Salig is die tannies met 'n passie vir poësie

Salig is die tannies met 'n passie vir poësie

Die Italiaanse digter, Alda Merini. Fotograaf: Onbekend

Ontmoet Alda Merini en Rina Cascione

In Julie vanjaar, in Bloemfontein, maak ek kennis met twee merkwaardige tannies: Rina Cascione en Alda Merini. Cascione het haar digdebuut op 88 met die publikasie van haar bundel Meer as woorde by Naledi in 2021 gemaak. Merini, oorlede in 2009, was ’n bekroonde Italiaanse digter en skrywer. Kliniek van verlatenheid (2022, Naledi) is Cascione se Afrikaanse vertaling van Merini se laaste versameling gedigte, oorspronklik getiteld Clinica dell’abbondo (2004). Die oorspronklike Italiaanse bundel is vir ’n Nobelprys aanbeveel. Bernard Odendaal het by die Vrystaatkunstefees vanjaar ’n gesprek met Cascione oor dié vertaling gelei; dis hier waar ek vir Cascione en Merini ontmoet het.

Cascione is vanjaar 90 jaar oud. ’n Mens sou dit egter nooit kon raai nie; sy gesels met helderheid en entoesiasme met Odendaal by die Vryfees oor die poësie en lewe van Merini. Net twee jaar uit mekaar gebore, maar hierdie twee vroue se lewens – alhoewel beide glamorous en opwindend – verskil wêrelde.

Cascione is in 1933 op Middelpos in Calvinia gebore. Sy het musiek op Stellenbosch en in Strasbourg en Genève gestudeer, en het later klavier en musiekgeskiedenis aan die musiekdepartement van die Tshwane Universiteit van Tegnologie gedoseer. Sy het ook landswyd as musiekeksaminator vir UNISA opgetree, en op die keuringspaneel van UNISA se Internasionale Musiekkompetisie gedien. Sy is getroud met ’n Italiaanse man, en het lang periodes saam met hom in Italië deurgebring. Sy beskou Italiaans dus as haar derdetaal, naas Afrikaans (moedertaal) en Engels (tweedetaal). Ná haar man in 2013 oorlede is, het Cascione self begin gedigte skryf.

Dis uiteraard in Italië waar Cascione kennis gemaak het met die Italiaanse letterkunde. Maar dit was veral Alda Merini se digterspersoonlikheid en poësie waarby Cascione aanklank gevind het.

Merini is in 1931 in Milaan gebore. Haar lewe was, soos Cascione dit in gesprek met Odendaal gestel het, “veelbewoë”: Op 15 het sy kennis gemaak met die mees gesogte literêre kring in Milaan en hier is haar skryftalent reeds raakgesien; haar huwelik met ’n bakker was ongelukkig en gewelddadig en haar onstuimige lewe is punctuated met opnames in psigiatriese klinieke in Milaan. Dis veral die liefde, die digterskap en Merini se ervarings van psigiatriese inrigtings in Italië wat as inspirasie vir baie van Merini se poësie gedien het. Cascione se vertellings van Merini se lewe en poësie het my onwillekeurig laat dink aan ons eie Ingrid Jonker.

Alda Merini in 2009. Fotograaf: Giuliano Grittini

Merini is ’n gerekende en bekroonde digter in Italië, en het onder meer die Guggenheimprys ontvang. Sy is ook twee keer vir die Nobelprys vir letterkunde aanbeveel, onderskeidelik deur die Franse Akademie en die Italiaanse PEN. Merini se poësie was instrumenteel in die hervorming van psigiatriese sorg in Italië, en sy het ook belangrike bydraes gemaak tot die bevordering van vroueregte en menseregte in Italië. Volgens Cascione het Merini ’n stem gegee aan diegene wat nie ’n stem gehad het nie. Tog is dit ’n swaar las om te dra — soos Merini self skryf: “digters is aardse gode / onregverdig gestraf.” Merini is in 2009 in Milaan oorlede.

Vanuit die beskikbare foto’s van Merini lyk dit asof sy lief daarvoor was om te accessorise met pêrels om haar nek, rooi lipstiffie, ’n fur coat en ’n brandende sigaret in een hand. ’n Mens kan byna dié tannie se rasperstem in Italiaans hoor skel en skerts, kwets en flirt.

