In Klein konings vra Theo Kemp: 'Wie se skuld is hierdie hel?'

In Klein konings vra Theo Kemp: 'Wie se skuld is hierdie hel?'

Google 'monument wikipedia' voor jy dié roman lees

Op 20 September 2025 verskyn twee berigte deur Dennis Delport op Netwerk24 oor die EFF se mosie oor koloniale en apartheidsera-standbeelde, wat die tydigheid van Theo Kemp se roman Klein konings onderstreep (sien hier en hier). As agtergrond vir dié resensie, verwys ek na hierdie berigte waarin die huidige stand van die politiek rondom monumente in Suid-Afrika opgesom word.

EFF-leier Julius Malema het “’n mosie voor die Nasionale Vergadering gebring om ’n ad hoc-komitee te stig wat die verwydering van standbeelde van koloniale en apartheidsleiers moet ondersoek”. Die EFF se hoofsweep, Nontando Nolutshungu, het die mosie ter tafel gelê: “Ons staan vandag op om die onopgeloste kwessie van koloniale geheue en simbole daarvan op te los. Oor Suid-Afrika heen, en trouens voor hierdie einste parlement, staan standbeelde van koloniale leiers onbetwis. Hulle is nie simbole van die geskiedenis nie, hulle is monumente van kolonialisme en materiële herinneringe dat, hoewel die politieke regime van apartheid vernietig is, die ideologiese, kulturele en ekonomiese strukture ongeskonde bly.”

Nolutshungu, soos aangehaal in die Delport-berig, sê verder dat, wanneer jy by die parlement aankom, ’n mens begroet word deur die standbeeld van Louis Botha. “Hy is verheerlik as ’n staatsman, tog was hy ’n generaal van geweld, ’n eerste minister van wit oppergesag en ’n verdediger van rassesegregasie. Dit staan hier om ons daaraan te herinner dat die parlement wat ons vandag beset, nooit vir die Afrika-meerderheid was nie. Dit sê ons as Afrikane bly besoekers in ons eie wetgewende kamers. [...] In Pretoria staan die Paul Kruger-standbeeld arrogant by die Uniegebou. In Kaapstad staan die standbeeld van Jan van Riebeeck steeds om die begin van die koloniale verowering te vier. Die Voortrekkermonument is ’n huldeblyk aan wit oppergesag, gebou om die missie van Voortrekkers te verheerlik, wat grond van Afrikane afgeneem het.”

Volgens Delport het verskeie politieke partye, waaronder die DA, VF Plus, ANC, PA en IVP, reeds aangedui dat hulle nie die stigting van ’n ad hoc-komitee sal steun nie. Verder sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, in ’n verklaring: “Die verwydering van ’n deel van die gemeenskap se simbole, standbeelde en erfenis is ’n onbeskaamde poging om dié groep se identiteit en reg om te bestaan, weg te stroop.” Willie Aucamp, DA-LP, sê die DA kan nie die mosie van die EFF steun nie: “Nie omdat ons ons pynlike geskiedenis ontken nie. Nie omdat ons blind is vir die ongeregtighede van apartheid nie. Nee, ons staan dit teen omdat dit ’n onnodige, verdelende en duur afleiding is van die werklike uitdagings waarmee Suid-Afrika vandag te doen het.” Op hulle beurt het die ANC, by monde van Joy Maimela, ANC-LP, gesê hulle steun die verwydering van standbeelde, maar erken terselfdertyd dat dit na ’n museum verskuif moet word. “Die ANC se standpunt onderskei duidelik tussen verwydering en verskuiwing. Ons ondersteun nie algehele vernietiging nie.” 

Terwyl daar in die Nasionale Vergadering geredekawel word oor monumente, verskyn daar ’n berig deur Bheki C Simelane in die Daily Maverick waarin vertel word van ’n Johannesburgse ma en dogter se stryd om oorlewing as gevolg van werkloosheid en hoë lewenskostes. In die tuin van Johanna Mukansi in Waterworks, naby Lenasia in Johannesburg, staan ’n moerbeiboom wat vir die familie skadu bied in hierdie dorre omgewing in die somer. Die boom voorsien die gesin ook van voedsel: “Wanneer ons nie kos het nie, moes ek al die blare van die moerbeiboom kook,” sê Mukansi. “Ek het gekook en ons het geëet” (eie vertaling). Die Waterworks-gemeenskap het geen munisipale watervoorsiening nie. Een waterlorrie word gestuur om drie van die 5 000 liter tenks vol te maak, wat nie genoeg is om water vir die hele gemeenskap te voorsien nie. “The water truck fills a few tanks, and by the time it leaves to go and refill, the water it has just delivered is already finished,” sê ’n gemeenskapsleier. 

Dit is teen hierdie agtergrond dat ek Theo Kemp se roman Klein konings lees, wat open met die volgende woorde: “‘Ons moet transformasie saam met nasiebou bespoedig,’ sê die minister van sport, kuns en kultuur. Die Engels vloei vanoggend van sy tong, anders as in die parlement waar dit partykeer voel of die taal van politiek in sy keel vassteek. Voor hom aan die gepoleerde swarthouttafel sit twee van sy administrateurs: Pixley en Joubert” (7). Dié twee karakters is “per e-pos ontbied na ’n vergadering genaamd ‘Removal of Monuments’. [Joubert] is immers ’n boekhouer. Wat weet hy van monumente en hoe dit verandering kan meebring?” (8). 

Minister wei uit oor Joubert en Pixley se taak as “ad hoc-komitee”, if you will: “‘Dit klink dalk teenstrydig, maar ons moet nasiebou en maatskaplike samehorigheid bereik terwyl ons transformeer,’ sê Minister en kyk direk na Pixley. ‘Hoe doen ons dit?’ vra Pixley dan” (11). Hy wat van dieselfde Zoeloeclan afstam as Minister, terwyl Joubert ’n verbintenis met generaal Piet Joubert het.

Hier word die sentrale idee gevestig waarrondom die hele storie draai: Twee staatsamptenare met twee uiteenlopende agtergronde word aangestel om verslag te doen van die verskuiwing van al die apartheid- en koloniale standbeelde, simbole en monumente regoor die land. Aldus Minister: “‘Wat belangrik is, is dat die standbeelde vir voorstanders van apartheid en kolonialisme nie in ons prominente ruimtes moet staan nie. Die belangrikheid van transformasie moet deur die hele samelewing verstaan word, omdat die verdrukte meerderheid steeds in die land se openbare ruimtes ’n kulturele minderheid bly.’ ‘Amen,’ beaam Pixley” (12). “‘Goeie seun,’ sê Minister ingenome in Zoeloe. Hy staan op om sy opdrag amptelik in die taal van die setlaar aan te kondig: ‘Ek’t besluit dat julle twee ’n volledige inventaris aan my sal verskaf, met ’n werkbare plan om die Boerebeelde te skuif.’ Pixley en Joubert kyk vir die eerste keer na mekaar” (14). 

Voordat ek verder lees oor Pixley en Joubert se reis deur Suid-Afrika agter Boeremonumente aan, klap ek eers die boek toe en dink by myself: Wat is ’n monument nou eintlik? Ek google “monument wikipedia” en ontdek per ongeluk dat daar ’n Wikipedia-monument in Pole is, ontwerp deur die Armeense beeldhouer Mihran Hakobyan ter ere van die bydraers van Wikipedia: vier naakfigure wat die aardbol omhoog hou – omtrent twee meter hoog, om spesifiek te wees. Cool! Maar dit help my nie veel nie; ek sal moet uitvind oor die oorsprong van monumente as ek iets wys wil word oor die moderne manifesterings van die praktyk, dan nie? 

