Worcesteriet Elle E skree en huil in Afrikaans

Foto’s verskaf
Al die cool meisies doen
2019. Endless Daze. ’n Vrou met lang, donker hare en ’n Aviator-styl sonbril betree die stage met elektriese guitar in hand. Voordat sy en haar band lostrek, wéét ek al klaar: Hierdie chick is fokken cool. Byna transfixed, kyk ek toe hoe sy met haar guitar good ol’ rock ’n roll maak. Ek leer dié cool chick (en haar band) is bekend as Elle E. Later, tydens die fees, sien ek Elle en haar Entourage in die crowds, donker kuif en sonbril wat haar ’n onmiskenbare aura van cool gee. En ek praat nie van die pretentious wie-kyk-vir-my-tipe cool nie. Ek praat van die effortless tipe cool wat gemaklik en maklik lyk. Die “Engelse tipe cool”, you know?
Of so het ek gedink. Want in 2024 met die bekendstelling van haar eerste Afrikaanse EP, Skree en huil, vind ek uit Elle E se front woman se goewermentsnaam is Ellenie Eloff. En sy heil uit Worcester. En praat Afrikaans.
Intrigued deur haar musiek, haar estetika en haar Impeccable Cool, het ek meer uitgevind oor Elle E, aka Ellenie, en haar rof en harde Afrikaanse musiek vir die probleemkinders, die freaks, die mounkouse en die swart skape in klein dorpies — perfek vir ’n brannewyn-en-Coke-fuelled aand van moeilikheidmaak.
ANDRÉA: Waar het jy grootgeword (ek neem aan Worcester)? En hoe lyk jou journey tot hier, nou?
ELLE: Ja, ek het grootgeword in Worcester. Die ‘Worcesteriet’-music video explain my vroeë jare daar baie goed :)
Nou bly ek in Kaapstad, ná ek vir meer as 10 jaar oorsee in die modebedryf gewerk het en in Londen gebase was. Daarna het ek teruggetrek SA toe en dit is waar my musiekjourney behoorlik begin het.
ANDRÉA: Kan jy my meer vertel oor jou journey as musikant? Waar het dit als begin? En wie of wat sou jy as jou grootste invloede beskou?
ELLE: Terwyl ek in Londen gebly het, het ek musiek onder die naam Catwalk Trash gemaak – mense het dit as lo-fi electronica / alternative rock beskryf. Musiek was daai tyd vir my meer van ’n small hobby gewees, want my werk was baie demanding.
Ná ek teruggetrek het SA toe, moes ek by my ouers in Worcester gaan bly. Dit is waaroor die song ‘Skree en huil’ gaan: gestrand wees en geen beheer hê oor wat gaan gebeur nie. Ek was baie siek vir maande en dokters in die UK kon niks fout kry nie. Toe ek in SA land, is ek dadelik na ’n dokter hier en ná ’n klomp toetse, is ek gediagnoseer met fase 3-borskanker. Dit is basies waar musiek vir my begin het, ’n escape van realiteit. Tussen my chemosessies, treatment en operasies het ek songs begin skryf. Ek het ’n ou stel dromme van my in storage gekry en het ’n klein musiekstudio in my kamer opgeset met die basics. Toe begin ek liedjies skryf waar ek ’n bass drom en hi-hats met my voete speel en guitar speel en sing op dieselfde tyd. Ek het die projek Two Stroke genoem en eventually Kaapstad toe getrek ná die ergste verby is.
Ek het toe ’n EP uitgebring wat baie raw en basic was, wat ek met die voetdromme, ’n guitar en vocals alles op een slag live gespeel het, soos ek gespeel het toe ek stuck was in Worcester.
Van daar af het Two Stroke ’n band geraak en ek het met ’n drummer en bassist begin live speel. Eventually het Two Stroke opgebreek; toe begin ek weer ’n soloprojek en dit is waar Elle E ontstaan het. Ons het toe ’n four-piece band geraak, maar almal se schedules was te besig om te kon aangaan, so nou huur ek session musicians vir live shows.
