Brak tog beautiful
Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Die byblyende, onrusbarende Gert Vlok Nel film

Gert Vlok Nel is een van die mees underrated kultusfigure van die Afrikaanse musiek en letterkunde. Hy is ’n rockster en skrywer, en beslis geen Theuns Jordaan nie. Die film Beautiful in Beaufort-Wes (2006) met die Nederlandse Walter Stokman as regisseur, is ’n bewys van die mistieke talent van Nel. Die film het heelwat Nederlanders aan Nel se werk bekendgestel en dit word bestempel as ’n deurbraak vir dié kunstenaar. Nel word maar min in die film gesien, maar sy essensie gaan nie verlore nie. Sy musiek praat vir sigself.

Beelde van ’n beautiful tog brak landskap word vir ons opgetower mettie eerste paar skote van die film. ‘Hillside Lulliby’ begelei die kyker innie digte wêreld van Gert Vlok Nel en dié van Beaufort-Wes. Veral meesleurend issie woorde, “treine wat shunt en treine wat bly / treine wat altyd hier in kringe ry”. Ons sien hom rustig ry te fiets oppie pad, asof hy die reis saam met ons aflê. Hierrie beeld van ontvlugting word virrie kyker regdeur verweef. Verder sien ons ook kinders wat speel, nog meer vlaktes, en natuurlik (eie aan kleindorpies) verveelde spietkops. Wat volg is ’n liriese, confessional, soms music video-agtige kunsfilm. Ek bespreek voorts ’n paar van die tonele uit dié film waarin die verskeie karakters bekendgestel word.

Ons sien “Gertjie”, soos sy pa hom noem, en ook die spreker in Nel se enigste bundel Om te lewe is onnatuurlik (1993/2006) langs sy huis in die jaart sit in die openingstoneel. Hy lees ’n gedig wat gaan oor ’n fight tussen sy pa en “Oom Jakkie”. Hierná word ons voorgestel annie plaaslike kruiedokter (soos die meeste mense in die film is sy naam nie bekend nie). Dit is egter ’n nuwe perspektief, aangesien Nel se skryfwerk meestal op die spoorwegwerkers gefokus het, asook sy eie familie (veral sy patriargale oupa). Die dokter neem die filmspan op ’n toer deur sy medisinale plante tot by ’n vlakte vol gestorte rotse.

“Hier is waa’ die dooies lê,” sê hy.

“Hier waa’ mense gewerk het, het hulle gelê. Nou’t hulle hie’ doodgegan. Nou lê hulle hierso. Innie veld in. Oppie plaas.”

Hy verander sy toon.

“Party mense grou mos maa’ hulle mense uit. Nou hierdie kan mos nou nie. Hulle wag virrie oordeelsdag.”

En hy lag die mooiste klank.

’n Pa en sy kind kom besoek die kruiedokter. Daar is iets fout mettie kind, maar die kind praat nie, eet of slaap ook nie. In ’n close-up op die kind se voete terwyl hy oppie dokter se skoot lê, sien ons weer daai ontvlugting, of daai vryheid van Gert se woorde. Die kruiedokter waarsku dan die kind en dié se pa om weg te bly van ’n “maatjie” af. Hy sê dan: “Hy soen vir jou. Ek kan dit sien.”

Ons sien hierna ’n vrou wat singend stap, maar iets is anners aan haar. Sy stap robotagtig verby Gert se pa se huis. Hy vertel ons kortweg wie sy is. Haar naam is Eida of Aida (die spelling word nooit gegee nie, maar wel ’n naam). Mens kan nie help om te dink aan al die vroue waaroor Nel al geskryf het nie, en veral die melankolie aan hulle gekoppel.

Innie volgende skoot staan sy voorie zink. Kort, rooi spikey hare en ’n geel strappies-top.

“Om jou die waarheid te sê, ek lewe om te sing, óf ek sing om te lewe.”

Haa stem nog dié van ’n kind.

“Want ek meen, ek kan sing en die mense kan my maa’ aanstaar en ek voel vere.”

Sy vertel dan vannie vele tragedies wat al in haar lewe plaasgevind het, wat die dood van haar ouers insluit, seksuele geweld en ’n ongeluk waarin sy breinskade opgedoen het. Sy spot: “My linkerkant wil nou nie altyd so lekker saamwerk nie, maar nou ja.” Die kyker sien dan ’n foto van haar as baba saam met haar ouers en ’n Bart Simpson sticker teen ’n venster. Sy sluit droog af met: “So ja, ek sal sê dis bad luck.”

Liedjies wat hierna volg, sluit in: ‘Moenie my hier vergeet nie, Dixie’, ‘Mr Bean Se Laaste Happy Scene’, ‘Rivier’ en ‘Timotei Sjampoe’. Nel sing twee van die liedjies akoesties, en een word deur die plaaslike laerskoolkoorgroep gesing.

Ons ontmoet ook ’n oom wat langs die highway stap. Hy hou ’n porseleinperdjie teen die son. Hy het ’n afbeelding daarvan geverf op een vannie koppies teenie pad. Hy het in 1964 begin en verf dit elke drie jaar oor. “Almal praat maarnet van die wit perd. Die hele dorp, maar hulle weet nie dis ek nie,” vertel hy trots. Hy sit oppie stoep van ’n ouetehuis, drie checkered print stoele agter hom. “Dis maar al. Daar is niks anners aan my waarvoor hulle kan dankbaar wees nie.”

Weens Gert se skuheid in die film, word die kyker daaraan oorgelaat om vergelykings te tref tussen hom en die inwoners vannie dorp. Dit kom voor of hy slegs geken wil wees vir sy kreatiewe bydrae, soos die singende Eida/Aida en die oom en sy perdjie.

Die skerm verander dan na die Beaufort-Wes Rolbalspan. Nimmereindigende wit skoene. Die kontrastering innie film kom hier al meer na vore, wanneer die volgende skoot ’n voet met ’n ou tekkie sonner veters is. Kinders is besig om te boks. Kaalbolyf. Party dans in ’n kring. Die meisies sit eenkant en verkyk hulself. Ons sien dan ’n meisie wat buite die sportgebou netbal oefen. Ook alleen, soos Gert. Sy wil ook uit die dorp, soos Gert in sy lirieke openbaar.

Die donker strate van die dorp word aan die kyker openbaar. Weg van die geromantiseerde beeld van hierrie verlate dorp. Dis nie meer mistiek nie, dis nou real. Die vullishope, die donker hoekies ennie trokke wat verby raas. Die kyker ontmoet nog ’n naamlose persoon. Sy word aan ons voorgestel deur skote van haar wat by ’n bewegende kar se ruit uit staar. Sy sit grimering op.

Haar tonele is geskiet in ’n motel. ’n Flikkerende kruis staan buite.

Ongemaklike skote volg: sy wat oppie bed uitgesprei lê en entjies rook. Die kamera se lens gly gedurig oor haa lyf. Sy het kort hare en ’n denim skirt aan. Haa glimlag kom maklik, maa haa oë bly donker. Daar is ook ’n old-school Black Label-bottel byderhand.

Sy wou ’n breinchirurg word, soos Chris Barnard. “As hy dit gedoen het, kan ek ten minste probeer,” sê sy skugter.

Sy vertel ons vannie kinders en “moffietjies” wat hulself verkoop in en om die dorp. Haar vriendin, Jarima Benade, is in die jaar voor die verfilming van Beautiful in Beaufort-Wes vermoor. Sy gaan dan verder om te sê: “Ek sou miskien skool kla’ gemaak’it. Ja, dit was my droom. En da’ sou ek tien teen een nie ’n kind gehad hettie. Dan kon ek miskien lekker innie weermag of lugmag gewees het. Dalk modelwerk. Of ’n atleet. Iets soos dit. Maar dit sal nou nie wee’ gebeur nie. Nou moet jy maa’ aanvaar.”

Gert Vlok Nel en sy pa

Gert Vlok Nel en sy pa

Ons word teruggeneem na die natuur. Ons sien ’n ou Mazda-bakkie wat ry deurie veld. Tussen-in kry ons skote vannie plaaswerkers wat tabak rook met koerantpapier. Die bakkie stop en hulle gaan haal die gewonde springbok. In fragmentele beelde sien ons hoe die bok oopgesny word, hoe die vel afgesny word en hoe die dier onthoof word. Dít teenoor die beeld van ’n springbok wat vrylik hol deur die veld. Die brutaalste is sekerlik die enkelskote van bokkoppe, -pote en -velle. Dit is hier waar Stokman kwaai daarin slaag om die romanse rondom die veld en die platteland op haar kop te draai. ’n Nietigheid en ’n kortstondigheid word vir ons geskets. Die springbok se dood kan vergelyk word met die daaropvolgende toneel. Die kyker hoor die isiXhosa-gesing en getreur by ’n begrafnis. Iemand is dood. Weereens iemand naamloos. Woorde van ’n Gert-liedjie speel deur my kop terwyl ek dit kyk.  

somewhere het ek gedroom dat ek my eie begrafnis bywoon
my pa was daar, my ma was daar en al my geliefdes
soos in my gelukkigste jaar
maar die mooiste was dit, die mooiste was dit
dat ek oorgebuk het na die grond en myself gesoen het op my eie mond

– ‘Epitaph’ deur Gert Vlok Nel

Ná Gert se pa vele confessions maak oor sy vrees om alleen te woon en sy bewondering vir sy seun, vertel hy die storie van hoe Gert begin sing het. Gert het glo altyd agter op die werkstrokke dié woorde gesing, “maanlig op Vaalrivier se walle / daar’t ek my hart by jou laat bly”. Gert se pa sê: “Dan sit hy hom te hoog in. Dan sê ek, wag Gertjie, pa sit hom vir jou in.” Hy vertel hoe hy profeties verklaar het dat hy hoop sy seun word ’n sanger.

Die film Beautiful in Beaufort-Wes is ’n roerende inkyk oppie lewens vannie dorp se inwoners, en nie net Gert s’n nie. Mense wat vir eenvoudige tog weird goed leef, soos om Celine Dion-liedjies te memoriseer of om elke drie jaar ’n perd oor te verf. Alhoewel Stokman se uitbeelding van die vrou in die motel grens aan seksualisering, erken dit prostitusie as ’n werk. Stokman kyk ook krities na die ekonomiese verskille tussen die wit, swart en bruin inwoners vannie dorp. Die kritiek maak die kyker dalk ook skepties oor die beeld van die “werkersklasdigter” waaraan Nel al so lank gekenmerk word. Wie is die regte werkersklas in ’n dorp wat die vrotste vrugte van die ekonomie dra? Baie van ons weet tog hoe agterlik die sosio-politiek is oppie platteland.

Alhoewel dit nooit virrie kyker opgelos word waarom Gert so min feature nie, kan die kykers hul eie afleidings maak. Gert se alomteenwoordige gees is egter wattie storie saamvleg virrie kyker. Nes Gert se voorganger, Koos du Plessis (hoor die liedjie ‘Waarom roep ek na jou vanaand’), is hy ’n storieverteller wat geanker is innie binnekamers van mense. Gert as sogenaamde werkersklasdigter grawe met sy woorde nie net in die lewens van hom, sy minnaars en sy familie nie, maar ook in dié van die doodgewone inwoners van Beaufort-Wes.

Gert se musiek en poësie, asook hierdie film, getuig van realness en menswees.

Kyk die film hieronder

Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Brak tog beautiful gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand