Wilma Stockenström en Alain Mabanckou se kremetart
Illustrasie: Careshia Steenkamp

Illustrasie: Careshia Steenkamp

'n Ekokrities-vergelykende interpretasie van Die kremetartekspedisie en Mémoires de porc-épic

so ja, dis hoekom ek van vanoggend af maar hier by jou voete sit, my liewe Kremetart, ek praat met jou, en ek sal aanhou met jou praat al weet ek jy sal my nie terug antwoord nie, maar tog wil dit voorkom of woorde my van die doodsvrees verlos, en as woorde my dan kan help om die dood uit te stel, om die dood te ontsnap, dan sal ek die gelukkigste ystervark ter wêreld wees (Mabanckou, 2006: 39 — eie vertaling).

Bogenoemde (vertaalde) uittreksel verskyn in Alain Mabanckou se roman Mémoires de porc-épic (Gedenkskrifte van ’n ystervark) wat in 2006 by die Franse uitgewersmaatskappy Pointes verskyn het. Dit volg die verhaal van ’n ystervark wat ná die afsterwe van sy heerssugtige mens-alter ego, beskutting loop vind by ’n reusagtige kremetartboom. Die ystervark lewer as’t ware monologies verslag aan die kremetartboom wat wedersyds as swyende toehoorder, sy lewensgang aanhoor. Die teks word ingespan om die indruk van ’n nimmereindigende gedagtegang te skep deurdat geen leestekens, buiten die komma, regdeur die roman te voorskyn kom. 

Die Kremetartekspedisie

Die verhaal en aard van die vertelling in Mémoires de porc-épic loop parallel met dié van Wilma Stockenström se roman Die kremetartekspedisie (1981, Human & Rousseau). Nes die ystervark, word ’n slavin aan die natuur uitgelewer ná die afsterwe van haar eienaar tydens ’n mislukte reistog deur die Afrika-bosveld, waarna sy eventueel ’n kremetartboom teëkom en haarself daar tuismaak tot haar eie afsterwe. Nes die ystervark, tree die slavin in gesprek met die kremetart en gebruik sy die boom as middel om haar eie gedagtes uit te pluis.

Dit is dus duidelik dat die kremetartboom in beide verhale as ’n sentrale figuur optree insoverre dit as hoofdryfkrag van die karakterontwikkeling by sowel die slavin as die ystervark dien. Waar beide karakters aanvanklik in verlatenheid en angstigheid gedompel word, ervaar hulle vir die eerste keer egte ongebondenheid, onbeperkte selfseggenskap en persoonlike bemagtiging wanneer hulle toevlug in ’n kremetartboom vind en hulle hul lewensverhaal ten volle kan ontleed.

Maar, vandaar die vraag: waarom die kremetartboom? Die ooreenkomste in die beeldspraak aangaande die uitbeelding van die kremetartboom in beide verhale, wys hoe die boom as figuurlike middelpunt ingespan word ten einde kommentaar te lewer op die mens se verhouding met die natuur.

die kremetartboom as figuurlike middelpunt

Ten einde die simboliek rondom die kremetartboom in beide romans te ontleed, is dit nodig om die ooreenkomstige wêrelde van die ystervark en van die slavin uiteen te sit. 

Sowel die slavin as die ystervark is onwillekeurig verbind aan ’n menslike gesagsfiguur. Die slavin is as jong kind uit haar gemeenskap verwyder en aan verskeie eienaars verkoop aan wie se arbitrêre opdragte sy onderworpe was. Insgelyks is die ystervark ook aan ’n mens (Kibandi) onderhorig gemaak nadat laasgenoemde sy siel doebleer het tydens ’n tradisionele inlywingseremonie, waartydens die ystervark sy dier-alter ego geword het. Dit behels dat die ystervark as double nuisible (bose alter ego) gedwing word om allerlei wraaksugtige opdragte vir en namens Kibandi uit te voer. In beide verhale bestaan daar dus ’n meester-dienskneg-verhouding wat as kontekstuele agtergrond dien om die karakterontwikkeling te fundeer. 

Sowel die slavin as die ystervark beleef ook ’n geweldige eksistensiële inspanning wanneer hierdie magsverhoudings skielik beëindig word met die afsterwe van hulle onderskeie meesters. Waar hulle voorheen gewoond was aan blindelingse volgsaamheid, bevind hulle hul vir die eerste keer sonder ’n magstruktuur en is hulle uitgelewer aan hul eie keuses. Hulle angsgevoel word verder aangevuur deur die bewuswording van hul eie kwesbaarheid teenoor die onbekende natuurmagte.

Dit is egter juis laasgenoemde se onvoorspelbaarheid teenoor die kremetartboom se onwrikbare standvastigheid wat die fondasie neerlê vir beide die slavin en die ystervark se ingenome agting vir die boom. Hierdie metafisiese oorgang van veranderlikheid na onveranderbaarheid verteenwoordig ’n belangrike draaipunt in die karakterontwikkeling van beide die slavin en die ystervark. 

Mémoires de porc-épic

Die uitbeelding van die kremetartboom — 'n paar uittreksels

Die aspek wat die meeste ooreenstemming tussen die twee romans geniet, is die tekstuele uitbeelding van en die simboliek rondom die kremetartboom:

daar is net een ding waaroor ek spyt is en dis dat ek nie jou stem kan hoor nie, my liewe Kremetart, miskien as jy soos ek kon praat, sou ek minder alleen voel, maar al wat eintlik tel is jou teenwoordigheid, dit maak my minder angstig, en as ek gevaar van hier af sien aankom dan hoef ek net in een van jou holtes in te sluip, jy sal my nooit aan die kloue van die dood uitlewer nie (Mabanckou, 2006: 214—215 — eie vertaling).

Want bedeel uitsluitlik met herinneringe het ek hier aangeland, ’n verhongerde, verflenterde wese, sukkelend deur vlaktes en valleie, koorsig van ontbering, voortstrompelend na ’n steeds ontwykende horison, steeds dagreise ver, steeds dieselfde, om ingesluk te raak deur ’n boom, genadige herberg, genadige koel beskutting wat rofweg aan bouwerk laat dink met wande en tuitvormig oplopende plafon en grond vir ’n vloer, ’n reuse-hut bekroon met takke en blare (Stockenström, 1981/2015: 17).

Die taalgebruik in bogemelde aanhalings dui op die vertroue wat beide die ystervark en die slavin in die kremetartboom stel. Hierdie vertrouenswaardigheid word aan die boom se beskermingsvermoë toegeskryf. Die slavin sowel as die ystervark voel hulle veilig en beskermd juis vanweë die kremetart se natuurlike argitektuur. Die boom se imposante grootte met sy breë stam, ingewikkelde vertakkings en ruim holtes slaag daarin om hulle indringende behoefte aan beskutting en sekuriteit te bevredig, wat terselfdertyd hul bestaansangs verminder. 

Die boom se imposante grootte met sy breë stam, ingewikkelde vertakkings en ruim holtes slaag daarin om hul indringende behoefte aan beskutting en sekuriteit te bevredig, wat terselfdertyd hul bestaansangs verminder. 
— André van der Hoven

ek wil eintlik die vrugte pluk van jou oerervaring, alleen die vervlegte kreukels om jou stam getuig van jou omgang met die seisoene, selfs jou wortels strek wyd en diep tot in die aarde se maag, en af en toe, verroer jy jou takke om die wind ’n rigting op te lê, om die natuur te herinner dat slegs die stilte ook so lank mag leef, en ek, in my hoedanigheid as ystervark, ek is hier om te gesels, om my morsdood te skrik as ’n blaartjie van jou kruin ontsnap... Ek gaan dit nie eers waag om van jou voete weg te beweeg nie, nee, dít kan jy maar glo (Mabanckou, 2006: 43—44 — eie vertaling).

Die ystervark besin verby die boom se funksionele waarde deur die klem eerder op sy natuurlike geaardheid te plaas. Meer as net ’n bastion van veiligheid, spreek sy indrukwekkende grootte ook uit sigself van die boom se wel gevestigde setel in die natuur. Die kremetart gebied uiteraard ’n bepaalde mate van buigsaamheid by die ander natuurelemente juis omdat hy self so onwrikbaar is. Die ystervark beskou hierdie bestendigheid as onlosmaaklik van die kremetart se insig en ingenome wysheid.

ek kyk op na die lug en dink aan hoe gelukkig jy is om hier te woon waar alles so groen soos die hemel is, jy sit bo-op ’n heuwel en heers oor die hele landskap, die naasliggende bome buig voor jou neer terwyl jy die gees van die lug bepaal met eeueoue onverskilligheid, die ander plantspesies lyk eerder na tuindwergies hier langs jou, jy regeer oor die hele planteryk (Mabanckou, 2006: 148 — eie vertaling)

Dit is betekenisvol dat die ystervark herhaaldelik melding maak van sy verwondering vir die kremetartboom se geaardheid en kennis. Die rojale taalgebruik wat aangewend word ten opsigte van die boom se interaksie met sy omgewing, verstewig die idee van die oppergesag van die kremetart in die natuur. Die ystervark leer gevolglik die hiërargiese orde van die natuurwêreld ken, asook hoe hy daar behoort in te pas — apart van die kremetart. Hoewel hy respek teenoor die kremetart betoon, probeer hy nié die boom usurpeer nie. Hy is versigtig om die kremetart vir homself toe te eien, omdat hy weet dat hy in wese van die boom verskil en self ’n individuele dog interafhanklike funksie verrig. Dit word bevestig deur die ystervark se volgehoue terugverwysing na homself in sy hoedanigheid as sulks — “au nom d’un porc-épic” — waardeur die ystervark poog om homself as geëmansipeerde wese binne die konteks van die natuur te handhaaf. 