Nadat Cascione vertalings van enkele van Merini se gedigte per e-pos aan ’n vriendin gestuur het, het haar vriendin haar aangemoedig om die volledige bundel te vertaal. Oor die vertalingsproses vertel Cascione dat daar heelwat struikelblokke was om te oorkom omdat Italiaans en Afrikaans so verskillend van mekaar is. Vertaling behels immers ook die oordra van klank, ritme en kulturele kodes – dit vereis kulturele kruisbestuiwing, selfs. Daar is dikwels heelwat wat verlore gaan tydens die vertaalproses. Om die essensie van die gedig vas te vang, is daarom vir Cascione die belangrikste doelwit tydens haar vertaalproses. In Kliniek van verlatenheid word die oorspronklike Italiaanse gedigte naas die Afrikaanse vertalings geplaas.

Antjie Krog skryf in Junie vanjaar vir PEN Afrikaans oor die waarde van literêre vertaling:

Vertaling en vertalings is ’n dinamiese manier om dit wat buite jou lê, toe te laat om intens en genuanseerd die “ek” te beïnvloed. Jy ervaar iets wat van jou en jou ervaring verskil. Daar is skielik ’n karakteristieke weerstand van iets of iemand wat nie binne jou selfkennis val nie – hierdie ligte weerstand lok jou via taal uit om jou innerlike kaart aan te pas.

Dís presies wat Kliniek van verlatenheid vir my doen: Met die publikasie van Clinica dell’abbondo in Italië in 2004 was Merini 73 jaar oud. In Clinica dell’abbondo (Kliniek van verlatenheid) getuig haar gedigte van intense liefde, passie, eensaamheid, liefdesteleurstelling, wellus en verlange. Dis gedigte wat die innerlike wêreld van ’n ouer vrou met kwesbaarheid en teerheid uitbeeld — uitbeeldings waarvan die Afrikaanse letterkunde nie veel het nie.

Ek wonder self ook soms: Hoeveel verloor ons deur die blote feit dat ons nie ’n sekere taal kan praat of verstaan nie? Hoeveel kuns word geskep, gedagtes word gevorm en gedeel in tale waarna ons nie self toegang het nie? Dis ’n spesiale soort FOMO, dié.

Hoeveel verloor ons deur die blote feit dat ons nie ’n sekere taal kan praat of verstaan nie? Hoeveel kuns word geskep, gedagtes word gevorm en gedeel in tale waarna ons nie self toegang het nie? Dis ’n spesiale soort FOMO, dié.
— Andréa Müller

Daarom dink ek (om Merini se beeld te gebruik) dat as digters aardse gode is, is vertalers aardse engele.

Ek hoop werklik dat Naledi en ander plaaslike uitgewers dieselfde geleenthede vir die vertaling tussen Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale sal gun. Hoeveel wêrelde lê opgesluit in die tale wat híér, om ons, is?

Beide Merini se lewensverhaal en digkuns én Cascione se passie vir die vertaling van haar werk is besonders inspirerend. Kliniek van verlatenheid laat my opnuut besef hoe universeel die krag van poësie is, en hoe belangrik die vertaling daarvan is. Ook dat ’n mens nooit ’n tannie moet onderskat nie.

Hoe gepas dat ek vir tannie Rina en tannie Alda by die Vrystaat Kunstefees ontmoet het. Salig is die (fees-)tannies met ’n passie vir poësie.

Rina Cascione in gesprek met Bernard Odendaal by die Vrystaat Kunstefees in Julie vanjaar. Fotograaf: Juan Pinnick


Vlug van die jakkalsie

Dié wat my vra
hoeveel liefdes ek gehad het,
stuur ek na die woude
om te gaan kyk
hoeveel flenters oorgebly het
van my pels

ongetiteld

Moenie die glorie van my inspirasie
wegneem deur my vrye hande
met valse liefkosings
te bind nie.
Wanneer ek vrede vind,
besoek al die gode my
en beeldskone Venus
kom dut aan my sy.

Verlore hel

’n Harige man
met ’n skor stem
het my lyf
beset.
Miskien het hy
met ’n vinger
die hemel aangeraak,
maar ek
het my hel verloor:
die hel van passie.

ongetiteld

Om sy saad met my lippe te drink,
is gemeenskap met die aarde.
In volle verrukking
drink ek,
terwyl ek in sy swart oë kyk
wat soos wildsbokke vlug.
’n Doodskleed was nog nooit
so warm en so veraf nie,
vleeslike genot so geweldig nie.
Ons skeur oop
soos die stuur van ’n skip
wat vir ’n lang reis voorberei.
Ons het voorraad
vir nog baie jare,
al die soene en die hoop
en glo nie meer in God nie
want ons is gelukkig.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Salig is die tannies met 'n passie vir poësie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand