Gedigte ter ere van Wilma Stockenström

Gedigte ter ere van Wilma Stockenström

Wilma Stockenström, vroeë 1960’s. Foto: Dotman Pretorius via The Heritage Portal

'n Tiekiedraai-resensie-essay van Nogmaals vir die bysiende leser

Daar is tans ’n opbloei in belangstelling in Wilma Stockenström – eers is ’n straat in haar geboortedorp Napier na haar vernoem ter viering van haar 90ste verjaarsdag en toe verskyn die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel Met my wysvingertop onder redaksie van Ronel Foster. Nogmaals vir die bysiende leser: Gedigte ter ere van Wilma Stockenström (2025) is die mees onlangse bydrae tot haar huldiging – hierdie keer ’n versamelbundel van verskillende digters wat gevra is om in gesprek te tree met haar werk. 

Aanvanklik wou ek ’n onderhoud met die redakteurs van die bundel, Joan Hambidge en Marlies Taljard, insluit by hierdie skrywe omdat ek altyd nuuskierig is oor die mense agter die boek. Ongelukkig vanweë geografiese en ander uitdagings was dit nie moontlik vir my om hulle in persoon te ontmoet nie – daar is net iets aan ’n intydse “elsie geselsie”, soos Dianne du Toit Albertze sê in Gayle, wat toelaat dat die gesprek in onverwagse rigtings kan beweeg en wat onvervangbaar is met ’n reeks e-posse. Nietemin wil ek die redakteurs bedank vir hulle tyd en bereidwilligheid en gelukwens met hierdie besonderse publikasie. Hierdie (bysiende) leser het twee klein foute in die teks teëgekom, maar in die geheel is dit goed versorg en keurig uitgegee deur Naledi. 

Soos reeds genoem, is digters gevra om in gesprek te tree met Wilma Stockenström se werk, ’n projek wat deur wyle Johann de Lange begin is. Ek haal uit die voorwoord deur Hambidge (9) aan:

Uit die verskillende reaksies op haar deur eietydse digters (bekroond, bekend en bemind) is die invloed van Stockenström steeds merkbaar. Die ekologiese tematiek, die lewe in Afrika, die liefde vir katte, die bysiende leser, die wantroue in woorde én uiteraard die aanspreek van die dood, word deur die verskillende en uiteenlopende digters in hierdie bundel aangespreek.

Die twee oorkoepelende temas waarop ek spesifiek wil fokus in hierdie resensie-essay is daarom die aard van gesprekke, in hierdie geval tussen digters maar in die breë gesien ook tussen mensdiere en ander wesens. Aansluitend daarby is die sterk ekologiese inslag van sowel Stockenström se werk as die uitvloeiing daarvan in hierdie bundel. Ek maak gebruik van David Abram se The spell of the sensuous (1997) as ’n teoretiese begeleier in hierdie verband. 

Oor die mens, daardie 'behaarde buis van glorie en smet'

In die eerste twee strofes van Daniel Hugo se ‘Reinheitsgebot’ (30) word die eeuelange vraag na die bevoorregte posisie van die mens aangeraak:

Ons diskrimineer tussen dier en ondier
tussen kruid en onkruid. Waarom dan?
Alles kom tog uit dieselfde aarde voort.

Die enigste wat dié onderskeid tref
is die mens – die smetvresende vlees
wat sy eie wette verhef tot Woord (reëls 1–6) 

Die Europese filosofie is uit die staanspoor gemoeid met die vraag na die besondere karakter van die mens. Dit was nie genoeg om aan te toon dat mense uniek is nie, want elke soort wese is op sy eie manier uniek; dit was van veel groter belang om aan te toon dat die menslike vorm op ’n unieke manier uniek is, dat ons edele menslike gawes ons definitief onderskei van en bo die res van die lewende wêreld plaas. Vermoedelik was dergelike bewyse nodig om die toenemende manipulasie en eksploitasie van die nie-menslike natuur deur en vir die mensdom te regverdig. In die tweede helfte van die negentiende eeu sorg die publikasie van Darwin se Origin of species en The descent of man egter vir groot spanning in die antroposentriese ontwikkeling van die Europese filosofie en wetenskap. As mense dan diere is wat net soos ander diere geëvoleer het, as ons werklik deur middel van natuurlike seleksie afstam van primate, as visse inderdaad ons verre voorouers is en muise ons niggies en neefs, dan moet ons eie eienskappe en vermoëns tot ’n sekere mate aansluit by die res van die lewende wesens (Abram, 1997:54). 

Dit was nie genoeg om aan te toon dat mense uniek is nie, want elke soort wese is op sy eie manier uniek; dit was van veel groter belang om aan te toon dat die menslike vorm op ’n unieke manier uniek is, dat ons edele menslike gawes ons definitief onderskei van en bo die res van die lewende wêreld plaas.
— Natasha Harmse

Hierby sluit Johan Myburg se ‘’n Glans van menslikheid’ (42) aan – nog verder as die verband tussen die mens en ander diere, gaan dit hier oor die verhouding tussen die mens en die aarde. Myburg speel met die verband tussen die woord humus – die voedingstofryke bolaag van grond en die Latynse woord vir aarde – en human (of humaan). Ek haal die gedig in sy geheel aan:

Benewens lewe, wat ek om die dood
nie uit kan pluis nie en gewoon my net
daaraan verwonder, bly ek pal bewus
dat ek ’n sak met oerstof is – ’n deel
is humus wat my straks humaan mag maak,
’n groter skeut, ver meer as half, is vog
waarmee van meet af aan ek grond bemes –
van vroegste ekskrement as kind tot sweet
wat tap: konkoksie koolstofdioksied,
ammoniak en ureum, sout en vet
uit oksels wat die huid laat glim, ’n glans
van menslikheid. Die waterige lyf
sal eindelik finaal ten gronde gaan,
’n spoor nalaat, weer heerlik humus word.

Oor die taal van water

’n Soortgelyke spel met taal word gevoer in Louis Esterhuizen se ‘Waterwyser’ (25), waar dit gelyk gaan oor iemand met die vermoë om ondergrondse water aan te wys en om te beskik oor die kennis van water – om waterwys te wees.

Met ’n mikstok in haar hand daag
die Overbergse waterwyser intyds
op in die verafgeleë dolerietgroef
van ’n langdurige waternood. 

[...] 

en plotseling sidder die wiggel

in haar greep, beduie trefseker
deur die vergetelheid
na ’n glansende waterkuil
in diepte neergepen,

want in droogste van dele
is sy met stok en
stroom in haar hand
gewis
waterwys (reëls 1–4; 8–17) 

Solank die water praat, sal die waterwyser luister en daardeur word sy waterwys. Thomas Merton se reënluisteraar sal verstaan: 

The rain surrounded the cabin… with a whole world of meaning, of secrecy, of rumor. Think of it: all that speech pouring down, selling nothing, judging nobody, drenching the thick mulch of dead leaves, soaking the trees, filling the gullies and crannies of the wood with water, washing out the places where men have stripped the hillside… Nobody started it, nobody is going to stop it. It will talk as long as it wants, the rain. As long as it talks I am going to listen. (Thomas Merton in Abram, 1997:52)

Aansluitend hierby is die een wat ’n rivier ken – deur te luister, te ruik en te kyk – in Marlene van Niekerk se gedig ‘Ten minste’ (51):

Ten minste kan ek sê, ek het ’n rivier geken
en geweet hy is sonder einde, vele mense
weet niks van riviere nie, en stel ook nie belang in hoe
hulle ruik nie, sal selfs op tien meter afstand
in die donker nie kan hoor hulle is nou by ’n rivier nie
haal liewer hul poësie reël vir reël uit die koerante
as hulle probeer dig, want hul beleef nooit
’n moment van uiterste onsegbaarheid langs
’n rivier nie, herken die palingbewoonde amber
in die oog van ’n waterbok nie as die kleur
van die rivier nie, nog die blou naaldekokers
as sierade van die rivier, vrees nie haar kuile
of palmiet nie, vermoed nooit ’n droogte
of vloed alvorens hul daardeur oorval word nie,
is barbare sonder oewers, sonder stroombed,
sonder kennis van enige opvang of varing
of keurtjieboom wiegend in die sog, het nog nooit
hul jare getel in die ringe van ystervarkriet nie,
is moederloos onbeswem deur geelvis,
blyk oorgevoelig vir einders, ontbeer elke vorm
van wederkeer, vergifnis, goedertierenheid
of ander soorte waterblom wit en geel
in die uiterwaard.

Ten minste kan ek sê, ek het ’n rivier geken / en geweet hy is sonder einde, vele mense / weet niks van riviere nie, en stel ook nie belang in hoe / hulle ruik nie, sal selfs op tien meter afstand / in die donker nie kan hoor hulle is nou by ’n rivier nie [...]
— Uit Marlene van Niekerk se gedig, ‘Ten minste’

Abram is dit eens met Merleau-Ponty dat menslike taal diep gewortel is in ons sintuiglike ervaring van mekaar en van die wêreld rondom ons. Betekenis is noodwendig affektief en spruit uit die natuurlike vermoë van die liggaam om te resoneer met ander liggame (insluitend riviere) en met die landskap as geheel. Betekenis ontkiem in die dieptes van die sintuiglike wêreld, in die hitte van ontmoeting en deelname (Abram, 1997:52–3). 

Oor uile en ander voëls

Abram bring verder die filosofie van Merleau-Ponty in verband met inheemse kulture waarin die interverbondenheid van taal en die landskap sentraal staan (Abram, 1997:59). Hy gee byvoorbeeld die volgende aanhaling (’n gedig, myns insiens) van Nalungiaq, ’n Inuïet-vrou wat in die begin van die twintigste eeu deur die etnoloog Knud Rasmussen ondervra is: 

In die allereerste tyd
leef mense en diere saam op aarde,
en kon ’n mens ’n dier word as hy wil,
en kon ’n dier ’n mens word.
Soms was hulle mense,
en soms diere,
en daar was geen verskil.
Almal praat dieselfde taal. (Abram, 1997:59; eie vertaling).

Daar is nog spore van hierdie gemeenskaplike oertaal. Vele stamme, soos die Swampy Cree van Manitoba, glo dat taal deur die diere vir hulle gegee is as ’n geskenk (Abram, 1997:59). Hulle verhouding met uile lyk dus soos volg:

Owls often make it difficult to speak Cree with them. They can cause stuttering, and when stuttering is going on they are attracted to it. It is said that stuttering is laughable to owls. Yet this can work to the Cree’s advantage as well, for if you think an owl is causing trouble in your village, then go stutter in the woods. There’s a good chance an owl will arrive. Then you can confront this owl, question it, argue with it, perhaps solve the problem. (Howard Norman in Abram, 1997:60) 

Dit is die hoofouderling wat met uile te doen kry as die bewoners van “god se hoenderhok” in Fourie Botha se ‘Stellasie’ (18–9):

The owls will move on – Elizabeth Bishop

Ja, die uile
sal pad vat
skipskop
een oggend
met ’n skip-
an’-a-jump
nes hoof-
ouderling
die deur
na die toring
oopspalk
[...]
[die uile sal]
god se hoenderhok
vir goed nalaat (reëls 1–11; 29–30)

In Tom Dreyer se ‘ek sit in napier en kyk na ’n mossie’ (24) word Thomas Nagel se bekende vraag herformuleer na: What is it like to be a mossie?

’n mossie se kop is klein maar vol
die terugskiet van ’n tak
die kort flits van ’n saad
die hop en pik
die snawelskraap
die tjirp-tjirp uit ’n bek vol vonke

ander dink aan vergetelheid
en glansverskuiwing; sy dink bly beweging
skerp-omlyn, en ratser as ’n vlerk se klap
wat saak maak is saad (reëls 1–10)

Dreyer, wat direk met Stockenström in gesprek tree (soos ander digters in die bundel ook doen, deur middel van aanhaling en toespeling en toe-eiening) in die reëls: “ander dink aan vergetelheid / en glansverskuiwing”, herinner aan die tjirp en kontra-tjirp van voëlsang. Soos in die voorwoord genoem: “Elke gedig verklap ’n skerfie van Wilma Stockenström, maar ook iets van die digter wat met haar in gesprek tree. Woord en wederwoord” (11). 

As jy byvoorbeeld twee vriende teëkom wat mekaar na vele maande onverwags weer ontmoet, en jy hoor toevallig hulle eerste woorde van verbasing, begroeting en vreugde, dan kan jy, as jy goed luister, ’n tonale, melodieuse laag van kommunikasie onder die eksplisiete betekenis van die woorde opmerk – ’n golwende styging en daling van die stemme in ’n soort musikale duet, asof dit twee voëls is wat vir mekaar sing. Elke stem, elke deel van die duet, boots ’n stukkie van die melodie van die ander na, terwyl hy sy eie intonasie en styl toevoeg, en word vervolgens weer deur die ander herhaal – die twee singende stemme stem hulle so op mekaar af, herontdek ’n gemeenskaplike register en daardeur onthou hulle mekaar (Abram, 1997:56). 

Die kunswerk op die voorblad van Nogmaals vir die bysiende leser: Gedigte ter ere van Wilma Stockenström (2025). Dit is Christiaan Diedericks se laaste omslagontwerp voor hy in Julie 2025 oorlede is.

Oor gesprekke en boodskappers

’n Gedig wat antwoord op seker een van Stockenström se gewildste gedigte, is Johann Lodewyk Marais se ‘Eland’ (40). Die slotstrofe lui soos volg:

’n Jagter in kakie met konsulêre pet
jaag ’n rekordprys, beduie wild
en boots ’n eland se geroggel na (reëls 16–8)

Soos Abram en ander aanvoer, kan mensetaal nooit definitief geskei word van die duidelike ekspressiwiteit van voëlsang of die suggestiewe getjank van ’n wildehond in die nag nie. Die koor van paddas wat kwaak aan ’n oewer, die gegrom van ’n wildekat wat haar prooi bespring, of die verre geblaas van ganse wat trek vir die winter weerklink almal met affektiewe, gebarende betekenis, dieselfde betekenis wat te vinde is in ons eie gesprekke. Ons eie spraak plaas ons dus nie buite die lewende landskap nie, maar of ons bewus is daarvan of nie, bed dit ons volledig in die babbelende, fluisterende, klinkende (en roggelende) dieptes van ons mede-wesens in (Abram, 1997:55). 

Hierdie idee resoneer ook met HJ Pieterse se ‘Nagboodskap’ (45):

Met erkenning aan “Snake” van D.H. Lawrence

Vlieënde skarabee het by my aandblomme kom drink.
Terwyl ons tussen skadu’s en geure op die stoep sit,
praat oor die dag en glase klink,
het die wesentjie uit die skemer aangefladder gekom. 

[...]

Wat is jy, mens, het ek gedink,
jy wat meen omdat jy kiertsregop kan staan
jy groter is as ander wesens, koning Dis,
wat in die donkerte in jou tuin kom drink?

[...]

Wat wou jy kom vertel, klein boodskapper,
nuus van my ma en vrou uit donker Anderland?
Ek het nie narsings gehad om jou aan te bied nie,
net my aandblom, lig wuiwend, oop soos ’n hand (strofes 1, 5 en 8)

Die samehang van uiteenlopendes

Die laaste tema in hierdie David Abram-begeleide lees van Nogmaals vir die bysiende leser is interverbondenheid. Abram stel dit soos volg: Ons moet uiteindelik besef dat nóg die grond, nóg die oseaan, nóg die atmosfeer begryplik is sonder die bydraes van ontelbare organismes, van die korsmosse wat die rotse afbreek en die bakterie wat die afval van organismes aftakel, tot alle asemende plante en diere wat gasse uitwissel met die lug. Die aarde is ’n digverbonde organiese netwerk – ’n biosferiese web waarin elke organisme sy spesifieke karakter ontleen aan sy direkte en indirekte relasies met ander (Abram, 1997:58). 

Ons is niks meer as sprekende diere tussen talle ander sprekendes nie. 

Ons moet uiteindelik besef dat nóg die grond, nóg die oseaan, nóg die atmosfeer begryplik is sonder die bydraes van ontelbare organismes, van die korsmosse wat die rotse afbreek en die bakterie wat die afval van organismes aftakel, tot alle asemende plante en diere wat gasse uitwissel met die lug.
— Natasha Harmse na David Abram

Die voorlaaste strofe in fanie olivier se gedig (44) is myns insiens ’n gepaste slotstuk:

hiermee, hierdeur, gespin, genaai in afrikaans, hou
jy ons vas, stukkie vir stukkie, veselrig, bymekaar
solank dit die klippe behaag dat die elande
vaalrooi op hulle kan speel en tiekiedraai

Soos die elande in hierdie gedig, sal digters in Afrikaans ook (solank dit Wilma Stockenström behaag) nog vir ’n lang tyd speel en tiekiedraai met haar verse. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gedigte ter ere van Wilma Stockenström gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand