Willem Breedt se uitblokgedigte is 'n ligpunt in die donker wêreldwye web

Haar hart (2024). Alle kunswerke deur Willem Breedt.
Haar hart,
lewe,
voel natuurlik liefde
Scroll mindfully, liewe leser...
Soms kry Die Algoritme dit nogal reg. Soos wanneer dit onbekende local kunstenaars se kuns tussen die brainrot op my selfoonskerm uitspoeg — die spreekwoordelike golden nugget wat versteek lê onder die groot spul gemors wat blyk om die meerderheid van die World Wide Web uit te maak. Op een so ’n dag wat my duim byna met ’n lewe van haar eie oor my skerm gestreel (gestrompel, gestóómroller) het, het Die Algoritme dit reggekry om my te laat stop en kýk. Op my skerm was ’n kunswerk, geskep bo-oor ’n getikte bladsy. Nee, besef ek met ’n langer kyk, dis nie nét ’n skets nie, dis ook ’n gedig; woorde wat uitgekrap en uitgelig is om vanuit die oorspronklike prosa poësie te maak: “Haar hart, / lewe, / voel natuurlik / liefde” lees die kunswerk.
Die skepper van dié interessante werk, leer ek met verdere perusing, is Willem Breedt: ’n Self-opgeleide kunstenaar en self-gepubliseerde digter met ’n day-job in die boubedryf, oorspronklik van die Oosrand, en “43 keer om die son,” vertel hy my na ek baie voorbarig in sy DM’s slide.
“Ek het in 2023 my eerste bundel Ek ontbind vir jou gepubliseer en dit is opgevolg met die begin van my uitblokgedigte om ’n meer visuele vorm van my skryfkuns vorentoe te bring. Te danke aan ’n vriend het ek ook lino-afdrukke, droëpunt-ets en sianotipe-afdrukke begin doen,” vertel Willem.
Die oorspronklike blaaie teks wat Willem uitblok, kom uit ’n ewe obskure, onbekende skrywer se werk: Ela Spence se Vrou sonder hart, wat in 1951 verskyn het. Dié teks gaan oor ’n sadistiese vrou “vir wie haar kind ’n groter las as vreugde is en by wie se lyk niemand kan treur nie. Haar obsessie is om te besit, selfs al beteken dit moord en selfvernietiging,” vertel Willem se katalogus vir dié reeks uitblokgedig-kunswerke. (Jissus – en onse rymende Ingrid Jonker word as die troubled woman van die Afrikaanse letterkunde voorgehou …)
Uitblokgedigte is wel nie iets nuuts nie. Bibi Slippers het in haar 2017-debuutbundel, Fotostaatmasjien, iets soortgelyks gedoen (en sý was ook nie die eerste nie, in Afrikaans óf enige ander taal, for that matter). Maar dis juis die agtergrond van die oorspronklike Spence-teks wat Willem se uitblokgedig-kunswerke (vir my, at least) so mooi (en fassinerend) maak: Vanuit hierdie donker teks – vergete in die kollektiewe bewussyn – skep hy liefdesgedigte/-gedagtes, altyd gerig op ’n onbekende beminde, wat – dare I become sentimental – ’n ligpunt in die donker toestand van die wêreld én die World Wide Web is. (What can I say, I love love!) So word Willem se uitblokgedigte die Yang tot die Spence-boek se Yin. Nie eers gepraat van die vraagstukke oor outeurskap, intertekstualiteit en oorspronklikheid wat dit alles oproep nie. Maar dís ’n hele relaas vir ’n ander dag; ek bied dit hier bloot as food for thought.
“Vanuit hierdie donker teks – vergete in die kollektiewe bewussyn – skep hy liefdesgedigte/-gedagtes, altyd gerig op ’n onbekende beminde, wat – dare I become sentimental – ’n ligpunt in die donker toestand van die wêreld én die World Wide Web is.”
Daarom, liewe Klyntji-leser, bring ek hier vir jou ’n kleine dosis anti-brainrot in die vorm van Willem se uitblokgedig-kunswerke, wat hy so gaaf was om met ons te deel om te publiseer. Scroll mindfully, liewe leser, en mag ons almal ’n bietjie meer lig skep met (en vanuit) die donker.
Suiwer sonksyn (2023)
Haar emosies loop
soos wilde perde
in pragtige suiwer sonskyn
klee sy haarself
Dromerig (2023)
Gaan sy ’n bietjie deel
dat ek dromerig haar
emosies kan lees
So natuurlik (2023)
So natuurlik
sien die see
flikker in
haar oë
Haar liefde (2023)
Haar liefde te deel met
haar man, wie sy altyd het,
haar intieme gevoel is,
rasend ve haar man
Ken sy genot? (2023)
Ken sy genot?
Sandduine gooi skaduwees
harte sluit, eie haat
begin aanroer
Ek het verlang (2023)
Ek het na joú verlang,
Die maan skyn so helder en vol,
so mooi soos Jý, kom ons loop maar,
Dis heerlik buite …
’n Oomblik opgesom (2023)
Oë verklap geheime, lippe glimlag
haar emosies, sterk, wild en
ontstuimig in die dieptes,
’n oomblik opgesom
Liefde is sy (2023)
Liefde is sy
haar oorweldigende liefde
In haar omhelsing,
haar liefde ’n hartstog
Ek stap heerlik in haar sandduine,
rose, see, sonder ophou jaar in en
jaar uit
Haar oë (2024)
Sy is
’n breë glimlag
haar oë
gelukkig
Verlief (2023)
’n Goue droom kom haal haar saans,
sy lewe om lief te hê! Die herinnering dat
hy haar liefhet, hy sy tyd aan haar bestee,
gaan hy weer balans kan vind, verlief
is die man, die vrou
Eenmaal in ’n leeftyd (2024)
emosies tot ’n klimaks,
geen beheer … eenmaal in
’n leeftyd, is sý …
Ek het jaende gedagtes vir haar
Watter pad (2024)
Watter pad kies ek,
dat ek nou hier is.
Ek soek in hersiening dieper betekenis,
gedagte peil in diepte
My lewe (2024)
Sy is so gelukkig,
opgewondenheid borrel
my vrou, my lewe, ’n
doodnatuurlike eindbestemming
Haar man (2024)
Haar man is opgewonde,
sy hart gelukkig
Willem is nog nie klaar met die Vrou sonder hart-reeks nie, maar hy is reeds besig met ’n tweede reeks uitblokgedigte wat uit DF Malherbe se vertaling van Kahlil Gibran se Die Profeet (“loshande die mooiste geskrewe Afrikaanse boek vir my,” sê hy) sal kom. Hou sy Instagram dop.

Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Willem Breedt se uitblokgedigte is 'n ligpunt in die donker wêreldwye web gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.