In gesprek met vier teatermakers by die tiende Teksmark

Foto’s: Nardus Engelbrecht
Tertius Kapp, Veronique Jephtas, Saartjie Botha en Nicola Hanekom
Teksmark het onlangs haar tiende bestaansjaar gevier. In September is 10 van ons land se voorste teksskrywers uitgenooi om van hul nuwe teksidees te deel, saam met die twee wenners van die Zabalaza-fees. Dit was ’n smeltkroes van innovering, met stories van sover terug as 1930 tot ’n stuk wat in ’n apokaliptiese toekoms afspeel. Skrywers het gehore uitgedaag, ontroer, laat skaterlag en gelaat met stof tot nadenke.
Vanaf Teksmark se ontstaan is meer as 170 stukke in Afrikaans, Engels, Xhosa, Sotho en nog meer tale aangebied. Daar is ook al weergawes van Teksmark in Oudtshoorn, Johannesburg en ’n Nederlandse sustersprojek, Teksmarkt, aangebied. Tot vandag toe is daar alreeds 57 van hierdie teksvoorstelle ontwikkel tot volwaardige teaterproduksies, waarvan ’n klomp al landwyd getoer het en baie al vele toekennings ontvang het.
Teksmark se stigtersborge is die KKNK, NATi en die Baxter-teater. Van die kunstefeeste wat al vele van hierdie produksies opgetel het, sluit in Toyota Stellenbosch Woordfees, Suidoosterfees, Momentum Aardklop, Toyota Innibos en die Vrystaat Kunstefees.
Ek het die voorreg gehad om met vier van die teksskrywers by vanjaar se Teksmark te gesels oor hulle innemende werk, elkeen op hul eie kreatiewe reis besig met iets oproerigs en ontroerend: Tertius Kapp, Veronique Jephtas, Saartjie Botha en Nicola Hanekom.
vastrap deur tertius kapp
Tertius Kapp (regisseur) se stuk, Vastrap, met Cintaine Schutte, Carel Nel, Daneel van der Walt en Morné Visser in die rolverdeling, handel oor Theuns en Wilma, ’n paartjie van Pretoria, in 1975. Sy is ’n koppige tog ietwat boheemse vrou en hy weer ’n bleeksiel, ’n belowende fisikus. Wilma oorleef die eenvoud van huisvrou-wees met drome van oorsee reis. Iets begin verander wanneer Theuns se werksure langer word en hulle by die eienaardige paartjie langsaan begin kuier. Die buurvrou Selma, wat veels te lief is vir haar Chardonnay, vind ’n vertroueling in Wilma en begin blaker al meer details uit van hul mans se geheim, hul onwrikbare lojaliteit aan die kernwapenprogram van die land.
Om oor wetenskap te skryf is nogal nie iets algemeen in die teater nie. Ek vra Tertius uit oor hoe hy die onderwerp toeganklik gemaak het vir sy kykers. “Wat ek gedoen het, is om die wetenskapelemente nogal fun te maak,” sê hy. “’n Classic tegniek is om die slimmer of die meer ingeligte karakter iets te laat verduidelik vir die ander karakters en so word die gehoor ook ingelig. Daar is ook metodes soos ‘Pope in the pool’, waar iets interessants gebeur terwyl daar belangrike inligting deurgegee word. Maar op die ou einde weet die gehoor wat kernbomme is. ’n Mens het net soveel van die wetenskap nodig wat regtig interessant genoeg is. Vir my is die tegniese aspekte interessant, soos hoe hulle beplan het om die Suid-Afrikaanse kernwapens te loods, was eintlik gek: om dit met ’n vliegtuig te gooi, amper soos ’n slingshot, en te hoop jy mik jou teiken.”
Ons gesels ook oor die opstel van ’n nuclear family en the magical object. “Vir my is daar altyd ’n groot fassinasie met enige wapen met ongelooflike krag,” sê Tertius. “As jy kyk in relatiewe terme na the magical object, soos in Lord of the rings, is dit die ring – ‘to bind them all and to destroy them all’ — vervang dit nou met kernbomme. Hierdie ding met unimaginable krag. Dan word dit boonop ontwikkel deur mense met ongelooflike intelligensie wat deur al die skyn en pretensie kan sien van die samelewing waarin hulle woon, maar hulle is gebonde aan daai samelewing en samehorig aan daai struktuur wat vir hulle sê wie hulle mag wees, hoe hulle hulself mag gedra, en die kernfamilie is so ’n lekker metafoor vir dit.”
Tertius sit skielik regop, soos ’n oom in die NG Kerk. “‘Is jy ’n diaken by die kerk, meneer?’ word daar vir die man gevra wat die kernbom bou. ‘Want ons moet weet dat jy in lyn gaan wees. As jy uittree en oorweeg dat kommunisme vir jou ’n opsie is, dan het ons ’n probleem hierso. Is jy Broederbond? Is jy NG?’ Daai konstruk wat ons gehad het in die ou Suid-Afrika is al hierdie ouens lede van gewees, want hulle was besig om te werk aan die mees gevaarlike ding wat hierdie land al ooit geskep het.”
Hy gaan voort: “Wat ook interessant is vir my, as jy lees oor hierdie mans wat betrokke was, hoe ongelooflik trots hulle is en hoe teleurgesteld hulle is dat alles net uitmekaar gehaal is en verdwyn het. Tot ’n mate is daar hierdie ambivalente ironie aan hoe tragies dit vir hulle is. Dit is hulle lewenswerk, maar dis nie juis iets wat ons wil sê eties reg was nie.”
Hy beskryf Vastrap as ’n komedie, so ek wou by hom uitvis of hy, soos met sy vorige komedie Oorsee, vir ons soortgelyke satiriese argetipes van die Afrikanervolk wil weergee en of hy dié keer meer genuanseerd wil werk en dieper wil tref.
“Oorsee se komedie was meer kras en meer in-your-face. Hierdie is bietjie subtieler, bietjie fyner,” antwoord Tertius. “Hier werk ek met regte persone, nie met argetipes nie. Oorsee se karakters was minder so en boonop in ’n absurde situasie, waar hier is ons op ’n spesifieke datum, in ’n spesifieke jaar, op ’n spesifieke plek. So, dis nie abstrak nie. Hierdie is realisties, maar daar is sterk elemente van die absurde.”
Met betrekking tot van sy ander werk, soos Liewer en Juffrou X, is die binnevleuel van albei narratiewe die verbrokkeling en ook verbondenheid van verhoudings. Met Vastrap blyk dit om dieselfde gegewe te wees. Dit wil voorkom asof dit ’n tema is wat hy gereeld ondersoek. Ek vra of daar ’n rede daarvoor is.
“Ja, absoluut. Ons lewe in verhoudings en als wat ons doen, vergestalt in verhoudings,” antwoord hy. “Tog begin my konsep gewoonlik nie met verhoudings nie, soos hier gaan dit oor die kernwapenprogram. Dan maak ek wel deesdae ’n punt daarvan om my af te vra: Wat gebeur in hierdie mense se persoonlike lewens? Hoe affekteer dit daai verhoudings? Maar ook hoe affekteer die groot idee hulle klein lewens?”
K(r)aak deur Veronique jephtas
Veronique Jephtas het vir ons die klankryke K(r)aak aangebied, met Dean Balie as regisseur, Garth Erasmus verantwoordelik vir musiek en Jephtas wat haar eie werk vertolk.
Die stuk handel oor ’n nuuskierige tong op soek na haar identiteit. ’n Poëtiese reis van vrou-wees, van Bruin-wees, van Afrikaans-wees en uiteindelik van menswees wat ’n mens in die maag moker, maar ook ontsettend aanraak.
Ek het vir Veronique uitgevra oor die oorstaan van die stuk. “’n Nuuskierigheid binne my en oor die tonge wat klap rondom my,” antwoord sy. Sy gesels soos sy ook toneelspeel, oop en opreg, in haar unieke manier met flambojante handgebare en ’n lag soos water wat oor klippe klots in ’n rivier.
“Nathan Trantraal het altyd vir my gesê: ‘Ek hoefie te wiet wat jy skryfie – solank jy wiet.’ En as ’n Bruin mens sê mense jou hele lewe lank vir jou dit is jou tong. Dis hoe jy moet praat. Dis reg. Dis verkeerd. Daai’s professioneel, daai’s nie. Ek sit met ’n gemengde tong wat ek self nie ken nie. Ek soek my tong. Dis die verwysing: die confusion, die gehunker, die sin maak van myself. Ek wil nie eers een persent van confusion hê as ’n Wit man my confront met sy small dick energy nie. I mean, ek wil sekerheid hê oor my tong, oor wie ek is, oor my komvandaan, oor waantoe ek gaan. Dit beteken ek moet gaan krap daar waar dit jeuk. Ek was gefassineer met Duits, Afrikaans en Kaaps,” vertel sy. “Ek het hulle gelabel ‘son’, ‘maan’ en ‘sterre’. Dis soos Die Drie Susters vir my. Dis hoe ek gestart het. En susters moenie so baklei nie. Susters het bloed wat vloei van ma en pa saam. En ek wou net hê hulle moet mekaar sien, mekaar hoor.”
K(r)aak is deel van die Nederlandse samewerking genaamd Teksmarkt wat in 2021 begin het. Lee-Ann van Rooi is daar as Veronique se mentor aangewys.
Veronique skuif orent en verduidelik ernstig aan my oor hoe klinies als was, daai tyd in Covid toe alles met sosiale afstand gedoen moes word. “My pitch, als online, was hierdie moving body, dit was ’n danser wat alles gedoen het met my wat al die voice overs doen. Dis wat ek graag wil doen met die stuk, dat ek nie altyd fisies op die verhoog hoef te wees nie – dat jy die teks kan hoor in die musiek, dit kan sien in die dans. Die trauma is dieselfde. Maak nie saak watter taal ek praat nie. En dis wat ek met K(r)aak wil doen.”
Ek wil volgende by haar weet wie die gehoor is vir wie sy skryf. “Ek sien genuinely net ’n audience met ’n oop hart en ’n oop oor. Of met ’n nuuskierigheid. Ek probeer my werk op ’n manier skryf dat jy kan my naam lees en gaan: Hier’s die kind alweer, maar jy gaan uitstap met iets wat beweeg binne jou. Ek soek mense wat oop is. Dis my gebed elke keer voordat ek perform, wanneer ek skryf: ’n oog wat oop is, ’n hart wat oop is, ’n oor wat oop is. Geen kleur. Wat healing is vir almal. It’s not just for one race, one gender, one anything. For all of us as a collective. Ons almal het ’n hand in dit. En ek weet ons almal wil weghalloep en sê daai het niks met my te doen nie – maar dit het alles met jou te doen. Want waarvanaf kom jy?”
“Dis my gebed elke keer voordat ek perform, wanneer ek skryf: ’n oog wat oop is, ’n hart wat oop is, ’n oor wat oop is. Geen kleur. Wat healing is vir almal. It’s not just for one race, one gender, one anything. For all of us as a collective.”
ge-gebergtes deur Saartjie botha
Volgende gesels ek met Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees en dinamiese skrywer in film, televisie en teater. Sy het ge-gebergtes by Teksmark aangebied, met regie deur André Gerber, en met Nic de Jager, Daneel van der Walt, Miché van Wyk en Jean-Marie Koekemoer in die rolverdeling.
Ná ’n emeritus professor kort ná sy 85ste verjaarsdag besluit om sy lewe (onsuksesvol) te neem, word hy weer teruggestuur ouetehuis toe onder die sorg van verskeie versorgers, of in hierdie geval, “die koor van carers”. Die stuk is ’n poging om sin te maak van sy gedrag, die konfrontasie met swartgalligheid, oorgee en uiteindelik ook moontlike genadedood. Dit is ’n weerlose stuk werk wat op ’n teer manier aftakeling, afhanklikheid, eensaamheid en hulpeloosheid ondersoek.
Saartjie vertel dat sy gedryf is om die storie te begin skryf ná sy al meer betrokke geraak het by haar ouer wat in ’n ouetehuis opgeneem is. Sy was verbyster deur die hoë syfer van selfdoodgevalle en bejaardes wat met depressie worstel.
Ek wou graag begin met die titel – is dit afkomstig van die landslied?
“As jy kyk na Die Stem, ek dink dis baie keer so, as mense bewoë raak, is dit altyd daar rondom die ‘ge-gebergtes’-gedeelte,” bevestig sy. Reeds met Balbesit het sy vir ons haar vernuftigheid met die gebruik van ’n koor gewys en nou weer het ons te doen met ’n “koor van carers”, asook ’n meer liriese styl as in die vorige werke. Sy noem ook die moontlikheid om ’n musikant te betrek om die klankrykheid van die stuk te versterk.
In die kort beskrywing van die toneelstuk gebruik sy “begeleide voortsetting” om te verwys na genadedood. Dit is ’n gelade onderwerp, meen ek, waarop Saartjie reageer dat sy voel mense moet ’n keuse kan hê. Sy voeg egter by: “Ek besef ook dat dit ’n groot etiese dilemma skep. Mense is soms in weerlose posisies en kan nie noodwendig alleen ’n besluit maak nie. Maar as iemand helder van verstand is en daar is redes, medies of emosioneel, wat hulle noop – hulle moet die hulp kan kry dat hulle dit met waardigheid kan doen.”
Sy raak vir ’n oomblik stil. Haar oë raak amper mistig en sy staar na gehoorlede wat by die teater uitstroom, borrelend en opgewonde. “Ek dink tog die lewe is heilig. Dis ook nie maklik nie en daar is besluite wat met versigtigheid hanteer moet word.”
Dink sy dis nodig vir ons as mense om meer oor die dood te praat?
“Ek dink mense is bang vir die dood, uiteraard,” sê sy. “Baie mense leef in ’n kliniese wêreld – sien nie mense doodgaan, wat natuurlik sterf, nie. Mense sterf selde by die huis; hulle gaan hospitaal toe. Ek is gefassineer deur die feit dat baie gedeeltes van ons sterf voordat ons eens doodgaan.”
Maar: “Hierdie karakter is nie medies terminaal en sterwend nie,” maak sy my attent. “Hy lei psigies en as gevolg van ’n totale magtelose oorweldiging van tegnologie word hierdie persoon, wat al sy lewe lank onafhanklik kon funksioneer en intelligent is, nou agtergelaat deur die ontwikkeling van tegnologie.”
Die gebed van ’n halfmens deur nicola hanekom
Laastens gesels ek met dubbel-Hertzog-pryswenner, Nicola Hanekom, oor Die gebed van ’n halfmens. Dit word onder regie van haar, met Alyssa van Reenen, Wilhelm van der Walt en Gretha Brazelle opgevoer.
Op ’n skrootwerf buite Oudtshoorn ontmoet ons drie gebroke, amper halwe mense wat wag op ’n voorspelling van waarheen die mensdom op pad is. Verskeie karakters uit Hanekom se oeuvre maak weer ’n verskyning. Die herkenbaarste is Baby op haar rolskaatse, bekend gemaak deur die oorlede aktrise Bronwyn van Graan in Betésda en Babbel, deel van Nicola se plekspesifieke Lot-trilogie. ’n Kenmerkende Hanekom-esque figuur, ’n gebarste porseleinpop wat flikflooi en verniel waar sy ook al gaan. Ook vroue wat agter hul geskende onskuld en skoonheid swaar dra aan donkerte van die diepste eksistensiële aard. Dit is hoe ons al drie karakters ontmoet: in ’n eksistensiële krisis, vervorm deur ’n al groeiende kunsmatig intelligente samelewing wat mense uitruil, handel, verkoop en vermoor. Al drie probeer hulself weer bymekaarsit ná die lewe hulle amper vernietig het. ’n Meisie al vlugtend van haar werklikheid en moederlike pligte, skyn onskuldig op haar rolskaatse. Die ou vrou wie se been eenkant lê en loer vir haar. ’n Man oorgelewer aan vullis en vasgekluister aan ’n rolstoel.
Was dit toevallig of spesifiek so geskryf? wil ek weet. En kan ons nog ’n plekspesifieke opvoering hiervan binnekort by KKNK verwag?
“Ek wil altyd al die visuele elemente integreer met betekenis,” verduidelik Nicola. “Vir my loop wat jy sien en hoor, hand aan hand met die betekenis wat ek wil maak en die vrae wat ek wil vra. Die grootste hiervan is die ruimte wat inderwaarheid soms die hoofkarakter word – of indien nie die hoofkarakter nie, die gegewe. Hopelik kan ons óf op ’n stortingsterrein speel óf een skep, omdat dit so belangrik is vir wat ek wil sê.”
Reeds met Mirre en aalwyn het sy tematiek van tegnologiese oorlog en AI-bedreiging by ons as kykers en lesers ontlok. Wat is dit rondom die kuberweb en tegnologie wat haar as skrywer fassineer of so ontwrig dat dit nou ’n deurlopende tema in haar werk word – wat nog te praat van die vrees van kommunikasie en die absurdheid van konneksie?
“Daar bestaan by my geen twyfel dat klimaatsverandering en KI die twee mees belangrike kwessies is wat gevaar kan inhou vir ons bestaan nie,” antwoord Nicola. “Bygesê, mag KI ook wonderlike dinge bring, maar die feit dat ons dit nie reguleer nie, dat dit moontlik reeds te laat is om te reguleer, kwel my. Ek kan amper nie glo dat jong mense nie besig is om te protesteer en op regulasie aan te dring nie. As ’n superintelligente alien op die aardbol geland het, sou almal paniekbevange gewees het, maar ons is arrogant, omdat dit ons skepping is en ons gewoond is om bo aan die leer van intelligensie te staan,” meen sy.
In Die gebed van ’n halfmens het ons ook met die siel te doen – wat bly oor wanneer ’n tegnologies gevorderde samelewing ons DNS begin integreer en ons oorwin en moontlik van ons oorskiet maak, soos ons ook doen met kabels en toestelle wat nie meer werk nie? Dít is ’n ontsettende sterk metafoor, ook tans vir veral die volksmoord in Palestina. Wat dink Nicola is ons weerstand hierteen? Om ons eie siel en dié van ons medemens te beskerm?
“Waarmee ek mense wil laat oplet by Mirre en aalwyn is waar een karakter op ’n kol sê: ‘Die god was ’n kletsbot.’ Indien ons nou iets geskep het wat slimmer as ons is, ’n superintelligensie, wat hou dit in vir godsdiens en geloof? Het ons dalk ’n tipe van mensgemaakte god geskep wat oor ons gaan heers?” wonder sy. “Baie mense is eensaam en gesels reeds meer met hul kletsbotte as wat hul bid. Dis die tema van my volgende stuk ná Die gebed van ’n halfmens, met die naam Ek en my kletsbot.”
“Ek kan amper nie glo dat jong mense nie besig is om te protesteer en op [KI-]regulasie aan te dring nie. As ’n superintelligente alien op die aardbol geland het, sou almal paniekbevange gewees het, maar ons is arrogant, omdat dit ons skepping is en ons gewoond is om bo aan die leer van intelligensie te staan.”
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van In gesprek met vier teatermakers by die tiende Teksmark gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.