Een ding is duidelik: Monumente het te doen met herinnering. Dit is ’n konkretisering van ’n kollektiewe geheue. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis waar monumente gebruik word in diens van nasiebou en om hulde te bring aan ’n nasie se geskiedenis. In die antieke wêreld was monumente meer algemeen as vandag en ’n veel belangriker deel van die kultuur. Die funksie was ooglopend: Dit was ’n manier vir die maghebbendes om aan die publiek te kommunikeer en veral om hulle te herinner presies wie die septer swaai. Dieselfde geld die monumentale Egiptiese bouprojekte, Trajanus se Boog in Rome, die Parthenonse Fries en vele meer. Daar is ook talle voorbeelde van die keersy: damnatio memoriae, wat plaasvind wanneer ’n standbeeld afgebreek word, soos die beelde van die Romeinse keisers Nero en Kaligula. ’n Voorbeeld uit Antieke Egipte is die beelde van die farao Agnaten, wat deur die Egiptenare geskend is. Agnaten se voorkeur vir en eksklusiewe verering van die god Aton, in plaas van die tradisionele panteon van gode, word deur die publiek as onaanvaarbare kettery beskou. Tydens sy bewind probeer Agnaten onder meer om weg te doen met alle verwysings na die god Amon, want vir hom is daar net een en dit is Aton. Ná sy bewind word die tempels wat Agnaten vir Aton opgerig het, vernietig en die stene word gebruik om ander tempels te bou. Op standbeelde en afbeeldings van Agnaten word sy gesig geskend en sy beelde word deur die mense vernietig. Dít lees ek alles in ’n artikel van Richard H Wilkinson. As dié wat regeer word ongelukkig genoeg word, duld hulle geen beelde en monumente ter ere van die regerendes nie. 

Een ding is duidelik: Monumente het te doen met herinnering. Dit is ’n konkretisering van ’n kollektiewe geheue.
— Natasha Harmse

’n Tema wat goed ontgin word in Klein konings, is die tema van herinnering. Behalwe dat nasionale monumente duidelik met herinnering te make het, word daar ook deurlopend in die narratief gebruik gemaak van terugflitse om die lewens en agtergronde van die karakters te belig. Joubert se kinderdae met sy waterwyser-pa Pompies, sy verhouding met Rina en Danny en die dae wat hy en sy vrou Alet in Londen deurgebring het, word op ’n geslaagde manier in die hoofnarratief ingeweef. So ook Pixley se kindertyd in Eshowe, die kontras tussen sy en sy beste vriend Bongani se ervarings op grond van klas en die lot van sy broer Kagiso. Wat egter vir hierdie leser moeisaam was, is die insluiting van losstaande vinjette wat in ’n ander lettertipe aangebied word as die hoofteks. Dié wat relevant is tot die agtergrond van die spesifieke karakters in die roman, soos die terugflitse van byvoorbeeld Rina, Danny, Pompies en Memory, gee diepte aan die storie. Dit was egter nie vir my duidelik hoe die vinjette van byvoorbeeld die beeldhouer, Sjaka met die toordokters en die konflik tussen ’n groepie boere en die kakies direk bydra tot die narratief nie, veral wanneer daar vir die onthalwe van ’n twee bladsy lange vinjet tred gehou moet word met vier nuwe karakters wat nooit weer daarna ter sprake kom nie. 

Die hoogtepunte in hierdie roman is wanneer die prosa ’n liriese kwaliteit aanneem, soos wanneer Pixley se droom oor die opening van die temapark verwoord word: 

Pixley vou sy toespraak oop. Minister sit in die voorste ry. Agter die skare staan Joubert gereed om die lint na die ingang tot die standbeelde te knip. Dis die opening van die temapark. Waar is sy pa, wonder Pixley. Hy wil nie begin voordat hy hom nie sien nie. Maar Minister tik op sy horlosie, en Pixley lees die woorde af wat hy geskryf het: “Ek is deel van die leeu, die springbok, die hiëna, die muskiet en die kriek, soos hulle deel is van my. Soos ons lywe nou hier hoort, hier omsingel word deur die oseane en die winde, so sal ons verskiet soos die grassaad, so sal ons dae hier omwarrel soos die tolbos. So voorlopig is ons hier, soos die sandbank in die rivier se mond. Ons vertoef word woordeloos waargeneem deur die valleie, die vlaktes en die ewige gebergtes. Voor hulle wat nie aanspraak maak op lofgesange nie, wat afbeeldings nie kan verduur nie, kom lê ons ons helde soos wapens neer.” (48)

So ook wanneer Joubert nadink oor die standbeelde wat sommer vanself vergaan: 

Joubert se oog val op nóg ’n naamlose held op ’n podium in die son. Dié man lewer met ’n toegeknoopte baadjie ’n toespraak aan haweloses wat in die leë fontein aan die ander kant van die park saamkloek. Verwaarlosing. Dis die enigste verklaring en aanbeveling wat hul verslag kan oplewer, dink Joubert. Eerbare Minister, daar hoef niks gedoen te word aan die beelde nie. Hulle vergaan vanself, soos die res van die land se staatsbesit. (93–4)

Ek is deel van die leeu, die springbok, die hiëna, die muskiet en die kriek, soos hulle deel is van my. Soos ons lywe nou hier hoort, hier omsingel word deur die oseane en die winde, so sal ons verskiet soos die grassaad, so sal ons dae hier omwarrel soos die tolbos. So voorlopig is ons hier, soos die sandbank in die rivier se mond.
— Uit Theo Kemp se Klein konings

Nóg ’n hoogtepunt is die gesprekke tussen Joubert en Pixley oor hulle verskillende en soms teenstrydige perspektiewe op die geskiedenis en die hede. Soos Joan Hambidge op die agterblad aangehaal word: “Die roman vertel die keersy van die geskiedenis en verskeie perspektiewe op dieselfde kwessies word gegee.” Om vele verskillende perspektiewe te gee doen veel om die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en huidige situasie uit te lig, maar om daardie perspektiewe in gesprek te sit met mekaar is veel interessanter. Ek het wel verlang na ’n dieper ontwikkeling van die karakters en idees wat die kern van die storie uitmaak, in plaas van om soms oorbodige inligting oor die kantlynkarakters te lees wat nie noodwendig bydra tot die spanning van die hoofnarratieflyn nie. Plek-plek is daar clichés wat pla, soos die dubbele verwysing na Joubert se littekens wat sexy is:

Die son brand deur die wilgers op Joubert se littekens. Hy rol sy hempsmoue af en skuif in die skaduwee in. Dis nie nodig om skaam te wees nie, vryf Alet een middag ná skool oor sy lyf. Sy soen oor sy arms en bolyf, oral waar merke is. Snaaks genoeg, dit maak hom net nóg sexiër. Vra maar vir enige meisie, mans met letsels is hot. (44)

En weer op bladsy 68: “’n Man met letsels, het hy in die donker oor sy arms en bolyf gesoen, is superaantreklik.”

Teen die einde van die roman kon Joubert en Pixley net ’n paar monumente besoek voordat die projek deur Minister gestaak word. Hy het sommer klaar ’n tender toegeken aan ’n kontrakteur wat met die temapark begin. Die roman eindig op seker die mees dringende kwessie in hedendaagse Suid-Afrika, selfs dringender as die verwydering of verskuiwing van monumente, naamlik grootskaalse korrupsie, wanbesteding en tenderbedrog wat die lyding van alledaagse Suid-Afrikaners tot gevolg het. Daardie mense wat moerbeiblare moet eet omdat daar nie werk is nie, wat sit sonder krag en water omdat munisipaliteite leeg gesteel en wanfunksionerend is.

In Joubert se woorde: 

Dit is hoog tyd dat Vryheidspark op datum gebring moet word met artefakte van ná 1994. Koeëldoppies van Marikana, die argiteksplanne van Nkandla se vuurpoel, videomateriaal van die brandende parlement, uitsendings van die Zondo-kommissie, ’n oorblywende spoorlyn, ’n SAL-vliegtuigvlerk, die plundertog in KwaZulu-Natal se winkelsentrums – veral die man wat ’n dildo gebuit het. Dalk selfs iets oor Dubai waar die meeste van ons geld nou is. (55) 

As monumente dan ’n eeue-oue en diep-menslike fenomeen is, dan is die beeld van die hawelose wat aan die voet van ’n standbeeld lê, ’n bitter en veelseggende een. 

As monumente dan ’n eeue-oue en diep-menslike fenomeen is, dan is die beeld van die hawelose wat aan die voet van ’n standbeeld lê, ’n bitter en veelseggende een.
— Natasha Harmse

Eindnota 1: Dank aan Jeani Goedhart wat raad gegee het oor antieke monumente.

Eindnota 2: Ek moet van die skrywer verskil oor die volgende: “[Pixley] het vir [Memory] die beste Durban Poison gesoek. Die real shit – nie die gemanipuleerde goed wat binnemuurs gekweek word nie” (120). Joburg se binnenshuise ganja skop veel harder as die beste buitemuurse Durban Poison. (The devil went down to Durban ...) As ek verkeerd is, stuur maar, ek sal resenseer. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van In Klein konings vra Theo Kemp: 'Wie se skuld is hierdie hel?' gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand