Is daar 'n uitkoms vir Wit middeljarige punks?

Fotograaf: Gys Loubser
Nóg uit Celeste Theron se feesdagboek: Die antwoord lê dalk in noot en woord
Dit was Woensdag of Donderdag, dalk Saterdag of Sondag; ná drie weke op die pad van Aardklop tot Woordfees maak dae in elk geval nie meer saak nie. Ek is op pad om Ek is nie Danie te gaan kyk by die Spier-ouditorium. Dis hel warm. Oral langs die straat sit mense op die hoeke van kafees en blaai deur hulle Woordfees-program in die snikkende hitte agter donker sonbrille.
Die toneelstuk word as volg beskryf in die program:
In die eenmanstuk in 21 gedigte – ’n keur uit die digter Danie Marais se vier digbundels – trek Albert Pretorius die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe skerf vir skerf uit mislukte huwelike in die buitenste ruimte van Duitsland en die bevoorregte gemors van middelklas-Suid-Afrika.
Die regisseur is Nico Scheepers; die skrywer is natuurlik Danie Marais; die hoofkarakter word gespeel deur Albert; die musiekregisseur is Schalk Joubert; en die stuk is gekonsepsualiseer deur Niel van Deventer. Dit blyk wel om iets heeltemal anders op te lewer as net nóg ’n poetry-reading-met-’n-kitaar (volgens wat ek gehoor het tussen die gegons op straat). Hier word elke noot geïntegreer met elke woord in ’n lewende klankervaring.
Dít herinner my aan ’n essay deur TS Eliot, The music of poetry. Hierin ondersoek Eliot die verhouding tussen klank, ritme en die betekenis in digkuns. Hy argumenteer dat poësie nie bloot ’n vorm van taal is nie, maar ’n lewende musikale ervaring wat deur die ritmiese struktuur van woorde oorgedra word. Volgens Eliot dra ritme die emosionele beweging en denktempo van die gedig. Hy sien die digter as iemand wat ’n fyn oor het vir die spreektaal, en dit kan transformeer tot ’n poëtiese ritme sonder om sy natuurlike toon te verloor. Soos musiek, behoort poësie dinamies te wees: vol variasie, verandering van tempo en subtiele skommelinge tussen spanning en ontlading. In sy latere werk het musiek vir Eliot ’n metafisiese dimensie gekry. In ‘The dry salvages’ in sy Four quartets (1941) beskryf hy musiek as iets wat bo taal uitstyg, iets wat mens naby die goddelike bring: “You are the music / while the music lasts.”
“Soos musiek, behoort poësie dinamies te wees: vol variasie, verandering van tempo en subtiele skommelinge tussen spanning en ontlading.”
Ek vind myself vyf minute te laat by die Spier-ouditorium. Die deure is reeds gesluit. Ek bestel dus ’n bottel witwyn by die Spier-restaurant en grou Danie se nuutste digbundel uit my handsak uit, Ek en jy bestaan nie (2024, Tafelberg). Dit het die mooiste bladomslag, geïllustreer deur die berugte strokiesprentkunstenaar, Anton Kannemeyer, ook bekend as Joe Dog; medeskepper van die satiriese strokiesprent, Bitterkomix. Sy werk lewer kommentaar op Suid-Afrika se komplekse rasseverhoudinge met aweregse humor. Dis egter riskant om sy werk te gebruik op ’n voorblad. Daar is ’n paar wille stellings ’n paar jaar gelede oor sy werk gemaak toe The Artists’ Press en Superbalist sy werk van hulle webblad verwyder het, omdat iemand op X gemeen het sy karakterisering grens aan rassisme.
Ek en jy bestaan nie se alledaagse vertelstyl maak dit moontlik om vinnig weggevoer te word in die unbearable whiteness of being oor ’n bottel witwyn en dit op een slag deur te lees voor die ouditorium. Marais se gedigte het ’n duidelike klankmatige bewussyn. Soos wat die ys wegkwyn in my wynglas, word elke gedig meer liries. Marais se kombinasie van ironie en deurnis gee die gewone spreektaal in die gedigte ’n musikale diepte.
Ek tob oor die titel van die toneelstuk, Ek is nie Danie. Het die Wit middeljarige man so onsigbaar geword dat so ’n selfspottende en siniese titel mens tong-in-die-kies laat giggel? Die veelsinnige titel dui op die teenstrydige emosies wat die skrywer ervaar, wat wissel tussen misnoeë en protesterende woede, met oomblikke van dankbaarheid en tog ’n tikkie verwondering. Die ontkenning in die titel hou verskeie komiese moontlikhede in. Eerstens word die verteller vertolk deur Albert Pretorius en is dus nie Danie Marais self nie. Tweedens dui dit moontlik daarop dat die Wit man voel dat hy stelselmatig op die rand van die samelewing gestoot word. Derdens sinspeel dit op Marais se onlangste bundel se titel.
Die volgende dag is ek skugter, nugter en betyds. Ek ag myself gelukkig. Op die verhoog verskyn Schalk en Albert. Albert sit in die donker op ’n stoel met ’n hoodie oor sy oë getrek, terwyl hy fluisterspoeg: “Dis weer ’n ‘jy-sê en ek-sê’-tipe ding.” Hy laat dink my aan Eminem wat my byna onmiddellik wil laat lag. Die verbrokkeling van ’n verhouding ontvou van Duitsland terug na Suid-Afrika. Verbitterde woorde word oor uitgerekte note weergalm in die mistige blou maanlandskap op die verhoog: “Ek sukkel nou nog om te verstaan hoe jy so in flarde was”; “jy was ’n gebore enkeling”; “ná nege jaar saam, eensaam, toe ek vir jou sê ek is nie meer lief vir jou nie”; “jy het my vir dae lank vir verduideliking gevra”; “verwese voor my gestaan”.
Die sarkasme in hierdie kamma-simpatieke woorde word uitgebrul teen die agtergrond van ’n huilende kitaar. Verbasend staan mens aan Marais se kant van die verhoog in hierdie verhouding. Skuld mens iemand ’n verduideliking vir die eensaamste jare van jou lewe, wanneer jy die dag wil waai? En hoe verduidelik jy dit vir jou kind? Is die woede in die woorde nie effe bevrydend nie?
Schalk dra ’n sonbril op die donker verhoog en verstel hier ’n noot en streel daar ’n akkoord: ’n keyboard, kontrabas en ’n paar kitare is gerangskik om ander musiektoebehore. Dan tokkel hy ’n kitaar of trek iewers ’n snaar. Albert beweeg van hoek tot kant tot op die rand van mismoedigheid op die verhoog, maar draai dit dan weer drasties om met ’n tikkie aggressie of deur te talm in ’n teer oomblik van verlange. Die wispelturigheid van sy emosies help om die wrange sin vir humor nog ’n entjie verder te voer; veral met Schalk wat nie ’n ooglid vir een oomblik verroer nie. Soms speel Albert ook musikant. Partykeer lyk die twee op die verhoog bloot na ’n garage band van die 90’s: Twee kwaai seuntjies is stout in hulle pa se basement en wil hê die bure moet dit weet.
Dit kon so maklik net ’n voorlesing van gedigte wees met iemand wat ’n bietjie background noise maak, maar hierdie beeld iets veel meer veelsydig uit. Later gesels ek vinnig met Schalk oor sy rol as musiekregisseur oor ’n paar WhatsApps.
“Ek het baie jare se ondervinding om met digkuns te werk. Die werk wat ek met mense soos Breyten Breytenbach, Laurinda Hofmeyr en Gert Vlok Nel gedoen het, staan sentraal in dit,” vertel Schalk. “Vir hierdie projek wou ek te alle koste die konsep van woordkuns, soos meeste mense dit ken, vermy. Ek het inspirasie gevind by Nick Cave se album Ghosteen (veral ‘The spinning song’ en ‘Bright horses’), en Tom Waits se What’s he building? En die film, Waltz with Bashir, wat gaan oor gefragmenteerde geheue oor traumatiese ervaring, en natuurlik in Danie se digkuns en persoonlike musieksmaak. Die klankbaan het met tyd ontwikkel deur die interaksie tussen Albert se vertolking van die gedigte en die beelde wat dit by my opgetower het.”
Die neurotiese gebare op die verhoog dra ook by tot die intrige, byvoorbeeld wanneer Albert op die vloer gaan sit en timmer op sy piepklein steel tongue met die dringendheid waarmee net ’n vierjarige kan vloermoer tot jy jou verstand verloor. Dit maak die fisieke manifestasie in die frustrasie meer konkreet. Die spektrum van komiese tegnieke wat gebruik word om die storielyn en spanningsvlakke van die aggressie sinvol te plooi, sodat die melodrama of tragiek daarvan benadruk word, is so tipies van Gen X.
“Die spektrum van komiese tegnieke wat gebruik word om die storielyn en spanningsvlakke van die aggressie sinvol te plooi, sodat die melodrama of tragiek daarvan benadruk word, is so tipies van Gen X.”
Schalk vertel verder: “Die gebruik van die loop pedal deurgaans simboliseer ook die sikliese natuur van bestaan en hoe mens vasgevang in jou omstandighede is – natuurlik onder die leiding van die briljante Nico Scheepers. Hy is ook baie musikaal en hy het my vrye teuels gegee om te eksperimenteer en kon baie vinnig vir my terugvoer gee sonder om enige iets voor te skryf.”
Die onverwagte aanwending van die ondeunde humor wat deurskemer op die rokerige verhoog met die Star Trek-beligting neem mens reguit terug na die 90’s. Ek vind die aweregse humor in Albert se gebare juis interessant, omdat die kern van die stuk besonders donker is, al raak dit aan fundamentele kwessies van menswees. Die vermaaklike aard van die karakter wat Albert vertolk hou die gewigtige tonele lig. Ek sou die stuk nie as ’n komedie beskryf nie, maar dit ontlok wel ’n bietjie ongemak by die gehoor: Mense is nie altyd seker waar hulle mag lag of ’n sug van verligting kan gee nie. Toe ek later met Niel praat, wat die stuk in sy geestesoog verbeel het, beklemtoon hy dat hy werklik die tyd geneem het om versigtig met Marais se oeuvre om te gaan.
“Dit was vir my belangrik dat ons Danie huldig oor al vier sy bundels en sy hele storie vertel. Ek ken sy werk verskriklik goed en het daarom ’n keur uit al die bundels voorgestel. Daar was aanvanklik 40 (dus so 10 uit elke bundel), wat ons toe minder gemaak het tot 18. Maar Danie se hele storie is vir my moerse fassinerend en sy hele oeuvre is vir my befok en daarom was dit vir my baie belangrik om alles in te sluit,” sê Niel.
Die oordadigheid van die dig gelaaide woorde se melodrama word satiries uitgebeeld: Liriese hulpkrete, siniese woordspelings en fabelagtige note sterf in die teater saam met die ontgogelde terugblik en rou ontboeseming van ’n man wat besin oor sy plek in die wêreld. Op ’n stadium wieg Albert op Schalk se kontrabas sy heupe in die weemoed van sy weeklaag en pluk ’n snaar wat deur die ribbes van die ouditorium vibreer. Van afgetakelde huwelike, ontrafelde drome, tweede en derde kanse, kinders wat hergebore word in nuwe aanmekaargeplakte gesinne; so kom sit die onvergenoegdheid drukkend op jou bors.
“Danie Marais is seker die koning van selfspot, of wat sal mens dit noem … awareness,” sê Albert toe ons ná die tyd oor die stuk praat. “En dis waar die drama en melodrama vandaan kom: Die lewe is mos eintlik ’n bietjie van ’n klug, en ’n grap, en ’n melodrama. Iemand het ook gesê, omdat Danie so ’n vriendelike en gawe geaardheid het, hoor mense die gedigte in sy stem as hulle dit lees. Skielik wanneer sy woorde in iemand anders se mond geplaas is, het hulle nie besef watse ander tipe woede of cruelty in sommige van die gedigte sit nie. Dis wat vir my interessant is; toe dit skielik verplaas word in ’n ander stem dat daar toe nou iets anders is wat uitkom, en ek wonder toe, is hierdie nou my goeters wat deurkom, of is dit alles in die woorde of die musiek wat bydra tot hierdie fassinerende goed?”
Dalk handel die toneelstuk eerder oor vyf middeljarige Wit mans wat wonder hoe dit sou voel om nie meer Wit en onsigbaar te wees nie en steeds as punks identifiseer. Met punk bedoel ek ’n verset teen die hoofstroom in die dae wat almal nog ’n garage band gehad het — ’n terugkeer na daai onskuld wat ’n mens beleef het toe woede nog beteken het jy wil die wêreld verander. Ek dink weer aan Eliot se woorde toe die gehoor hulle toejuig: “You are the music / while the music lasts.” Ons is almal deel van een vlietende emosionele oomblik. Niemand weet wat om te sê ná die vertoning nie, maar ek vermoed ’n paar mense voel dalk vir die eerste keer gesien en gehoor, al was hulle bloot die toeskouer.
“Danie Marais is seker die koning van selfspot, of wat sal mens dit noem … awareness.”
Wat dink Niel? “Fok punk, dit was fokken rock en roll dat vier middeljarige Wit mans (en Nico, want niemand druk hom in ’n boksie nie) hierdie ding gedoen het,” sê hy. “Dit was belangrik, en terugskouend kan ’n mens sien hoe baie! Ek dink ons identifiseer op verskillende maniere met die stuk, maar daar is soveel universele temas wat eindeloos resoneer. En die grootste een is om te leer van jou verlede en beter te probeer wees in die wete dat jy tien teen een ook gaan opfok (wetend of onwetend) en dat om op die ou einde lief te bly vir die mense wat by jou is, dalk al is wat werklik saak maak.”
Ek vra vir Albert oor ’n WhatsApp watter gedig hom die diepste raak.
“Ek dink die gedig wat my met eerste oogopslag die meeste gevang het, was ‘Ma’, maar soos ’n mens dieper delf en meer sin maak van die gedigte, verander dit die heeltyd. Ek het elke dag ’n nuwe gunsteling gehad. Vandag is dit ‘Sentimentele roofdiere’. Uiteraard is daar baie temas in Danie se werk waarmee ’n mens kan connect en party mense resoneer meer met die egskeiding-gedigte, ander met die verwelkoming van ’n nuwe kind, etc, etc, maar as ’n mens die hele spektrum moet opvoer, probeer jy met almal ’n konneksie vind op jou eie manier. So ja, die man se gedigte sit so bietjie in my selle.”
By Danie wil ek weet: Is daar ’n uitkoms vir Wit middeljarige punks?
“Ek kan nie regtig aan ’n uitkoms dink vir Wit middeljarige punks nie, maar ek weet nie of daar eintlik ’n uitkoms is vir enige iemand op hierdie aarde nie. Ek is baie lief vir die gedig van Wopko Jensma, ‘Spanner in the what? Works’.”
’n Paar uittreksels uit die gedig:
i was born 26 July 1939 in ventersdorp
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in sophiatown
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in district six
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in welkom
i found myself in a situation[…]
i died 26 July 1999 on the costa do sol
i found myself in a situation
i died 26 July 1999 in the grasslands
i found myself in a situation
i died 26 July 1999 in the kgalagadi
i found myself in a situation[…]
i died 26 July 1999 in an argument
i found myself in a situation
Danie vertel verder: “Ek dink almal het maar ’n situasie, en ja, witmiddeljarigheid is ’n spesifieke posisie in die samelewing en as jy gelukkig is, gaan dit ook met baie bevoordeling of voorregte gepaard wat jy nie kan ontken nie. Maar jy kan dit ook bittersleg tref. Dit hang natuurlik af van jou situasie. Ek dink nie daar is punks wat nié ’n bietjie verlore raak in hulle middeljarigheid nie. As jy kyk na kunstenaars soos Iggy Pop, The Stones, Springsteen, almal was maar ’n bietjie verlore in hulle veertigs en het probeer sin maak van ’n tydsgees wat hulle nie regtig meer verstaan het nie. Ek bedoel die Stones het selfs ’n album uitgebring wat sulke pastelkleure gehad het in die tagtigs, wat absoluut aaklig was en nie by hulle gepas het nie, of met disco-klanke geëksperimenteer; Iggy Pop het skielik met synthesisers geëksperimenteer.”
Hy sluit af: “Ek dink die middeljare is ’n oorgangsfase, en dis vir my baie interessant hoe Phoebe Bridges gesê het, in ’n stuk wat uitgekom het oor The National (een van my gunstelinggroepe), dat sy sê sy hou van The National wat bekend is daarvoor dat hulle musiek soort van aan die middeljarige Wit man se angs uiting gee. Sy sê tienermeisies en middeljarige Wit mans het eintlik baie gemeen: In beide daai fases kom jy op ’n plek waar dit wat voorheen gewerk het, nie meer werk nie, en jy moet iets anders probeer doen, en jy weet nie wat dit is nie.”
Die middeljarige Wit man het ’n comeback gemaak in teater, en ek sê dít sonder ’n sweempie ironie.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Is daar 'n uitkoms vir Wit middeljarige punks? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




