Konfronteer ongemak: Is jy 'n aktivis, 'n nice racist of net ordentlik?

Konfronteer ongemak: Is jy 'n aktivis, 'n nice racist of net ordentlik?

Frietjes in Gent
Foto’s: Susann Louw

Notas vanuit Gent oor die 8ste Kollokwium oor Afrikaans en Suid-Afrika

Hoe kan jong kunstenaars, digters en kultuurliefhebbers ongemak as ’n instrument gebruik om kuns en taal te transformeer?

In die skeppingsproses – of dit met taal, visuele kuns, of musiek is – is die gevoel van ongemak dikwels die vonk wat die vlam van kreatiwiteit aansteek. By die 8ste Kollokwium oor Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika het die tema van ongemak nie net gegloei nie, maar gebrand soos net ’n skelmbraai op ’n weeksaand in Suid-Afrika kan. Die tipe ongemak waaroor daar by dié geleentheid besin is, verwys na die ongemak wat ontstaan wanneer ons onsself in onbekende situasies plaas, soos om diepgewortelde vooroordele te konfronteer. Dit dien as ’n teken van groei as ons dit verwelkom eerder as vermy. Die verskeidenheid sprekers het ons uitgedaag om die grense van diskoers en identiteite te heroorweeg as ’n produktiewe ruimte vir verandering en refleksie.

Die program van die kollokwium het groot verwagtinge by my geskep. Tydens my meesters en doktorale studies fokus ek op die uitbeelding van Afrikaanse vroulikheid en konstruksie van manlikheid in Afrikaanse tydskrifte. Vanaf 2023 doseer ek by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se opvoedkundefakulteit in die taaldepartement. My navorsing fokus op die interseksies tussen die media, gender en seksualiteit en hoe die bevraagtekening van gevestigde waardes verrykende leer kan bevorder. Ek pas hierdie beginsels prakties toe in my taalverwerwing- en linguistiek-klasse om studente te help om krities en kreatief met hierdie temas om te gaan. 

Ek en kollega, Carli Louw

Konferensiefasiliteite van kollokwium: Zebrastraat 32/001 - 9000 Gent

As deel van ’n vroeë akademiciprogram by UWK besoek ek en my kollega, Carli Louw, Gent-Universiteit in België vir twee weke. Ons besoek kollegas in die fakulteite opvoedkunde en kunste en filosofie om toekomstige samewerking te bewerkstellig en gee Afrikaans-taalverwerwing aan studente wat Afrikaans studeer by die universiteit. Ons maak natuurlik seker om oorgenoeg van die Belgiese biere en frietjes te drink en eet, want anders was ons nie werklik in België nie. Gelukkig vir ons vind die kollokwium tydens ons besoek plaas en verryk dit ons besoek nog meer. Soos ’n egte fangirl, was ek kinderlik opgewonde om na Christi van der Westhuizen te luister en nuuskierig om oor talle navorsers van regoor die wêreld – Durban, Singapoer, Nairobi, Rome en Brussel – se werk te hoor. 

Anastasia de Vries was oorspronklik deel van die program en haar afwesigheid het die geleentheid gevul met beide verlange en waardering. Die huldeblyk deur Ingrid Glorie, Yves T’Sjoen en Martina Vitackova het haar nalatenskap as ’n onbeskaamde stem met grenslose energie gevier. Hoewel ek net een keer tydens Woordfees saam met haar gewerk het, kon ek sterk identifiseer met Glorie se beskrywing van haar dinamiese gees. T’Sjoen het die huldeblyk gepas afgesluit deur haar te beskryf as nie net ’n kritiese nie, maar ook ’n ongewone en nie-tradisionele stem binne die Afrikaanse akademie – ’n stem wat opreg gemis sal word.

Na elke sessie, tydens koffie en middagete, wou almal die gesprekke voortsit. Ons het almal die behoefte gehad om dieper in die idee van ongemak te delf, soos om gevestigde norme oor nice racism uit te daag, die magsdinamika tussen verwagte en vereiste genderrolle te bevraagteken en te gesels oor die rol wat taal in die proses speel. Tydens vraag-en-antwoord-sessies het die gesprekke ons gelei om te besef dat taal self ’n ruimte van ongemak kan wees, maar ook een van groot potensiaal.

Die akademikus in my sal elke referaat in diepte wil bespreek en ontleed, sodat elkeen van julle ook met dieselfde ongemaklike inspirasie kan wegstap. Hier onder lig ek ’n paar hoogtepunte tydens die kollokwium uit.


Hannelie Marx Knoetze se referaat handel oor witheid en bevoorregting as ’n radikale dekolonisering van diskoers. Teen die agtergrond van Nice racism: How progressive white people perpetuate racial harm deur Robin DiAngelo, verwys nice racism na subtiele, goedbedoelde gedrag van Wit* mense wat rassisme versterk, soos die vermyding van ongemaklike gesprekke oor ras. Knoetze stel ongemaklike vrae oor witheid en bevoorregting in Suid-Afrika en vra watter rol kan ons as Wit akademici speel in die bevegting en dekonstruksie van ’n hoogs tradisionele en Wit patriargale sisteem. Sy illustreer veral hoe ongemak soms as katalisator vir transformasie kan dien en is duidelik dat dit nie ’n maklike proses is nie, maar van uiterse belang. Sy sluit af deur te sê ons moet ’n rol as ’n alternatiewe stem in die geskiedenis van Afrikaans en in Suid-Afrika inneem. Dit gaan dapperheid in ons beroep neem om white fragility te vermy, aanspreeklikheid jeens die samelewing en jou navorsingsgemeenskap op te neem en om ’n lewenslange verbintenis aan te gaan.

Dit gaan dapperheid in ons beroep neem om white fragility te vermy, aanspreeklikheid jeens die samelewing en jou navorsingsgemeenskap op te neem en om ’n lewenslange verbintenis aan te gaan.
— Susann Louw

Francine Maessen se referaat It doesn’t have to be this way: Climate justice for all het veral tot vele gesprekke by aandete gelei. Francine wys vir ons hoe verbeelding en kreatiwiteit ’n belangrike rol speel in die bewusmaking, sowel as die oplossings van omgewingsprobleme. Haar perspektief oor klimaatgeregtigheid bied ’n globale konteks, maar koppel dit aan hoe ongemaklikhede oor ras, gender, seksualiteit en klas in Suid-Afrika die klimaatsdebat bemoeilik en verryk. Francine stel voor dat deur beide jou beroep en passie te verpersoonlik, ’n ruimte van ongemak gevestig word waar positiewe verandering plaasvind.

Francine Maessen

Christi van der Westhuizen

In die keynote White aspiration: The intersectional nexus of ordentlikheid ondersoek Christi van der Westhuizen hoe ordentlikheid gebruik word as ’n middel tot uitsluiting. Dis ongemaklik maar noodsaaklik om hierdie konsepte oop te vlek. Sy vestig my aandag op die gedagte dat Afrikaanse vroue se toegang tot witheid en ordentlikheid rus op die verwagtinge van moederskap, eggenootskap en die vroulike liggaam. Die gesprekke het gelei na die populariteit van die tradwives-beweging op sosiale media en die mate waarteen ultra-/hoogs hegemoniese handelsmerke soos Boerboel en die Boer soek ’n vrou-program baie aandag geniet. Maar dan sit jy steeds met die volgende dilemma: Daar is weggedoen met sekere wette wat gemarginaliseerdes uitsluit, maar word queer, Coloured, Swart vroue en enige iemand wat nie Wit is nie, werklik verwelkom? 

Memory Mphaphuli bevraagteken hoe tradisionele praktyke soos ilobolo ongemaklike spanninge tussen kultuur, klas en geslag skep. Sy verduidelik dat ilobolo, hoewel dit dikwels as ’n right of passage en goedkeuring van ’n huwelik beskou word, ook ekonomiese uitdagings meebring wat dit vir baie onhaalbaar maak. Verder verseker dit die voortbestaan van tradisionele geslagsrolle binne die huwelik, wat ’n idealistiese beeld van tradisie bevestig, maar terselfdertyd vrae ontlok oor die patriargale norme wat hiermee gepaard gaan. Hierdie spanning beklemtoon hoe die praktyk nie net die huwelik simbolies belig nie, maar ook ongemak in Afrika-tradisies en -kulture blootlê.

Die kortfilm You can’t get lost in Joburg ontbloot die ongemaklike paradoks van vroulike Uber-drywers in Johannesburg. Terwyl passasiers ’n Uber sien as ’n veilige vervoermiddel, ervaar vrouedrywers dikwels die motor as ’n ruimte van geweld, onbeleefde optredes en gevaar. Hierdie ironiese rolomkering beklemtoon hoe sogenaamde veilige ruimtes dikwels nie vir almal dieselfde is nie en nooi kykers om die komplekse realiteite van geslag, werk en veiligheid te konfronteer. Dit is juis hierdie ongemak wat nodig is om nuwe insigte oor die dinamika van stedelike lewens te genereer. 

In die Afrikaanse sessie het beide Louise Viljoen en Reinhardt Fourie die ongemak in literêre kuns na vore gebring.

Viljoen se interseksionele interpretasie van Lynthia Julius se Kinderlê wys hoe om ongemak in poësie bloot te lê. Sy lê klem op die onopsigtelike kategorieë wat in die poësie voorkom, byvoorbeeld Julius se bewoording van “my Afrikaans” waarvan ons aflei dat dit na Gariepafrikaans en Nama, eerder as Standaardafrikaans verwys. Ons moet ons denkraamwerk aanpas om toeganklik te wees vir hoe kunstenaars ongemak gebruik om intieme maar universele temas uit te lig. 

Reinhardt Fourie bespreek Azille Coetzee se In my vel as ’n narratief wat ongemak tussen tale en kulture uitdaag en herstruktureer. Die eerlike en kritiese beskouing van Afrikaanse witheid teenoor Nederlandse witheid het my veral aangegryp. Ek moet myself deurentyd vra: Is ek aandadig op nasionalistiese stereotipes van Afrikaners, van Wit Afrikaanssprekendes? En watter gesprekke is nodig om ruimte in ongemak te skep om sulke tendense te openbaar en uiteindelik te voorkom?

Enige vorm van skep kan ongemak as ’n instrument van kreatiwiteit en transformasie gebruik. Tydens die kollokwium het digters, romanskrywers, asook filmmakers Simon Stanton-Sharma en Jade Munslow Ong ongemak nie net erken nie, maar as ’n kreatiewe dryfkrag gebruik. Afrikaans het nog altyd die vermoë gehad om ongemak te verwoord – van die eerste Ons Klyntji in 1896 tot vandag. As jong digters, kunstenaars en denkers moet ons voortgaan om ongemak te omhels, want dit is binne daardie ruimte waar ons ons wêrelde kan transformeer. Laat jou ongemak skép!


*Klyntji skryf verwysings na alle rasgroepe met hoofletters in erkenning van historiese en hedendaagse ongeregtighede, sowel as van die kunsmatigheid van ras. Vir meer inligting, sien Klyntji se stylgids en lees hier.

Citadel Park

Bier in Gent

Vroegoggend; vroegoggend; skemertyd in Gent-middestad

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Konfronteer ongemak: Is jy 'n aktivis, 'n nice racist of net ordentlik? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand