Scum Boy en die uitput van #gonswoorde soos Gender, Identiteit en GenZ
Meer speel, minder boksies in 'n rassistiese klimaatskrisis
Anything I want to make I can make in this world, and I design the whole world for myself. Whatever the human body can’t do in real life, I can 100% achieve in this world.
Die aanhaling hierbo is uit die dokumentêre film Scum Boy deur Allison Swank. Dié dokkie is verlede jaar by die IMDb Independent Shorts Awards in Los Angeles met die Best Short Documentary-toekenning bekroon. Oliver Hunter, oftewel Scum Boy, speel met CGI-animasie en post dit op Instagram en hy het sodoende die aandag van die kunswêreld en internasionale internetgemeenskap getrek. Die kortfilm gee ’n intieme blik op Hunter se alledaagse lewe en kreatiewe prosesse. In beide Suid-Afrika en oorsee is daar tans heelwat meer aandag gevestig op digitale kunsskepping; dis opwindend om dit vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief te sien.
Met die groot mediablootstelling rondom die Scum Boy dokkie is daar nou baie meer geleentheid (en dalk druk) op hom om oor sy werk te praat. Dikwels voel kunstenaars dat hulle werk selfverduidelikend is en dat om daaroor te moet redeneer, onnodig is. Vir ’n kunstenaar is dit dikwels ’n uitmergelende en pynlike proses om beelde in woorde te omskep. Tog moet elke kunstenaar op een of ander punt woorde vind. Daar is ook nou geleentheid vir ’n wye verskeidenheid mense om sy werk te ontleed of dieper daarna te kyk. Die berigte oor sy werk fokus op konsepte soos GenZ en queerness. Hulle lig uit hoedat sy werk handel oor sy ervaring as ’n transgender man, wat dit beteken om queer te wees in die Joodse tradisie en hoekom op aarde hy so baie handelsname in sy werk gebruik.
Ek dink dat wanneer ons redeneer en skryf oor Scum Boy se werk moet ons let op ons woordeskat. Taal het die moontlikheid om met konsepte en kuns te speel. Dit laat die kyker toe om dit van verskillende kante te beskou, wat nuwe horisonne van verkenning bied. Maar taal kan terselfdertyd ’n baie onnodige boksie wees. Veral in die kunswêreld is dit maklik om in ’n ritme te verval met die gebruik van gonswoorde. Dit kan die beskouing van #onderwerpe soos Gender, Identiteit en GenZ uitput. Woorde wat in oorvloed gebruik word, kan in baie opsigte hulle betekenis verloor al het hulle ’n spesifieke geskiedenis. Wat gebeur dan as ons sy werk vasheg aan sulke woorde? Dis belangrik dat diegene van ons wat sy werk krities aanskou, verantwoordelikheid moet neem vir die definisies, beskrywings en perspektiewe waarmee ons skryf. Soos wat Scum Boy self nog woorde vind om sy werk te beskryf, moet ons seker maak dat daar ruimte en moontlikhede is vir verdere interpretasie. ’n Goeie voorbeeld van hoe mens nié in hierdie lokval val nie is in die Bubblegum Club-artikel deur Lindiwe Mngxitama. In die artikel word die #woordeskat gebruik, maar in die konteks van ander beskrywings:
The artist, the lover, the trans man, the joker, the flirt, the battle-scarred (and tattooed), the sweetheart; Scum Boy isn’t interested in being anyone’s hero nor does he fancy himself an activist of any sort but rather, he is honest about how he is also still grappling with figuring this shit out for himself daily, one Simpson’s quote or reference at a time.
Die kortfilm is nóg ’n voorbeeld van hoe ons dieper kan kyk. Dit vloei moeiteloos tussen sy persoonlike lewe en sy werk. Ons leer oor hoe hy in sy werk nie net fokus op sy eie wêreld en identiteit nie, maar ook op die mense rondom hom. In die dokumentêr praat hy oor hoe hy soms spontane sêgoed van sy vriende neem en deel van sy werk maak. Bloot net omdat dit kaksnaaks is. Ons verstaan beter hoe sy werk ’n collage van werklikheid, fantasie en identiteit is.
Dis hierdie verhouding tussen werklikheid en fantasie wat my laat dink aan elemente van wetenskapfiksie. Nie dat sy werk noodwendig wetenskapfiksie is nie, maar dat dit op ’n soortgelyke wyse ruimte skep om die realiteit uitmekaar te ruk en te herbou; waar verbeelding ruimte maak om die brutale realiteit aan te vat. Jenna Wortham sluit hierby aan in die podsending Still Processing:
a place where we get to work on these moral, philosophical, really important questions about society and humanity, because it allows us space to dream and imagine and rebuild worlds within which to work out the solutions to the problems that we see in the real world...
In wetenskapfiksie (wel, goeie wetenskapfiksie) word daar nie weggehardloop van moeilike onderwerpe soos white privilege, rassisme en gender-based violence nie. Scum Boy se werk ook nie. In die dokkie praat hy prontuit oor ’n groot probleem wat ons in die gesig staar: klimaatverandering; maar nie in die manier wat ons sou dink nie. Hy glo dat baie mense wat oor die omgewing omgee, eintlik nie oor ander mense omgee nie. ’n Sentiment wat my laat dink aan die term climate colonialism – wat basies daaroor gaan dat die opgemorsde wêreld direk van ons koloniale geskiedenis af kom. Die oplossing vir die klimaatkrisis gaan hiervolgens hand aan hand met die veg teen rassisme, gender-based violence, queerphobia, ensovoorts. Dit is iets wat die GenZ-generasie baie goed verstaan en oor uitgesproke is.
Scum Boy vind ’n manier om hierdie realiteit te meng met droomagtige, wellustige, 3D-beelde. Die element van fantasie omhels plesier ten spyte van die ondraaglike realiteit; daar is plek vir speel en seks en liefde en soveel meer. Dit is egter nie ’n idealistiese plesier nie, maar eerder ’n dieper ervaring wat die verskillende vlakke van pyn, realiteit en fantasie inkorporeer. Daar is krag in dié siening. Partykeer kan ons net shit uitfigure wanneer ons onsself toelaat om te speel.
Enigiets is moontlik, en in hierdie proses breek hy die werklikheid oop om ruimte te maak vir ander (en hopelik beter) moontlikhede. Kom ons gun hom die vryheid om uit te werk hoe hy sy kuns wil uitdruk in die konteks van hierdie wêreld, terwyl ons werk aan ons woordeskat. Ek dink ons kan leer uit Scum Boy se proses. Meer speel, minder boksies.
Kyk die dokkie
Carina Jansen verwerf haar BA-graad in Beeldende Kunste aan Universiteit Stellenbosch. Daarna voltooi sy haar MFA in Beeldende Kunste in Utrecht, Nederland met ’n draaiboek-as-tesis wat lei tot haar belangstelling in skryf. Snags (na haar day-job) werk sy aan individuele en kollektiewe projekte rondom sorg, institutionele geweld (veral in die kunswêreld), en die kulturele argief van Afrikaans.