Willem Anker se Patmos is 'n vlesige fees vir die sintuie
Celeste Theron het onmiddellik 'n sigaret nodig gehad ná hierdie teaterstuk
Teks: Willem Anker
Regisseur en stelontwerp: Jaco Bouwer
Toneel met: Tinarie van Wyk Loots, Marlo Minnaar, Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen
Die wolke rol oor die Swartberge verby walle groen skakerings. Ek sit in die kar saam met Roelf Meyer, op pad na die KKNK, want Hugo Theart was gaaf genoeg om vir my ’n taxi van die lughawe saam met hom te reël. Wat vra mens vir Roelf, die voormalige minister en KODESA-onderhandelaar, oor die toekoms van ons land wanneer mens eintlik wil gesels oor die toekoms van teater? Roelf sê daar is baie minder mense wat hom nou wil donner en hy dink ons land het wel vordering gemaak, maar ek wonder hoe de donner beleef en benader mense deesdae teater. ’n Kuur vir elke kwaal, beloof die program op my skoot, en ek kyk hoe die son swaar trek agter die rokerige berge.
Oukei, dink ek, terwyl ek deur die feesprogram blaai en ongemaklik met ’n bier vir twee Nederlanders wat ek pas ontmoet het by ’n backpackers, probeer verduidelik wat die KKNK is. Moet ek al die mense ken na wie die feesprogram verwys en die onderliggende teorieë verstaan om die teatrale ervaring van die laaste 28 jaar van KKNK saam te snoer? Ek oortuig die Nederlanders om saam met my Veelhoek te kom kyk, met groot beloftes oor Jana Cilliers wat sopas vereer is met die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking – vir haar eerste toneelstuk as skrywer. Dis 17:30 en beurtkrag het sopas ingeskop. Ons drentel vir ’n paar minute buite die Van Reedesaal. Daar heers ’n atmosfeer van groot afwagting in die verdonkerde ruimte toe almal hulle plekke inneem en Jana Cilliers saam met Ludwig Binge op die verhoog verskyn. Die stuk handel oor ’n gesprek tussen Jana en haar neef, Barnard Gilliland, ’n belowende digter wat tragies op 24 oorlede is. “Are all your plays about death?’’ wil die Nederlanders voorbarig na die tyd weet.
Min het ek geweet wat op my wag in Patmos. ’n Fiksionele ruimte word geskep iewers tussen die Karoo, ’n maan en die krater van ’n meteoriet. Dis hier aan die einde van die wêreld waar Patmos begin, op die drempel van eindelose sandduine wat opmekaar gestik is soos ’n laken. Die verhoog is opgestel met die raamwerk van ’n deursigtige huis waardeur die kosmos bollemakiesie slaan, met afbeeldings van die ruimte wat daarop geprojekteer word. Voor die geraamte van die huis staan ’n miniatuur afbeelding van die huis uit ’n kartondoos gemaak. Die kartonhuis verteenwoordig ’n warm belofte van ’n gesin wat veilig gekoester is teenoor die vyandigheid van die buitewêreld, wat in kontras staan teenoor die skrynende raamwerk van ’n huis waardeur enige iets kan tuimel en jou kan doodbliksem op enige gegewe oomblik.
Die skrywer en dramaturg, Willem Anker, keer saam met Jaco Bouwer terug na die teater ná die verhoogverwerking van Die vegetariër (2023). Bouwer tree op as regisseur en is ook verantwoordelik vir die stelontwerp. Sy kenmerkende minimalistiese styl is opvallend. ’n Tafel word ingespan as Karoo- en maanlandskap om die verwisseling in ruimtes binne ’n kort tydsbestek te suggereer. Die teks word gedra deur voorste akteurs van hul milieu, wat ’n pols van nouliks-onderdrukte opwagting deur die gehoor stuur. Die oomblik is groot. Ek sit twee stoele removed van Willem Anker se vrou en wag op die aanslag wat alreeds byna tasbaar in die lug hang. I see you, glimlag ek in die donker, terwyl Willem die kyker in liminal space gooi en iewers in die gehoor die gespartel van ’n afstand aanskou.
Ek gly gemaklik in die stuk se doelbewuste vervreemding, asof ek dryf op ’n Urbanol in ’n onbekende bed – die onafwendbare fatalisme van die stuk is reeds van die begin aanwesig. Die karakters kom ongevestig voor: Swerwelinge in die ruimte waarin elk op soek is na hulle eie verlossing en nie te veel op mekaar aangewese wil raak nie. ’n Enkelma en astronoom (Tinarie van Wyk Loots) ontmoet ’n rolprentkomponis (Marlo Minnaar) wat gehoor het van singende klippe in haar geweste wat hy wil opneem vir ’n wetenskapfiksiefliek. Sy bied vir hom herberg aan en die twee karakters staan teenoor mekaar sonder enige beloftes. Haar agtjarige seun is stom weens die moord op sy pa wat hy moes aanskou, en timmer meestal met klippe wanneer hy nie verdwaal in gewelddadige videospeletjies nie.
Die kind word uitgebeeld deur twee marionette — die een ’n kleiner afbeelding van die ander — wat begees word deur drie hanteerders (Eben Genis, Rene Cloete en Marelize Viljoen); elk verskriklik fyn op mekaar ingestel. By tye tree die hanteerders as ’n koor op. ‘Space oddity’ van David Bowie dien as temalied, waar ’n ruimtevaarder, Major Tom, verdwaal deur die hemelruim. Dit herinner my aan die Griekse oorsprong van die woord tragedie, tragos, wat lied of ode beteken. Volgens Aristotle het tragedies ontstaan as gewyde gesange aan die Griekse god van wyn en vrugbaarheid, Dionysus. Toneelstukke het as die belangrikste medium van aanbidding gedien om dié god van vrugbaarheid, wyn en hergeboorte te vereer.
Natuurlik begin daar ’n vorm van intimiteit tussen die twee hoofkarakters ontwikkel wat mekaar se leemtes probeer vul – maar die uitdagings wat elkeen van hulle in die gesig staar, maak dit bykans onmoontlik en kwessies rondom vrugbaarheid word ook ondersoek. Die teks is soms uitdagend om te volg en by tye verwarrend, wat bydra tot die ontwykende liefdesverhaal wat oorheers word deur die gevoel van vervreemding. In die linkerkantse hoek van die raamwerk van die huis is ’n vensterraam wat soms gevul word met ’n eiesoortige gesin wat geluk vind ondanks die onwaarskynlikheid van hulle omstandighede. My gunstelingtoneel is die laken wat van die huis se raamwerk drapeer terwyl die astronoom ’n monoloog voer oor haar nuutgevonde intimiteit met die rolprentkomponis. Ek besef onmiddellik dat hierdie eteriese druppel erotika net een asemteug lank is, voor nog ’n hou in die maag.
Die storielyn word verder met die verhaal van die rolprent van die komponis verweef, die verhaal van die Gaia-4-ruimtetuig wat die laaste oorlewende mense skommel deur die ruimte – op soek na ’n nuwe life-affirming planeet. ’n Planeet met seekatte, slakke en waterbere lyk belowend. Dis soms moeilik om te weet waar om te kyk – na die marionette, die verwikkeling van belowende liefde of die afbeeldings van ruimteskepe. Intussen word die komponis liggaamlik afgetakel deur ’n ongeneesbare siekte, terwyl sy liefde vir die kind en vrou toeneem. By tye word die kartonhuis opgeraap en deur die ruimte geslinger met ’n klein liggie wat binne-in brand. Die isolasie van die karakters raak beduidend meer ondraaglik om te aanskou soos hulle lewens digter inmekaar verstrengel word.
Sterk, strak, herhalende, visuele beelde word geprojekteer op die stel wat geskep is deur Tinarie van Wyk Loots met behulp van AI. Die AI-element dra by tot die ongemaklike werklikheid waarin die karakters hulleself bevind.
Ek word oopgekloof en vir dood agtergelaat. Die gehoor word gekonfronteer met die ongenaakbare wêreld van onromantiese werklikhede. Ek voel alleen. Daar is geen hand om te gryp in die donker nie en ek meet die treë tot by die deur. Die temas lê te na aan my leefwêreld, maar die beelde, teks en musiek (behartig deur Pierre-Henri Wicomb) is so hipnoties-boeiend dat ek dit lewend deur Willem Anker se produksie maak. Die gehoor word wel met ’n teelepel hoop gelaat. God, dis mooi, maar ek is kwaad. Ek hardloop uit die lokaal en steek ’n sigaret aan, terwyl almal praatjies maak. Ek sien nouliks kans om hierdie stuk met enige iemand te bespreek.
Wat hierdie stuk so ontstellend maak, is die grace en space waarmee die karakters hulle noodlot omvorm: Klein oomblikke van geluk is genoeg. Die karakters kan rakelings op mekaar steun sonder om te veel te vra of te vereis. Die gewigloosheid van die stuk teenoor die swaar werklikhede wat die karakters moet verwerk, getuig van iets braafs waarna ek hunker. Hoe dikwels verdwaal mense in mekaar se hemelruim, op soek na iets wat pols met lewe om die dood teen te staan – net om te besef die einde is onafwendbaar?
“I feel personally attacked,” sê ek vir Willem toe ek hom later ontmoet. Hy glimlag beleefd en kyk na sy skoene terwyl hy sy skouers ophaal. Die volgende dag koop hy vir my ’n whiskey. Ek sê vir hom een whiskey gaan dinge nie tussen ons regmaak nie en voel so half embarrassed. Op die laaste aand sit ek saam met hom aan tafel, saam met Tertius Kapp en Renée Rossouw. Sy vriende is nice – gaan laai my weer by die backpackers af. Ons kry ’n kort, klein oomblik van understanding op die agtersitplek en ek besef dit gaan nie oor my nie. Dis wat teater so treffend maak. Ons projekteer ons lewens op ander mense se stories: Die kuur lê daar waar dit kwaal. ’n Week later oordonder ek hom met emails. Sy antwoorde verras my. Ek vra hom: Vir wie skryf jy; waaroor moet ons nog omgee; op wie se skouers steun jy? Op al drie die vrae antwoord hy: “’n Klein binnekring van mense en ’n hond.”
Patmos, Die vegetariër en Veelhoek het ’n sterk tematiese verbintenis. Die drie toneelstukke is ’n versinnebeelding van weerloosheid en die aftakeling van die mens se liggaamlike toestand. Kan ons nog kaal teenoor mekaar staan, soos in Die vegetariër en Patmos, en erken this life can be a little alienating? In beide Die vegetariër en Patmos het die hoofkarakters no sense of place, wat Jaco Bouwer klinies uitbeeld met net die nodigste rekwisiete op die verhoog. Die manier waarop hierdie karakters elkeen met ’n eiesoortige lewensuitkyk die brutaliteit van hul weerloosheid trotseer is wat hierdie stories so arresting maak. “Tafeltjie vir een?” vra die kelner wat my elke dag met ’n roosterkoek bedien een laaste keer, en ek proes so ’n bietjie in my mou. Ná vier dae van festivities voel ek weer vervuld in my klein bestaan.