Wat is die mees medemenslike manier om te sterf?

Collage met Carl Jung se The tree of life (1922) en foto deur Gys Loubser
Uit Celeste Theron se feesdagboek: 'Liefde, Lafras' het nogal verras
In 1964 skryf die Kanadese sielkundige Eric Berne in die boek Games people play: the psychology of human relationships dat die mens drie basiese behoeftes het: fisieke aanraking, erkenning en struktuur. Wanneer ’n lewenslange eggenoot sterf, verloor jy jou grootste witness, struktuur, erkenning, aanraking en die klein rituele waaruit daai gedeelde lewe bestaan. In die toneelstuk Liefde, Lafras — wat ek onlangs by Woordfees gesien het — word hierdie verlies aan ’n gedeelde lewe ondersoek wanneer Gertie (Antoinette Kellermann) haar eggenoot Lafras (Gerben Kamper) afstaan aan die dood. Die liefde tussen twee lewenslange eggenote en die agteruitgang van hulle liggaamlike toestand word ondersoek deur ’n magies realistiese wêreld.
Die teks is oorspronklik geskryf deur Caitlin Wiggill en verwerk in Afrikaans deur Antoinette Kellermann. (Dis fassinerend dat Kellermann twee veeleisende toneelstukke hierdie jaar beliggaam wat beide draai om die dood. Sy het sopas in Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk Verwelkingslied gespeel.) Die stel, ontwerp deur Wolf Britz, is lieflik; ’n klein intieme lewe word uitgebeeld met deursigtige mure wat ’n delikate bestaan weerspieël agter ’n verouderde sitkamerstel. Dis veral die klankbaan, deur Charl-Johan Lingenfelder, wat bydra om die parapsigologie (die studie van paranormale vermoëns en kragte soos heldersiendheid en telepatie) van die stuk met die werklikheid in verband te bring, byvoorbeeld die gekwetter van voëls wat elke keer voorkom vanuit dieselfde rigting op die verhoog waar ’n onsigbare boom buite hulle sitkamervenster staan. Beide die karakters is diep verknog aan die boom wat as ’n simbool van hulle verhouding dien. Soos wat die momentum van die toneelstuk toeneem, hoor ’n mens blaffende honde, ganse en blare wat waai, saam met die fladderende vlerke van voëls wat verjaag word.
As twee bedeesde en beskeie lewensmaats, word Gertie en Lafras se afgetrede lewens vervleg deur die versigtige ditjies en datjies wat mense aan mekaar verbind deur hulle daaglikse roetines. Lafras, ’n gemoedelike en getroue eggenoot, het egter nog nooit vir Gertie gesê hy het haar lief nie. Ongeag weet Gertie deur sy gebare dat Lafras haar diep liefhet. Gertie is ’n redelike vrou met min verwagtinge; godsdienstig en onderdanig aan haar man. In hierdie huisgesin dra sy die tee aan en sorg sy dat alles in orde is. Wanneer Lafras egter sterf nog voordat sy tee kon afkoel, word Gertie yskoud alleen agtergelaat met die herinneringe wat hulle lewens saam verweef het.
Die skok van Lafras se dood gaan gepaard met die skok van Lafras se wederkoms wanneer hy ’n paar dae later uit die dood opstaan om vir haar te sê hy het haar lief en dat God nie bestaan nie. Alhoewel Gertie verheug is om haar man weer te sien, is sy onseker in watse gedaante hy voor haar verskyn en of sy haar sintuie kan vertrou – maar Lafras verseker haar dat hy werklik leef en dat daar nie iets soos ’n hiernamaals bestaan nie.
Fotograaf: Gys Loubser
Of jy nou in geeste glo of nie, die onverklaarbare, spirituele ervaringe van die parapsigologie bly ’n fassinerende plek vir ’n storie om mee af te skop. Sielkundiges soos Carl Jung het wel erkenning gegee dat daar ’n spirituele sfeer bestaan wat ons nie met enige wetenskaplike verklarings kan verduidelik nie. Dis juis waar hy en Sigmund Freud van mekaar verskil het. (Hierdie meningsverskil het onherstelbare skade aan hulle vriendskap gerig.)
Gertie word in ’n diep eksistensiële krisis gedompel deur eers die dood in die gesig te staar, en dan te moet vrede maak dat daar man weer leef nadat hy gesterf het. Die toneelstuk draai rondom die verval van die rituele wat sy eens as heilig beskou het. Gertie moet van voor af besin oor die aard van haar en Lafras se bestaan en begin om alles om haar te betwyfel en te bevraagteken. Sy vermy oproepe van vriende en familie wat bekommerd is oor haar en verloor haar sosiale struktuur. Haar vriendin Hendriette probeer om haar aan te moedig om hulle huis te verkoop – maar hoe verkoop ’n mens dít waaraan jou hele wese so verweef is? Haar blydskap om weer ’n nuwe lewe gegun te word saam met haar man word ná ’n ruk oorskadu deur die eensaamheid waarin sy saam met Lafras verval deur hulle albei van die buitewêreld te probeer beskerm. Die mens wie se waarnemings en insigte nie deur ander erken word nie, verval in ’n diep depressie: Lafras se wederkoms isoleer haar van die gemeenskap waarin hulle beide eens betrokke was.
Later ontwikkel Lafras ’n grens om hom wat hom verhoed om die huis te verlaat, byna soos die onsigbare membraan waarmee die mure van die huis op die stel omhul word. Hoe dit lyk en voel wanneer iemand se liggaamlike toestand hulle lewensmaat se vreugde begin inperk en die skuldgevoelens wat daarmee gepaard gaan, is welbekend. “Dit voel vir my of jy vasgevang is hierbinne,” bieg Lafras teenoor Gertie in hulle stryd om hom meer beweeglik te maak, wat ’n tol op haar eie liggaam eis.
Die karakter van Lafras fassineer my omdat hy my herinner aan ’n portuur van afgetrede mans wat verwag dat hulle vrou alles agter hulle aandra. Stel jou voor Gertie skop eerste die emmer — sou Lafras in staat wees om vir homself ’n koppie tee te kon maak? Selfs in lewende lywe is Lafras maar ’n dooierige karakter wat die meeste van sy tyd op sy gemakstoel voor die TV deurbring. Tog het ’n mens deernis met hierdie hardkoppige man wie se vrou voortdurend by hom moet inval, selfs wanneer hy besluit hy het sy geloof verloor en dat hulle nie meer hoef te bid voor aandete nie. “Ek weet ons bid nog altyd voor ons eet, maar vir wie en vir wat as ons weet daar is niks aan die ander kant nie?”
’n Mens wonder of Lafras ’n fragment van Gertie se verbeelding is, maar tog maak die magies realistiese aard van die stuk dit moontlik dat hy wél die dood oorwin het. Dis natuurlik ook nie ’n onbekende religieuse tema nie: Jesus het immers opgestaan uit die dood.
Op ’n stadium sê Gertie vir Lafras: “Ons was nog altyd twee doodgewone mense, en ek was trots daarop.” Hier dink ek weer aan Eric Berne, wat in sy boek noem dat die mens na struktuur verlang en dat struktuur gewoonlik deur werk en rituele gereguleer word. Hierdie rituele word vir ons geleer van kindsbeen af, en word soms na verwys as “goeie maniere” om te handhaaf om in te kan skakel by ’n gemeenskap se norme, soos gebed of om kerk toe te gaan. Skielik leef Gertie saam met ’n vreemdeling wat nie meer waarde aan gebed en haar en Lafras se gedeelde rituele heg nie. Sy verloor haar godsdiens, haar rituele, die huwelik wat sy eens geken het, en al haar goeie maniere. Soos wat hulle rituele wegskilfer en afdop deur die verloop van die stuk, kom Gertie tot die besef dat ’n wonderwerk, soos ’n tweede kans om te lewe, ook in die wonder van keuses lê: Nes ’n mens elke oggend opstaan en kies om te leef, kan jy eendag ook net besluit om te sterf. Dit raak vir Gertie duidelik dat die wonder van die lewe gekoppel is aan die wonder van die dood.
Die vraag is wel: Waarom besluit Gertie dat die dood ’n groter wonderwerk is as die gebeurtenis van haar man wat opstaan uit die dood? Wel, kom ek sê jou. Sy het die keuse om haar eie lewe te neem, en Lafras bied nie werklik vir haar enige keuses aan nie. Dit kan ook wees dat sy eenvoudig so afgeleef voel as Lafras se vrou en versorger, dat sy nie meer na haar eie behoeftes kan omsien nie. Gertie se vaste lewensgewoontes word wild en waardig uit die deur gesmyt. Alhoewel Lafras se karakter deur die verloop van die stuk karakterontwikkeling toon, deur byvoorbeeld vir die eerste keer vir Gertie te sê hy het haar lief, is sy geesdrif van korte duur en begin hy weer liggaamlik agteruit gaan. Beide van hulle is komplekse karakters wat nog lank ná die toneelstuk by ’n mens spook.
Ek word vervul met ’n mengsel van verdriet en deernis wanneer ek hulle magteloosheid aanskou. Gertie se mislukte poging om haar man op te kikker deur hom te probeer verras met ’n koek is byna ondraaglik om na te kyk. Ek sien my ouers. Lafras se bewustheid van sy hulpeloosheid is pynlik om te aanskou: “Ek is besig om weg te kwyn; ek is vreesbevange oor wat aan die gebeur is.” Nadat Gertie se goeie bedoelings met die koek platval, wend Lafras ’n poging aan om haar te help aartappels skil, maar voordat hulle weer sien, is die bak vol bloed. Lafras is verlig dat sy hande steeds bloei, want dis ’n teken van lewe. Maar die gehoor se hande is afgekap. Gertie verbind sy wond en stel voor dat hulle na ’n TV-program kyk, maar besef dan dat Lafras besig is om sy sig te verloor. Die twee geliefdes verloor al die doodgewone dingetjies waaraan hulle betekenis heg en besef in werklikheid is dít al waaruit die lewe bestaan.
Antoinette Kellermann en Gerben Kamper is twee fantastiese akteurs wie se teerheid teenoor mekaar op die verhoog by my die verlange opwek om ook eendag daai tipe liefde vir iemand te kan gee. Met al die teenstrydighede in hulle stryd om te oorleef, bly hulle oneindig lief vir mekaar. “Ons is die middelpunt van alles, tot alles en almal.”
Dis nie moeilik om met hierdie teks te identifiseer nie, aangesien almal een of ander tyd met die dood gekonfronteer sal word, en boonop gedwing sal word om betekenis daaraan te koppel. Dalk is jy as kyker ook bekend met die teenstrydige stryd wat daarmee gepaard gaan om bejaarde ouers by te staan met onmoontlike keuses.
“Dis nie moeilik om met hierdie teks te identifiseer nie, aangesien almal een of ander tyd met die dood gekonfronteer sal word, en boonop gedwing sal word om betekenis daaraan te koppel. Dalk is jy as kyker ook bekend met die teenstrydige stryd wat daarmee gepaard gaan om bejaarde ouers by te staan met onmoontlike keuses.”
Ek vermoed Wiggill het wel meer as net ’n eksistensiële teks in gedagte gehad en dat die teks eerder speel met die verskeie moontlikhede van hoe ons met ons sterflikheid omgaan. Dit opper vrae soos: “Wat is die mees medemenslike manier om te sterf?” Godsdiens word in Liefde, Lafras vervang met eksistensialisme, wat weer afgewissel word met ’n Boeddhistiese tipe benadering wat hipotetiseer dat ’n mens dalk weer kan terugkeer na die aarde, maar dié vrae – oor die lewe en die dood, rituele, struktuur, geloof – word aan die gehoor oorgelaat om oor te tob. Die verrassende stelling wat Wiggill wel maak, is soos Gertie besef, dat die wonder van die lewe in die dood self lê.
Nogal donker, nè?
Collage met Carl Jung se Quadrated Circle in the Sky (1920) en foto deur Gys Loubser
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wat is die mees medemenslike manier om te sterf? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




