Stephané E Conradie se kulturele vastrapplek

Stephané E Conradie se kulturele vastrapplek

Onvervreembaar (2020)

'n Onderhoud oor sitkamers en hulle objekte

Jy ken mos daai gevoel. Of dit nou ’n familielid, vriend of ’n buurman is, waar jy net vinnig wil inloer om hallo te sê, ietsie kleins af te laai, ’n tupperware terug te vat. Vier uur later bevind jy jou steeds op die rusbank, besig met jou tweede pot koffie en jy vergeet skoon jy moes eintlik al lankal groceries gaan koop het en die huis skoongemaak het en en en… Die gevoel waar jy ingenooi word en in ’n storie verlore raak.

Dit is die gevoel wat ek gekry het die eerste keer dat ek na Stephané E Conradie se werk gekyk het. Ek moes sit by die werke, langer as wat ek aanvanklik verwag het. Sitkamers laat ons anders kyk na identiteit. In Conradie se kennis van geskiedenis, sowel as haar materiële begrip van die objekte waarmee sy werk, bied sy vir ons ’n plek waar identiteit vloeibaar is. Ek dink om Conradie se werk te verstaan, moet jy weer en weer daarna terugkeer. Daar is levels. En tussen die levels is daar layers! En soos jy beweeg deur al die levels en layers vind jy dat sommige dinge glibberig is en ander gee vir jou ’n vashouplek. En dit sal vir elke mens anders wees.

Deur my kunsagtergrond weet ek dat objekte belangrik is. Daar is lankal nie meer vir my die illusie dat objekte neutraal is nie. Maar ek het nooit geweet dat objekte nuanse kan hê nie. Wat bedoel ek met nuanse? Kom ons vat ’n appel as eenvoudige voorbeeld. Pitjies is in 1500 VHJ uit Kazakhstan geneem en regoor Europa versprei. Dit is ingevoer van Engeland na Suid-Afrika in die vroëe 1800’s. Die eenvoudige konsep laat mens klaar die verbintenis verstaan van die appel aan migrasie en imperialisme en dan later die kolonisasie van Suid-Afrika deur die Britse fokkers. Dit is amper ’n té vereenvoudigde verstaan van ’n appel. Wat dan nuanse kan gee, is om te kyk na die appel wat jy in jou hand vashou. Waar het jy die appel gekoop? Hoe word die mense behandel wat die appel gepluk het? Hoe word die grond behandel? Ek kan verder gaan, maar dit is net ’n beginpunt as mens wil kyk na vorms van entanglement, ’n mengelmoes van dinge wat konstant verander en dus konstant die appel self verander.

Conradie se werk het my laat dink aan die verhouding tussen die persoonlike en die kollektiewe storie. Die werk is persoonlik, maar vloei tussen haar eie storie en die stories van die mense met wie sy in aanraking kom. Of dit nou familiestories, onderhoude met vreemdelinge of teorie is, sy vind ’n manier om dit alles saam te bring in haar kuns. Dit is waar die sitkamer so ’n belangrike plek is vir speel en ontleding. Dit is beide persoonlik en kollektief. 

En nes die fisiese kuns, kom ek weer en weer terug na hierdie onderhoud waar sy in haar eie woorde die werk en navorsing verduidelik.

kroon (2017)

ave Thandi (2019)

CARINA:The personal is political.” ’n Politiese slagspreuk wat tydens die tweede feministiese beweging in die 1960’s in Amerika vlamgevat het, skakel vir my met jou navorsing. Ek wil graag by jou hoor wat jou gedagtes is rondom die verhouding tussen privaatheid en politiek? Of liewer die verhouding tussen sitkamer en geskiedenis?

STEPHANÉ: In my navorsing beskryf ek my familie se sitkamer as een van die enigste tasbare omgewings waarin ek ’n kulturele vastrapplek gevind het. In ’n Suid-Afrikaanse sosiokulturele en politiese landskap, waar mense nog altyd gekategoriseer word volgens ras, soek ek vir ’n materiële manier om verby ras te kyk en ek is op soek na die plekke waarin kwessies van ras, kulturele kreolisering en kolonialisme bymekaar kom en uitgedaag word. En die sitkamer gee vir my dié geleentheid, omdat dit die plek is waar ons vir die wêreld ’n oomblik bied om te vertoon hoe ons graag gesien wil word. So as iemand se kulturele identiteit gevestig is of as iemand nog op soek is na ’n kulturele identiteit, is die sitkamer die ideale plek om ’n mens se identiteit uit te beeld. Sitkamers bied die moontlikheid om narratiewe te ontlok deur sentimentele voorwerpe. 

Die voorwerpe waarna ek kyk, word binne ’n koloniale nalatenskap geraam en uitstalkaste word ’n ideale podium vanwaar visuele merkers van aspirasies, familiale verhoudings en eerbaarheid wat uit Suid-Afrika se koloniale nalatenskap voortkom, bestudeer kan word. Binne die grense van ’n sitkamer se interieurs en die mikrokosmos wat die vertoonkas simboliseer, is daar ’n dimensie van die publieke en privaat wat binne hierdie intieme en dikwels ongemaklike omgewings geïnkapsuleer is, aangesien dit dikwels die enigste plek is waar vreemdelinge en besoekers toegelaat word.

Perlemoen (2017/2021)

CARINA: Sover ek verstaan, werk jy nou as lektor in printmedia by die Michaelis School of Fine Art, terwyl jy terselfdertyd jou PhD doen by Universiteit Stellenbosch. Baie van jou navorsing vind plaas in die sitkamers van die inwoners van Cloetesville. Hoekom spesifiek Cloetesville?

STEPHANÉ: Ek het my PhD-navorsing begin as deel van ’n navorsingsgroep wat die woonbuurte buite Stellenbosch se sentrale gebied ondersoek. Cloetesville is aan my toegewys as ’n studiegebied. Die doel is om ongesiene geskiedenis te openbaar wat voorheen weens kolonialisme en apartheid uitgevee of begrawe is.   

Hier het ons gestaan, maar waar is ons goed begrawe? (2017)

Omdat ek geen emosionele konneksie met die plek gehad het nie, het ek probeer uitvind hoe ek die navorsing op ’n persoonlike manier kon aanpak. Om daai rede het ek my navorsingsgebied uitgebrei na Rehoboth in Namibië. My ma se kant van die familie is hoofsaaklik in Namibië gesetel, met my ouma wat in Rehoboth wortels het, terwyl my oupa van Suid-Afrika na Rehoboth verhuis het. Dit het ook beter sin gemaak, omdat my ma grootgeword het in Rehoboth tydens apartheid se koloniale heerskappy oor Suidwes-Afrika (nou Namibië) en my pa het in Stellenbosch grootgeword tydens die Groepsgebiedewet in die 1960’s. So my intreepunt in Cloetesville was dat my pa se familie gebaat het by apartheid, omdat hulle as Wit gekategoriseer is terwyl ander mense hulle huise in die Vlakte verloor het en na Cloetesville verhuis is. As ek in daai tyd gebore is, sou ek seker aan dieselfde lot gely het omdat in ’n nuwe Suid-Afrika (asook ’n ou Suid-Afrika) word ek gekategoriseer as “Coloured”, ’n raskategorie wat ek nie eintlik mee identifiseer nie. 

Tydens apartheid is my ouers in Namibië getroud. Net voor Namibië se bevryding van apartheid-Suid-Afrika se koloniale bewind, is die Wet op Onsedelikheid en Wet op Verbod van Gemengde Huwelike afgeskaf, wat my ouers se unie moontlik gemaak het. In Suid-Afrika is hulle tydens apartheid in verskillende rassegroepe ingedeel. Dit is nie ongewoon om deesdae die nageslag van ’n “rassige” of kultureel “gemengde huwelik” te wees nie, maar tans omdat ek uit ’n gemengde kulturele erfenis kom, voel ek altyd dat ons, ons eie rituele, mites en stories oor ons voorgeslagte skep. Ek sien myself nie as kultureel gegrond in enige spesifieke groep nie. Miskien is dit ’n post-apartheidrealiteit vir baie mense.

ek en die gevangenis (2020)

CARINA: Ek is nuuskierig om uit te vind waar jy die objekte/voorwerpe vind vir jou bricolages en prints. Wat is die proses rondom die kies van hierdie objekte? 

STEPHANÉ: My proses begin gewoonlik met een of ander drukmaakproses. In die drukproses kyk ek na elemente van herhaling, simmetrie en hoe voorwerpe geïsoleer kan word en dan in nuwe samestellings gegroepeer kan word. Dit gee my normaalweg ’n goeie aanduiding van hoe die verhoudings tussen verskillende voorwerpe nuwe vorms kan aanneem wat ek dan op ’n latere stadium gebruik om my beeldhouwerke te kan inlig. Ek werk beide digitaal en met tekeninge en skilderkuns wat ek dan verwerk in collages wat uiteindelik óf gebruik word vir my drukwerke óf wat sketse vir beeldhouwerksamestellings word. Van die dominante visuele motiewe wat ek in my werk gebruik, is blomkranse en blommerangskikkings. Ek geniet die negatiewe ruimtes tussen verskillende blomme en plante wat saam in vase of gedenk- en feesversieringrangskikkings gegroepeer is. Ek kyk ook na rangskikkings op mense se vertoonkaste in hulle sitkamers. Nog ’n groot komponent wat ek geniet om by my werk in te sluit, is versierde rame en die geïllustreerde versierings op porselein en fine-bone-china, sowel as antieke juweliersware en hoe juwele in hulle instellings sit. Ek is aangetrokke tot hiper-ornamentasie en sentimentele kitsch.

Ek is aangetrokke tot hiper-ornamentasie en sentimentele kitsch.
— Stephané E Conradie

Forcibly Removed (2017)

’n Groot gedeelte van my kunsmaakproses begin met die versameling van voorwerpe. Ek begin gewoonlik die proses deur na tweedehandsewinkels en markte te gaan om voorwerpe te koop en vir voorwerpe op aanlyn platforms soos Facebook Marketplace, Gumtree en Bidorbuy te soek. Ek is altyd bly as die soektogte vir my lei na die spesifieke huise vanwaar die voorwerpe vandaan kom. Dit lei dikwels tot gesprekke oor die sosiale lewens wat die voorwerpe al beleef het en gee vir my ’n beter konteks. Ek was ook onlangs op ’n navorsingreis wat begin het in die Wes-Kaap tot en met Keimoes in die Noord-Kaap om die roete van my voorouers te volg. En ek het in elke dorpie sentimentele goedjies gekoop. Ek kan nie wag om weer te gaan nie.  

Sodra ek ’n groot hoeveelheid voorwerpe opgehoop het, kan ek my beeldhouproses begin. Soos ek in my kunsmaakproses gevorder het, het my verhouding met die materiaal waarmee ek werk ook gegroei en verander. Ek dink dat ek ’n beter begrip het van hoe ek sommige van die voorwerpe en materiale kan manipuleer en verwerk. Waar ek vantevore voorwerpe meer op ’n visuele en instinktiewe basis versamel het, versamel ek nou ook voorwerpe omdat ek weet hoe ek die verhoudings tussen die verskillende materiale kan stoot en dat ek die potensiaal ken van hoe die voorwerpe kan omskep word met die verskillende voorwerpe se materiële samestelling. Dit help baie, want soos ek ’n materiële sensitiwiteit ontwikkel het, voel ek nou meer vertroue dat die beelde vir ’n onbepaalde tyd bymekaar sal bly as gevolg van die manier waarop die verskillende voorwerpe, wat materieel baie verskillend is, saamgebind is. My proses kom nou vanaf ’n materiële volwassenheid en hoe ek die voorwerpe verstaan, asook vanaf ’n baie dekoratiewe en estetiese reaksie en die vreugde wat ek kry van die voorwerpe wat ek gebruik. 

Dit help om baie voorwerpe te versamel sodat ek hulle oral om my kan hê en dat ek hulle amper sensories kan absorbeer, terwyl ek aan veelvuldige beeldhouwerke werk. Ek maak ook baie staat op die materiële kultuur waarromdom ek grootgeword het, wat ek geabsorbeer het en die rituele en praktyke waardeur hierdie materiaal ingelig is. 

Jamaika gemmer (2021)

CARINA: Jy praat gereeld van die woord “entanglement” en ek herken die woord deur my ervaring in die kunswêreld. En ek dink dis ’n interessante woord want dit voel vir my daar is soveel verskillende maniere om te kyk daarna. Dit is vloeibaar/vormbaar en dus kan mens daarmee speel. Ek is veral geïnteresseerd in die een sin wat jy geskryf het op jou webwerf vir jou solo-uitstalling Ordentlikheid: A Creolised Object: 

As such, we do not entangle objects, but objects entangle us.

Wat is vir jou die verhouding tussen entangle en disentangle in hierdie konteks? Ek dink veral aan jou printmaking of bricolage waar jy terselfdertyd geskiedenis(se) en identiteit(e) ontrafel en weer terugstik…

STEPHANÉ: Kolonisasie het gewelddadige ontmoetings van gedwonge entanglement meegebring. Hierdie ontstellende manier waarop mense in koloniale omgewings bymekaar gebring is, soos in Suid-Afrika se geval, het nie noodwendig altyd deur die geweld van ’n slagveld gebeur nie, maar het baie dikwels in die intimiteit van huishoudelike omgewings plaasgevind. Slawe is blootgestel aan ander slawe, en setlaars aan slawe wat hulle gevange gehou het. Alhoewel die magsbalans ongelyk gebly het, het die uitruilings wat plaasgevind het in hierdie intieme omgewing ’n gedeelde gee-en-neem-erfenis gelaat.

In my navorsing en praktyk het die woord “entanglement” (soos dit te make het met identiteitformasie) ’n sinoniem vir kreolisering geword. Dit is om hierdie rede dat kulturele bricolage so toepaslik in my kunspraktyk is. Kulture entangle en disentangle soos wat konflikte gebeur, tye verander en nuwe aspekte van die wêreld aan groepe bekendgestel word.  

Moskee (2019)

An elaborate story (2012)

Een van die bepalende aspekte waarna William Seitz (The art of assemblage, 1961, The Museum of Modern Art et al.) verwys met betrekking tot bricolage/samestelling is dat alhoewel verskeie heterogene materiale gebruik word om samestellings te vorm, moet voorwerpe wat in ’n samestelling gebruik word ’n identifiseerbare kenmerk behou, of dit visueel herkenbaar is of gekoppel is aan ’n begrip van ’n voorwerp se oorspronklike, utilitaristiese gebruik (in Dezeuze, Assemblage, bricolage, and the practice of everyday life’, 2008). Sedert Seitz hierdie onderskeid in die 1960’s gemaak het, is daar verskeie debatte oor of, binne die kuns van assemblage, “dinge” herkenbaar moet bly en of daar deur die maakproses ’n transformasie moet plaasvind waar objekte nie meer so maklik herkenbaar is nie. Hierdie debat wys op die kunstenaar se verhouding met die materiale waarmee hulle werk en, meer presies, hulle uitkyk op die materiële wêreld. Dit is hierdie spanning wat Lévi-Strauss (Savage mind, 1962) opsom wanneer hy die “bricoleur” beskryf; iemand wat tegelykertyd met dinge en deur dinge kan praat (in Dezeuze, 2008).

Ouma sê jy moet daai swaan brasso (2020)

Binne my kreatiewe proses verken ek bogenoemde spanning in my samestellings deur middel van bricolage. Hierdie spanning kom ook na vore in die verskillende kreoliserende identiteitformasies wat ek uit beide die persoonlike en uit my veldwerk put. Om kulturele bricolage terug te bring na Seitz se aanname, met betrekking tot die identifiseerbaarheid van voorwerpe binne bricolage, ontstaan die vraag: Op watter punt transformeer kulturele identiteite, soos objekte in ’n samestelling, so ver buite hulle oorspronklike kulturele invloede en gebruike dat dit nie meer herkenbaar is nie?

In hierdie opsig word ek herinner aan Glissant (Caribbean Discourse: Selected essays, 1992) se bespreking van kreolisering, waar hy aanvoer dat sodra ’n groep historiese kreoliseringsprosesse ondergaan het, is dit baie moeilik om ’n presiese kulturele ontmoeting of oorsprong na te spoor. Op ’n sekere punt binne kulturele kreolisering word mites ingeskryf, in byvoorbeeld geslagsregisters, sowel as in hulle ooreenstemmende voorwerpe. Sommige van die oorsprong bly herkenbaar deur die bewyse van byvoorbeeld ’n erfstuk, alhoewel met die meeste genealogiese verhale en vertellings is dit duidelik dat gekreoliseerde groepe so ’n transformasie ondergaan het dat dit moeilik is om ’n oorspronklike bron of ontmoeting na te spoor. Klein waarhede kan egter steeds van een generasie na die volgende oorgedra word, soos met voorwerpe soos erfstukke, foto’s en godsdienstige tekste, wat oorgeërfde voorwerpe dikwels as onvervreembaar vir die volgende generasie maak, vanweë die materiële spore wat hulle agterlaat.

Emmanuel (2019)

Met inagneming van transformasies wat voortspruit uit kulturele kreolisering, beskryf Knepper (Colonization, creolization, and globalization: The art and ruses of bricolage, 2006) kreoliste as mense wat deelneem aan ’n bewuste en onbewustelike uitvoering van bricolage. Bricolage, in ’n post-koloniale konteks, word beskou as ’n transformerende daad van kulturele onterwing wat gerealiseer word in weerstand, onthou en kreatiewe selfbeskikking. Om ’n versameling kulturele skerwe aanmekaar te heg en dan hierdie fragmente met nuwe interpretasies te laat herleef, vorm deel van die proses om gelokaliseerde kulturele formasies te herskep of te rekonstrueer, gevind in plekke waar kreoliseringsprosesse plaasgevind het, soos Rehoboth en Stellenbosch waar ek my veldwerk gedoen het. Soos met bricolage, waar daar nog tekens en spore van ’n voorwerp se oorspronklike ontwerp en doel is, sien Knepper kulturele bricolage en kreolisering as ’n herlewing wat nie ’n poging is om die uitkomste en stryd van die verlede uit te wis nie, maar eerder ’n manier om die verlede te vier.

Ek resoneer ook met Eriksen (Creolization and creativity, 2003) se idee om ou padvinders te laat vaar op soek na die skep van nuwe navigasiestelsels. Dit bied ’n toepaslike benadering in ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing waar mense nie meer ideologies gebonde is aan rasse- en segregasiewette nie. Ek beskou hierdie raamwerk as noodsaaklik in die konseptualisering van my eie identiteit, en as gevolg hiervan, my kunspraktyk om bricolage te inkorporeer as ’n metodologie.

Mammie (2020)

CARINA: Dit voel vir my elke werk het sy eie storie, en daar is aspekte van die stories wat jy vir ons deur medium en kunswerk ontgin en ontbloot, maar daar is ook dele wat ons as kykers/toeskouers dwing om ons verbeelding te gebruik. 

Ek kyk veral na jou portrette soos Emmanuel (2019) en ave Thandi (2019). Of na werke soos Ouma sê jy moet daai swaan brasso (2020) en Hier het ons gestaan, maar waar is ons goed begrawe? (2017). Selfs jou eie portret, kroon (2017). Waar is die innerlike verbeeldingswêreld relevant in die stories wat ons vertel en wat aan ons oorvertel word? 

STEPHANÉ: Ek maak staat op mondelinge en visuele verteltradisies wat in kulturele bricolage gebruik word as ’n manier om die wyse waarop verskillende groepe vertaalde tradisies en rituele gebruik, sigbaar te maak en opnuut te skep om die gapings wat verlore is in verskillende groepe se kollektiewe geheue, te herstel en aan te vul. Oorgangrites en mites word herdink waar ontbrekende elemente verlore gegaan het of vergeet is as gevolg van verplasing. Ek sien uitstalkaste as objekte wat hierdie rol vervul, waar voorwerpe simbolies die fragmente en stukkies van ons verlore herinneringe of verborge geskiedenisse word, gerangskik en voortdurend herrangskik om nuwe, verlore of geïnterpreteerde narratiewe-formasies te skep oor die probleme van terugkeer tot ’n oorsprongverhaal waarvan baie van ons min weet en gedwing word om te herskep.

So my verbeeldingswêreld maak staat op die stories wat ander mense vir my vertel deur die waarde wat hulle sentimentele goedere hou. 

CARINA: Watter invloed het jou werk en navorsing op die vestiging van jou eie identiteit gehad?

STEPHANÉ: My praktyk gee vir my die ruimte om te eksperimenteer met hoe ek my identiteit verstaan, oor hoe ek my huidige identiteit aanvaar en ook om my eie geskiedenis beter te leer ken. Ek is baie dankbaar om op ’n plek te wees waar ek kan waardeer dat identiteit nie volmaak is nie en nooit sal wees nie. 

CARINA: Stephané, jy bring heelwat tyd deur in ander mense se sitkamers as deel van jou navorsing/kreatiewe proses. Dit laat my wonder: Hoe lyk jou eie sitkamer?

STEPHANÉ: Mmm… Kom ons hou dit eerder ’n misterie. ☺  

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Stephané E Conradie se kulturele vastrapplek gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand