, ander so ver terug as uit die donker 1980’s.
Hei – Mavis Vermaak
Mavis Vermaak is die stage naam van Riana Wiechers van Kaapstad. Hierdie een kom van haar eerste EP af. Sy neem ook tracks in Engels op. Ek is mal oor haar stem, sy praat en sing ruimtes oop waar ek tuis voel. Hierdie een is nostalgies sonder om soetsappig te wees. Sy’s in die spoken word crowd, saam met The Buckfever Underground. Ek het haar by poetry gigs leer ken.
Skoonmaakmiddels – Jolyn Phillips
Jolyn Phillips woon op die oomblik in Johannesburg. Haar eerste digbundel is Radbraak (2017). Hierdie song is ook ’n gedig in die bundel en kom van ’n album af wat deur Jean Marais en Mark Ellis saamgestel is. Hulle doen die drums en bass op Onplaats. Ek hoop Jolyn release binnekort haar eie album. Vir eers is sy op compilations soos Die Wasgoedlyn.
Ek hoor my voete die teer klap – Bittervrug
Bittervrug is Charles Badenhorst se stage naam. Hy’s in die Moot in Pretoria. Stage naam is dalk die verkeerde woord. Hy tree min op en doen absoluut geen bemarking van sy eie musiek nie. Hy het al internasionale pryse vir sy animasiewerk gewen – kortfilms vir gedigte van byvoorbeeld Adam Small en Marlise Joubert. Hy’t ’n hele paar albums uit. Hierdie song het ’n video.
Senzenina – Churchil Naude
Churchil Naude het onlangs saam met die Gereformeerde Blues Band begin optree. Hanepoot van Tonder sien Churchil as ’n nuwe Kerkorrel-figuur, nie sonder rede nie. Ek het hom deur Riku Lätti en die Wasgoedlyn crowd ontmoet. Ek kies een van sy minder bekende tunes oor die musikale verwerking, asook omdat dit werk met so ’n klassieke song uit die struggle – Senzeni na? (Wat het ons gedoen?)
Song for Ellen Pakkies – Benjamin Jephta en Jitsvinger
Musiek as ’n manier om trauma te verwerk, maar ook as protes. Jazz in die klassieke Suid-Afrikaanse tradisie saam met Jitsvinger se stem – jazz ontmoet hip-hop. Wat verwerkings en musikale benadering betref is Jitsvinger een van die interessantste kontemporêre Afrikaanse acts – hy klink nie soos Amerikaanse hip-hop maar net in Afrikaans nie.
Suid-Afrikaanse herfs – Koos
Mense verwys altyd na die drie-eenheid van Johannes Kerkorrel, Andre Letoit en Bernoldus Niemand. Benewens hulle is Koos een van die interessantste underground acts uit die 1980’s. Hierdie track kom van ’n album af wat op kasset in ’n bruinpapiersak release is. Die liriek verwys na Baader-Meinhoff. Die konteks behels mense soos Hein Grosskopf wat destyds by MK aangesluit het om hulle ouers se melankolie te help verlig. Lees meer oor Koos in Fred de Vries se boek Klub Risiko oor post-punk in die laat-1980’s, vroeë-1990’s, voor daar iets soos die internet was. Die boek is in Nederlands, maar dis so goed geskryf dat jy vergeet dis nie Afrikaans nie. Fred kyk ook na die links wat Koos met ander soortgelyke acts in ander dele van die wêreld gehad het. Google gerus die naam Neil Hoedhals.
Ou kleine Jannie – Mr Mac and the Genuines
Ook uit die 1980’s, maar hierdie is ghoema. Mr Mac and the Genuines was op die Voëlvry compilation album wat die beweging se naam gedra het. Dis jammer Mr Mac en sy band was nie ook op die toer nie. Die liriek van hierdie een sal sekere mense deesdae steeds seker nogal ontstel.
Strate van Oudtshoorn – Albert de Vos
Albert is ook bekend as AD. Ek het hom destyds in Brixton ontmoet, by die Abelarde Sanction waar ek begin optree het. Albert is een van die heel beste songwriters in Afrikaans. Hy woon deesdae meestal in Kaapstad, maar ook soms in Nelson Mandela-baai.
Mnr. Van Wyk – Frazer Barry
Hierdie een is ’n live opname. Frazer en Deniel Barry bly in Kleinmond, teen die berg, met ’n recording studio met een van die beste views in die land. ‘Mnr. Van Wyk’ is ’n lekker tong-in-die-kies een, wat natuurlik glad nie oor die diereryk handel nie. Frazer-hulle tree gewoonlik as Tribal Echo op, Deniel is die band se drummer.
Sonskyn II – Willem Samuel
Ek dink Willem woon in Londen [Hy bly al ’n geruime tyd in Kaapstad, ná Londen – Red]. Ek hou daarvan as hy met klank eksperimenteer en sy stem multitrack. Hierdie een is nogal lo-fi en net regtig ’n mooi melodie. Willem is seker meer bekend vir sy comics.