Boer Soek 'n Vrou: realiteitsreeks of vervaardigde nostalgie?
BSnV

Dit is tyd om uit die land van die Afrikaner te tree

Ek fokken love reality TV. Ek het al vir myself gesê dis net om my brein af te skakel, of ek kyk dit net om die spot te dryf met sekere mense. En ek gebruik hierdie vervaardigde realiteit om my eie realiteit te verstaan. Dit het begin met die Kardashians kyk ná skool om te ontsnap na ’n wêreld wat so absurd en fake gevoel het soos my huiswerk en die irriterende skoolkinders rondom my, na Too Hot to Handle wat my laat besef het dat die meeste mense nie rerig oor hulle gevoelens kan praat nie. Sedert die C-woord ons lewens omvergegooi het op meer maniere as wat ek nou kan process, het ek oneindig dankbaar geword vir die vervaardigde intimiteit van vreemdelinge. Ek onthou veral ’n tyd waar ek vir ’n maand by my oupa gebly het om vir hom te sorg. Elke aand het ek Afrikaanse televisie weer verken soos wat hy van die een kykNET-program na die ander oorgeskakel het. Dis toe dat ek weer afgekom het op Boer Soek ’n Vrou

Alhoewel dit moeilik is om die sukses van Boer Soek ’n Vrou te skei van die patriargale strukture van die program, en die gewigtige onderwerp oor land-eienaarskap, is my fokus egter op die realiteit(e) wat vervaardig word in die program en wat dit vir ons as die kykers beteken.

Alhoewel dit moeilik is om die sukses van Boer Soek ’n Vrou te skei van die patriargale strukture van die program, en die gewigtige onderwerp oor land-eienaarskap, is my fokus egter op die realiteit(e) wat vervaardig word in die program en wat dit vir ons as die kykers beteken.
— Carina Jansen

Baie kykers sal waarskynlik glo dat Boer Soek ’n Vrou eg Suid-Afrikaans is. Ons is inderwaarheid maar een van dertig lande wat hulle eie twist op die oorspronklike Britse dating show vervaardig het. Die kyker word genooi om ’n handvol boere te aanskou terwyl hulle ’n handvol vrouens leer ken om uiteindelik iemand te vind wat saam met hulle die plaaslewe kan deel. Farmer Wants a Wife is in 2001 vir die eerste keer uitgesaai in Engeland en dit is omtrent al wat ’n mens kan uitvind oor dié program. Wat ek kon aflei uit obskure en meestal onbetroubare artikels is dat die oorspronklike program nie te goed gedoen het nie. Wat ek nog verder kon aflei van wat ek wel gesien het van ander lande se weergawes, is dat ons s’n dalk een van die bestes is. Hoekom vaar die progam juis so goed onder Suid-Afrikaanse gehore? Miskien is dit vir sommige kykers maklik om geheg te raak aan die deelnemers op die program wat hulle herinner aan mense wat hulle self ken/geken het of wat hulle gereeld teëkom. Ander geniet dit miskien om aan hulle eie lewens vir ’n uur of wat te ontsnap of bloot net om te lag vir hoe Afrikaans dit is.

BSnV

Die eerste twee seisoene was nog rou en lomp en dit kom voor asof die vervaardigers nog nie heeltemal geweet het wat hulle doen nie en die deelnemers was nog lekker ongemaklik voor die kameras. My persoonlike gunsteling van seisoen twee is Ashley, ’n vurige Engelse blondine wat gesê het die view van haar kamer af is kak en wat vir Boer Pieter H ’n dick genoem het. Behalwe vir die paar goue oomblikke van spice is Boer Soek ’n Vrou al van die begin af ’n plat-op-die-aarde show oor ’n plat-op-die-aarde boer wat op soek is na ’n plat-op-die-aarde vrou. Die skouspel van tipiese realiteitprogramme word verruil vir ’n vervaardigde genuineness. Geen drama, geen pryse, geen troues — net ’n paar enkellopendes wat ’n kans kry om mekaar te leer ken en hopelik ’n lewensmaat te vind. 

Dit is natuurlik wat die reeks so briljant maak in sy uniekheid. In plaas daarvan om staat te maak op meer universele reality TV tropes, is Boer Soek ’n Vrou se struktuur gebaseer op die tradisionele en dikwels nostalgiese eienskappe van die “Afrikaner boer”. In die reeks word ’n spesifieke identiteit oor en oor herhaal tot dit amper begin voel soos ’n manifestering daarvan. Veronica Barassi beskryf identiteit as ’n proses van selfverbeelding wat deurentyd deur die daaglikse praktyke van ’n bepaalde groep gekonstrueer word en streng verbind is aan storievertelling. Wat is dan hierdie reeks se storie? 

Deur die loop van elke episode leer ons die deelnemers ken terwyl ons deur merkwaardige landskappe reis en hoop dat elke pot uiteindelik sy deksel sal kry. Alles gebeur om en in verhouding met die plaas, en dit is waar die storie van identiteit al hoe meer duidelik word. Hannelie Marx Knoetze skryf in haar ontleding van Boer Soek ’n Vrou dat die plaas die natuurlike milieu van die Afrikaner is en die enigste plek waar die Afrikaner-identiteit voluit gevorm kan word. Dit is verbind aan die Afrikaner-geskiedenis en dis waar land, patriargie en erfenis kop wys. Alhoewel die program nie blatant sê: “Hierdie show is ’n program vir Wit, Afrikaanse, heteroseksuele Christene” nie, word dit wel verteenwoordig deur wie ons heeltyd sien op die skerm (en wie nie).

Alhoewel die program nie blatant sê: ‘Hierdie show is ’n program vir Wit, Afrikaanse, heteroseksuele Christene’ nie, word dit wel verteenwoordig deur wie ons heeltyd sien op die skerm (en wie nie).
— Carina Jansen

Daar is wel Boer Damian van seisoen 12, die eerste (miskien laaste?) gay boer wat aan die reeks deelgeneem het. Sy deelname was vir menigte kykers baie kontroversieel en hy is sleg behandel deur sekere kykers. Tog het hy op baie maniere steeds ingepas by die oorkoepelende narratief van die reeks. Het dit miskien ’n rol gespeel in die aanvaarding van die kykers wat hom wel verwelkom het? Anders, maar nie té anders?

Alhoewel ons nie naïef moet kyk na realiteitprogramme as “ware” stories oor mense se lewens nie, kan die meeste van die programme nie die werklikhede van die tyd vryspring nie. Die podsending Spectacle: An unscripted history of Reality TV bied ’n goeie verstaan van hoe hierdie tipe programme met die werklikheid skakel. In dié podcast word ’n mens gelei deur die Amerikaanse geskiedenis van realiteitprogramme en daar word aangedui hoedat dit alles begin het met die docu-series An American Family (1973), gevolg deur The Real World (1992), Survivor (2000) en ander. Alhoewel die konteks Amerikaans is, is dit merkwaardig hoedat elke realiteitprogram iets van die sosio-politiese omstandighede van die bepaalde tydperk wys. Mariah Smith beskryf in die eerste episode van die podsending dat realiteitprogramme ’n “time capsule of today” is. An American Family het byvoorbeeld die eerste openlike gay man gewys op realiteittelevisie in dieselfde jaar as wat die American Psychiatric Association opgehou het om homoseksualiteit as ’n geestesversteuring te definieer. The Real World het weer verwys na die onderliggende rassisme wat voorkom in kinders wat grootgemaak is in konserwatiewe gemeenskappe. 

Boer Soek ’n Vrou is vir my eerder ’n “time capsule of yesterday”. Nes baie ander Afrikaanse media weerspieël dit ’n wêreld wat sigself vervaardig; ’n wêreld wat in ’n groot mate nog geanker is in die Suid-Afrikaanse koloniale verlede. Seisoen 10 (“Groter, Beter, Boer”) het in 2017 te midde van ’n polities onstuimige tyd verskyn: Fees Must Fall, korrupsie in die ANC en Facebook profile pictures wat al hoe meer “Save the Boer”- momentum gekry het. Die oorblyfsels van apartheid en die Afrikaner-identiteit is tog so nou verweef. Die politiek rondom Afrikaans en die mense wat dit praat kan nie meer misgekyk word nie, maar tog het hierdie gesprekke nooit opgekom in Boer Soek ’n Vrou nie. Die storie het net aangegaan. ’n Plaas bly ’n plaas bly ’n land op sy eie.

Groter, Beter, Boer
— Boer Soek ’n Vrou

Die idealistiese, neutrale plaaslewe met die dierbare mense is dalk ’n nostalgiese vorm van ontvlugting in ’n tyd waar ons met onsekerheid en inperkings leef. ’n Bietjie nostalgie is nie noodwendig ’n rooi vlag nie, maar word nostalgie vir ’n lewe wat so sterk verweef is met die oorsprong van Afrikaner-identiteit nie juis ’n oranje blanje blou-vlaggie nie? Bygesê, ek dink nie Boer Soek ’n Vrou het die kapasiteit om sulke komplekse gesprekke aan te pak nie, en ek dink nie ons hoef bang te wees dat dit ’n nuwe konserwatiewe Afrikanernasionalisme sal aanhuts nie. Die program het my egter baie laat dink aan Afrikaanse mediaprodukte wat ’n insulêre kultuur help skep en onderhou. Dit is tyd om uit die land van die Afrikaner te tree.

BSnV
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Boer Soek 'n Vrou: realiteitsreeks of vervaardigde nostalgie? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand