My beroep op 'n verligte Afrikaanswees
 

Kunswerk: Levy Pooe, Thapelo, 2021

Redakteursnota: Die ontwykende tog konfronterende gesig in Pooe se kunswerk sluit aan by Swanepoel se vertelling oor haar ontmoeting met die Ander, so ook spreek die boek en kers in ’n donker kamer tot die temas van geloof, spiritualiteit en verligting in dié betekenisvolle essay.

 

Hê 'n oopheid vir die Ander

Om veral in jou jeug krities te wees oor jou konteks is nie net ’n kenmerkende eienskap van hierdie lewensfase nie, maar ook ’n proses wat meewerk tot verbetering, vooruitgang en groei met die oog op ’n beter wêreld vir alle lewe. Vir eeue vanaf Moderniteit het Europeërs weggekom met die uitsluiting, onderdrukking, en uitbuiting van nie net Swart mense en ander etniese groepe nie, maar ook van queer mense, vrouens, en gestremde mense. Hierdie dominante norm van witheid is deur die eeue uitgedaag deur individue, groepe, en bewegings, waar denkende leiers soos Steve Biko, Toni Morrison, Frantz Fanon, Mary Wollstonecraft, Léopold Sédar Senghor, en Nelson Mandela, ruimte gemaak het vir ander narratiewe om gehoor en gesien te word.

Te danke aan hierdie denkers en die verskeie bewegings van verligting grootliks deur die 1900’s, leef ons vandag in ’n wêreld van ’n menigte moontlikhede. Ons sê vir onsself die geskiedenis is agter ons, ons kan wees wie ons wil wees. Meer nog, ons kan dit wat ons wil wees, self skep. Tog talm die stories van ons ouers en voorouers rondom en binne ons, of ons besluit om dit raak te sien of nie. Hierdie verantwoordelikheid van identiteitsvorming wat redelik swaar op die individu rus, is een uitdaging van ons huidige tydsgees. Dit dra by tot die milieu waarin ek, ’n twintigjarige, Wit, Afrikaanse student, my voete probeer vind. 

Dit is ook nou dat aktiviste, grootliks met die hulp van sosiale media, die beperkings en onregte wat deur die standaarde van manlike witheid gestel en uitgeoefen is, uitdaag. Hierdie konfrontasies en eise tot aanspreeklikheid is ’n gelaaide proses. Tog is dit essensieel tot hervorming. Konfrontasie ontbloot so baie van menslike gedrag. Dikwels laat dit ons reaksie om te veg of vlug inskop. Dis tog hoe ons oorleef. Maar wat word van die kwessie – die worteloorsaak – as ons dit óf probeer ontvlug, óf ons lewens in verdediging bou? Verdwyn dit net, of maak ons asof dit net verdwyn het?

Dit bring my by my eie konteks. My konteks voel vir my normaal, want dis al wat ek ken, maar op ’n globale en geskiedkundige skaal is my posisie redelik interessant. Die klein groepie Wit Afrikaners het hulself ingeburger in Suider-Afrika – dis nou óns s’n – en grootliks deur die dogma van hierdie sogenaamde Wit superioriteit, beaam deur Christendom, die sosiale, politieke, en ekonomiese speelvelde in hierdie land beheer deur die loop van die twintigste eeu. Nou, amper dertig jaar post-apartheid, sien ons steeds die ongelyke en disproporsionele verdeling van hulpbronne en grond, waar baie Wit mense hulself steeds die dikste kan vreet.

Die absurditeit van die oortuigings waarop die Afrikaner sy storie gebou het, maak dat ek sukkel om dit met my huidige konteks te versoen. Ek is tog ’n oopkop, verligte jongmens wat in Kaapstad leef en studeer. Ek is tog ’n wêreldburger. Ek is skaam vir my kultuur. Ek is skaam vir die onderdrukkende stelsel wat my voorgeslagte en my ouers bevoordeel het, en wat my nou ook bevoordeel. Ons kan blind bly vir ons geskiedenis, maar die geskiedenis kyk altyd terug. Ons kan maak asof ons dit nie raaksien nie, maar haar oë is altyd oop, op ons gerig, reg om al ons swakhede uit te wys, en ons die lesse te leer wat ons klaarblyklik sukkel om te internaliseer.