My grootste invloede is bands soos Sonic Youth, Ty Segall, The White Stripes, Viagra Boys, Pixies, Tame Impala.
ANDRÉA: Hoe sou jy jou klank beskryf?
ELLE: Ek speel nou en dan rond met verskillende genres, maar daar is altyd ’n fuzzy distorted guitar iewers in my songs. Ek het ook baie meer synth en keyboardklanke begin inbring. Gewoonlik is ek baie drawn tot ’n straightforward, alternative rockklank met lekker vet synth en keyboardklanke.
ANDRÉA: Hoekom eers in 2024 musiek in Afrikaans uitbring? Hoekom nie vroeër nie? En het die skepproses van die Skree en huil-EP anders gevoel omdat dit Afrikaans is, anders as in Engels?
ELLE: Ek het nooit regtig gevoel asof ek Afrikaanse musiek convincingly kon afpull nie. Maar ek is op die spot gesit en gedare deur my partner wat nie ’n woord Afrikaans kan praat nie. Ek het met die eerste track begin, wat ‘Skree en huil’ is, en binne ’n rukkie het ek met vyf tracks opgeëindig. Ek was nooit van plan om dit te release nie, maar ek het dit vir vriende gespeel en het toe besluit om dit te deel met die res van die wêreld.
Afrikaanse lirieke was heeltemal anders en vreemd vir my aan die begin, al is Afrikaans die huistaal waarmee ek grootgeword het. Dit is asof ek in ’n hele ander mindset moes ingaan. Dit was definitief baie rewarding en fun gewees. Nou sien ek uit daarna om nog baie Afrikaanse songs te release!
“Afrikaanse lirieke was heeltemal anders en vreemd vir my aan die begin, al is Afrikaans die huistaal waarmee ek grootgeword het. [...] Nou sien ek uit daarna om nog baie Afrikaanse songs te release!”
ANDRÉA: DIY is ’n groot element van Elle E. Ek dink byvoorbeeld aan jou promo vid vir jou Bedroom Jams en jou onlangse Living Room Sessions. Kan jy bietjie meer hieroor vertel?
ELLE: DIY is ’n groot element, want ek kan doen en release net wat ek wil op my manier en ek love om die videos en artwork self te maak. Ek hou van dinge sien op ’n meer real en basic manier as overproduced en shiny. Dit was nog altyd vir my lekker om ’n kunstenaar of band in hulle most real vorm te sien en hoor.
ANDRÉA: Baie van die tematiek van Skree en huil relate (at least volgens hierdie luisteraar) na ’n sterk gevoel van rebellie, frustrasie en self-destruction – ek dink aan ‘Probleem kind’, ‘Mag nie kla nie’ en of course ‘Skree en huil’. Was dit jou bedoeling? Die EP lees ook nogal as outobiografies; is dit so? Hier dink ek veral aan ‘Skewe monster’ en ‘Worcesteriet’. Vertel asseblief meer oor die temas op Skree en huil en waaruit jy die meeste inspirasie (of frustrasie?) daarvoor geput het.
ELLE: Jy is reg; dit gaan oor rebellie, frustrasie en self-destruction. Die liedjies ‘Probleem kind’ en ‘Mag nie kla nie’ gaan oor stories wat in ons dorp rondgeloop het oor mense wat daar bly, mense wat gefrustreerd is met hulle lewens en besluite. Met ‘Skewe monster’ was dit vir my baie interessant om te sien hoe mense reageer. Ek het ’n paar boodskappe gekry waar sommiges sê hulle relate met die lirieke en dat dit baie dieselfde as hulle situasie was toe hulle grootgeword het in ’n konserwatiewe Afrikaanse huis.
My inspirasie vir hierdie EP was ’n nostalgiese look-back at how things used to be growing up. Ek het ook grootgeword met 90’s-musiek, so die genre van die EP en die topics voel asof dit in die 90’s geskryf en release kon wees.
Partykeer gaan my lirieke oor iets persoonliks, maar dit hang af – ek sal sê ’n mix van truth en fiction selfs.
ANDRÉA: Is daar skakels tussen die tracks op hierdie EP en van jou vorige werk? (Ek dink byvoorbeeld aan ‘Trouble’ van Etiquette en ‘Probleem kind’ op Skree en huil …) (On that note, is dit jy op die cover van Etiquette?)
ELLE: Ek het so lank terug geluister na die Etiquette EP :) Dit lyk asof ek clearly daarvan hou om oor probleme te skryf, al is dit nie altyd myne nie. Haha!
Ja, dit is ek op die cover van Etiquette. Ek het vir my ma en stiefpa gaan kuier in Worcester en terwyl hulle agter in die tuin gewerk het, het ek vinnig in ’n ou aandrok wat in een van die kaste was, ingespring en hulle geroep. Hulle het geen idee gehad wat aangaan nie. Ek het ’n bos blomme vir my ma gegee om vas te hou en ’n ou fake paar Oakley-brille vir my stiefpa gegee om op te sit. Toe sê ek net: Smile vir die kamera – en my vriendin het die knoppie gedruk. Dit is hoe die cover ontstaan het.
ANDRÉA: Wat is jou views van die current (alternatiewe) Afrikaanse musiekscene? As iemand wat nou al redelik gewortel is in die Engelse alt scene, wonder ek of jy enige verskille en ooreenkomste tussen die Afrikaanse en Engelse alternatiewe (musiek-) scenes oplet?
ELLE: Die Afrikaanse alt scene raak sterker en daar is baie cool acts en bands wat uitkom op die oomblik. Ek vind al verstaan mense nie die taal nie, hulle hou van die energie. Na ek Skree en huil release het, bestaan my live setlist uit ’n mix van Engelse en Afrikaanse songs.
Volgens my is die Engelse alt scene bietjie meer pretentious, maar dit is deel van cool wees, I guess … Haha! Ek love altwee scenes en wat dit maak, is die amazing mense wat deel is daarvan.
“Volgens my is die Engelse alt scene bietjie meer pretentious, maar dit is deel van cool wees, I guess ... Haha! ”
ANDRÉA: Is daar enige ander Afrikaanse musikante wat jy dink is worth taking note of?
ELLE: VOLK, Frank Freeman se band, is een van my gunsteling-Afrikaanse acts op die oomblik. Het hulle live gesien in 2024 en kon glad nie stilstaan nie. Dan is daar ’n band met die naam Karriers, wat ek nog nie live gesien het nie, maar ek hou van hulle sound en hoor goeie goed van hulle.
ANDRÉA: Kon jy Skree en huil al opvoer? En hoe was dít? (Indien nie, wil jy? Ek sal front row daarvoor wil wees!)
ELLE: Baie dankie! Jy kry VIP tickets na my volgende show toe, natuurlik! :) My laaste show was in Pretoria waar ek van die Skree en huil-EP se songs live gespeel het. Mense het actually geskree om van die Afrikaanse songs te hoor al was dit nie op die setlist nie. Daar is definitief ’n groter belangstelling in Afrikaanse musiek in Gauteng as in Kaapstad, maar daar is definitief iets aan die kom in die Afrikaanse alt scene in Kaapstad en omgewing, en dit is vir my baie exciting.
ANDRÉA: Waarmee is jy op die oomblik besig?
ELLE: Op die oomblik vat ek ’n kort break van live speel om te fokus op nuwe musiek en ek is besig om te werk aan ’n reeks van live demos wat ek release as Living Room Sessions. Die eerste twee songs is uit op YouTube: ‘Please take her home’ en ’n cover van The White Stripes se ‘Fell in love with a girl’. Daar is ook ’n baie lekker Afrikaanse demo. Die naam van die song is ‘Hof toe vat’.

Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Worcesteriet Elle E skree en huil in Afrikaans gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.