Sjaka Septembir: Ons lewe is 'n boere-noir in Gotham-Azania
'Gryp jou skryfding, brandmerk die blaai en hoor jou eie fokken stem'
Kyk om jou. Kyk en sien dat ons daagliks in ’n noir-film lewe. ’n Klassieke noir, soos The Maltese Falcon of soos die films wat gebaseer is op Raymond Chandler se speurverhale. Klassieke noir, met ’n Afrikaanse twist, naamlik boere-noir.
Daagliks word ons met stories van korrupsie en moord versmoor. Die media besoedel ons psiges met gru-verhale oor hierdie Gotham City waarin ons leef. Dit is nie die media se skuld nie – Pretoria, Durban, Johannesburg, Gqeberha en Kaapstad is in die top twintig van die gevaarlikste stede in die wêreld. Joernaliste rig hulle skryfpenne op enige deel van die land en verlig ’n spul misdadigers wie se dade, soos geweerskote, die nuusleser se psige koelbloedig vol gate skiet. Verkragting van kinders, bendemoorde en korrupsie is alledaags in dié land van chaos; die punt van donker Afrika. Kom ons kyk hoe Suid-Afrika – of liefs Gotham-Azania – in die klassieke noir-storielyn inpas.
Eerstens, in klassieke noir is die “held” nooit bo verdenking nie, almal se hande is vuil. In Gotham-Azania word ons soggens wakker en vra: Wie is ons held vandag, op wie berus ons hoop? Dalk op Cyril met die Marikana-slagting en McDonalds-biljoene in sy skaduwee?
“Cyril-innie-mirrel, wees ons noir-speurder en oorwin die bose Zuma-magte, veg teen Ace en sy RET-faksie, asseblief ou Cyril!”
Of is dit dalk weer vanoggend Agliotti wat nóg BOSASA geheime verklap? Dalk is dit Bheki Cele, reeds geklee vir die rol in sy klassieke fedora, of Meneer K of Mevrou Y oor SSA se gekonkel? As jy vanuit ’n ander hoek kyk, is jou held dalk vandag Helen, Steve, of Julius? Besef wel, liewe leser, dat jy jou held binne-in die noir-konteks moet kan regverdig. Al is ons held geen engel nie, moet ons kan sê dat hy of sy nie net vir hulle eie aansien en rykdom veg nie, maar teen die bose ineenstorting van ons reënboognasie.
Tweedens het elke klassieke noir-storie ’n femme fatale en in elke Suid-Afrikaanse media berig kan jy haar van ’n afstand bespied. Die verleidster, of die trickster – bedrieglik, vol streke. Name soos Dudu Myeni en Busisiwe Mkhwebane kom by my op. Nkosazana Dlamini-Zuma? Was sy nie gedurende laas jaar se grendeltydperk Cyril se femme fatale nie? Nie as ’n klassieke verleidster nie, maar liefs as die vrou met duistere bedoelings, want ons weet nie aan wie se kant sy nou eintlik is nie. Is sy in die bed met die sigaret-mafia, of is sy net blindweg gekant teen rook? Het sy nog bande met Zuma? As ons in ’n abstrakte sin hierna kyk, is iemand soos Agliotti se femme fatale dalk Lady Justice. Hy glo dalk sy gaan hom kwytskel, maar sy gaan hom heel waarskynlik in die rug steek.
Derdens is daar in elke noir-staaltjie ’n reeks minder belangrike karakters. Die Zondo-kommissie werp daagliks die soeklig op hierdie groepie se smerige stories. Pionne, biskoppe en perde, wat stink van morele korrupsie, terwyl daar selfs in die regstelsel ’n skaakspel van mag angstig gespeel word. Daar is omkoopgelde vir regters, bewyse wat vernietig word, die NVG wat hulle voete sleep… Welkom in Gotham-Azania! Welkom in ons boere-noir! Maak jouself tuis, my liewe landsburger. Ons is elkeen deel van hierdie Deon Meyer-roman, elkeen in die greep van hierdie Staal Burger-grap.
Vierdens, word alles in Gotham-Azania in klassieke noir-styl belig. Die chiaroscuro effek is in Suid-Afrika ingeëts, waar ons, onsself eindeloos teen Wit en Swart blindstaar. Ons voel die donker skaduwees van ’n mes se skerp lem teen ’n Wit keel as ons berigte oor plaasmoorde lees. Ons proe dit in die wrang insidente soos waar die EFF optrek teen die boere in Senekal. Ons oë nog seer van die beelde van ’n plaaswerker se marteling onder sy baas, terwyl wit lig op nat teer die BOSASA-baas se motorwrak aan ons terugkaats.
So spook dit in Gotham-Azania, in hierdie land van sterk kontrasterende donker en lig, wat die fisiese wanbalans tussen ryk en arm soos ’n flitsende sirene in ons retinas laat brand. Ons word blind en sien nie meer ons eie omgee en medelye raak nie. Ons vergeet van ons eie wil en mag en word meegesleur deur hierdie narratief. Boonop kan hierdie atmosfeer alles om ons swaar maak. Ons gees word onder die depressiewe skadu’s van aanhoudende slegte nuus en hopeloosheid vasgedruk.
Die media kan nie anders as om te goël met die chiaroscuro wanbelans nie, hulle verlustig hulself in Wit teen Swart en Swart teen Wit. Ons vergeet vinnig hoeveel goedheid in elke mens opgesluit lê, ten spyte van ras en velkleur. Nou en dan kom daar iemand soos Rutger Bregman met sy boek Human Kind en herinner ons dat ons nie ons oë stomp moet staar teen die daaglikse nuus nie. Ongelukkig is Bregman net een stem teen ’n koor van nuusbrokkies wat instroom, tot dit dringend oorspoel en ons almal die gevaar loop om met gepolariseerde blinkers na alles te kyk.
Op die ou end begin mense binne-in ’n nou raam van reg of verkeerd dink en hulle identifiseer op so ’n wyse met die wit, of hou so vas aan die swart. As ons vashou aan die wit, word alles uitgebleach tot ’n smaaklose niks. As ons klou aan die swart is daar geen lig, geen sterre en geen sonopkoms nie. Ons benodig daai yin en yang, maar die nuusberigte reën oor ons tot ons nie ons pad uit die oorvloed van stories kan swem nie. Ons verdrink in die magdom van geweldadige verhale. Die chaos van lig en donker verorber ons. Dit is jammer, want dit is juis die twee elemente, die lig én die donker, wat in ’n noir-speurverhaal moet saamwerk om die kuns van hierdie bestaan en die lewe wat ons leef, rede te gee. Om gesond en gebalanseerd te kan wees, moet ons, ons voete in ander se spreekwoordelike skoene kan sit.
In elke klassieke noir-storie, en dus ook in ons boere-noir, het die speurder sy/haar eie unieke stem. Ek raai hiermee elkeen van julle in Gotham-Azania aan om jou eie stem te laat hoor. Ons hoor daagliks dieselfde stemme uit dieselfde kore. Die unieke en brawe stemme word meestal verdoof. Die kabaal uit die politieke kore is so oorverdowend dat ons sukkel om ons eie harte te hoor. Oorrompel deur ander se mites, verdwaal ons in ander se vertellings oor ons realiteit. Dit raak so erg dat ons onsself verloor. Ons soek, maar ons kan onsself nie vind nie. As ons nie onsself kan vind nie, kan ons nie ondersoekend na onsself kyk nie. Ons kan nie ons eie skadukant in die oë kyk nie en as ons nie ons eie skadu’s van aangesig tot aangesig kan besigtig nie, kan ons nie onsself bevry nie.
“Everyone carries a shadow,” skryf Jung, “and the less it is embodied in the individual’s conscious life, the blacker and denser it is.”
Jung ag die worsteling met ons eie skadu as ons hoogste taak. Hiermee boor ons die aar van die kern van ’n puik noir-storie raak; die speurder wat innerlik teen sy eie skadu veg, is die held wat ons met sy storie geboei hou. Hier is waar ons uitkom by jou aandeel in die verhaal, leser. Kom ons kyk na die filosoof Žižek se idee van ’n goeie noir-film:
[…] my thesis is that the ‘proper’ detective film noir as it were arrives at its truth – in Hegelese: realises its notion only by way of its fusion with another genre, specifically science fiction or the occult.
My en jou taak is dus om ons noir met die reënboognasie se kulture en landskap te vermeng. Só skep jy ’n boere-noir, so reik jy uit na ’n nuwe waarheid, so ontdek jy ’n nuwe manier van kyk en begin ’n nuwe ontdekking van jouself.
Nes die Skandinawiese lande hulle mites en bestaan deur hulle Noorse-noir in miljoene kykers se psiges laat lewe kry, is dit ons tyd om na vore te tree en ons stories ook te vertel. Nee, die hoofdoel hier is nie Netflix en ratings nie. Jy doen dit vir jou eie psige, jou eie gemoed en vir jou eie groei. Vind jou innerlike noir-speurstem, wat nie opgee nie, al is daar hoeveel slaggate in die pad.
Vir die van ons wat vasgevang voel in ons landsverhaal, sê ek daar is ’n weg uit, ’n sleutel wat alles meer draaglik maak. Uit die las van beurtkrag, afgesnyde water en die algemene verval, is daar ’n weg uit – deur stories. Wetenskaplikes het gevind dat om dagboek te hou, verbeter mense se gemoed en versterk hulle geestesgesondheid. Om te skryf het selfs mense met ’n geskiedenis van trauma, help genees.
Ek stel skryf voor as ’n entstof vir die donkerwolk waaronder ons gebuk gaan. Jy’s die speurder: gryp ’n pen, ’n keyboard en skep ’n reënboog vir jouself tussen al die donderwolke. Ek is vas oortuig dat daar ’n skrywer in elke persoon is. Wees die dramaturg van jou eie lewe. Jy is hier op die verhoog van die lewe, vir ’n oogwink van tyd, vertel ten minste jou eie storie.
Wanneer ek skryf, word ek die noir-speurder in my eie verhaal. Met my pen as my Glock poog ek om die rou en naakte realiteit van Suid-Afrika en ons bestaan hier te verwerk. So is ek besig om myself in hierdie situasies te bemagtig. So vind ek humor in die donkerste hoekies en nuwe maniere om na Gotham-Azania te kyk.
Die pen is magtiger as die swaard, magtiger as die geweer, magtiger as die Jessie Duarte-styl, die nou-denkende ANC en die gierige gangsters en soortgelyke mafia-elemente se kru mag. Kyk hoe het Jacques Pauw vir Zuma met The President’s Keepers geruk. Ace Magashule wankel onder Pieter-Louis Myburgh se Gangster State… Dit hoef nie vir enige iemand te wees nie. Begin met ’n dagboek om op ’n blaai of skerm te sien wat jy dink. Begin worstel met Socrates se Ken Jouself!
Neem jou rol in hierdie boere-noir – of dalk is dit in jou geval ’n romantiese komedie, of ’n sepie, of wat ook al jou lewe se genre is – en skryf jouself in wording. Tel jouself uit ander se penne op, uit ander se gedagtes van wie jy is en waarheen jou lewe op pad is, en skryf jou eie storie, vind jou eie stem. Dit verg braafheid, maar dit is wat ons nou in die COVID-village nodig het! Hopelik plant ons op so ’n manier die saadjies van individue wat vir hulself kan dink. Saam skep die saadjies hopelik ’n woud van ’n burgerlike samelewing, van mense wat aktief help bou aan die samelewing en nie net hulpeloos saamvloei nie.
In die skryf van my boere-noir-verhale het ek besef elke klassieke noir eindig met ’n bietjie bitter, ’n tikkie hartseer. Ons bly in Gotham-Azania in die tyd van die pandemie, so ek bied nie vir jou hier ’n pilletjie aan nie. Daar sal uitdagings wees. Om die magtige pen bo die swaard, of AK47 op te tel, verg guts. Om jouself in die oë te kyk, verg guts. Om te skryf, gaan dalk nie die stories van ESKOM, Denel en al die eindelose korrupsie uitvee nie. Dit kan jou wel toelaat om nie aan die aftakelende nuusberigte te verstik nie, om hulle liefs soos nagmaalwyn af te sluk.
Ek is nie hier om soos een of ander Rooms-Katolieke priester jou dag ligter te maak met ’n paar Hail Mary’s oor skryf nie. Klassieke noir het nie ’n goeie einde nie. Die donkerte het altyd die laaste lag, en daai lag trek alles wat bestaan diep in die donkerte van die bitter nag in. Wanneer daai einde kom, kan jy ten minste met ’n glimlag weet, jy het jou eie sê gesê, jou eie storie met braafheid uitgeleef. Hou op die koeëls probeer dodge deur ’n eindelose gekla en gekerm, hou op om die slagoffer te wees. Tel jou eie kruis op. Die sleutelbord, die pen, rus nou in jou hand.
Sjaka is ’n jakkals van vele streke: skrywer, akteur, regisseur en teatermaker. Staal I: Nag van die Slang-Uil (2020) en Staal II: Slot en Grendel (2020) is sy boere-noir teaterproduksies wat verlede jaar by Woordfees en die Vrystaatkunstefees (aanlyn) gespeel het. Hy skryf gedigte vir Ons Klyntji zine vanaf die 90’s. Sy gedigte is verwerk in ’n kabaret met die titel SKOP! Hy’s mede-skepper van Bal-oog en Brommel se Moord in Ixiastraat wat as grafiese roman en teaterstuk verskyn het. Gedurende grendeltyd survive Sjaka met sy side hustle – aanlyn joga en asemhalings-klasse.