Belangrik is die onderskeid wat die ystervark tref tussen mens en dier: “die mense van Séképembé kom nooit hier nie, selfs al roei hulle elke bossie hier uit, sal hulle dit nooit waag om aan jou te raak nie, dis omdat hulle die kremetartboom eerbiedig” (Mabanckou, 2006: 148 — eie beklemtoning). Laasgenoemde aanhaling spreek direk tot die slavin se melding van die kremetartboom: “Ek aanbid jou. Dit wil sê, die streepmuis en ek bewoon jou, maar net ek aanbid jou, dink ek, net ek” (Stockenström, 1981/2015: 30).  

Dit is betekenisvol dat die aard van die mens se verhouding met die kremetartboom in beide romans aan verering toegeskryf word. Die werkwoorde “aanbid” en “eerbiedig” impliseer ’n mate van onderdanigheid by die mens teenoor die kremetart wat afwesig is by die ystervark (dier). Die slavin verkeer onder die indruk dat die streepmuis (dier) se verhouding met die boom uitsluitlik eensydig van aard is, bedoelende dat die boom presteer teenoor die streepmuis deur aan hom skuiling te bied. Daarteenoor ervaar die slavin (mens) die behoefte om aan die kremetartboom (natuur) eer te betoon, en sodoende ’n wederkerige verhouding te bewerkstellig. Sy wil die kremetartboom bedank vir die skuiling en gevolglike persoonlike bemagtiging wat sy uit hulle verhouding put: 

Maar oppermagtig nou staan ek en uitkyk oor die veld en elke slag dat ek na buite tree, behoort die wêreld aan my. Elke slag dat ek uit die boom se hoedende binnekant na buite tree, is ek opnuut mens en magtig en kyk ek ver uit oor die landskap met al sy tierlantyntjies van plantegroei en wildstroppe en die pers vlekke van rante wat dit op die einde probeer omkraal. Elke keer herbore uit die buik van die kremetart staan ek vol van myself. Die son definieer my skaduwee. Die wind klee my. Ek wys na die lug en sê: lug laat my lewe. En wanneer die ruigtesanger roep, roep hy namens my. Ek is al wat is, roep hy (Stockenström, 1981/2015: 14).

Vanweë die slavin se geskiedenis as onderdanige, is hierdie euforiese gevoel van emansipasie ongekend en versoek sy dat die geldigheid van haar wese bevestig word deur ander natuurelemente: soos die son wat haar skaduwee definieer en die wind wat haar beklee. Viljoen (in Meyer, 2013: 324) gaan selfs so ver as om hierdie proses toe te skryf aan ’n kolonisering van die natuurruimte waarin die slavin haarself bevind. Hierdie kolonisering kan egter as ’n uitloopsel van die slavin se oormatige adorasie en vereenselwiging met die kremetart beskou word. Soos die kremetartboom, begeer sy om oor dieselfde onwrikbaarheid te beskik sodat die ander natuurelemente ook voor haar kan buig. Sy wil dus die boom vir haarself toeëien, of eerder met die boom verenig word: 

As ek kon skryf, sou ek ’n ystervarkpen vat en jou geweldige boepens van bo tot onder vol bekrap. Tot onder jou takke sou ek opklouter en kepies in jou oksels kerf om jou te laat lag...

So versier ek jou strepie vir strepie met ons hersenskimme sodat jy die belaglikheid kan verwerk, vergroei, glad maak, die nuttelose inligting dikvellig kan bewaar tot die dag van jou selfontbranding. En voldaan sit ek die ystervarkpen neer en staan ’n ent agtertoe om my handewerk arms in die sye te betrag. Jy is vol van my letsels, kremetart. Ek het nie geweet ek het so baie nie (Stockenström: 29—30)

Hierdie metafisiese poging om mens en natuur te verenig, dui op die slavin se desperaatheid om ’n outonome dog interafhanklike funksie te verrig, soos die kremetart wat ’n prominente amp in die ekosisteem beklee. Die boom verteenwoordig ’n stelsel waar elke lid ’n spesifieke doel het. Die manier waarop hierdie stelsel egter betree word, is waar die verskil tussen slavin (mens) en ystervark (dier) ter sprake kom.

Die ystervark, deur die kremetart te respekteer, sy immensiteit te waardeer maar nie te idealiseer nie, is in staat om die boom se funksionele waarde te identifiseer en daarvolgens sy eie funksie in die ekosisteem te bepaal. Die slavin daarteenoor kyk vas in die romantiese beeld van die kremetart en dit wat die boom (natuur) aan haar verskaf het gedurende die tyd dat sy in die kremetart gewoon het. Met die besef van die waarde wat die kremetartboom tot haar lewe gevoeg het, oorkompenseer sy deur die boom te verheerlik, selfs te verafgod. 

'n Gevolgtrekking oor die plek van die mens

Die aard van die ystervark, asook die slavin se verhouding met die kremetartboom, dien as ekokritiese kommentaar op die mens se verhouding met die natuur. In vandag se samelewing is daar ’n nuutgevonde aktivistiese instelling om die natuur te alle koste te beskerm, en dit geniet relatief wye, tog ongenoegsame steun. 

Die vraag is: tot watter mate skep hierdie nuwe Thunbergse eko-aktivisme ter redding van Moeder Natuur ’n (oor)geromantiseerde idee van die natuur by die mens? Met ander woorde, is dit nodig dat ons eers die natuur moet loof vir dit wat sy aan ons verskaf? Is dit selfs nodig om na die natuur te verwys as vroulik, ten einde die dringendheid van die beskerming daarvan te benadruk? 

Die vraag is: tot watter mate skep hierdie nuwe Thunbergse eko-aktivisme ter redding van Moeder Natuur ’n (oor)geromantiseerde idee van die natuur by die mens?
— André van der Hoven

Ons as mense kan liewer soos die ystervark ons eie funksie in die ekosisteem vind, as dier. In plaas daarvan dat die natuur beskou word as ’n afsonderlike opperwese wat tot vervelens toe bewonder moet word, kan ons, ons eerder daarop toespits om saam met die natuur te ontwikkel deur ons integrale rol as diere in die ekosisteem te begryp en te vertolk. Dít is ál wat die natuur van ons nodig het.

al hierdie gepraat oor jou het my nou laat afdwaal van my eie belydenis, dis seker maar my mensdeel wat homself nou hier uitdruk, ek het eintlik by die mens die kuns van afdwaling geleer, hulle kom nooit by die punt nie, maak net oral hakies oop wat hulle lateraan vergeet om te sluit (Mabanckou, 2006: 148 — eie vertaling).


Oor die skrywers:

Alain Mabanckou is ’n Franse skrywer gebore op 24 Februarie 1966 in die Republiek van die Kongo. Op 22-jarige ouderdom verhuis hy na Parys, Frankryk, om in die regte te studeer, maar hy spits hom egter toe op die letterkunde. Hy word gesien as een van die mees prominente Afrika-stemme in die Franse letterkunde-wêreld met sy oeuvre wat reeds in byna 20 tale vertaal is. In 2006 word sy roman Mémoires de porc-épic gepubliseer en dit behaal die gesogte Renaudot-prys vir letterkunde. Hy woon sedert 2007 in Los Angeles waar hy as voltydse dosent in die Departement Frans en Frankofoniestudies by UCLA werk.

Wilma Stockenström is ’n Suid-Afrikaanse skrywer gebore op 7 Augustus 1933. Sy studeer drama aan die Universiteit Stellenbosch en verhuis in 1954 na Pretoria waar sy aanvanklik as vertaler werk en later as aktrise. Die Engelse vertaling van Die kremetartekspedisie deur JM Coetzee sorg dat haar oeuvre aan ’n internasionale gehoor bekend gestel word, waarna vertalings in Frans en Hebreeus onder andere verskyn. Sy verwerf tweemaal die Hertzogprys onderskeidelik in 1977 vir poësie (Van vergetelheid en van glans) en in 1992 vir prosa (Abjater wat so lag).


André van der Hoven werk tans as ’n kandidaatprokureur in Pretoria. Hy voltooi in 2019 sy honneursgraad in Frans aan die Universiteit Stellenbosch, waarna hy skoolgehou het in Lyon, Frankryk.

Careshia Steenkamp is ’n illustreerder, kunstenaar en grafiese ontwerper van die Kaap. Haar werk is beskikbaar by Crayative.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wilma Stockenström en Alain Mabanckou se kremetart gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand