Na twaalf: VOLK se eerste vollengte-album

Na twaalf: VOLK se eerste vollengte-album

Meer vrydenkende kuns en musiek in Afrikaans, sê Frank Freeman, die res is boring

In April verlede jaar is ons geseën met die alternatiewe Afrikaanse klanke van VOLKFrank Freeman (sang en guitar) se musiekprojek wat saam met Dillon Myburgh op tromme en Mika Burger op baskitaar gestalte gee aan die rof-en-onbeskofte tipe rock ’n roll waarvoor plaaslike swartskaap-gehore (myns insiens, sedertdien Fokofpolisiekar se koms in die vroeë 2000’s) uitgehonger is. “Hallelujah!” dag ek een aand in Kaapstad toe ek VOLK dié keer sien optree het.

Tydens hulle optredes is die energie hoog en die klank hard. En hulle tegniese vernuf is merkwaardig; dis nie sommer net ’n klomp angry White dudes wat geraas maak dié nie. Dis tong-in-die-kies en satiries, soos Kerkorrel en kie van destyds. Anders as wat hulle naam dalk mag voorstel, worstel VOLK nie soseer met Afrikanerkultuur en -identiteit nie, hulle maak net cool musiek wat toevallig in Afrikaans is.

Ek was dus verheug toe ek die nuus kry: VOLK seën ons weer; dié keer met hulle eerste vollengte-album. Met ’n titel soos Na twaalf, het ek kenmerkende VOLK verwag: refreine soos: “My hart is ’n trein wat loop op brannewyn” en ritmes waarop jy nie anders kan as om te dans (of te headbang) nie. Maar met die luister van die album, was ek heel verras (op ’n goeie manier). Daar is meer variasie in tempo, mood en genre as in hulle EP, en waar snitte soos ‘Strandhuis’, ‘Calvin Groot’ en ‘Ritme boer’ herkenbaar VOLK is, wys ander snitte, soos ‘Kaal’, ‘Kom voel my hartklop’, ‘Tot ons as is’ en ‘Ek is nie die enigste een nie’ (feat Hunter Kennedy) vir aanhangers hoeveel verder VOLK se musikale en tematiese reikwydte kan strek. Na twaalf is beslis kenmerkend VOLK, maar dit is VOLK in ’n ander rat.

In afwagting van die bekendstelling van die album in Kaapstad op 23 September, waar die snitte ook opgevoer sal word, en die vrystelling daarvan op alle platforms op 10 Oktober, gesels ek met die ritme boer Frank Freeman homselwers.


ANDRÉA: Kom ons skop af met die basics: Waarom VOLK op die been bring? Nog belangriker: Waarom alternatiewe musiek in Afrikaans maak? 

FRANK: VOLK is gebore uit ’n behoefte om iets wat ek dink interessant is, te doen in Afrikaans. Ek dink die afgelope 10 jaar is daar baie min daarvan, in my opinie. Dis een rede, maar nog ’n groot deel daarvan, vir my, is om ’n deel van myself uit te druk in Afrikaans. Dit maak dit onmiddellik meer oorspronklik as wat ek hierdie projek in Engels sou doen. Ongeag hoe ver die Afrikanerkultuur al gekom het, is dit nog geweldig konserwatief. So, ek sien VOLK ook as my bydrae tot die kultuur. ’n Poging om die kultuur te laat aanhou groei liewer as net dit te probeer bewaar.

ANDRÉA: Het julle die sukses van VOLK se debuut-EP verwag? Vertel asseblief meer – ek neem aan dit was die aanmoediging om ’n vollengte-album uit te bring?

FRANK: Ons het tot dusver nog net singles vrygestel. Dit alles kan net sowel een moerse EP wees. Ek dink die singles was die soektog vir ’n identiteit wat vir my reg gevoel het, voordat mens ’n album aanpak. Dit beteken nie alles gaan dieselfde klink op die pad vorentoe nie, maar ons het ’n sekere klank begin vind wat vir my gevoel het asof dit karakter het. As mense reageer daarop, dan is ek gelukkig, maar ek probeer doen wat vir my goed voel. Daarna verkoop ons dit. Of ons probeer. Sukses vir my sal wees om iets fokken cool te doen en daar is ’n groot genoeg gehoor wat luister en shows toe kom. Net een van daardie twee dinge is vir my minder suksesvol. As dit net vir my cool is en mense mis wat ek probeer doen, is dit ook fine. Dan is die projek meer vir my. Maar ek is verlief op ons live shows en hoe ons en die gehoor mekaar vind. Ek soek meer daarvan.

Ongeag hoe ver die Afrikanerkultuur al gekom het, is dit nog geweldig konserwatief. So, ek sien VOLK ook as my bydrae tot die kultuur. ’n Poging om die kultuur te laat aanhou groei liewer as net dit te probeer bewaar.
— Frank Freeman

ANDRÉA: Beskryf die beste scenario(s) om Na twaalf in te luister – wat was julle gedagtes vir hoe (en wanneer) luisteraars play moet druk op hierdie album (of op spesifieke songs daarop)? 

FRANK: Sodra die bar owner die deure sluit vir die publiek en julle sit in ’n lock-in situasie tot die son opkom. Dan sit jy hierdie album aan. Lol. 

Na twaalf het verskeie emosionele vlakke. Die manier waarop ek die volgorde van die album beplan het, voel soos ’n party wat afskop, en dan dink jy daaroor na die tyd op ’n dieper manier. Songs soos ‘My liefde is ’n strandhuis’, ‘Calvin Groot’, ‘Kaal’ en ‘Die ritme boer’ is meer die partytjie deel van die album en die ander helfte reflekteer bietjie meer op ’n dieper vlak. Elke song het wel ’n lewe van sy eie. Sodra die album uit is, maak dit nie saak wat ek in gedagte gehad het nie. Dit behoort dan aan almal. Doen met dit wat jy wil.

ANDRÉA: Dit klink asof julle baie gedagte ingesit het in hoe julle klank sedert julle EP ontwikkel het en watter invloede julle insluit en vermeng om Na twaalf te skep. Kan jy asseblief meer uitbrei oor julle proses om die album te skep? Was dit ’n bewuste besluit om meer uit te brei (of selfs te eksperimenteer met?) van die klanke op julle debuut-EP? Ek dink veral aan tracks soos ‘Tot ons as is’, ‘Kaal’, ‘Ek is nie die enigste een nie’ en selfs die titelsnit ‘Na twaalf’, wat ’n ander mood en tempo as die snitte op julle EP het. Dis amper asof ons ’n meer vulnerable kant van VOLK in Na twaalf sien. Is dit ’n valid waarneming?

FRANK: Yeah, ek dink dis ’n valid observasie. Ek dink daai kant van VOLK is nog altyd daar, maar die meer tong-in-die-kies-tipe sosiale kommentaar-songs was die eerstes wat verder versprei het. Dit staan ook meer uit as gevolg van die karakter waarmee ons dit uitbeeld. Ek is heeltemal fine daarmee, want ek is baie lief daarvoor, maar dit definieer nie die band nie. Ons is nie net dit nie. ‘Tot ons as is’ is waarskynlik my gunstelingsong op die album. Veral liriek-gewys. ’n Groot deel van wie ek is leef in daardie song. Die versoeking is altyd daar om mense net meer te gee van wat jy sien werk. Dis die pop-tipe manier. Niks fout daarmee nie. Ons probeer wel iets anders doen hier. Hopelik like mense dit.

ANDRÉA: Daar is iets in al die tracks op Na twaalf wat eg VOLK klink – ek sukkel self om ’n vinger daarop te lê, so daarom gooi ek die vraag na jou: Hoe sou jy VOLK se klank aan iemand beskryf wat nog nie van julle gehoor het nie? 

FRANK: Dit maak jou jags, laat jou dans en laat jou huil. VOLK klink soos ’n alternatiewe dude wat van Bloemfontein af kom, maar al 13 jaar in Kaapstad bly. Dis iets vars, maar dis working class. Dis direk op ’n indirekte manier. Ons probeer nie fancy wees nie, maar die belangrikste is ons probeer iets interessant doen.

ANDRÉA: Julle collab op hierdie album met Hunter Kennedy. Hoe het dit gebeur en wil jy iets vertel oor dié proses? Is daar enige iemand anders waarmee julle graag sal wil collaborate (of wat julle wil cover)?

FRANK: Ons het ’n toer gedoen saam met Hunter en Fred den Hartog vroeër hierdie jaar. Toe dink ons dis ’n goeie idee om iets saam te doen. Soos soveel ander, is ek nog altyd ’n fan van Hunter. As skrywer en as persoon. Ons ken mekaar al ’n hele ruk, maar ek voel ons het mekaar beter leer ken in die laaste jaar of twee. Dit het gevoel of dit ’n goeie tyd is om saam te werk. Ek het so week of twee voor ons studio toe gegaan het die meeste van die song geskryf en dit vir Hunter gestuur. Toe skryf hy ’n verse en ons albei gaan record die song by Fred se studio en kry Josh Berry om dit te mix. Hy het die res van die album ook gemix en vervaardig. Dis altyd lekker om saam met Hunter te werk. Hy bring altyd iets interessant na die tafel toe. Ons verstaan mekaar lekker, dink ek. Ek glo daar is nog musiek waaraan ons sal saamwerk in die toekoms.

Dit maak jou jags, laat jou dans en laat jou huil. VOLK klink soos ’n alternatiewe dude wat van Bloemfontein af kom, maar al 13 jaar in Kaapstad bly. Dis iets vars, maar dis working class.
— Frank Freeman oor VOLK se klank

ANDRÉA: Party mense sou sê VOLK se deurbraak op die scene is ’n wonderwerk – al hoe minder mense praat Afrikaans (of so sê die stats) en dis g’n easy undertaking “to make it” (wat ook al “it” mag wees) in ’n klein musiekbedryf nie. Wat is julle geheim? What’s the secret sauce? En wat is julle advies vir aspirant- alternatiewe ([Suid-]Afrikaanse) musikante? 

FRANK: Ek dink ons “deurbraak”, soos wat jy dit noem, is nog aan die gebeur. Die nommers is nog nie groot nie, maar ons fans is geweldig passievol oor VOLK. Hulle ken die lirieke; hulle dra hulle VOLK-shirts en dit beteken iets vir hulle. Ek love dit. Ek wil hê dit moet soveel groei moontlik, maar ons doen hierdie projek sover 100% onafhanklik van enige eksterne ondersteuning van ’n label of iets soos dit. So, moet nie hierdie tipe ding probeer tensy jy rêrig lief is daarvoor nie. Dit vat serious elbow grease. Ons het nie ’n suksesresep nie, maar ek weet wat ek sal wil hoor en sien. Meer vrydenkende kuns en musiek in Afrikaans. Wees vreesloos. Die res is boring. 

ANDRÉA: Ek sien wel julle kry nogals hate in die Instagram comment sections oor van die nuwe snitte. Steur julle, julle enigsins daaraan? En hoekom dink julle is daar mense wat so sterk gekant is teen VOLK? (Wat wil julle graag vir die h8ers sê? This is a safe space.)

FRANK: Hahaha! Ja, die Afrikaner-keyboard warriors is op ons. Ons gaan nie uit om mense te skok nie. Afrikaners is net baie maklik geskok. Dis al. Veral nadat ons ‘Kaal’ vrygestel het. Dis vir my nogal entertaining. Dit maak vir goeie interaksie op ons sosiale media. 

Dit laat my geensins twyfel oor ons musiek nie. Ek doen seker iets verkeerd as ek nie ’n toppie of tannie êrens in hulle broek laat kak nie. Hulle moet net na ’n show toe kom. Ons gaan hulle êrens met ’n tune kry, ek’s seker. Ten minste een song waar hulle gaan dink: Hierdie is eintlik nogal lekker. If not … gaan luister Dirk van der Westhuizen of whatever jy dink aanvaarbaar is. Live your life, pal.

ANDRÉA: Julle live shows is vol energie en dis onmoontlik om stil te staan tydens ’n VOLK-set. Wat is julle gunstelingsnit om live op te voer? 

FRANK: Oef. Dis nie ’n maklike vraag om te antwoord nie. Ek dink ‘Bons’ is nogal fun. Ek trek my pastoorskoene aan en preek amper vir die mense. Ek geniet dit om daai karakter te speel. Die gehoor voel nogal daai een live. Van die nuwe album af, is ‘Kaal’ nogal vir my fun op ’n musikale manier. Alles is kaklekker. Eerlikwaar.

ANDRÉA: Is daar ander plaaslike bands of musikante wat julle vir lesers wil aanbeveel? Wie is, volgens julle, die opwindendste act op die alternatiewe (Suid-) Afrikaanse musiekscene?

FRANK: Hier en daar begin ’n nuwe wave van kunstenaars iets interessants. Ek dink Hendriek Bleik is besig om iets cool te begin. Honeymoan is altyd lekker. ’n Goeie vriendin van my, Mikhaela Faye, se nuutste EP I’m bored is ook great. Daai is twee Engelse projekte. Daar is ’n paar ander Afrikaanse bands of kunstenaars wat nou begin om ’n ding doen. Dis nog net ’n bietjie vroeg om te sien hoe ernstig hulle is. Ek hoop hulle is. Afrikaans kort dit. 

ANDRÉA: Enige ander comments, opmerkings, statements? Take the floor!

FRANK: Gaan luister Na twaalf. Ons eerste vollengte-album. Dis gemaak met ernstige liefde en ek dink dis fokken cool.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Na twaalf: VOLK se eerste vollengte-album gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand