Breyten sterf 'n dromerige dood in die teater met Verwelkingslied

Foto’s: Gys Loubser
Celeste Theron is in 'n beswyming oor Breytenbach se laaste toneelstuk
Alles is nietig. Vlietend. Skrynend. Skertsend. Tartend. Daar is geen verset teen die sluiers op die verhoog wat my tegemoetkom by die Suidoosterfees in Verwelkingslied nie. Ek neem my sitplek in langs Laetitia Pople, groot gees van kuns en teater, en sluit aan by die roerlose gehoor. Verbeel jou jy kan jou eie dood voorspel en jy weet die verlies gaan so verbysterend wees vir die mense wat jy gaan agterlaat, dat jy besluit om hulle daardeur te begelei met ’n laaste toneelstuk wat hulle in staat sal stel om daarby te berus. Laetitia het dit ook gesê, maar ek het dit toe al besef. Verwelkingslied, wat oorspronklik geskryf is vir verlede jaar se Suidoosterfees, is Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk, en word opgedra aan Antoinette Kellermann en Marthinus Basson. Die stuk berus in die bekwame hande van die regisseur Mari Borstlap, wat verantwoordelik is vir die stelontwerp en om die ontslape Breyten op die verhoog te ontwaak. (In hierdie storie word daar deurgaans verwys na die karakter Breyten, terwyl daar na die persoon verwys word as Breyten Breytenbach / Breytenbach.)
Alhoewel die stuk half tartend die dood uitdaag, is daar ’n gewigloosheid aan die lokval van woorde waarmee Breyten die gehoor ritmies verlei. Die dood word dromerig voorgestel. Daar is slegs twee karakters op die verhoog: Ou Girl, wat deur Kellermann vertolk word, en Breyten, wat gespeel word deur Dawid Minnaar. Minnaar weerkaats Breyten se laaste gedagtes aan die gehoor deur sy hipnotiese stem wat vibreer in my borskas soos ’n klok wat lui; vertroostende woorde weergalm deur die vertrek. Die verhoog is gedrapeer met deursigtige sluiers waarop Breyten se woorde wapper: portale na die dood. Twee lessenaars plaas Breyten in ’n gesprek met Ou Girl. Op elke lessenaar dryf ’n vis gewigloos in glas. In die middel van die verhoog is ’n doodskis onder die sluiers. Dit vorm ’n klein eiland waarop Minnaar die rol van Breyten vertolk. Breyten en Kellermann wissel vinnige gedagtes oor wat dit beteken om te sterf, as kunstenaar en skepper, maar ook oor die redelike sekere aard van ons bestaan-en-vergaan.
Die fisiese ooreenkoms tussen Breyten en Minnaar spook by mens: Teks en spel sweef deur die sluier van leuens wat ons aan onsself vertel, wat ons verhoed om die dualistiese aard van ons bestaan te aanvaar. Daar is verligting in die teks te vind oor ons verganklikheid wat voortleef in die mense en skeppings wat ons agterlaat. By tye lyk die vis werklik ontstig wanneer Kellermann hom aanspreek. Glasige weerkaatsings van Breyten se verbeelding verskyn en verdwyn op die verhoog – die teks is soms verwarrend en selfs waansinnig. ’n Oproerige Kellermann staan in kontras met die vreedsame beeld van Breyten wat voorgestel word: die ewewig van twee kunstenaars teenoor mekaar in die kosmos.
“’n Oproerige Kellermann staan in kontras met die vreedsame beeld van Breyten wat voorgestel word: die ewewig van twee kunstenaars teenoor mekaar in die kosmos.”
Breyten se Boeddhistiese ingesteldheid teenoor die dood tree in hierdie stuk na vore. Die sluier van Maya skep ’n valse persepsie van die werklikheid – ons sien dinge as permanent, bevredigend en met ’n inherente self, terwyl hulle eintlik verganklik, onbevredigend en sonder ’n inherente self is. Dit verteenwoordig die misleiding van ons sintuie en denke wat ons laat glo dat die fenomenele wêreld solied en permanent is. Hierdie illusie veroorsaak gehegtheid en begeerte, wat op hulle beurt lei tot lyding (dukkha). Hierdie sluier verhoed ons om die ware aard van die bestaan te sien: verganklikheid (anicca), lyding (dukkha) en die afwesigheid van ’n permanente self (anatta). Die doel van Boeddhistiese praktyk is om deur hierdie sluier van illusie te breek en verligting (nirvana) te bereik deur direkte insig in die ware aard van die werklikheid.
Die teks lui telkemale soos ’n meditasie. Ek word gehipnotiseer en herroep nie elke faset van wat plaasvind op die verhoog nie. Ek soek na troos op die straat nadat ek die teater moet verlaat in ’n beswyming wat my weerloos teenoor die woord van Breyten tot stilstand roep. Daar is nie ’n behoefte om dit met enige iemand te bespreek nie. Ek en Laetitia knik vir mekaar voor ons paaie skei in die nag. Die aand verval ek in ’n koorsagtige droom en skrik wakker met die behoefte om my vriendin te bel:
Sunel, ek het gisteraand gedroom ek breek deur die sluier van Maya en beweeg in hierdie tussen-wêreld waar ek jou moes agterlaat. Ek het gespring na verskeie sterrestelsels en dan weer teruggebons na jou. Maar iets van die lewe wat ek gelei het op aarde, het my op ’n punt verhoed om verder te beweeg en my ingehaal. Ek kon jou nie daarvan vertel nie, dit sou jou lewe in gevaar stel, en ek het gevlug sonder om totsiens te sê.
Breytenbach, wat verlede jaar op die 24ste November op die ouderdom van 85 oorlede is, het onophoudelik nagedink en geskryf oor die dood in sy gedigte wat steeds leef. Reeds op die ouderdom van 25, in sy eerste gedig wat in 1964 gepubliseer is, wonder hy hoe sy begrafnis sal lyk in ‘Bedreiging vir die siekes’. Hoe gepas dat sy oeuvre begin en afsluit met die dood. Die hoogste aspirasie van Boeddhisme behels om die siklus van samsara (wedergeboorte) te verbreek en nirvana te bereik, wat verhoed dat jy weer gebore sal word en die lyding van begeerte en verlies sal vryspring.
Die oop verhoog, wat wapper met lappe wat gedrapeer is soos sluiers, herinner my aan die konsep van Ku (die groot leegheid) waarna Breyten op soek was in sy Zen-Boeddhistiese verset teen apartheid. Ku herinner ons dat ons persepsies en konsepte slegs voorlopige konstruksies is, en dat die werklike aard van die bestaan veel meer dinamies en kompleks is as wat ons kan begryp. Niks het ’n onafhanklike, selfstandige bestaan nie. Alle verskynsels is onderling verbind en afhanklik van mekaar. Die doodskis in die middel van die verhoog word ’n klein eiland, ’n eiland waarna Breyten dikwels in sy skryfwerk verwys: die slawe-eiland Gorée op die kus van Senekal waar hy in die 1990’s betrokke geraak het by Gorée se Instituut vir Demokrasie, Kultuur en Kuns. ’n Kis op die kus van Senekal.
Dalk staan Breyten op ’n soapbox, ’n eiland wat hy vir homself geskep het, wat iewers nog dryf in ons bewussyn. In Verwelkingslied het hy ’n diepgaande toestand van vrede en begrip bereik met die dood. Hy baklei nie teen die dood nie, maar verwelkom dit met ’n oop gemoed. Verwelkingslied het my laat besef ek is steeds verbind aan hierdie siklus in die drome wat daarna by my verskyn het. Al stry ons teen verandering en verganklikheid, is die dood nie ’n einde nie, maar ’n oorgang, ’n herinnering aan die verweefdheid van die lewe en die belangrikheid van hoe ons lewe, nie net hoe ons sterf nie.
“Al stry ons teen verandering en verganklikheid, is die dood nie ’n einde nie, maar ’n oorgang, ’n herinnering aan die verweefdheid van die lewe en die belangrikheid van hoe ons lewe, nie net hoe ons sterf nie.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Breyten sterf 'n dromerige dood in die teater met Verwelkingslied gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.