Ons kan blind bly vir ons geskiedenis, maar die geskiedenis kyk altyd terug.
— Amica Swanepoel

Die christelike godsdiens is fyn verweef met die Afrikaner-kultuur. Hierdie noue band tussen kultuur en godsdiens is ’n redelik universele verskynsel, en dus maak dit sin dat godsdiens dikwels een van die eerste teikens van jeugdige kritiek is. Buitendien sluit geloof al die kernvrae oor ons bestaan, in. As ek dink aan my grootwordjare ruik ek die hout van kerkbanke, die soet reuk van sosaties by die kerkbasaar, koek en tee in die kerksaal. Hierdie herinneringe is grootliks te danke aan my pa se beroep as dominee in die NG Kerk. Hoewel ek blootgestel is aan hierdie tradisionele Afrikaanse milieu, het my ouers nooit ’n stel konvensionele opvattings op ons (ek is die oudste van vier) afgeforseer nie. Hulle het juis teen die konserwatiewe uitkyk en lewenswyses van hulle ouers se generasie gewaak.

Nietemin onthou ek so goed die gevoel van honderde oë op my in die kerk; die gevoel van veroordeling, asof hulle oë regdeur my kon boor. Ek wou weghardloop. Ek wou skree. Ek wou hulle almal verkeerd bewys. Ek kon destyds nie die woorde vind om hierdie komplekse emosies te uiter nie. Toe ek ouer word, het ek besef hoe skynheilig baie gelowiges is, en dat hulle dikwels hulle eie tekortkominge probeer wegsteek agter kritiek op en uitsluiting van ander. Die broosheid van witheid is alte duidelik in die geskiedenis van apartheid in Suid-Afrika, waar die Afrikaner só gesukkel het om sy eie menslikheid raak te sien dat hy geglo het hy dit nét kan doen as hy iemand anders van hulle s’n ontneem. Met vreemdheid, onbekendheid, en verskil kan die tradisionele Afrikaner skaars saamleef. En Christendom word gebruik om hierdie siening te beaam. So bevind ek myself in ’n worsteling met die Christendom as geloofsisteem, en met Afrikaans-wees. 

Ek wou weghardloop. Ek wou skree. Ek wou hulle almal verkeerd bewys. Ek kon destyds nie die woorde vind om hierdie komplekse emosies te uiter nie.
— Amica Swanepoel

Dit was die vrees vir vreemdheid waarteen ek vasgeskop het toe ek besluit het om vanaf ’n Afrikaanse hoërskool in Johannesburg UCT toe te kom. Nog nooit het ek so baie geleer en gegroei soos in die eerste drie weke in die koshuis in my eerstejaar nie. Tussen die navigasie van my depressiewe buie en angstigheid deur, wat ek toe nog nie geweet het ’n probleem is nie, het my horisonne uitermate verbreed deur die mense wat ek ontmoet het van bykans elke moontlike kulturele, sosiale, en ekonomiese konteks. Om die rykheid van Suid-Afrika en die wyer Afrika-kontinent só te kon leer ken, was ’n ervaring waarvoor ek altyd sal dankbaar wees. 

Deur die volgende jaar van my universiteitservaring dryf ek al hoe verder van die tradisionele Afrikaanse kultuur en geloof. Ek probeer die vreemdheid wat my voorouers so bang gemaak het, omhels. Die pandemie maak hierdie proses effens moeilik, en ek onttrek diep in myself in deur die verloop van 2021. Amper soos ’n versteurde Ottessa Moshfegh-karakter is 2021 my jaar van eensaamheid. Alhoewel dit my toelaat om genoeg breinspasie te hê vir kreatiwiteit, stort my geestelike stabiliteit amper heeltemal in duie. Deur hierdie jaar bevind ek myself vervreem van enige vorm van spiritualiteit, en ver van my Afrikaanse wortels. Min dinge maak sin in hierdie jaar. Die wêreld is ’n absurde, nuttelose plek. As ek terugkyk, glo ek dat hierdie proses van vervreemding my baie oor myself geleer het. Ek ken nou ook my donkerte, die vreemdeling binne-in my. Nog altyd het ek geweet dit is daar iewers, maar laas jaar het ek op die rand van die donker put gestaan en amper vreesloos ingetuur. Terwyl ek verwag het dat my universtiteitsreis my tot voor die aangesig van die Ander gaan bring, het ek nie verwag om haar binne-in myself te vind nie. 

Terwyl ek verwag het dat my universtiteitsreis my tot voor die aangesig van die Ander gaan bring, het ek nie verwag om haar binne-in myself te vind nie.
— Amica Swanepoel

Tot my verligting bring 2022 ’n lenteseisoen ná die winter van die vorige jaar. Ek vind my eie proses van mensword gereflekteer in Sartre se woorde en in sy beskrywing van die proses van eksistensiële hergeboorte: “La vie humaine commence par l'autre côté du désespoir.” Lewe begin aan die ander kant van wanhoop. Volgens Sartre vind hergeboorte plaas wanneer jy jou eie verantwoordelikheid van om lewend te wees, besef. Alhoewel jy nie gekies het om hier te wees nie, moet jy self kies wat om met jou lewe te maak. Dis hoe ’n mens ’n doel vir jou lewe vind. Dis menslike verwesenliking. 

In 2022 bly ek in ’n digs saam met drie ander studente. In hierdie seisoen van leer en ontdek is ek oop vir nuwe ervarings. Toe my huismaat vir my vra of ek saam met haar na ’n meditasieklas toe wil gaan by ’n boeddhistiese tempel in Observatory, het ek ingestem. Buitendien skaar my rustige temperament haarself van nature by die meer vredeliewende kant van sake. Tot my verbasing het dit nie soos ’n nuwe ervaring gevoel nie, behalwe vir die kaalvoete en die kruisbeen sit op die vloer (wat ook nie so vreemd gevoel het ná jare se saalopenings by die skool nie). Die meditasieklas volg amper dieselfde struktuur as die kerkpreke van my grootwordjare. Dit begin met ’n verwelkoming, dan ’n meditasie, dan is daar ’n les oor geduld, dan sluit ons af met nog ’n meditasie.

Die monnik lees uit ’n paar boeddhistiese tekste voor. Sy flou grappies herinner my aan die grappies van die dominee op ’n Sondag. Terwyl hy praat, kan my oë nie help om te dwaal na die patrone in die teëls op die vloer nie en ek voel ’n verbasende nostalgie vir die kerkbanke van my grootwordjare, toe my oë altyd iets moes vind om hulself mee besig te hou en die dissipline van stilsit my knaend geïrriteer het. En ek mis die kerk. Die gepoeierde tannies, die oorgewig ooms, die orrelmusiek, die nagmaal. Selfs die dominee en sy simpel grappies. 

Selde het ek daar tuis gevoel, maar nou mis ek dit. 

Want dis wat ek ken. Ek ken nie die historiese en kulturele nuanses van die gebruike van die boeddhiste nie. Dit laat my wonder: Is dit die vreemdheid van ’n geloof en ’n kultuur anders as ons s’n wat dit vir ons makliker maak om eerder dít te volg of te wil ondersoek? Of om dit inteendeel af te skryf? Dalk is dit die arrogansie kenmerkend van witheid om te maak asof ons dan wéét, terwyl ons eintlik nog steeds blind is vir die ware kompleksiteit van geloof, kultuur, taal, tradisie en uiteindelik menswees. Hierdie oorvereenvoudiging tussen die Ek en die Ander is tog die oorsaak van soveel misverstande, onregte, en skendings. 

Om iets te probéér verstaan, is om te weet dat dit vir goed én kwaad gebruik kan word. Die illusie van suiwerheid is juis die ding wat waarskynlik meer kwaad as goed doen. Dit is hierdie besef wat my tot die volgende insig bring: Die mees sinvolle werk kan gedoen word in die spinnerak van konvensies en gedragskodes en reëls en regulasies en verwagtinge en narratiewe wat jy ken. Dieselfdes wat jou onderdruk het, is ook dié wat jou gevorm het. Jou storie is ’n ploegland. Op die ou end is die gereedskap wat reeds vir ons gegee is, dit wat ons het om mee te werk. 

Ons almal tas in die donker rond, maar dalk is dit beter om in die donker wat ons ken, rond te tas. Dalk is dit makliker om dan uiteindelik sin te maak van die obskure vorms in die skadu’s waarin jou hande al vir jare rondtas. Die gevaar is om te vlug vir jou eie donker, om in nog donker vertrekke in te gaan, en te maak asof die lig daar skyn. Nog gevaarliker is om dan die leuen dat daar lig is, te glo. Ons het nie nóg donker, onbekende vertrekke met vals ligte nodig nie. Wit arrogansie kom al te lank met hierdie leuen weg. Kom ons erken dis donker. 

Want eers wanneer ons erken dis donker, kan ons begin dink waar die lig vandaan moet kom. Kom ons steek dus net daar – in daardie oorbekende ruimte met sy orrelklanke en patroontjies in die vensters – ten minste één kers aan. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van My beroep op 'n verligte Afrikaanswees gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand