Isaac Mutant bly staan

Foto via Facebook
'n Onderhoud deur Dianne Albertze
Houtbaai Market is stampvol nes ’n smokkeljaart na ’n SASSA pay day. Dit wemel van die mense, maar anders as in die meeste gebiede van die Kaap waarmee ek familiar is, word dit nie oordonner deur Europese toeriste nie (of wel, nie op hierdie spesifieke dag nie).
Ek skip eerder die vis en gaan kry ’n bier by die Gin Bar. Ek bly op die lookout, want my foon is vroeër die dag gesteel, so ek is oorgelewer aan die genade.
Tot my verligting roep die tafel langsaan luidkeels sy naam. Hy groet hulle en verskoon homself toe ons oogkontak maak. Uitgevat in ’n bruin suede-baadjie en ’n kep wat hy self ontwerp het, skud ons blad na ’n onsekere ontmoeting van arms. ’n Kontras met die weerbarstige “bad man”-beeld wat aan sy verhoognaam Isaac Mutant gekoppel is. Ek besluit toe eerder daarteen om ’n kennis se advies te volg en hom te ontvang met die woorde “Larney, jou poes”, die naam van sy kontroversiële meesterstuk.
Hy skuif in by die houttafel oorkant my en sit sy pakkie 777 op die blad neer.
Gebore op 29 Julie 1975 as Isaac Williams, maar almal ken hom vandag as niemand anders nie as Isaac Mutant. Hy het sy loopbaan begin as deel van die groep Dynamic Movement in 1989 as breakdancer. Daarna word hy die medestigter, saam met Churchil Naude, van die rymklets duo genaamd Bad Influence (of later Trampled Multitude). In 1991 is hy medestigter van die groep Plain Madness wat toe sou headline by OppiKoppi in 2001. Eers in 2005 neem hy onafhanklik sy eerste soloalbum op genaamd Side show freak vol 1. Die daaropvolgende jaar maak hy sy toneelspel-debut in die teaterproduksie genaamd Hip Hop connect wat by Artscape opgevoer is. Van 2007 tot 2008 word hy deel van die groep Donkermag met onder andere Jack Parow. In 2009 doen hy ‘Wie maakie jol vol’ saam met Die Antwoord. En in 2013 word DOOKOOM gestig.
In dieselfde jaar release hulle die EP met dieselfde title en skop af met die music video vir ‘Kak stirvy’. In 2014 tot 2015 release die groep twee EP’s genaamd Gangster called Bigtimes en Silbi dog onder die French-based platemaatskappy IOT records. Daarmee het hulle deur Frankryk getoer en in Poland opgetree. In 2016 toer hulle deur Europa, tree op by OppiKoppi en release ’n derde EP genaamd NO! en kort op sy hakke nog een genaamd Riffak. In 2022 verskyn die bekroonde dokumentêr oor Isaac genaamd Mutant deur die filmmakers Lebogang Rasethaba en Nthato “Spoek” Mokgata. Daarna beywer Mutant hom tot collab albums met onder andere HemelBesem en Tasha Tafari. Hy is tans besig met ’n nuwe collab album, sowel as met repetisies vir ’n plaaslike film.
Foto’s verskaf
Hy neem my bier in sy hand en voor hy ’n sluk vat, vra hy ewe ernstig of hy maar kan. Natuurlik, verseker ek hom, en voel verleë aan die beaded handsak wat ek vir ’n R20 langs die pad gekoop het. Ek explain dat ek vir hom ook ’n bier wou koop, maar my geld is nie genoeg nie. Hy dop die paar los silwer in sy broeksak uit en ek onderhandel verder met die kroegman. Isaac sê ons moet sommer glase deel. Nes met die Katolieke nagmaal, drink uit een beker. Deel. Ubuntu. Die kern van medemenslikheid. Iets tot in die wortel toe deel van die land. Wel, dis hoe ons wetgewing spog. Maar nes die versinnebeelding van ’n happy rainbow nation wat in harmonie saamleef, word ek ook opnuut ontnugter deur die realiteit teenoor die mediabeeld van wat dit is om ’n hip-hop-kunstenaar in Suid-Afrika te wees.
“Isaac sê ons moet sommer glase deel. Nes met die Katolieke nagmaal, drink uit een beker. Deel. Ubuntu. Die kern van medemenslikheid. Iets tot in die wortel toe deel van die land. Wel, dis hoe ons wetgewing spog.”
Een van die ouens van die tafel langsaan kom oorgestap met ’n glas groen vodka as waardering vir Isaac. Isaac se oë wip van die glas weer terug na die aanhanger en hy vra verbaas:
“And what about my friend?”
Die man briek in sy woorde van bewondering en hardloop terug na sy tafel met ’n ekstra glas vir my. Weer druk Isaac ’n stokkie in die man se fan-ing. “Hoekom het jy nog nie my albums gekoop nie?”
Die man mompel ’n flou verskoning in die lyn van dat hy hom te veel respekteer om sy musiek te koop.
“Dis net R250 vir die hele set.”
Hy verseker vir Isaac dat hy so sal maak sodra hy gepay het. Isaac kou onoortuig aan ’n stokkielekker. Ook net mens. Hard aan die hustle om ’n lewe te maak.
Moet egter nie ’n fout maak nie. Bitter of moedeloos is twee goed wat hy nie is nie. Met trots zip hy sy baadjie oop en hou sy T-shirt uit vir my om die woord endurance daarop te lees.
Isaac Williams – altans Mutant – is darem nie verniet al gekroon met die titles Moses van Mitchells Plein en God van Afrikaanse Rap nie, om maar net ’n paar te noem. Dus kan julle sekerlik verstaan dat ek nervous was. Toe hy sien ek begin pootjie oor my woorde en soek rond tussen my aantekeninge, hou hy ’n hand uit.
“Chill, moenie nervous is nie. Ek het hierrie al baie gedoen. Fok, tot Rolling Stone.”
Dit het nogal nie veel gehelp met die nerves nie, maar ek kap tog aan. En waar anders om te begin as ‘Larney’.
Hy vertel my met groot nostalgie oor die hoeveelheid calls wat hy gekry het daai tyd.
Ek noem vir hom dat die einste Ernst Roets van AfriForum wat hom destyds van haatspraak aangekla het, met die motivering dat die song glo plaasmoorde aanmoedig, het nou onlangs vir Tristan Kapp, ’n dosent aan die Teologie-fakulteit aan die Universiteit Pretoria, aangevat oor sy insluiting van die Azania critical theory wat volgens Roets ’n giftige rasteorie is omdat dit praat oor die tekort aan ubuntu onder Wit burgers. Hy keer my egter toe ek hom wil opsweep.
“Jy weet nie wie hy is nie. Het jy al met hom gebraai?”
Dis hierdie einste spitsvondigheid en sardoniese humor wat deel uitmaak van hoekom Isaac so uniek is as mens en kunstenaar, of – in beter woorde – as pioneer.
Ek trek my big girl panties aan en besluit om hom uit te daag vir meer stories oor sy lewe weg van musiek af. Sy antwoorde bly afdraaipaaie neem en sy oë kies koers na die diepdonker see wat amper spoel tot teen ons hakke. Ander kere stap sy gedagtes die klippad teen die berg op, ingekleur met huise sy aan sy teen die steilte op. Nes impepho en rooibos, hoort die mense van Houtbaai ook aan hierdie grond en kom van hierdie water. Die Hangberg-optog van 21 September 2010 waartydens die gemeenskap kop aan kop gegaan het teen die Stad Kaapstad en saam gestaan het soos een om vir hulle plekkie in die son te baklei, is sekerlik ’n bewys van hulle solidariteit as gemeenskap.
Hy wil egter nie politics praat nie, of wel nie wat dié regering aanbetref nie.
Hy wil praat oor die tekort aan respek wat die jong mans het vir grootmense en vir vroue in general. Hy herken self dat dit nie maklik is om mens se politics te practice nie. Hy praat met fyn insig oor die argetipiese eienskappe van hip-hop wat seksisties en patriarchal is, en explain dat hy alewig die tightrope loop tussen getrou bly aan die styl, maar ook ’n verskil probeer maak. Hy verduidelik dat hy, waar hy nou is in sy lewe, wandel volgens die spirituele beginsels van Rastafari.
Ek vra hom uit oor die kritiek dat motto’s soos “One Love” nie altyd almal deel maak van daai liefde nie, soos met Bob Marley as voorbeeld wat teen same-sex marriage gekant was. Ons kom tot ’n redelike gevolgtrekking dat die eras verskillend was en dat daar, al is dit hoe klein, ’n al meer diverse groei in representation veral in die plaaslike hip-hop scene na vore kom. Hy praat met lof van queer rappers soos Dope Saint Jude en Lance Lightyear. Hy skerts veral oor die reaksie wat dit by mense wek wanneer hy ’n ruimte met Lance deel en vrylik sy bewondering toon.
Ons gesels word soos ’n long distance taxi-rit. ’n Mengelmoes mixtape op top volume. Lekker lag en baie deernis. Koppe stamp nes potholes en grense wat getoets word. Hy remind my dan en wan dat ek té persoonlike goed wil vra. Maar ek het tog nie al die pad na sy hartsplek toe gekom om net oor werk te gesels nie. Ek wil weet wat agter die musiek en mees onlangse self-published versameling essays skuil. Wat maak hom so onwrikbaar? Veral met die wete – ná ek sy dokkie Mutant gekyk het – wat hy als in sy lewe, veral met familie, moes deurmaak. Sekerlik op soek na ’n soppy storie, wil ek by hom weet hoe hy oorleef het in die tydperk toe hy haweloos was. Hy lag en vertel van die vriende wat hom gehuisves het en die onskatbare omgee wat hy ontvang het.
Ons gaan maak ’n laaste draai by ’n vriend en die volgende kunstenaar met wie hy beoog om ’n collab te doen, Dizzah. Soos ons stroll al langs die kus op pad na Dizzah se huis toe, begin sien ek Isaac soos hy is. Nederig, en kan ek dit durf sê, tevrede. Ja, hier en daar sal hy noem dat hy spyt is oor die goed wat hy in van sy vroeëre werk kwytgeraak het. Ander kere explain hy weer hoe hy juis moes praat oor sekere goed, veral die verhouding met sy pa en hoe die terapie van skryf en rap daaroor vir hom ’n vorm van genesing gebied het.
Niks sielkundiges of beraders nie?
Hy lig sy skouers.
“Skryf het maar nog altyd gehelp om met goed te deal. Ek moes eers ’n track maak waar ek my pa dis om een te maak waarin ek praat oor dat ek hom vergewe.”
“Skryf het maar nog altyd gehelp om met goed te deal. Ek moes eers ’n track maak waar ek my pa dis om een te maak waarin ek praat oor dat ek hom vergewe.”
Fotograaf: Newton Stanford
Voor ons die pad by die berg op aandurf, warn hy my: “Dis nogal steil. Wees careful.”
Maar ek’s alreeds oppie journey en is nou te laat om om te draai. Soos ek by die klippad opklouter, hoor ek weer die lyrics van ‘Draaikolk’ op sy Untitled Album.
Ek slaan my oë op na die berge
Want die pyn word erge
Dizzah verwelkom ons elkeen met ’n glas Stoney en ’n heerlike bord macaroni en cheese. Isaac nooi my in, metafories gesproke, al is dit net na die voorkamer van sy binnekant.
“Ek try maar om eerlik te wees in my writing,” verklap Isaac terwyl ons begin gesels oor sy onlangse self-published boek Butt naked in es(SA)ay. ’n Mengelmoes van blitsfiksie en sketse gevul met donkerhumor en tot twee songs se lyrics.
“Die idea kom vannie zine-genre af. Ek wou iets different doen as net ’n boek.”
Maar die tekens van ’n langer vorm is reeds daar, met die unieke verhaal getiteld The snake’s tale wat maar slegs ’n enkele voorbeeld is, maar ook van die sterkste in die versameling, wat ’n nuwe blik bied op wetenskapfiksie en alternatiewe werklikhede.
“Snake is ’n type of Frankenstein. Hy is gemaak ommie perfect man te wees. Die only ding wat hom really different maak vannie outside af, is sy tong wat middeldeur is. Verder is hy maar net ’n adult wat childish behaviour toon, maar tog good intentions het,” vertel Isaac.
Regdeur die versameling is daar verskeie examples van hierdie uncommon narrators wat probeer sin maak van hulle lewens, asook – soos Isaac verklap ook die visie van die boek is – die liefde.
In ’n wêreld met soveel haat en jaloesie is dit verblydend om te hoor dat artists nog op ’n mission is om teerheid te laat seëvier.
En met invloede soos William Burroughs en RR Ryger in sy werk kan ons boonop nog uitsien na meer en different skryfwerk, verklap Isaac.
Hy check die tyd en herinner my dat Ubers nie te mal is oor om mens hier in die aande op te tel nie. Ek sluk vinnig my Stoney af en bedank Dizzah vir die gasvryheid. Hy sit vir ek en Isaac op die pad. Soos ons by die steilte van die berg afpeil, met ’n konkavuur wat dié kant brand en ’n paar skuimbekbrakke wat daai kant blaf, kom ons af op ’n leë pad. Die Uber het hasepad gekies. Vinnig organise Dizzah ’n lift vir my en een-twee-drie kom ’n blou Bantam-bakkie aangehoes. Ek wil eers agterop, maar Isaac skel dat ek moet voor inklim. Ons groet en ’n mixtape van Neil Diamond tot Isaac Mutant homself kekkel in die bakkie op pad terug stad toe. Ek gee vir Houtbaai se kus ’n laaste wuif.
Tot weersiens.
Die swart see bewaar haar mense.
DM Isaac Mutant vir bestellings van sy musiek en Butt naked in es(SA)ay.
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Isaac Mutant bly staan gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.