Bloei + Blom: Afrikaans vir die fynproewer verpak

'Soos Vogue!!'
Midde-in vanjaar se 100 jaar vieringe van Afrikaans as amptelike taal, het ’n koffietafelboek op boekwinkels se rakke verskyn wat my laat stilstaan en laat dink het: Hiér is dit uiteindelik. Die tipe tentoonstelling van ’n diverse taalgemeenskap waarin die som van individue se suksesse die diep voetspoor van hulle gemene deler – die taal Afrikaans – sonder ’n skreiende politieke agenda vasvang. Bloei + Blom (Flyleaf Publishing and Distribution) heet die boek op die stylvolle, minimalistiese omslag, en verklaar eenvoudig dis “’n viering van Afrikaans”. Op die agterblad verskyn ’n enkele aanhaling deur Nataniël:
My tannie het altyd gesê dis uitputtend, maar hoe meer jy van ander weet, hoe meer weet jy van jouself. So hier is dit nou, die suksesverhale van 200+ Afrikaanssprekendes, net ’n hand vol – daar is nog vele, sommige bekend, ander tot nou toe feitlik geheim […].
Dis die tipe aantreklike en misterieuse boek wat jou noop om dit op te tel, die gewig daarvan te voel en te begin blaai.
Die boek is pragtig, groot en swaar, soos ’n goeie koffietafelboek moet wees, gedruk op goeie gehalte-papier en in hardeband gebind. Vanuit die inleiding (bl.5) besef ’n mens gou hoekom hierdie boek so sjiek is: Saam met “’n uitgewer, ’n joernalis, ’n taalpersoon, ’n bemarker” en “nog iemand”, is Nataniël aan die kreatiewe stuur van dié projek. Hy skryf in die inleiding dat belangrike vrae aan die begin van die projek, soos: “Hoe groot is die boek?”; “Hoeveel bladsye?”; en “Hoe plaas ons die foto’s?”, net een antwoord uit hom ontlok het: “Soos Vogue!!”
Die eindproduk is wel geensins ’n modetydskrif in die tradisionele sin van die woord nie (moenie verwag om figure soos Koos Bekker in high fashion te sien poseer nie), maar dit het die elegansie en tydloosheid wat Mevrou Wintour se goedkeuring sal wegdra. (Kyk net na die paar portrette hier onder, wat die uitgewer so gaaf was om met Klyntji te deel.)
Blaai ’n mens verder, en Adam Small se ‘Kô, lat ons sing’ en ’n skets deur Anton Kannemeyer begin ’n reis deur bekende en minder bekende figure se suksesverhale, geskryf deur gesoute joernaliste en skrywers, soos Melvyn Minnaar, Diane de Beer, Danie Marias, Bun Booyens en Kirby van der Merwe, om net ’n paar te noem. Van kunstenaars soos Willie Bester, Marlene Dumas en Hylton Nel, tot modeontwerpers soos Errol Arendz en Marianne Fassler, en skrywers soos Ronelda Kamfer, Leipoldt en die Sestigers; van Opera-divas, klassieke pianiste, wynmakers, boere, atlete, sakereuse en akteurs – 200+ verhale van Suid-Afrikaners wat oor die afgelope 125+ jaar merkwaardige hoogtes bereik het, industrieë verander het en grense verskuif het, en wat toevallig Afrikaans as gemene deler het.
In die inleiding skryf Nataniël verder:
Dit is my hoop dat ’n bloedjong siel hierdie boek kan optel en hulleself iewers herken. Iemand opspoor wat inspireer. Iewers tussen die woedendes en onverklaarbares iemand sal vind wat met hulle praat, wat wys daar is hoop en dapperheid.
En dít is presies wat hierdie leser in Bloei + Blom gevind het: name en gesigte – sommiges herkenbaar, ander nuwe kennisse; sommiges wat soos sy lyk, ander wat nie doen nie; sommiges wat haar drome leef, ander waarvoor sy net haar hoed kan afhaal vir die tipe werk wat hulle verrig – wat inspireer, wat wys daar is hoop en dapperheid, óók as jou moedertaal hierdie klyne (😉) taal Afrikaans is. En dat Afrikaans ook vir die fynproewer verpak kan word. Halala.
Kry jou kopie by enige goeie boekwinkel, of bestel dit hier.
Antoinette Pienaar en wyle Oom Johannes, kruiedokters. Foto deur Gita Claassen
Marlene Dumas, skilder. Foto deur Dumas verskaf
Grietjie Adams, sanger. Foto via Media24-argief
Verna Vels (Liewe Heksie). Foto via NB Uitgewers
Willie Bester, kunstenaar. Foto deur Enzo del Verme
Errol Arendz, modeontwerper. Foto via Gallo Images
Svetlana Agulhas, boa-maker by Cape Karoo International. Foto deur Samantha Reinders
Cass Abrahams, sjef. Foto deur Toby Murphy
Quinton Adams, armoedespesialis en opheffer. Foto via Gallo Images
Ina Paarman, entrepreneur. Foto deur Toby Murphy
Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer, digters en skrywers. Foto via Media24-argief
Nerina Ferreira, vertaler. Foto via Media24-argief
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Bloei + Blom: Afrikaans vir die fynproewer verpak gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




