Coconut Kelz leer Suid-Afrikaners hoe om Wit te wees
Jy mag maar lag
Menigte Suid-Afrikaners is bekommerd oor kwessies wat probleme in die land veroorsaak — beurtkrag, rasseverhoudings, klasse verskille, ’n korrupte regering en meer. Vir Coconut Kelz, ’n “transracial” vrou met ’n “special ability to chameleon in and out of the world of Caucasity”, soos wat sy haarself in haar boek Coconut Kelz’ Guide To Surviving This Shithole (2019, Jonathan Ball) beskryf, is hierdie kwessies egter nie só druk nie. Kelz ondervind nie beurtkrag nie, omdat sy van ’n kraglyn gebruik maak wat deur al die DA-lede gedeel word en deur Nkandla onderhou word, President Cyril Ramaphosa is haar “regte” pa en sy wil weet hoekom ons dit “ApartHate” noem, want sy het dit ge-ApartLOVE.
Coconut Kelz is ’n karakter wat deur die aktrise, skrywer en seremoniemeester Lesego Tlhabi in 2016 geskep is. Tlhabi het gesien hoe Wit mense kommentaar gelewer het op die sosiale media-plasings oor Pretoria Girls’ High wat reëls gemaak het oor hoe Swart meisies hulle hare mag dra. Sy sê dat die kommentaar afwysend was teenoor Swart meisies en hoe hulle oor die algemeen oor hulle hare voel. Sy het op ’n dag haar foon uitgehaal en van dié kommentaar begin herhaal en daaruit is die Coconut Kelz-karakter geskep. Coconut Kelz het nou al sowat 60 000 volgelinge op Instagram en ’n boek onder haar belt. Hierdie gids help lesers om tussen “white and wrong” te kies. “White people now have to work for what they have and that is simply unfair! You say equality, we say oppression!”, skryf sy.
Eve Kosofsky Sedgwick skryf in 1990 dat om kuns te maak en kuns te aanskou wat gefokus is op die uitwys van ongeregtighede, nie so gesetel hoef te wees in somberheid as wat baiemaal “reg” voel nie. Dit is maklik om die morele standpunt in te neem dat om te lag wanneer daar soveel probleme in ons land is, oneties is; om te lag is om ’n blinde uitkyk te hê oor dit wat rondom ons aan die gang is. Sedgwick is egter van mening dat kuns wat “herstel”, hetsy dit kuns is wat vorige sondes probeer terugeis, of wat huidige sondes uitwys, nie gegrond hoef te wees in die negatiewe om die nood van die wêreld op ’n swaar manier op ons skouers neer te druk nie. Kuns en ons verstaan van kuns mag gedryf word deur die soeke na plesier en verligting.
Dit beteken nie dat hierdie kuns enigsins minder ingestel is op die ongeregtighede van die wêreld nie, maar eerder dat een van die inherente kenmerke van kuns deur die jare — om vreugde te verskaf, ontvlugting te bied of om ’n blik op die wêreld deur ’n kunstenaar of optreder se oë te bied — wel in gedelf mag word. Dit is nie oneties om ook te lag ten spyte van die ongeregtighede in die wêreld nie. Inteendeel, om te lag in die moeilike tye en steeds sensitief te wees vir die werklikheid waarin ons is, is iets wat min kunstenaars en optreders goed regkry. Satire en parodie bied in hierdie opsig ’n goeie uitweg vir kunstenaars en optreders om humor in hulle werk te handhaaf, en om steeds in voeling te wees met kwessies en onderwerpe wat aktueel en relevant is.
Tlhabi sê dat haar satire tot dusver goed ontvang is, maar dat die helfte van die humor van haar karakter lê in die feit dat sommige mense nie besef dat dit ’n grap is nie. Sy vertel vir TimesLive hoe ’n Wit ou vir haar kwaad geraak het en gesê het dat sy “whiteface”-komedie doen. Tlhabi sê dat daar egter Swart mense is wat soos Kelz praat en dat sy eerder moet aanhou waarmee sy besig is. “Even doing a typical Black South African accent would come across as condescending,” sê sy.
Soos wat Marita van der Vyver dit stel: “Satire is nie satire as daar nie langs die pad op iemand se tone getrap word nie. Sonder daardie byt in die woorde of die prentjies is dit net tandelose grappies.” Dalk juis hierom is Coconut Kelz so geliefd (en so geneig om reaksies uit te lok). Sy is ’n karakter wat net-net absurd genoeg is om belaglik te wees.