Gedagtes oor sanuk en sabai, van die Ooste tot in Suid-Afrika

Gedagtes oor sanuk en sabai, van die Ooste tot in Suid-Afrika

Foto’s verskaf

Poësie, queerruimtes en rustiger ritmes in Bangkok

Ek wou nog altyd reis. Nadat ek eindelik my meestersgraad in kreatiewe skryfkunde voltooi het, het ek so gou moontlik my kaartjie na Thailand geboek en my graad in absentia ontvang, want ek kon bloot nie meer wag om my droom te bewaarheid om ’n reisiger te word nie. Alhoewel ek heelwat dinge geleer en ervaar het tydens my reise, is daar twee waardevolle konsepte wat vir my uitgestaan het, wat ek vandag nog koester en uitleef, naamlik sanuk en sabai

Die eerste woord, sanuk (สนุก) (“sa-noek”) , beteken om plesier en vreugde in elke oomblik te vind. Sanuk bied ’n lewenswyse waarby die Weste kan leer. Dit is ’n etos om pret te hê en die lewe te geniet. Volgens die antropoloog, William Klausner, is sanuk moeilik vertaalbaar, want dit vang nie die towerkrag van die eiesoortige aspek van Thai-kultuur behoorlik vas nie. Soos met die meeste vertalings gaan iets van die kern daarvan verlore. 

’n Thai-fees wat sanuk goed vasvang, is die jaarlikse Songkran. Dié fees is Thailand se Nuwejaarsvieringe in April, ook bekend as die wêreld se grootste watergeveg. Ek en ’n vriendin het in 2024 die fees in Phuket bygewoon en die strate was papnat en gevul met glimlagte, watergewere en emmers vol yswater. Songkran het Boeddhistiese wortels en is ’n massiewe viering van pret. Sanuk is ook ’n Boeddhistiese konsep wat mens bewus maak van verganklikheid en ons herinner om teenwoordig te wees in die hier en nou. (Mai pen rai (ไม่เป็นไร) is nog ’n konsep in Thailand wat met sanuk verband hou. Dit beteken “moenie bekommer nie”, of “geen probleem nie”, maar in die sin dat dít wat pla, sal verbygaan. Nóg ’n rigtingwyser om nie die lewe te ernstig op te neem nie.)

Die tweede woord, sabai (สบาย) (“sa-baai”), verwys na gemak, vrede, ontspanning en om in balans te wees met jouself en jou omgewing. Wanneer ’n woord in Thai herhaal word, intensiveer dit die betekenis. In die geval van sabai sabai word dit dus baie gemaklik, baie vrede, baie ontspanning. ’n Dieper betekenis word wel in die vertaling verloor, aangesien dit ook kan beteken dat jy goed voel of dinge rustig vat. Sabai is ’n sterk gevoel van vrede en daarom kan sabai of sabai sabai beskou word as ’n weerspieëling van Thai-kultuur. Sabai word in ander frases ook aangetref, soos in die groet sabai dee mai (สบายดีไหม), wat vra hoe dit gaan. Sabai (gemaklik) + dee (goed) + mai (’n vraagmerker) = jy vra eerder iets in die lyn van: “Voel jy goed?” of “gaan dit goed?” wanneer jy iemand in Thailand groet.

Taal en kultuur word so mooi saamgeweef in hierdie voorbeelde van hoe die frases gebruik word. Sommige van die woorde het hulle oorsprong in Boeddhistiese denke en kan dalk vreemd voel vir iemand wat in ’n Westerse, meer christelike, heteronormatiewe, Afrikaner-kultuur grootgeword het. In die Afrikaner-konteks word waardes soos pligsgetrouheid, harde werk en dissipline sterk beklemtoon, wat nie veel ruimte laat vir speelsheid en genot nie. Ek hou egter daarvan om nuwe dinge te leer en ervaar en ek is altyd oop vir konsepte wat die soms verwarrende wêreld en lewe ’n bietjie gemakliker en meer sinvol kan maak.

Reeds aan die begin van my reise het ek (min wetende) baie sanuk en sabai in my sakke gepak gehad. Ek het berg geklim in Chiang Mai, die goue tempel Doi Suthep besoek in die Noorde, rondgewandel in die hippie-vibes van Pai se strate, watervalle en warmwaterbronne besoek, Thai-liedjies in die kar gesing saam met my toergids, die sonsondergang in die Pai Canyon geniet, eilande verken, gesnorkel en geduik saam met tropiese visse en dies meer. Nadat ek my eks ontmoet het, het ek eindelik die skuif na die betonoerwoud van Bangkok gemaak. Ek het my voete in die mallemeule van die stad gevind, maar daar was steeds iets wat geskort het. Ek kon nie uiting gee aan my ervarings in gedigte soos wat ek vir die afgelope jare tydens my studies kon nie. 

Ek vind toe Lyrical Lunacy, ook verkort na LyLu, en besoek die eerste geleentheid saam met my kêrel van toe. Ons kom half windverwaaid daar aan nadat ons elkeen agterop ’n Grab Bike na die venue, Speakerbox, gery het. Dis ’n kleinerige kroeg wat dikwels live bands host en vir die eerste keer vandat ek in Thailand geland het, was ek omring deur ’n groep digters van regoor die wêreld. Natuurlik was ek senuagtig, want dis die eerste keer wat ek vertalings van my gedigte sou voorlees en vir die eerste keer voor ’n onbekende, internasionale gehoor. Die skare het ’n tradisie: Wanneer ’n digter vir die eerste keer optree, staan almal op en por die digter aan om hulle welkom te laat voel.

Ek haal diep asem in die gees van sabai en vind rustigheid. Die klein vertrek het darem nie te beknop gevoel nie en dit het gehelp om iemand langs my te hê wat my kon ondersteun. Dit het ook gehelp om te weet dat niemand in die vertrek (behalwe hy) my ken nie. My internasionale debuut. (Kyk hier onder! Die vertaling van my gedig in die video is ook in die Ons Klyntji jaargang 127 opgeneem.) Ná ek weer my sitplek inneem, ervaar ek sanuk, genot dat ek my gedig kon deel en omring kan wees deur ander digters in ’n vreemde land.

In die bietjie meer as ’n jaar wat ek in Asië gewoon het, is ek heftig geïnspireer deur die natuurskoon, die mense met kleurryke agtergronde en ervarings wat ek ontmoet het. Noudat ek terug in Suid-Afrika is, probeer ek stuk-stuk kuns maak oor my ervarings en ontmoetings. Ek hoop om die verstommende dinge wat ek gesien het, soos tempels, monnike in oranje klede en ongelooflike standbeelde, te gebruik vir inspirasie vir nog gedigte.

Ook: In areas soos Silom in Bangkok is daar ’n queervryheid om te ervaar; kroeë en nagklubs met fopdossers; en gay-nagklubs met skitterende ligte, diskoballe, K-pop, techno, donker kamers en warm lywe van mans wat veilig kan voel om hulself uit te druk. Waar almal sanuk kan uitleef en die vreugde in alle dinge geniet, en sabai kan wees en ’n kalmte kan ervaar. Die eerste keer dat ek Silom besoek het, het dit gevoel soos ’n queerdroom wat bewaarheid word. Hier is mense te vind van regoor Asië en ook die Westerse lande. Almal kom byeen in ritmes van musiek, waar elkeen sonder vrees kan lag en dans onder neonligte.

In die jaar waartydens ek in Bangkok gewoon het, het ek egter my skryfwerk afgeskeep, want tussen klasgee en ’n verhouding is daar selde tyd vir kreatiewe uitdrukking. Die Lyrical Lunacy events was dus ’n veilige hawe vir ’n queer digter wat in die reuse-Bangkok verdwaal. Ek het ook ander queer digters ontmoet, onder andere Ameer Drane, ’n Amerikaner met ongelooflike werk, en sy partner wat ook by een geleentheid sy werk voorgelees het. Hulle werk het my gewys hoe universeel die queerervaring kan wees. Of jy nou van Singapoer, Thailand, Amerika of Suid-Afrika kom, ons almal het maar konserwatiewes in die gemeenskap wat nie aan boord is met wat ons agter toe deure doen nie.

Die events wat ek en van my digtersvriende gedurende hierdie tyd bygewoon het, het my minder alleen laat voel in my handewerk. Hierdie geleenthede het ook gesorg dat ek myself uitdaag om my werk te vertaal en voor te lees. Sodoende het ek dit vermag om in ’n lingua franca iets van die Suid-Afrikaanse queerervaring te deel met die internasionale gehoor. 

Om in Bangkok te woon het altyd vir my veilig gevoel; ek het nooit gevoel dat ek hoef weg te steek wie ek is nie. Ek het nooit gevoel dat homofobie seëvier nie, en ek wonder of my verwydering van georganiseerde geloof ’n rol daarin gespeel het. As buitestaander het ek die gevoel gehad dat dit veilig en gemaklik is om queer te wees in die openbaar, maar volgens die anekdotes van plaaslike mense, selfs my eks, is dit duidelik dat dit nie vir almal dieselfde ervaring is nie.

Alhoewel ek die idee gehad het dat Thailand redelik progressief is vir die queer gemeenskap, het ek met heelwat gay mans gesels wat gedeel het dat dit moeilik is by die huis met hul ouers se konserwatiewe sienings, iets waarmee ek ook kan identifiseer, al woon ek aan die ander kant van die wêreld. Ek kom van ’n land af waar gayhuwelike al wettig is sedert 2006 en ook die vyfde land in die wêreld wat dit wettig gemaak het. Ons het ’n grondwet wat ons beskerm, alhoewel dit nie altyd in die werklikheid verteenwoordig word nie. Thailand het ook wetlik baie vordering in hierdie gebied gemaak. Kort ná ek daar weg is, het ek die fluisteringe gehoor dat gayhuwelike wettig gemaak sal word en dit gebeur toe op 23 Januarie 2025. Dis vandag die derde land in Asië waar queer mense regte geniet om hul liefde te vier.

Om te reis het iets nuuts in my aangewakker – oral waar ek gaan, voel ek soos ’n inboorling van die wêreld en nie net van Suid-Afrika nie. Ek brand om verder te reis. Dit was nog altyd moeilik om te navigeer wat dit vir my beteken om ’n Afrikaner te wees, aangesien ek nie nommerpas in die Afrikaner-boksie pas nie. Alhoewel ek met christelike waardes, vleis eet, boerekultuur en heteronormatiewe idees grootgeword het, is dit aspekte wat nie ooreenstem met my identiteit as queer Suid-Afrikaner nie. 

In ’n land soos Thailand voel ek vry van godsdiensdruk. Met waardes soos sanuk en sabai voel ek vrede en geniet ek die kleiner dinge in die lewe veel meer. Die atmosfeer is vir my kalm en plesierig, anders as die rigiede Afrikaner-waardes wat eens op ’n tyd my identiteit beperk het. Terwyl ek soms te veel of te anders voel in Afrikaner-ruimtes, voel ek rustiger in Asië, al beweeg ek in ruimtes wat dalk vir my vreemd is. Selfs in ’n land soos Maleisië waar dit onwettig is om gay te wees, het ek veilig in myself gevoel in die gemeenskap waarin ek myself geplaas het. Ek voel wel meestal beskermd in Suid-Afrika, solank ek kroeë met knorrige, dronk, Wit, straight mans met homofobiese en hou-van-stamp-streke vermy. Ek sien uit daarna om weer my vlerke te sprei en meer internasionale queers en digters te ontmoet en verder te skryf oor die onbekende. Of ek nou in Bangkok, Kuala Lumpur of Yzerfontein is, dra ek my wêreld saam met my heen. Ek is nie net ’n Suid-Afrikaner of Afrikaner nie, maar ’n reisiger en digter voortdurend op soek na ruimtes waar ek vry kan wees om my stem te laat weerklink.

Of ek nou in Bangkok, Kuala Lumpur of Yzerfontein is, dra ek my wêreld saam met my heen.
— Zian Viviers

Daisy

Daisy het met hoewe op beton
grootgeword wanneer sy op hitte is kyk ek
hoe die man haar skaamlippe skoonvee
hy olie sy rubberhandskoene verwyder oortollige mis
een arm druk hy in die rektum
die ander spuit saad in die uterus
sy is drie maande dragtig met ’n bul
die werkers sleep hom weg kerf hom tot kalfstjops
die koei loei tot middernag masjinerie
suig die melk uit haar tette vir melkbottels
as sy droog is gaan haal ek vir pa die bolt gun
almal op die plaas moet help slag
die karkas verpak in polistireen
en plastiek vir die koudste rakke van woolworths
sy sien ek staar na die beesbloed
oor die angeliere van die tafelblad
vra hoekom lyk ek so bekaf
ek vertel haar mans is vir my
mooi van hulle borsstukke tot by hulle skenkelvleis
van hulle lieste tot by hulle harte ek hou daarvan
as hulle stertswaai in die gange
sy sê dit klink na poepholstekery
vra of ek gemolesteer is

Daisy (2023 vertaling)

daisy grows up hooves on concrete
when she is in heat i look at
how the man wipes her labia
his oiled rubber gloves remove excess manure
he pushes one arm into the rectum
the other injects seed into the uterus
she is three months pregnant with a bull
the workers drag him away carve him into veal chops
the cow bellows until midnight machinery
sucks the milk from her tits for milk bottles
when she’s spent i’ll go get dad the bolt gun
everyone on the farm must help slaughter
pack the carcass in polystyrene
and plastic for the coldest shelves of the supermarket
she saw me staring at the cow’s blood
on the carnations of the tabletop
asks why I look so down
I tell her men are beautiful
from their breast pieces to their shin meat
from their groins to their hearts i love it
when they wag their tails in the corridors
she says it sounds like ass
fuckery asks if
I was molested

— opgeneem in Ons Klyntji (jaargang 127) bl.89

one night in bangkok

in die ontvangsarea van die heritage hotel 
ontmoet ek hom as haar in haute couture 
ons verf ons gesigte in verligte spieëls 
in die strate bewonder ons 
fopdossers in oorvolle ruimtes 
die lug is dronk en vogtig 
ons volg neonligte die trappe op 
verruil hakskoene vir tekkies 
ek soen haar uit die rok 
sy hare is sag soos dons 
veilig in my handpalms
een nag in bangkok en ons verhouding 
is ’n oester tot ons weer ontmoet 
op ’n eiland in die andamanse see

— opgeneem in Ons Klyntji (jaargang 128) bl.44

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gedagtes oor sanuk en sabai, van die Ooste tot in Suid-Afrika gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand