Dianne Albertze elsie geselsie met Theunis Engelbrecht oor punk, Trump, Koekie Ziervogel en Die Naaimasjiene

Dianne Albertze elsie geselsie met Theunis Engelbrecht oor punk, Trump, Koekie Ziervogel en Die Naaimasjiene

Foto’s verskaf deur Theunis Engelbrecht. “Toe ek 17 was nadat my eerste digbundel in 1982 verskyn het.”

Advies vir anargistiese Afrikaners

Sommige sal sê dat die punk-era van Afrikaans dood is. Of eerder morsdood. Vrek. 

Die dae van sensuurraad en sekuriteitspolisie, die pieleparty van die Voëlvry-beweging en die sypaadjiepreke van die Sestigers is verby. 

Ek het veral tot die besef gekom van die tragiese afsterwe van anargistiese Afrikaans toe ek voorgestel is aan die heerlike, satiriese werk van Theunis Engelbrecht met sy bliksemstraal-beeldsprake en vreeslose draakstekery met die calvinisme, chauvinisme en baasmentalities van Suid-Afrika tot Amerika. 

Theunis het in die 1970’s en 1980’s grootgeword in Bethlehem in die Vrystaat. Sy eerste digbundel ’n Gedig is so onskuldig soos ’n eier verskyn in 1982, toe hy 17 jaar oud en in graad 11 was. Die jaar daarna, toe hy aan die Hoërskool Witteberg gematrikuleer het, het sy tweede bundel Skreeuparadys verskyn. Sy novelle Om ’n laaitie te maak verskyn in 1986. In 1987 verhuis hy na Johannesburg, waar hy by Beeld begin werk as joernalis vir die koerant se destydse kuns-en-vermaakbylae Kalender, waar hy onder andere artikels oor popmusiek en die Afrikaanse letterkunde geskryf het. Hy het ’n weeklikse musiekrubriek Pop-Opskop geskryf. In Erika de Beer se boek Beeld 50 skryf sy dat PW Botha destyds by Beeld se redakteur Willem Wepener daarop aangedring het dat die koerant van Engelbrecht ontslae moet raak, omdat hy oor die destyds opkomende “alternatiewe Afrikaners” soos André Letoit en Johannes Kerkorrel geskryf het. Wepener het hom egter aan Botha afgevee. In die 1990’s het Engelbrecht onder meer gewerk by Punt Geselsradio, waar hy die program Regstellende satisfaksie aangebied het en ook gevra is om die regisseur te wees van die programme van Rian van Heerden, Alvin Bruinders en Pik Botha. 

Nadat die sensuurraad van die Nasionale Party in 1986 ’n age restriction van 18 op Om ’n laaitie te maak gesit het, begin Theunis om eerder op musiek te fokus. Van 1986 af begin hy die liedjies skryf wat in 1990 verskyn op die album Die saai lewe, deur Randy Rambo en die Rough Riders. Dit het gevolg nadat die song ‘Jong dames dinamiek maak my siek’ in 1988 deur Warrick Sony van Shifty Records opgeneem is vir die bekende Voëlvry-album. Die pa van ’n bekende sangeres wat onder Engelbrecht se gifpen deurgeloop het in Pop-Opskop, het ’n kopie van Die saai lewe in die hande gekry en ’n klag daaroor by die destydse sensuurraad ingedien. Die album is toe verban. Daarna het Randy Rambo en die Rough Riders hul naam verander na Die Naaimasjiene en het hulle opgetree by Houtstok 2, Oppikoppi en Kaktus op die Vlaktes. Na die koms van die nuwe regering in 1994 het Wildebeest Records in 1996 aansoek gedoen dat die sensuurraad die 1990-beslissing oor Die saai lewe hersien. Die verbod is toe opgehef en vervang deur ’n ouderdomsbeperking van 18. Wildebeest het Die saai lewe heruitgegee en sewe nuwe opnames is ook hierby gevoeg. 

In 2014 verskyn Engelbrecht se roman Papegaaislaai en in 2015 Die ou met die snor by die bar, Jack Parow se biografie wat Engelbrecht in samewerking met Parow geskryf het. 

Vandag wil ek julle uitnooi om saam met my en die enigmatiese, en fabulous, Theunis Engelbrecht te kuier. 


DIANNE: Theunis, my darling, dis heerlik om jou finally te meet en lekker met jou te elsie geselsie, soos ons in Gayle sou sê. Dankie vir die anargistiese argief van vreeslose musiek en literatuur wat jy vir ons wat nog nuut is in die industrie, agterlos as maatstawwe van malligheid en brilliance. Dus, kom ek val sommer met die deur by die huis in, stem jy saam dat die punkgier van Afrikaans dood is? 

THEUNIS: Ek het nie ’n clue nie. Ek kan min dinge onthou wat ek in die vorige eeu meegemaak het. Dit hang seker ook af wat die definisie van punk is –  en deur die jare was daar meer as een. Baie mense het ook die bloed daaruit getap net sodat hulle kan geld maak en punk soos ’n trade mark benader. Vir my is die waardevolste deel van punk die attitude daarvan – rebelsheid, die omverwerping van boring en bland hoofstroomkultuur, ’n algehele wantroue in politici wat die sheeple net brainwash net om hulle makliker te kan reguleer en beheer. So dalk moet ons bly wees as punk as ’n blote fashion en trade mark dood is, maar ek dink tog dis belangrik dat die basiese ingesteldheid daarvan voortleef, watter naam en vorm ’n mens ook daaraan wil gee. 

Ek het onlangs afgekom op hierdie opmerkings in Breyten Breytenbach se boek Notes from the Middle World. Dit som die beginsel van weerstand goed op: 

I believe we should think of freedom of the mind as a conscious attempt to unthink order and authority. To think against the hegemony of any variety, including the liberationist and the nativist and the iconic – particularly the insidious, moralistic mawkishness of political correctness expressed as a sightless idolization of our “leaders”. To think against the dictates, the value and the property of consumerist societies. To think against the laziness of narcissism. 

Vir my is die waardevolste deel van punk die attitude daarvan – rebelsheid, die omverwerping van boring en bland hoofstroomkultuur, ’n algehele wantroue in politici wat die sheeple net brainwash net om hulle makliker te kan reguleer en beheer.
— Theunis Engelbrecht

DIANNE: Jou skryfwerk het al vanaf skooltyd in groot publications verskyn, asook jou debuutdigbundel. Vertel ons hoe dit gekom het dat jy reeds op 17 al gepubliseer het. Wie het jou raakgesien en hoe het dit tot publikasie gelei?

THEUNIS: André le Roux, wat toevallig een van my gunstelingskrywers is van boeke soos Kom ons sit sommer by die tafel en Liefde en verset, het in die vroeë 1980’s by Die Burger se kunsblad gewerk. Van my skryfwerk het in daardie stadium al in tydskrifte soos Standpunte, Graffier, Ensovoort, Taaldoos en Tagtiger verskyn, en André het ’n kort beriggie daaroor geskryf. Jeanette Ferreira, wat toe uitgewer by Perskor was, het die berig gesien en my genader en gevra om ’n manuskrip voor te lê. Ek kan my sterre dank dat Jeanette my eerste redakteur was – benewens die keur en slyp van gedigte, ook haar gesprekke en wonderlike briewe oor ander dinge. Sy het my altyd geprikkel om my denke te verbreed.

DIANNE: Hoe was dit om as gay seun groot te word in Bethlehem in die 1980’s?

THEUNIS: Nie ’n grap nie. In daai dae was homofobie nog iets ysliks, veral in die Wit Afrikaner-kringe. Ek onthou eendag op hoërskool het daar ’n kort beriggie onderaan bladsy 3 van die destydse koerant Die Vaderland verskyn, waarin daar gemeld word dat daar verse van ’n Vrystaatse skoolseun in literêre tydskrifte gepubliseer is en dat dit liefdesverse met ’n homoseksuele strekking is. Kan jy dit glo? Die joernalis het my nie eens gebel vir kommentaar nie, maar bloot die feit dat daar gedigte in Afrikaans met ’n gay strekking gepubliseer is, was vir hulle nuuswaardig genoeg om op bladsy 3 te gebruik. Op hoërskool het ek gelukkig al hoe meer begin afdwaal van die Afrikaner-kudde en ’n eenkantlewe begin lei, ’n mens kan dit seker “gemarginaliseerd” noem as jy sou wou. Ek is as klein kind grootgemaak deur my ma se pa en haar huishulp Emily, omdat sy en my pa te besig was met werk en kerk. Emily was vir my ’n mens, nie bloot ’n ousie (soos Swart vroue destyds genoem is) nie. Op hoërskool het ek die fotograaf Peter Magubane se boek Soweto, oor die jeugopstande daar in 1976, gelees en dit, sowel as Emily se rol in my lewe, het my laat besef apartheid is evil. Ek het my daarteen uitgespreek in onder meer ’n brief of twee in Die Volksblad en in my skryfwerk. So, ek was nie gewild nie en is geboelie en my skoolmaats het my ’n sissie en softie en moffie en kommunis en k****rboetie genoem en eenkant toe gestoot, wat my piekfyn gepas het, want ek wou nooit deel van enige trop wees nie. Ek was van toe af maar ’n soort outsider. In daardie jare het ek toe danksy korrespondensie met die digter Johan van Wyk ’n wonderlike wêreld ontdek van musiek waaraan ek my oorgegee het. 

DIANNE: Skrywers soos Koos Prinsloo het gereeld die closet cases en homophobes in die publishing industry ontbloot. Het jy ooit gevoel dat jy onderdruk of teen gediskrimineer is in jou tyd as skrywer in die 80’s tot 90’s? In ’n resensie van Elsabe Steenberg beskryf sy Om ’n laaitie te maak as ’n “uiters negatiewe kragtaal-aanbieding” en gaan verder om te skryf dat die “kru taal” en “Engelse slang” die lees van die roman ontoeganklik maak. Hierdie was vir my so belaglik, aangesien juis hierdie Mengels en praattaalstyl geprys is toe skrywers soos Ryk Hattingh en Jeanne Goosen dit begin eien in hul romans. Dink jy dat die literêre scene van die 80’s jou onregverdig hanteer het?

THEUNIS: Ek het homofobie ervaar van die Afrikaanse media. Een van my eerste vriende in die skryfwêreld was Johann de Lange. In 1982 het ek een naweek by hom gaan kuier. In daai stadium is van ons gedigte met ’n gay strekking in Standpunte gepubliseer. ’n Joernalis en fotograaf van Beeld het toe op ons jag gemaak. Hulle het na aanleiding van die verse in Standpunte geglo ek en Johann het ’n verhouding of fling (wat glad nie die geval was nie). Ons het selfs vir hulle weggekruip op ’n woonstel se dak. Uiteindelik het ons besef ons kan hulle nie vir ewig ontwyk nie en het ’n onderhoud toegestaan. Dit is gepubliseer en al is dit nie uitdruklik gesê nie, was daar suggesties en innuendo’s in die artikel dat ons in ’n verhouding was, al was dit nie waar nie.

Ek het nie homofobie ervaar in die publishing industry self nie. Dalk het ek maar net oogklappe op gehad; ek weet daar was destyds keurders by uitgewerye wat nie gehou het van wat hulle as “volksvreemde verskynsels” beskou het nie. ’n Ou jeugverhaal van my het gehandel oor die vriendskap tussen twee tieners, Fritz en Johan. Die keurder het gesê ek moet Johan in Johanna verander, “want dan klink dit sommer reg”. Ek het geweier om dit te doen.

Ek het wel gevoel ek is onderdruk nadat die sensors Om ’n te laaitie te maak en Die saai lewe onder hande gehad het. In die musiekbedryf het ek geen homofobie ervaar nie, al het Die Naaimasjiene al ’n paar eksplisiete gay songs opgeneem, soos onder meer ‘O Pieleplaas’ (waarna gratis geluister kan word by dienaaimasjiene.bandcamp.com).

Ek kan hulle seker nie kwalik neem ás hulle my onregverdig hanteer het nie, want in die 1980’s het ek die karakter Koekie Ziervogel geskep wat rondborstig oor haar wellus en weersin in die Afrikaner-establishment geskryf het, in verse wat in Stet en Tagtiger gepubliseer is. Daarna het Johann de Lange begin saamskryf, en ek en Herman Lategan het ook ’n Koekie-kasset gemaak met voorlesings en musiek; dit was moerse pret. Daarna het die digter Casper Schmidt, wat in New York gebly het, ook betrokke geraak by die Koekie-kartel. Die tydskrif De Kat het toe net uitgekom, en Casper het gesê ons moet ’n tydskrif maak met die titel De Nieuwe Poes, onder redaksie van Koekie Ziervogel. Ons het gevoel De Kat was gerig op die destydse Afrikaner-elite, die snobistiese dampkringe, en dat die gewone werkers- en middelklas ook ’n behoefte het aan ’n tydskrif wat hul hartsnare streel. Ons het toe ’n little magazine aanmekaargesit. Ek en Johann en Casper het daarvoor geskryf, en Casper het die layout gedoen en 200 eksemplare daarvan laat druk. Dit was baie over the top, veel erger nog as die destydse verbode tydskrif Taaldoos. Casper het toe op een of ander manier die adresse bekom van 200 skrywers, digters, letterkundiges en Afrikaans-dosente aan universiteite en vir elkeen ’n tydskrif gepos. Dit het hulle hewig afgepis. Heelwat mense het toe al geweet ek het die idee van Koekie Ziervogel uitgedink, so dit sal my nie verbaas as hulle my en my werk daarna geïgnoreer het nie. Hoe dit ook al sy, I couldn’t care less.

Die Naaimasjiene toe hulle nog Randy Rambo en die Rough Riders was, 1990. Van links: Randy Rambo, Saartjie Eeufeesbaardjie en Koekie Ziervogel

DIANNE: Vertel ons meer van Koekie Ziervogel.

THEUNIS: Haar buite-egtelike kleindogter Soekie Vogel het die vaandel by Koekie Ziervogel oorgeneem en het al ’n paar diep én vlak gedigte gepubliseer op Die Naaimasjiene se Facebook page. Hierdie page het sedert sy ontstaan, ’n paar jaar gelede, ’n groot lekkerte vir ons geword, want dit is soos ’n little magazine in digitale vorm en ons plaas ook allerhande weird en mal en interessante en lekker dinge daar.

DIANNE: Die Naaimasjiene remind my baie aan die musikale anargie van Isaac Mutant se groep DOOKOM wat stereotipes, diskriminasie en veral rassisme met die bul by die horings aangepak het, asook die heightened spot en satire waarmee die groep gewerk het. As ek na julle lieflike parodie van Mimi Coertse se ‘O, Boereplaas’ in ‘O, Pieleplaas’ luister, dan hoor ek daai selfde speelse, soms belaglike aanslag om ernstige kwessies aan te spreek. Sal jy sê dat parodie en kabaret ook belangrike elemente in jou musiek, sowel as prosa en digkuns is?

THEUNIS: Ja, ek sou sê parodie en satire is ’n kenmerk van heelwat van my werk, veral in Papegaaislaai en songs soos ‘Jong Dames Dinamiek maak my siek’. Ek hou baie van satire, maar ek dink ook as ’n mens skryf moet dit nie al kenmerk van jou werk wees nie; jy moet ook op ander maniere skryf.

DIANNE: Ek lees dat een van my favourite Die Naaimasjiene-songs ‘Sê ’n gebed’ verwerk en opgeneem is deur Johannes Kerkorrel vir sy album ge-trans-for-meer. Hoe was daai ervaring? Was julle close?

THEUNIS: Nee, ons was nie close nie. Ek onthou wel ek was die eerste joernalis ooit wat ’n onderhoud met Kerkorrel gevoer het. Dit was nadat hy en André Letoit (later Koos Kombuis) briljante kabarette in die Black Sun in Berea, Johannesburg aangebied het. Uit hierdie optredes het die Gereformeerde Blues Band later ontwikkel, en uiteindelik die Voëlvry-beweging en -toer. Ek het oor dit alles verslag gelewer in Beeld, en van die berigte is ook in Die Volksblad en Die Burger gepubliseer. Omdat ek toe ’n joernalis was, wou ek nie pêllie-pêllie raak met kunstenaars nie, selfs al het ek ’n affiniteit gevoel met hulle aanslag, denke en die manier waarop hulle dinge doen. ‘Sê ’n gebed’ is eers deur Die Naaimasjiene opgeneem vir die heruitreiking van Die saai lewe. Dit was eers net ’n gedig, maar Willem Möller (wat kitaarspeler was van die Gereformeerde Blues Band) het ’n duiselingwekkende verwerking daarvan gemaak en al die instrumente op die opname gespeel, sulke way-out trippy kitare en ’n spooky baskitaar. Dit was vir my ’n mindfuck om Willem se verwerkings en produksie te beleef. Kerkorrel het toe die gedig gevat en ander musiek daarvoor geskryf onder die titel ‘Sê-sê’. Ek het gevlei gevoel, want ek het altyd ’n hoë agting vir Kerkorrel gehad. Ek hou egter nie van sy weergawe nie – hy het ’n vrolike, catchy liedjie gemaak van ’n tema wat eerder geskik is vir iets meer spooky en ernstig, soos wat Willem daarmee gemaak het op Die saai lewe

Die storie van ‘Sê ’n gebed’ hou nie hier op nie. In die laat 1990’s moes ek ’n onderhoud vir De Kat doen met Sonja Herholdt. Sy was glad nie wat ek verwag het nie en haar opregtheid en eerlikheid het my baie beïndruk, want as ’n mens ’n vermaakjoernalis is, het jy maar meestal te doen met mense wat maskers dra, voorgee om te wees wat hulle nie is nie en vicious games speel. Daarom het ek Sonja so verfrissend gevind. Toe ek op skool was, was ek buitendien mal oor haar eerste vier langspelers toe Anton Goosen nog die meeste van haar liedjies geskryf het. Nadat die onderhoud gepubliseer is, het Sonja my eendag gebel en gevra of ek nie vir haar advies het nie; sy voel gestagneer en wil iets nuuts doen, maar sy weet nie wat en hoe nie. In daardie stadium het ek vir Carel Cronjé en Cornell Boshoff van die groep Spiral Staircase leer ken. Carel en Cornell is uiters talentvol en het al baie mindblowing musiek opgeneem. Ek het hulle gevra of hulle lus sou wees om iets vir Sonja te doen, en het toe ’n ontmoeting gereël. Die resultaat was ’n kabaret, Uncensored, waarin Sonja die stereotipiese beeld oor haar as soetkoekie afgeskud het. Sy het intussen ook ‘Sê ’n gebed’ gelees en wou iets daarmee doen, en toe het Cornell nuwe musiek daarvoor geskryf en hy en Carel het dit produce. Die TV-program Geraas het destyds ’n musiekvideo van Sonja se weergawe gemaak, maar andersins is dit ongelukkig nooit opgeneem nie. Carel en Cornell het ook die album Reconstructing Alice vir Sonja geskryf en produce. ’n Jaar of twee gelede het Cornell gesê hy dink ons moet Die Naaimasjiene se eie final version van hierdie weergawe van die song opneem, en ons het dit toe gedoen. Dit kan ook gratis geluister word by dienaaimasjiene.bandcamp.com.

Van links: Theunis, Carel Cronjé, Sonja Herholdt en Cornell Boshoff

DIANNE: Hoe lyk die toekoms van die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf vir jou?

THEUNIS: Gelukkig is daar deesdae meer stemme, meer diversiteit, nuwe subkulture. Die kommersiële vermaaklikheidsbedryf sal voortgaan om almal te stoomroller met vervlakking en verdomming (sepies, reality TV, niksseggende songs), maar gelukkig is daar altyd baie aksie op die margins, die kantlyn – maar ook in sekere boeke – waar ’n mens nog sinvolle werk kan ontdek wat kreatief, uitdagend en vreesloos individualisties is. Die kommersiële spul is egter ’n verleentheid.

DIANNE: Dink jy dat Wit Afrikaanse kunstenaars te veel vassit aan gevoelens van skuld, skaamte, vrees vir politieke korrektheid en ordentlikheid om regtig kanse te vat en werk met guts te create? Dalk enige advies vir sulke niggies out there?

THEUNIS: Daar is nog ’n paar van hulle, en dis redelik maklik om dit agter te kom uit hul werk. Ek het die afgelope 10 jaar tred verloor met ontwikkelinge en verwikkelinge in Afrikaanse musiek en kan dus nie ’n oordeel vel oor die scene nie. Ek het nou ’n bietjie op YouTube gaan rondkyk en wat vir my wel opvallend is, is dat die kommersiële brigade skynbaar sterker as ooit is en die kommersiële Afrikaanse musiek kakker is as wat dit in menseheugenis was. Gelukkig is daar wel genoeg goeie Afrikaanse musiek ook. Kobus, Koos, Churchil Naudé, David Kramer, Jack Parow, Laurinda Hofmeyr, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Riku Lätti, Laurika Rauch, Jan Blohm, Bacchus Nel, Brasse vannie Kaap, Anton l’Amour, om ’n paar te noem.  

Advies vir die niggies? Dans en drink meer.

Dans en drink meer.
— Theunis Engelbrecht, aka Koekie Ziervogel, se advies aan kunstenaars

DIANNE: Met die internasionale boycott van die VSA vir mediese ondersteuning aan transgender, non-binary en HIV-positiewe persone se medikasie vir buitelande, insluitend Suid-Afrika, wek dit tans vele spanning in ons land op. Om maar van die min euwels te noem wat tans spruit vanuit Trump-Amerika. Ek weet jyself en Die Naaimasjiene is nog altyd sterk uitgespreek teen hom as ’n publieke figuur. Is daar dalk meer wat jy sou wou deel oor watter impak sy tydperk as president op die wêreld kan hê? En hoe ons as ’n nasie kan saamstaan en teenstand bied?

THEUNIS: Verdomming, vervlakking en brainwashing teen ’n vinniger tempo as ooit is die mensdom se voorland onder Trump en Musk, dink ek. Daai AI-video wat Trump gepost het oor hoe dit in Gaza sal lyk as hy en Musk daarmee klaar is, vertel meer as wat ’n duisend woorde kan van hulle gevoelloosheid, harteloosheid, arrogansie en siek motiewe. Hulle het al reeds baie mense se loopbane en lewens verwoes. Vir hulle gaan dit net oor meer mag en meer geld. Hoe kan ons saamstaan en teenstand bied? Ek glo nie ons gewone mensies kan veel van ’n verskil maak nie. Vir my het dit egter belangrik geword om nie toe te laat dat die skrikwekkende dinge wat sulke narsiste en psigopate doen, my eie state of mind besoedel nie, en om nooit al die kak op te vreet wat politicians vir hulle sheeple opdis nie. 

Reklamebreek: Mense wat wil sien hoe Die Naaimasjiene oor Trump voel, kan op YouTube gaan kyk na die musiekvideo ‘Trumpocalypse’, wat ons vyf jaar gelede gemaak het aan die einde van sy eerste termyn. Dis maar die beste opsomming van my siening van Trump.

DIANNE: Wanneer kan ons ’n opvolg van Papegaaislaai verwag, of ’n nuwe roman?

THEUNIS: Ek weet nie. Daar is goeters aan die broei in my kop, maar ek glo ’n mens moenie praat oor die broodjies wat jy in die oond het nie, want netnou is die rosyntjies giftig. Nadat ek pas afgetree het na 21 jaar in die woordworsmasjien van die subkantoor, moet ek nou eers tot my sinne kom, en daarna hopelik ook tot verhaal.

DIANNE: Wat lees/kyk jy tans wat interessant is?

THEUNIS: Met die aftree en trek na die Strand het ek die afgelope maande baie min gelees. Ek het wel André le Roux se Liefde en verset gelees en baie daarvan gehou. My persoonlike voorliefde is poësie. Ek kan oor en oor die werk van mense soos Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, DJ Opperman, Elisabeth Eybers, TT Cloete, Johan Myburg, Tom Gouws, Peter Blum, NP van Wyk Louw, Johann de Lange en Ina Rousseau lees. En ek kan ook ’n hele paar van Ingrid Winterbach, Henry Miller, Etienne Leroux, Hermann Hesse en Karel Schoeman se romans weer en weer lees en elke keer baie plesier daaruit put. Tans geniet ek die musiek van The Cat Empire, Otyken, The Hu, Yulduz Usmanova, Rana Santacruz, Gabriel Rios, David Byrne, Peter Gabriel en Talking Heads. 

DIANNE: Wat sal jy vandag vir 17-jarige Theunis sê wat sy eerste boek publiseer?

THEUNIS: Moenie toelaat dat die system ooit jou spirit breek nie.

Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Dianne Albertze elsie geselsie met Theunis Engelbrecht oor punk, Trump, Koekie Ziervogel en Die Naaimasjiene gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand